LitNet Akademies (Regte)-onderhoud: ’n gesprek oor die Openbare Beskermer

  • 1

In LitNet Akademies (Regte) het die volgende vonnisbespreking verskyn: Teenmaatreëls vir die uitvoerende gesag se kaping van wetgewende kontrolefunksies in ’n parlementêre uitvoerende stelsel. IM Rautenbach het in hierdie artikel oor die rol van die uitvoerende gesag, en hoe die howe met hul vertolking en toepassing van die Grondwet kontrole uitoefen, geskryf.

Nou is die Openbare Beskermer weer in die nuus. ’n Kandidaatprokureur, Christiaan van Huyssteen, beantwoord Naomi Meyer en Remona Voges se vrae oor wat op die oomblik aan die gebeur is.

Wat is die rol van die Openbare Beskermer spesifiek in die konteks van die Suid-Afrikaanse Grondwet?

Die Openbare Beskermer het drie hoofrolle. Die eerste hiervan is om ondersoek in te stel na enige onbehoorlikhede of potensieel-benadelende optrede in ’n staatsaak of openbare administrasie binne enige regeringsfeer. Die Openbare Beskermer moet tweedens verslag doen oor dié optrede. Derdens moet die gepaste regstellende stappe geneem word.

Hoekom is die OB op die oomblik in die nuus?

Die Openbare Beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is tans om verskeie redes in die nuus. Van die mees opspraakwekkende stories is dat Mkhwebane in 2017 ’n verslag gelewer het oor die Bankorp-reddingslyn. In dié verslag beveel sy aan dat R1,1 miljard van Absa-bank  verhaal moet word, aangesien die Reserwebank dié bedrag tydens apartheid as ’n soort "reddingslyn" aan Bankorp (wat deur Absa oorgeneem is) uitbetaal het. Die hooggeregshof in Pretoria het in 2018 ’n strafkostebevel teen haar in verband met haar reddingslynverslag gemaak. Mkhwebane het toe ’n appèlaansoek teen die beslissing van die hooggeregshof gedoen. Die Konstitusionele Hof het egter op Maandag, 22 Julie 2019, Mkhwebane se appèl van die hand gewys en in ’n meerderheidsbeslissing bevind dat sy persoonlik vir 15 persent van die Reserwebank se regskoste aanspreeklik is.

Verder het Mkhwebane ’n verslag bekend gemaak waarin sy bevind het dat president Cyril Ramaphosa die parlement doelbewus mislei het in sy reaksie op die vrae oor die donasie wat hy in sy presidensiële veldtog tydens CR17 ontvang het. Sy het ook die Minister van Openbare Werke, Pravin Gordhan, daarvan beskuldig dat hy die publiek se aandag probeer aflei van ’n verslag waarin sy bevind het dat hy die oprigting van ’n "rogue unit" by SARS goedgekeur het, wat die Grondwet oortree het. Gordhan het ’n dringende hofaansoek ingedien vir hersiening van die verslag, wat volgens Mkhwebane "persoonlike beledigings" teen haar bevat het.

Thuli Madonsela was die vorige OB en sy het baie kwessies oopgevlek; dit moet moeilik wees vir enige opvolger om by haar oor te neem. Die OB kan dus ’n positiewe rol in die land speel. Is daar iets van Madonsela se doen en late wat jou opgeval het of wat jy kan uitlig?

Advokaat Thuli Madonsela word vandag steeds baie hoog deur meeste Suid-Afrikaners geag. Dit is hoofsaaklik danksy die feit dat sy, alhoewel sy baie provokerende optrede en uitsprake deur haar teenstanders ervaar het – van wie baie magtige persone in die regering en die regerende party was, kopgehou en by haar mandaat gebly het in die ondersoek van sake. Die einde van die bewind van die voormalige president, Jacob Zuma, is grootliks te danke aan die verslag van die vorige Openbare Beskermer, Madonsela. 

Madonsela het deurlopend haar hoë amp se verantwoordelikhede gedra en verpligtinge nagekom, sonder om toe te laat dat haar teenstanders haar keer om dit te doen. Die hoë agting vir haar is ook duidelik uit die verskeie toekennigs wat sy al ontvang het. Die toekennings sluit die 2016 Forbes African Person of the Year in en sy is ook gekies as een van BBC se tophonderd vroue in 2016.

Maar daar was ook sprake daarvan dat sy ’n teiken was en teenstand gekry het. Met ander woorde, die OB bevind haarself in ’n moeilike posisie omdat sy ’n verantwoordelikheid teenoor die publiek het, maar terselfdertyd ook soms in opposisie met die regerende party is. Hoe dink jy kwyt Mkhwebane haar tot dusver van haar taak?

Die Burger berig dat "oneerlike gedrag, vooroordeel en kwader trou deur advokaat Busiszwe Mkhwebane" die kern van die Konstitusionele Hof se uitspraak op Maandag 22 Julie 2019 vorm. In die lig van die uitspraak teen haar en die reaksies op sekere verslae deur Mkhwebane, is ek van mening dat sy nie haarself tans goed van haar taak kwyt nie. Inteendeel dink ek dat haar optrede teenstrydig is met die baie belangrike verantwoordelikhede wat ’n Openbare Beskermer het.

  • Foto van Busisiwe Mkhwebane: wikisouthafrica
  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Wondermaar Net

    Ek wonder maar net oor die benaming Openbare Beskermer. In Engels is dit Public Protector. Dit klink vir my asof sy die "Public" moet "protect" en nie "in public" moet "protect" nie, m a w nie in die sin van 'n "public toilet" nie.

    'n Beter Afrikaanse benaming is waarskynlik: Beskermer van die Publiek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top