Lindau Nobelpryswenners-vergadering: ’n onderhoud met twee studente

  • 0

Twee studente van die Noordwes-Universiteit (NWU) is vanjaar gekies om die beroemde jaarlikse Lindau Nobelpryswenners-vergadering by te woon.

Hester Schutte, ’n PhD-student, en Hannes Thiersen, ’n MSc-student van die Sentrum vir Ruimtenavorsing in die Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, het die vergadering van 30 Junie tot 5 Julie 2019 in Duitsland bygewoon. Die Lindau-vergadering bring 30 Nobelpryswenners en ongeveer 600 beste voorgraadse en PhD-studente en navorsers ter wêreld bymekaar. 

Hannes Thiersen en Hester Schutte

Wat behels die Lindau Nobelpryswenners-vergadering?

Hannes: Die vergadering het ’n propvol program met voorleggings, paneelbesprekings en vrae-en-antwoord-sessies met die Nobelpryswenners. Daar is ook meer informele geleenthede soos stapsessies, middagetes en oop informele besprekings waar jong wetenskaplikes die geleentheid kry om aangesig tot aangesig met die Nobelpryswenners te gesels, te luister na hulle insig en ervaringe, asook hulle te peper met enige vrae.

Hulle was ook so toeganglik dat ons met hulle in gesprek kon tree as ons hulle net raakloop. Buiten die Nobelpryswenners ontmoet ’n mens ook die ander interessante jong wetenskaplikes vanoor die wêreld uit ’n wye verskeidenheid velde in natuurwetenskap. Dit is daarom ’n waardevolle blootstellingsgeleentheid.

Hester: Die Lindau Nobelpryswenners-vergadering word elke jaar gehou met die doel om studente vanoor die wêreld en Nobelpryswenners die geleentheid te gee om idees uit te ruil en aan opvoeding, inspirasie en samewerking te bou.

Hoe is jy gekies om hierdie geleentheid by te woon? Moes jy aansoek doen of is jy genomineer?

Hannes: My studieleier het die geleentheid onder my aandag gebring en my aangeraai om aansoek te doen. ’n Interne keuringsproses was uitgevoer deur ’n akademiese vennootskapsagentskap van die Lindau Nobelpryswenners-raad in Suid-Afrika.

Hierdie agentskap is ASSAf (Academy of Science of South Africa) wat dan ook aan jou borgskap verskaf indien jy gekeur word. Die agentskap het ’n kortlys gestuur na die Lindau Nobelpryswenners-beoordelingspaneel wat die finale keuring gedoen het.

Hester: Ek het vir hierdie geleentheid aansoek gedoen nadat my studieleier, Markus Boettcher, my daarvan vertel het.

Watter emosies het jy ervaar toe jy hoor jy is een van die 600 wetenskaplikes wat die geleentheid kan bywoon?

Hannes: Dit het my eintlik heeltemal omkant gevang. Voor die vergadering was ek ook maar baie onseker oor die doel van die geleentheid en wat dit behels. Die realiteit daarvan het eers werklik begin insink toe ek die eerste dag by die hoofsaal geregistreer het vir die geleentheid.

Hester: Toe ek in kennis gestel is dat ek een van 600 wetenskaplikes is wat die geleentheid kan bywoon, was ek baie opgewonde en het dadelik my studieleier laat weet wat in my vreugde gedeel het.

Hester by die name van Nobelpryswenners

Wat was jou eerste indrukke van die Lindau-vergadering?

Hannes: Aanvanklik was ek baie onseker oor die aard van die geleentheid. My gedagte was dat dit net nog ’n konferensie sal wees soos verskeie voriges wat ek al bygewoon het. Dit het wel vinnig vir my duidelik geword dat hierdie heelwat meer sal wees. Die atmosfeer het binne die eerste dag groot opwinding geskep wat aangehou het tot na die vergadering geëindig het.

Hester: My eerste indrukke van die Lindau-vergadering is dat daar, buiten vir Nobelpryswenners, vername mense is wat die vergadering bywoon, naamlik Adriana Marais (Kaapse teoretiese fisikus), en dat dit ’n baie trotse geleentheid is, waar studente, met eenderse belangstellings as ek betrek word.

Adriana Marais (Foto: YouTube)

Hoe sou jy die ses dae in Duitsland beskryf?

Hannes: Dit was fantasties. Ek het in ’n groot mate nuwe inspirasie en motivering gekry wat ’n loopbaan in die wetenskap betref. Die persoonlike ontmoetings met van die Nobelpryswenners sowel as die jong wetenskaplikes in die verskillende velde was verrykend gewees. Ek kon meer waardering kry vir wetenskapsvelde waarmee ek selde in aanraking kom. Buiten dit, was die natuurskoon in en rondom Lindau en die meer, asemrowend gewees. Dit is vir my jammer dat ek dalk eers ’n Nobelprys sal moet wen voor ek weer hierdie geleentheid kan bywoon.

Hester: Tydens die vergadering was daar ’n Beierse aandete gehou waar ons die kos en dans van Bavaria eerstehands kon ervaar. Ek het ook tydens ’n treinrit na die lughawe, die pragtige groen velde van Duitsland waardeer.

Die sentrale temas van hierdie jaar se Lindau Nobel-vergadering was laserfisika, gravitasiegolwe, donker materie en kosmologie. Watter van hierdie temas interesseer jou die meeste? Waarom?

Hannes: Ek is in astrofiska omdat ek nuuskierig is om te weet wat in die heelal aangaan, ver buite ons huidige fisiese bereik en die huidige teorieë wat ons gebruik om die fisiese prosesse in daardie letterlik wêreldvreemde omgewings te beskryf, fassineer my. Om hierdie rede het die gravitasiegolwe, donker materie en kosmologie-temas my die meeste geïnteresseer.

Hester: Gravitasiegolwe het my die meeste gefassineer, omdat ek die groot ontdekking in my leeftyd kon ervaar en self gefassineerd is met hoe goed algemene relatiwiteitsteorie die natuur kan beskryf.

Hierdie maand is die 50ste herdenking van die maanlanding. Is hierdie herdenking tydens die Lindau-vergadering gevier?

Hannes: Daar is geen twyfel daaraan dat dit inderdaad ’n mylpaal vir die mensdom is nie, maar dit was nie werklik beklemtoon by die vergadering nie.

Hester: Die maanlanding se 50ste herdenking was ongelukkig nie tydens die vergadering gevier nie. As hoërskoolleerder was die ruimtereis se geskiedenis egter vir my ’n groot inspirasie om fisika en wiskunde te studeer.

Jou studieleier, Markus Boettcher, het tydens ’n persverklaring genoem dat jy die langtermynveranderlikheid van die radio-, optiese, X-straal en gammastraalemissie van aktiewe galaksies met behulp van die jongste teoretiese modelle simuleer. Sal jy verduidelik wat dit behels?

Hannes: In my navorsing ondersoek ek die oorsaak van die veranderende elektromagnetiese emissie van aktiewe sterrestelsels. Dit is kenmerkend van aktiewe sterrestelsels dat hulle elektromagnetiese emissie-helderheid baie wisselsvallig is met die verloop van tyd. Die rede vir hierdie wisselvallige helderheid is nog ’n raaisel. Ek gebruik die jongste teoretiese modelle vir die elektromagnetiese emissie van aktiewe sterrestelsels om hierdie veranderende emissie te simuleer, in al die elektromagnetiese golflengtes, om te probeer vasstel wat die oorsaak daarvan kan wees. Indien ek daarin slaag om die veranderende emissie, wat ons van hierdie aktiewe sterrestelsels waarneem, na te boots met my simulasies sal ons gevolgtrekkings kan maak oor die oorsaak daarvan.

Jou studieleier, Markus Boettcher, het ’n teoretiese model ontwikkel wat polariseringswaarnemings benut, wat met die Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (SALT) naby Sutherland gemaak is, om die massa van die gravitasiekolke in hierdie aktiewe galaksies indirek te meet. Sal jy verduidelik wat dit behels?

 Hester: Met vorige navorsing het ons slegs die lig se intensiteit, wat ons van aktiewe galaksies meet, met ons teoretiese modelle vergelyk. My huidige navorsing neem ligintensiteit sowel as optiese polarisasie-waarnemings van die SALT in ag. Hierdie waarnemings gee vir ons meer inligting om die gravitasiekolkmassa te bepaal sowel as die magneetvelde wat met aktiewe galaksies gepaard gaan.

Katie Bouman en haar span van Stanford het in April vanjaar die eerste foto van ’n gravitasiekol vasgevang. Hoe het hul werk jou navorsing en jou veld beïnvloed?

Hannes: Die gravitasiekolk in die foto wat deur Katie se span vasgevang is, is juis binne die aktiewe sterrestelsel Messier 87 (M87). Aktiewe sterrestelsels het almal ’n gravitasiekolk in hulle kern. Daarom word daar in my veld ondersoek ingestel na die rol wat die gravitasiekolk speel in die fisiese meganismes wat die elektromagnetiese emissie produseer. Dit kan daartoe lei dat ons huidige teoretiese modelle verfyn of ’n beter een wat ontwikkel moet word. Aangesien my navorsing nie die ontwikkeling of verfyning van hierdie teorie is nie, beïnvloed dit daarom my navorsing slegs indirek op hierdie stadium.

Katie Bouman en die eerste foto van ’n gravitasiekol (Foto: YouTube)

Hester: Met die nuwe hoëresolusie waarnemings van gravitasiekolke deur die Event Horizon Teleskoop, kan die gebeurtenishorison van die gravitasiekolk waargeneem word. Dit is nuttig om die beweging van deeltjies naby die gebeurtenishorison te bestudeer. Dit het nie tans ’n groot invloed op my teoretiese model nie.

  • Foto’s: verskaf, tensy anders aangedui
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top