Ligstrale van hoop deur Veronique Joseph: skrywersonderhoud en persoonlike boekindrukke

  • 0

Foto’s van omslag en skrywer: verskaf

Ligstrale van hoop
Veronique Joseph
Beskikbaar by Amazon en op Kindle
ASIN: B0F3TRXS2N

Yolanda du Toit praat met die skrywer van Ligstrale van hoop en deel daarna haar persoonlike indrukke van die boek.

Wat het jou geïnspireer om die boek te skryf?

Ek het hierdie boek nie net begin skryf as gevolg van ’n idee nie, maar omdat ek ’n diep belofte aan God gemaak het toe ek in graad 7 was. Ek het belowe om die lig wat ek in my eie lewe ontdek het, met ander te deel. Ek het belowe om die waarheid van God uit te leef en dit nie net vir myself te hou nie.

Is jong vroue jou teikenmark of voel jy dit spreek tot alle vroue? 

Ek fokus op jong vroue, want dis waarhede wat ek graag sou wou hoor op ’n jong ouderdom; ek glo egter elke vrou kan ietsie saam vat uit die boek. Maar dis lewenslesse en stukkies wat ek geleer het, en ek is nie getroud nie, en self ook nog jonk, en mens gaan deur verskillende fase en lesse in die lewe. Maar elke vrou van enige ouderdom kan ietsie saam met haar neem.

Wat voel jy maak jou boek anders as ander geestelike dagstukkieboeke?

Met elke nuwe dag wat aanbreek, het ons ’n kans om daardie lig in die wêreld te laat skyn. Soms weet ons nie hoe nie, maar ek weet dat hierdie boek ’n leser sal help om die lig te sien, te glo, en dit dan met ander te deel. Die reis waarop dit jou sal neem, is nie net een van woorde nie, maar van aksie – hoe jy jou eie storms oorkom en die donkerte sal oorwin. Maak elke storie jou eie en pen jou ervarings neer van hoe jy God se lig kan sien en uitstraal. Dis persoonlike vrae waar jy eerlik met jouself kan wees. Dis ’n spasie waar jy jou hartkamers kan oopmaak vir God en ligter in die lewe saam die Here kan stap. Dis waar jy jou Bybel nader trek en die Here se liefde en genade kan ervaar.

Wat hoop jy neem elke leser saam met haar?

Ek hoop dat lesers hierdie quote sal onthou: "Hold all things lightly and nothing tightly", wat in my oë betekenis dra oor bid oor alles en vir almal naby jou. Daar lê baie krag in gebed en ons moet alles vir die Here gee, want alles wat ons het, is net geleen en een groot geskenk. Gee alles vir die Here, selfs ook jou emosies, want die Here sien elke traan en ken elke gedagte van ons. En weet jy is baie geliefd en dra baie waarde binne jou!😁

Persoonlike indrukke

Ligstrale van hoop deur Veronique Joseph is dagstukke wat bedoel is vir lesers wat Christene is. Vir lesers wat nie Christene is nie, kan dit gelees word uit die oog van ’n Opperwese, die God waarin jy glo.

Dit is ’n diep persoonlike skrywe wat uit Veronique se belofte aan God ontstaan het. Met kort dagstukke, ’n kerngedagte in elkeen, ’n nagedagte, en gebed, inspireer dit jou om ’n dieper verhouding met God te kweek. Vir jou as Christen is dit belangrik dat jou verhouding met God as die kragbron aan Hom gekoppel sal wees. Sodoende kan ons sy plan en doel vir ons lewens uitleef. Met gepaste teksverse en persoonlike ervarings stap Veronique die pad saam met die leser en beklemtoon hoe God se genade nie net in haar lewe sigbaar is nie, maar dat Hy teenwoordig is in elke seisoen van ons lewens.

Alhoewel die agterblad meld dat dit jong lesers op reis na die binnekante van hul harte neem, sal dit ook tot ander vroue spreek. Veral die vrae wat sy uitspreek waaroor lesers kan nadink, is met betrekking tot fases waarin die meeste vroue al verkeer het en waarmee vroue kan identifiseer.

Aan die hand van teksverse en voorbeelde uit haar eie lewe is dit belangrik om te sien en elke dag te onthou dat God elke tree in ons lewens saam met ons gee. Deur die goeie en die slegte, die maklike en moeilike tye. Dit gee dit ’n lekker persoonlike inslag en nie net aanhalings en verse nie, maar haar eie ondervinding van hoe sy die pad met God stap en wat vrede en berusting bring.

Die boek is geskryf deur ’n persoon wat nie net self jonk is en al moeilike tye getroef het en oorkom het met God se leiding nie, maar ook skryf in ’n taal wat maklik lees- en verstaanbaar is. Dit is gepas vir jongmense en mense met ’n vinnige lewenspas sodat daar altyd tyd is vir nabetragting.

Die teksverse is moontlik welbekend, maar sy plaas dit in perspektief en herinner ons aan ons verantwoordelikheid om Hom eerste te plaas, soos Matteus 6:31–33 sê: “Plaas God eerste, en die res sal in plek val.” Hoe maklik vergeet ons nie in vandag se tye dat God altyd daar is om ons hand te vat nie, dat ons net in Hom moet glo en vertrou. Veronique herinner ons aan die onvoorwaardelike liefde van God en dat Hy altyd sal voorsien. Met joernaalgedagtes aan die einde van elke dagstukkie noop sy die leser om dieper te dink en tyd in die binnekamer te spandeer om ons te herinner aan God se genade. Dit is ’n interessante aanslag, aangesien die meeste dagstukkies op ’n boodskap en gebed fokus. Dit is belangrik om introspeksie te hou en nie net te lees en te bid en dan af te skakel nie. Ons moet “ingeprop” bly in die kragbron. Die dagstukkies neem ons van vriendskap na ’n dieper verhouding met God, die (her)ontdekking van jouself en jou drome en talente, diensbaarheid, die daarstelling van grense, die belangrikheid van beloftes, en hoe om onsekerheid te hanteer. Dit is ’n paar van die temas wat gedek word in Ligstrale van hoop.

........
Ervarings of dae waar ons oorweldig en moedeloos voel van die storms wat ons omring. Dit is altyd, maar ook in tye soos hierdie, belangrik om te onthou die lig skyn die helderste in die donker.
........

Vir my is dit ’n herinnering daaraan dat dit van kardinale belang is om daagliks stil te raak, op God te vertrou en Hom aan te roep en sy stem te hoor. Soos sy in haar openingsparagraaf sê, God sien jou. Onthou dit altyd. Almal gaan deur moeilike en onsekere tye. Ervarings of dae waar ons oorweldig en moedeloos voel van die storms wat ons omring. Dit is altyd, maar ook in tye soos hierdie, belangrik om te onthou die lig skyn die helderste in die donker. Ligstrale van hoop is presies wat Veronique wil uitstraal. Met God by jou en die Heilige Gees in jou sal jy nooit alleen wees nie.

Wat dié boek anders maak as ander, is dat dit nie noodwendig oor ’n wye spektrum, verse en temas handel nie, maar meer oor tye waarin jy God se leiding en lig benodig. Dit is ’n geskikte geskenk vir iemand wat deur ’n donker tyd gaan, of wat ekstra hulp en ondersteuning benodig en wat dit uit spesifieke tekste, gebede en besinning kan put. Die inspirasiegids ondersteun jou soeke om God se aangesig te soek en dinge in die lewe wat jou nie meer dien nie, te beëindig.

Mag dit vir jou ’n unieke ondervinding wees met hoop en toewyding en ’n herinnering aan God se beloftes aan ons.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top