Liefdesbriewe van Jonker en Brink in nuwe toneelstuk vervat

  • 0

Dis ysig koud in die Strand toe ons die knus en gesellige The Drama Factory binnestap. Dis stampvol en mense kuier oor glase vonkelwyn en rooiwyn en warmsjokolade. Daar is opwinding in die lug en dis die meeste mense wat ek nog hier gesien het. Ek wonder of dit gaan oor die mense oor wie die toneelstuk Ingrid: ’n vlam in die sneeu handel (Ingrid Jonker en André P Brink); of die onderwerp (hul liefdesbriewe); of die jong talent (Lizelle Pike as Ingrid en Chanie Jonker op klavier). Dis die eerste maal dat ek vir Lizelle op die verhoog gaan sien en ek is opgewonde.

Enkele aande tevore het die stuk ’n uitverkoopte speelvak by Die Boer-teaterrestaurant in Durbanville gehad.

Die persverklaring was uitnodigend genoeg om ons almal van ons rusbanke en voor ons kaggels weg te lok:

Die woorde en nalatenskap van Ingrid Jonker brand steeds vandag nog soos ’n vlam wat nie geblus kan word nie – ongebonde, ongetem en onsterflik. Vir die eerste keer op die verhoog word die intieme en hartstogtelike liefdesbriewe tussen Ingrid Jonker en André P Brink lewendig in Ingrid: ’n Vlam in die Sneeu. Hierdie produksie is nie ’n gewone biografiese vertelling nie – dit is ’n teaterstuk wat Jonker herskep in haar eie woorde, haar eie klanke en haar eie emosies. Die musiek dien as ’n verlengstuk van haar poësie en bring ’n nuwe dimensie tot haar woorde – soms fluisterend en broos, soms brutaal eerlik, soms in volle-vlam en passievol. Ingrid Jonker se liefdesverhaal met André P Brink was tegelyk ’n bron van inspirasie en pyn – ’n verhouding wat gebrand het met ’n vuur wat nie kon bly brand nie. Brink se woorde aan haar, en hare aan hom, vorm die kern van die produksie: briewe vol intensiteit, verlange, twyfel, ekstase en uiteindelike verlies.

Maar Ingrid was meer as haar verhouding met Brink. Sy was ’n digter, ’n vrydenker, ’n revolusionêr in haar eie reg – ’n vrou wat nie in die sosiale grense van haar tyd kon inpas nie. Haar gees het die hede en die verlede oorskry, en in hierdie stuk word haar stem weer gehoor – deur musiek, deur die briewe, deur die gedigte en deur die rou waarheid van haar lewe.

Die produksie is geïnspireer deur Vlam in die Sneeu: Die liefdesbriewe tussen Jonker en Brink (Penguin Random House), die gepubliseerde versameling briewe wat die basis van hierdie liefdesverhaal vorm.

Hierdie unieke musiek- en toneelproduksie is ’n viering van Ingrid se hart en gees – ’n vrou wie se woorde die wêreld getroos het (en steeds doen), selfs al het haar eie hart gebreek. In haar reis het sy ook haar eie donkerte in die gesig gestaar – die stryd teen depressie (nes haar ma), wat haar lewe gekompliseer het maar haar kuns verryk het. Oorspronklike nuwe musiek omhels haar bekende gedigte uit die digbundel Rook en Oker, sodat elke lied ’n briesie word wat deur jou siel beweeg.

Dit haal ook wyle Nelson Mandela se woorde aan: “She (Ingrid Jonker) was both an artist and a human being. In the midst of despair, she celebrated life. Confronted by death, she asserted the beauty of life.”

Ek is mal oor Ingrid Jonker – al van skooldae af, toe haar gedigte in my skoot gelê is deur ’n onderwyseres wat haar gewig in goud werd was; haar waarde ver bo korale. Die rymende gedagtes van seerkry en verlange het ’n geweldige indruk op ’n baie ontvanklike tienersiel gemaak. Mens glo mos dan niemand verstaan jou soeke nie, tot jy ’n digter ontdek wat dit so perfek saamvat dat dit voel of sy in jou kop leef.

Soos die jare aangestap het, het ek alles wat ek oor haar kon oplees, verslind. Ook die dokumentêre film oor haar lewe gekyk; die teaterproduksie Plant vir my ’n boom, André met Erik Holm en Tinarie van Wyk Loots by die Stellenbosch Woordfees gaan kyk; en het al haar skrywes telkemale gelees.

Die Netwerk24-video waar Murray la Vita in 2008 met Andre P Brink gesels het oor sy skryfwerk en ook sy “stormagtige verhouding met Ingrid Jonker” het ook baie insigte gebring.

Dis dus ’n wonderlike vooruitsig om die nuwe produksie – en ook nuwe perspektief – te kan ervaar.

Die tafel, stoeltjie en selfs die houtkis op die verhoog is volgeskryf; kort sinne uit haar gedigte wat só gerusstellend bekend is – ’n kykie in ’n briljante digter se brein. Maar omdat mens ’n bietjie van Ingrid se agtergrond en baklei met depressie weet, verklap dit ook ’n bietjie van die chaotiese wipplank wat haar gedagtes was.

Die ligte doof. Die vrouestem oor die luidspreker vra mooi dat ons selfone afsit, nie foto’s of video’s neem nie. Dit raak amper ’n agtergronddreuning omdat mens dit al so baie gehoor het.

Maar dan kom die woorde klokhelder: “Word stil. Word heel en loop weer op die pad van die lig.”

Sjoe. Verfrissend anders. Ek sit sommer regopper in my stoel.

Lizelle se pruik en lang maroen hemp lyk op ’n druppel na soos een van die bekende foto’s van Ingrid.

Sy lees voor uit hul briewe; sy vertel stories oor hul verhouding en haar dogter, Simone. Sy vertel dat woorde net soos mense spook en dat haar lewe nie ’n sonskyndag is nie; dis eerder ’n onstuimige diepblou see. Buite blaf die hond swart en aanhoudend.

Haar aanvanklike euforie met hierdie liefde word later ’n vloek. “André, jy maak my siek, maar jy is tog ook die medisyne.” Die verlange na hom word waansin en verwyt.

Chanie tokkel tussendeur die klawers en Lizelle sing-praat uit Ingrid se bekendste gedigte, waaronder “Bitterbessie dagbreek”, “Toemaar die donker man” en “Korreltjie sand”.

Alles wat jy reeds oor haar opgelees het, word in ’n toneelstuk weergegee. My empatie groei nog dieper. Sy was amper te goed vir die wêreld. Haar impak op digkuns onderskat.

Die staande ovasie en kommentaar na afloop van die vertoning was ’n oorweldigende “Bravo!” en vele mense het klaarblyklik ook nie veel geweet van die verhouding tussen haar en Brink nie. Meer as een teaterganger het verklaar dat hulle baie opleeswerk het!

Maar die stuk het nie dieselfde indruk op my gemaak nie. Die eerste 20 minute was die sang amateuragtig en die toneelspel oordrewe en eerder iets wat jy by ’n hoërskool Eisteddfod sou verwag: Asof die aktrise haar woorde en uitdrukkings oorbeklemtoon, omdat sy onseker is dat sy die boodskap behoorlik oordra óf dat die teks by haar aanklank vind.

Miskien is Lizelle nog net nie ingespeel nie – een aand op ’n plek is dalk nie wat hierdie stuk nodig het nie, maar ’n langer speelvak in ’n teater, sodat sy dit deel van haar kan maak.

Ek voel ook dat hierdie woorde deur die stuk weerspreek is: “Maar Ingrid was meer as haar verhouding met Brink. Sy was ’n digter, ’n vrydenker, ’n revolusionêr in haar eie reg – ’n vrou wat nie in die sosiale grense van haar tyd kon inpas nie.” Inteendeel. Sy is eerder amper half mal van passie net as minnares uitgebeeld.

Die stuk en spel het haar storie vir my vervlak en die geweldige indruk wat haar digkuns op my lewe gemaak het, daar in die teater van my vervreem.

Maar dan, die vertoning keer op publieke aanvraag in September terug na Die Centurion Teater (https://centurionteater.co.za) en daar is sprake van ’n landswye toer in 2026.

En dan twyfel ek in my eie ervaring.

Gaan kyk dit self en besluit. En hopelik kan ons in die toekoms iewers oor ’n glas wyn idees uitruil.

Ingrid: ’n vlam in die sneeu
Met: Lizelle Pike as Ingrid Jonker
Regie: Nadia Beukes, Tiaan Kirsten-Lubbe en Lian Sachse
Teks en nuwe toonsettings: Jak J Brits
Musikale regie en klavier: Chanie Jonker

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Vlam in die sneeu, die liefdesbriewe van André P Brink en Ingrid Jonker, redakteur Francis Galloway

Ingrid Jonker se dogter gesels oor haar ma en Vlam in die sneeu

Liefde, seks, Vlam in die sneeu en Tristia

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top