Lesersindruk: Wit Wolf deur Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp

  • 0

Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding
Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624088264

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die boek Wit Wolf handel nie oor Barend Strydom nie. Dit skyn sekerlik duidelik uit die subtitel. Hierdie "wolf" is nie so prominent soos Strydom nie, van daar die verwarring wat by sommige mense insluip, en waar hulle jou dan wil verhelder met anekdotes oor Barend Strydom. Strydom vorm egter wel deel van Coetzee se boek – ’n belangrike deel. Blaai mens op die internet rond en lees die Engelse Wikipedia-bladsy oor Barend Strydom, dan lees jy daar dat die polisie destyds (in die laat 1980’s toe hy op swart mense losgebrand het) tot die slotsom gekom het dat die Wit Wolwe eintlik maar net die produk is van Strydom se verbeelding. Maar Stefaans Coetzee se boek vertel ’n totaal ander storie, en beweer dat daar werklik ’n instelling soos die Wit Wolwe bestaan het, ’n ultraregse groep mans, van wie Strydom die leier was. Coetzee onthul sommer heelwat inligting oor hierdie Wit Wolwe, en ek het geen rede om wat hy skryf in twyfel te trek nie.

Maar laat ek bieg, ek was nie oorgretig om hierdie boek te lees nie. Ouens soos Stefaans Coetzee wek van nature bitter min simpatie by my. Ek vind rassisme weersinwekkend. Rassisme is iets wat lankal in die verlede moes gewees het, maar danksy ouens soos Coetzee sit ons vandag nog daarmee. Moet ek nou regtig my tyd mors op sy relaas? Hoekom lees ek nie eerder ’n ander boek nie? So het ek by myself gesit en redeneer. Kom ek lees dit maar net om myself te verwittig van wat daar gebeur het, het ek myself getroos. Self was ek maar 11 jaar oud in 1996 toe Coetzee en sy makkers hulle bose dade gepleeg het. Totaal onbewus van al die dinge. Dit was boonop Kerstyd ook, en ek sou my dae rustig spandeer het deur ure buite te speel. Ek was geseën met ’n pa wat my geleer het om nie in andere se ras vas te kyk nie. Ek kom uit ’n gelukkige ouerhuis. Dit was soveel anders vir Coetzee … so het die besef stadig maar seker by my deurgedring.

En ek het later besef: Dit kon net sowel ek gewees het. Mense maak foute. Ek is nie beter as hy nie. En sy storie is werklikwaar iets om te lees.

Coetzee gaan haal die verhaal ver, by sy jeugjare. Hy het by sy pa grootgeword nadat sy ma eendag verdwyn het. Sy pa het ’n drankprobleem gehad en so het Coetzee uiteindelik saam met sy susters in die weeshuis in Winburg beland. Later het sy paaie gekruis met ene Jan "Voetbol" van der Westhuizen. Dit is hier waar dinge vir Coetzee ernstig begin skeefloop het. Van der Westhuizen het oornag ’n vaderfiguur in Coetzee se lewe geword. Coetzee se naam het verander van Stefan na Stefaans, op voorstel van Van der Westhuizen. Dit was nie lank nie, toe raak Coetzee bekeer tot die Israelvisie-geloof, wat wit superioriteit as ’n godsdiens verkondig. Daar was net een uiteinde van hierdie punt af – moeilikheid. En Coetzee trakteer die leser op elke grusame detail van die tragedie waarin hy die hoofrol speel. Coetzee was maar 19 jaar oud toe hy sy misdade gepleeg het.

Maar Wit Wolf is ’n storie van hoop. In die 18 jaar waartydens Coetzee in die tronk boet vir sy misdade, ondergaan hy ’n totale transformasie. Dit was nie vir almal beskore nie. Ook nie vir Barend Strydom nie. Onder andere. Coetzee vertel aangrypend oor sy lewe in die tronk. Al die mense wat sy lewe aangeraak het. Die vriendskappe. Hoe die lig vir hom stelselmatig aangegaan het. Hoe hy anders begin dink het oor ras en rasseverhoudinge. Hy vertel van die reusagtige invloed wat Eugène de Kock op hom gehad het. Van al die boeke wat hy deurgelees het, na bewering sowat 3 000 boeke. Ook van die katte wat hy skelm aangehou het. Die tronkbendes. Die Waterkloof-4. En uiteindelik sy pad na leierskap in die tronk. Die 18 jare in die tronk sleep hoofstuk vir pynlike hoofstuk verby, maar dit word duidelik Coetzee is glad nie meer dieselfde jongman wat daar ingestap het nie. Hy het berou ontwikkel vir sy dade, asook medelye met sy slagoffers. Die boek dokumenteer uiteindelik ook hoe Coetzee sy slagoffers ontmoet en hulle persoonlik om verskoning vra.

Uiteindelik breek die groot dag aan – vryheid.

Wit Wolf was uiteindelik meer as die moeite werd om te lees. Die boek is aan die een kant ’n biografie van Stefaans Coetzee, maar dit is ook ’n motiveringsboek. Dit is ’n boek van hoop en versoening. Soos wat Coetzee die idees van die Israelvisie stelselmatig verwerp het, het hy ook tot geloof gekom in die Christelike tradisie. Sy godsdiens speel ’n belangrike rol, maar oordonder darem nie die boek nie. Dit bly ’n biografiese vertelling, in die eerste persoon vertel. Die lees van hierdie boek kan baie mense motiveer en ook hoop gee, en ek sou elke nuuskierige mens aanmoedig om dit te lees.

Lees ook:

Resensie: Wit Wolf deur Stefaans Coetzee & Alita Steenkamp

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top