Resensie: Wit Wolf deur Stefaans Coetzee & Alita Steenkamp

  • 1

Titel: Wit Wolf 
Outeurs: Stefaans Coetzee en Alita Steenkamp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 978-0-624-08826-4

"Leef liefde”: Dit is die eenvoudige maar positiewe boodskap wat Stefaans Coetzee, "’n haatdraende en verregse rassis en terroris" (sy woorde), in sy boek, Wit Wolf – Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding, oordra.

Stefaans is tot moordenaar veroordeel en effektief tot 40 jaar tronkstraf gevonnis, nadat hy op Oukersdag in 1996 saam met twee ander verregses bomme by die Shoprite-winkel in Worcester geplant het. Sy drie mede-beskuldigdes het lewenslank tronkstraf gekry. Dié verwoestende ontploffings het gelei tot die dood van vier mense (waar onder drie kinders is). 67 mense is beseer. 

Die boek se onheilspellende swart, wit en grys voorblad, waarop die voormalige bomplanter se stroewe gesig agter tronktralies uitgebeeld word, is treffend. Hier is die gesegde: “Don’t judge a book by it’s cover” allesbehalwe waar. Die boek is op eerlike wyse en sonder omhaal van woorde of onnodige melodrama in samewerking met die ervare joernalis, Alita Steenkamp, geskryf. Dit is egter nie nodig vir aangeplakte beskrywings nie, want die feite spreek vanself.

Daar is nooit verskonings vir geweldsmisdade nie, maar mens vra jou tog af wat aanleiding tot hierdie grusame terreurdaad gegee het. Die antwoorde word duidelik in die boek uitgestippel.

Stefaans toon geen tekens van bravade of selfbejammering nie, slegs diep berou. Hy praat oor ervarings van verwerping en drankmisbruik in sy ouerhuis, en sy tydelike verblyf in 'n kinderhuis saam met sy drie sibbe nadat sy ma die pad gevat het. Hy vaar ten volle verantwoordelikheid vir sy dade, maar wonder nogtans hoe sy lewe sou uitdraai as sy ma nie weggeloop het nie. Mens besef egter dat daar talle getraumatiseerde, ouerlose kinders is wat nie by geweldsmisdaad betrokke raak nie. 

Ek sou meer te wete wou kom oor die ambivalente verhouding tussen Stefaans en sy ma. Wat is háár storie en agtergrond? Sy het hom gereeld besoek en soms selfs vir hom kos gebring. Toe bly sy weer vir ses jaar lank weg. Hy het op 'n later stadium haar voete gewas en albei het gehuil. Dit blyk dat sy nie iemand is wat met haar hart op haar mou loop nie, en mens vra jou af of sy werklik so min vir Stefaans omgegee het. Vir sy pa Fielies, wat ’n ernstige drankprobleem gehad het, het Stefaans veel meer tyd gehad. Dit laat 'n mens wonder wat 'n kind meer skaad: emosionele afwesigheid of drankmisbruik? 'n Sielkundige sou dalk lig op dié onderwerp kon werp. 

Ek sou ook graag meer oor Stefaans se jare in die kinderhuis wou lees. Hoekom het dit hom so getraumatiseer en hoekom was dit vir hom amper erger as die 20 jaar agter tralies? Ons lees wel dat dit hoofsaaklik met sy gevoel van verwerping te make het, maar gevangenis word ook dikwels verwerp (binne en buite die tronk). Hoekom is die kinders belieg en om die bos gelei met stories van ’n plaas en perde waar hulle sou woon terwyl hulle op pad na die Winburg Kinderhuis toe is? Mag maatskaplike werkers so lieg?

Die rede hoekom Stefaans se pad met die verregse Israelvisie-aanhanger, Jan Voetbol, gekruis het, word duideliker uiteengesit. Stefaans was immers op soek na ’n vaderfiguur, selfs al was dit ’n verwronge beeld van die gewone vaderfiguur. Namate die verhouding tussen die twee mans ontwikkel het, het Stefaans Jan se politieke sienings begin aanhang en ’n fanatiese "super-rassis" geword. Hy vertel dat hy ter wille van Jan se aanvaarding ’n moordenaar geword het.

Hy skryf ook oor die 13 verskillende gevangenisse waar hy aangehou is, en hoe sy pad met wit en swart bewaarders, bendelede en mede-gevangenes gekruis het. Hy het selfs hegte vriendskappe met figure soos Eugene de Kock (ook bekend as Prime Evil) gesmee. De Kock het vir hom ’n voorbeeldige vaderfiguur agter tralies geword. 

Inligting oor die nommerbendes is veral interessant, maar die vertellings oor die toiletgeriewe en hoe sekere gevangenes rotte mak gemaak het, is afskuwelik. Dié beskrywings is seker van die beste afskrikmiddels vir tronkstraf en sal daartoe lei dat mens nie eers ’n parkeeroortreding sal begaan nie.

Dis ook insiggewend hoe hy met gevangenes van ander rasse bevriend geraak het en dat Barend Strydom hom gereeld besoek het. Strydom is die einste man vir wie Stefaans, namate sy politieke sienings verander het, gevra het om  eerder van hom af weg te bly, 

Talle gevangenes sensasionaliseer hul misdade –  waarskynlik om heldestatus in die tronk te kry, terwyl ander dit  afwater en voorgee dat hulle eintlik min of meer engele is wat net verkeerd verstaan word. Dit is glad nie die geval met Stefaans nie.

Wit Wolf is reeds deur verskeie bekendes wat op die agterblad aangehaal word geloof. Dié aanhalings is 'n slim bemarkingstrategie. Die opsomming op die agterblad is immers een van die redes waarom lesers 'n sekere boek tussen duisende ander uitkies. 'n Mens kan dus vir die uitgewer 'n klop op die skouer gee. 

Dana Snyman beskryf dit as ’n “roerende, eg Suid-Afrikaanse storie wat jou diep raak en met ander oë laat kyk na elke mens in hierdie land wat jou pad kruis”. Prof Jonathan Jansen verwys na die boek as “ysingwekkend en bemoedigend. ’n Treffende en hoopvolle herinnering dat bevryding en die vooruitsig op versoening in elkeen van ons opgesluit lê.” Bouwer Bosch beskryf die boek as “’n aangrypende verhaal van hartseer, hoop en liefde. Dit wys die reuse-impak wat liefde in die wêreld kan hê en herinner ons om meer vrygewig te wees met vergifnis en genade vir mekaar.” Dié woorde deur gerespekteerde meningsvormers dra geweldige gewig. 

Ek sal hierdie boek beslis aanbeveel. Dit lees maklik, die taalgebruik is netjies en dit werp lig op die psige van die misdadiger – hetsy gerehabiliteer of nie.

Verdien hy ’n tweede kans en sal Stefaans na deser as ’n versoener, eerder as ’n terroris onthou word? Ek dink so. Hy is al jare uit op parool en het nog nooit weer ’n voet verkeerd gesit nie. Hy was die heel eerste gevangene wat Restorative Justice-kursusse in die tronk aangebied het. En die inkomste van sy deel van die boek se tantieme word aan die bomslagoffers geskenk.

Bowenal moet mens ingedagte hou dat 50 slagoffers in Januarie 2013, 17 jaar na die bomontploffing, met die vredestrein vanaf Worcester na Pretoria toe gery het om Stefaans te vergewe. Hy weet tot vandag nie hoekom nie. Dit bly vir hom ’n wonderwerk. Dit is ook ’n pluimpie in die hoed vir die Departement van Korrektiewe Dienste wat 'n groot aandeel in dié gebeurtenis gehad het. 

Stefaans het ’n unieke lewensverhaal wat vertel móés word. Sy storie beskik, in sy eie woorde, oor die potensiaal om Suid-Afrika om te keer. Dit is ’n verhaal oor haat en geweld, maar ook met ’n onverdunde boodskap van hoop, liefde en inspirasie. Wat mens die meeste tref is Stefaans se fisieke én geestelike bevryding. En dit alles as gevolg van die krag van geloof en vergifnis.

 

  • 1

Kommentaar

  • Floresca Suresh Adams

    Ek het Stefaan ontmoet. 'n Mens met 'n hart van goud ... Hy is 'n goeie voorbeeld van Christenskap. En ons almal as Christene kan baie leer by hom. Twee dinge: eerste om ander mense te help ongeag hulle kleur en nasionaliteit. Tweedens om ander mense te dien met jou besittings ... Ek het groot respek vir hom ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top