Titel: Die geestelike noodtoestand in die kerk
Skrywer: Kobus Visser
ISBN: 978-0-7961-2119-6
Publikasiedatum: 2023
Uitgewer: Selfpublikasie
Aantal bladsye: 344
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
’n Noodtoestand verg ’n noodsein. Hierdie boek is so ’n noodsein wat die krisis in die kerk beskryf en is ’n wekroep aan alle lidmate om kennis te neem en daadwerklik op te tree. Hier is inligting wat vir elke Christen as barometer kan dien om te bepaal of dwaalleer verkondig word, sowel as ander inligting wat van onskatbare waarde is vir Christene in die eindtyd waarin ons ons tans bevind.
Francois Carr van Heart cry South Africa, wat Kobus Visser jare al ken en saam met hom geestelike uitreike gedoen het, skryf in die eerste voorwoord hy glo dat hierdie boek die leser sal help om bewus te word van die dilemma waarin die kerk verkeer. Piet Otto, leraar van Bethal Moedergemeente, skryf in die tweede voorwoord dat hierdie boek ’n raak beskrywing is van die toestand waarin die kerk hom bevind – gegewe die getuienis voorhande en beoordeel in die lig van die Skrif.
Die skrywer is diep besorg oor geestelike afvalligheid en die verval van die kerk. Die boek is nie geskryf om die kerk af te breek nie, maar om die kerk aan te spoor om terug te draai na die waarheid. Die volgende onderwerpe word uitvoerig bespreek: Wie en wat is die kerk? Wat is die Bybel? Evangelisasie; dissipelskap; dwaalleer en die eindtydgebeure.
Al word daar plek-plek na gebeurtenisse en spesifieke persone in die NG Kerk verwys, is dit meesal van toepassing op denominasies in die algemeen en kerke wêreldwyd.
Die verkondiging van die evangelie is vir Visser van groot belang. Dit is sy bede dat die kerk erns sal maak daarmee om die volle evangelie aan verlore mense te verkondig soos wat Jesus en die apostels dit gedoen het sodat ware bekerings kan plaasvind. Wanneer iemand tot bekering gekom het, moet hy opgelei word om ’n dissipel te word wat van ander dissipels maak.
In die hoofstuk oor die kerk noem Visser drie kenmerke van die ware kerk: suiwer woordverkondiging, suiwer bediening van die sakramente en suiwer toepassing van die kerklike tug. Daar moet onderskei word tussen die ware en die valse kerk. Alle ware Christene is deel van die universele kerk – dit is ’n geestelike eenheid; dit is die eenheid waarna in die Bybel verwys word, nie ’n strukturele eenheid nie. Vir die laaste 70 jaar beywer die ekumeniese beweging hom daarvoor om die kerk struktureel te verenig ten koste van die geestelike eenheid. Dit het ook die deur oopgemaak vir wat een wêreldgodsdiens ten doel het.
In die hoofstuk oor die Bybel lees ons van die aanslae op die Bybel. Dwaalleraars het ’n lae dunk van die Bybel. Hulle verkondig wyd en syd dat hulle steeds met die Bybel erns maak, maar vir hulle is die Bybel mensewoorde oor God, en bloot oergeskrifte. Hulle streef nie na verantwoordbare herinterpretasie van die Skrif nie – hul hooffokus is om die Skrif aan te pas by die kultuur van die dag.
Die toegewyde Christen het ’n hoë agting vir die Skrif, en beskou die Bybel as die Goddelik geïnspireerde Woord van God, God se Woord in mensetaal.
Die doel van die hoofstuk oor dwaalleer is om die erns van misleiding in die universele kerk te ondersoek, te bepaal wat die redes daarvoor is en watter metodes Satan gebruik om mense te mislei, sodat ons as Christene ons daarteen kan verset. Verder wys die skrywer daarop hoe spesifieke dwaalleraars daarmee begin het om ’n spesifieke waarheid nie meer te glo nie en hoe hulle dan verder ander waarhede in die Bybel verwerp het. Dit word dan soos domino’s wat omval. Dit maak opsig en tug soveel belangriker, sodat daar met liefde en respek met hierdie persone in gesprek getree word en hulle kans kry om terug te draai na die waarheid. Dwaalleraars is in alle denominasies wêreldwyd, maar omdat hy in die NG Kerk grootgeword het, gee die skrywer meesal voorbeelde in die NG Kerk van persone wat op bepaalde gebiede dwaal of selfs reeds volslae dwaalleraars is. Dit word gedoen nie om hulle aan te val nie, maar om die dwaalleer wat hulle verkondig, aan te spreek.
Opsig en tug wat reeds vir jare nie meer ernstig opgeneem word nie, is een van die belangrike redes vir die noodtoestand in die kerk. Die skrywer skryf van leertugondersoeke waarby hy self betrokke was en sê dat die ommekeer in die kerk plaasgevind het toe Skrifkritiek en sogenaamde Bybelwetenskap deur liberale teoloë as van hoër gesag as die Bybel geag is. Hulle het skynbaar al die antwoorde wat die kerk oor die eeue heen nie gehad het nie. Die kenmerke van ware Christene is dat hulle die Bybel ernstig opneem, die waarheid liefhet, glo, ken en gehoorsaam, en ’n gees van onderskeiding het. Volgens dwaalleraars is die historiese gegewens in die Bybel onbetroubaar en het die wonderwerke nie regtig plaasgevind nie.
Die laaste hoofstuk gaan oor die eindtyd waaroor God in sy Woord dit vir ons duidelik maak dat die groot afval nou in volle swang is. Dit moet ons almal oproep om self gereed te maak en voorbereid te wees. Dit moet ons opnuut inspireer om te baklei vir die waarheid en siele van mense, omdat die tyd daarvoor min is.
Hierdie boek is nie vir vinnig-deurblaai lui lesers nie. Dit vra lees en herlees, en in die meeste dele vra dit ook vir selfondersoek. Dit is propvol nuttige inligting en werd om byderhand te hou vir naslaanwerk. Dit is ’n moet lees vir elkeen wat besorgd is oor die toestand van die kerk.
Kobus Visser sluit af met hierdie woorde: “My gebed is dat die Here in hierdie boek aan die woord sal kom, dat jou hart aangeraak sal word en die inligting jou sal transformeer, sodat jy sal uitgaan om God se koninkryk uit te brei, en Hy al die eer sal kry; dat ek en jy deur die genade van God eendag sal hoor: ‘Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal Ek jou aanstel. Kom in en deel in My vreugde!’” (Matteus 25:21).
Die boek is verkrygbaar by die skrywer self, by dcvisser@mweb.co.za of by 082 415 0713.
Kommentaar
Ai Henrietta...'n Mens soos ek het 'n gekompliseerde verhouding met die kerk. Jy weet nie aldag of jy in jou mou wil lag, of die kerk moet jammerkry nie. Dit bly, per slot van sake, regte mense, vlees en bloed, neurone en emosies, nes soos die uwe...
As iemand wat letterlik tussen die kerbanke grootgeworre het, sak my moed eintlik maar grootliks in my skoene by die lees hiervan. Ken jy die woord letterlik? Dit het twee betekenisse. Dit kan of dien as die teenpool van "figuurlik". Of dit kan uitsluitlik dien as beklemtoning. Ek het LETTERLIK (figuurlik gesproke) tussen die kerkbanke opgegroei. Ja, en ek vra myself die vraag af, was daar ooit werklik 'n tyd in die geskiedenis van die kerk, wat die kerk nie in die een of ander bestaanskrisis (noodtoestand) verkeer het nie?
Soos enige 38-jarige was ek in my lewe op menige begrafnis en gedenkdiens. En ek sit eendag jare gelede daar in Kimberley in die township Galeshewe ook by so geval. En soos dit by sulke geleenthede gaan, is daar toe die dag 'n hele aantal sprekers. Die eerste een is 'n grootdoop pastoor. Tydens sy spreekbeurt trek die grootdoop pastoor los en hy sê DIS DIE DUIWEL! Satan loop rond soos 'n brullende leeu. Hy verwoes en verskeur en moor. Dood kom nie van ons lewende, liefdevolle god af nie o nee! Ons god is 'n god van lewe!
Betree die Gereformeerde dominee die podium. Daar draai die storie 360 grade om. Nee, nee, nee. Die Skrif is baie duidelik! Ons tye is in gods hand! Die Here gee en die Here neem. Prys die Here! Sy soetste stem, sy mooiste blom, die het Hy kom pluk vir die koningkryk! Pasop vir valse predikers, my liewe broers, my liewe susters. Bly by die waarheid! Bly by die Here!
So loop die dinge maar, maar kom sensus, dan is al die dwaalleerders en sektes skielik kinders van die Here. Dan voel die Calvinis dat die Katoliek ook seker darem 'n Christen is...
In 1985, toe ek gebore was, was die kerk in die apartheidkrisis. Klomp het daai jare toe mos afgestig en die AP kerk gevorm. Hulle is "die stigters". As "stigters" van die befaamde AP kerk, dra hulle menings meer gewig as die bykommers, instappers, laatmlammers en dies meer.
En sedertdien het die die een noodtoestand en bestaanskrisis na die ander gewoed in die huis van die Heer. Daar was die kommunistiese rooi gevaar. Die Belhar-belydeniskrisis. Die gay-krisis. In die 1960's tot die 1980's was daar die Cottesloe-kerkeberaadkrisis. Daar was die gevare soos rockmusiek en karate. Die aanslag op die ou duiwel se bestaan deur die liberale. Een van die grootste faaights in die kerk, is die van die behoud van die ou duiwel. Sonder 'n goeie, getroue ou duiwel, is die kerk se fantasievlugte veel veel sonder meriete en substansie. Veel armer. In die 1930's was daar natuurlik dominee "Pienk Piet" Du Plessis en andere se liberalisme. Onder meer ook, die eerste eerste minister van apartheid, dok DF Malan, heel bekend as liberale teoloog. Gelukkig is dié toe later darem politiek toe. Klomp ander "gevare". Eindelose, tallose krisis op krisis...
Maar goed, goed, op een punt gee ek jou gelyk. Die behoudendes is dikwels wel veel eerliker. Kerk is groot geld en in 'n poging om verlies aan besigheid te beperk, verkondig die liberale al te graag dat hulle nog getrou is aan Skrif en veral, belydeniskrif. Maar, van belydenisgeskrif praat ons liefs nie vanaf die kansel nie. En veral nie met die katkisante nie. Want ons wil hulle nie te vroeg verloor nie. Nie te vroeg laat skrik vir ons grondslag van belydenis nie...
Maar is dit nie ook eerlik om te erken dat jy tot die gevolgtrekking gekom het dat die bybel mense se woorde oor god is nie? En het daardie gelowiges geen meer reg om op hulle manier nog aan hulle god te glo nie?
Ek sukkel om enigsins hierdie "geestelike eenheid" waarvan gepraat word, met enige erns te bejeën.
Vir my is dit maar net nóg leë woorde van die kerk. Net nóg woordgimnastiek.
Dagsê Barend. Goed om weer van jou te hoor. Wat jy skryf, klink baie soos wat jy geskryf het oor Dr Gerhard Mahne se boek. Bestel hierdie boek en lees - dis regtig die geld en moeite werd. Dan kan ons sinvol gesels. Vriendelike groete.
Ek vegeet eintlik ook om te noem van die groot krisis van Afrikaans in die kerk. Die jare toe 'n klomp beswaarde ooms en tantes oortuig was dat die Here sy sake uitsluitlik in Nederlands doen, en die bybel nooit in Afrikaans vertaal moet word nie. En ook die krisis van die vrou op die kansel. Trouens, die vrou op die kansel is vandag nog 'n probleem. Want jy weet, die bybel. Die bybel sê dit en die bybel sê dat. Ek het dok se boek nogal in die hande gekry en so stukkie daarvan probeer lees. Maar dit is totaal onleesbaar.
Dit lyk my dié skrywer kon nie 'n uitgewer vir sy boek kry nie. Selfs die christelike uitgewers skram weg.
Aan al die dolerendes, ortodokses, skrifgetroues, tugmeesters en gesuiwerdes: Die "Suiwer Woord-van-God" is neergepen deur mense wat werklik geglo het die aarde is plat, die hel is onder die aarde en die hemel daarbo. En verder: Slange kon glo praat, dis waar die sondeval-doktrine vandaan kom, en 'n vrou raak swanger deur windbestuiwing om die ganse mensdom van hierdie sonde te red!
Die tyd het julle verbete ingehaal. Verset is vir altyd verby.
En toe bid tant Tolie: "Liewe Jesus, help my tog met my seun. Hy is al elf jaar oud, en hy gesels nog met sy onsigbare maatjie asof hy werklik bestaan. Amen."
Saulus, wat met groot toewyding die Christene vervolg het en by stenigings bygestaan het toe dit aan die orde was, sien toe lig en word Paulus, probeer toe preek en die wind fluister in sy oor "gee pad, hierdie mense sal verseker nie jou getuienis oor My aanvaar nie" (Hand 18:22). Dat hy nou alreeds 2000 jaar gelede hierdie woorde gehoor het - nè!
Jy Christen, wat hier lees - mag ons 'n rustige en geseënde kersoggenddiens en -dag ervaar.
Immers sal ons nie ontrou aan onsself wees en kersdag afvat nie.
Dankie Raed, ek waardeer jou kommentaar. Geseënde Christus ook vir jou en jou familie.
Julle wat hier lees, en ook diegene wat nie hier lees nie: gelowiges en nie-gelowiges, Christene, Moslem, Jood, ateïs, Hindu; ek wens julle 'n rustige en aangename Kersfees toe. Mag ons uitgerus die nuwejaar ingaan, en mag die mensdom tot die besef kom dat geloof net doodslag en verdriet bring.
Kobus se boek is nou by takelot verkrygbaar: Takealot Link:
https://www.takealot.com/die-geestelike-noodtoestand-in-die-kerk/PLID94689488