Lesersindruk: Unlocking the leadership master code deur Marius Pretorius en Nico Schutte

  • 1

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Unlocking the leadership master code
Skrywers: Marius Pretorius en Nico Schutte

Uitgewer: KR Publishing
2025

“Ons kan nie ons probleme oplos met dieselfde denke as wat ons gebruik het toe ons dit geskep het nie.” Albert Einstein het blykbaar hierdie stelling in ’n onderhoud gemaak en dit beskryf die kern van baie uitdagings waarmee leiers wêreldwyd te doen het.

Tog verstaan die meeste mense dit glad nie. Wanneer ’n mens dieper delf in die teorie en praktyk van leierskap kom die bedoeling van bogemelde aanhaling selde ter sprake. Die meeste leierskapsboeke handel oor gesindheid, vaardighede en waardes, emosionele en sosiale intelligensie, invloed, menseverhoudings, opofferings, en wen-wen-onderhandelings. Al dié aspekte is noodsaaklik vir leiers, maar dit is uiterlike, oppervlakkige kosmetiek.

Die skrywers van Unlocking the leadership master code, Marius Pretorius en Nico Schutte, brei uit op die kompleksiteit van leierskap.

Leadership, as we have known it, is out of breath. Across boardrooms, governments, schools, hospitals, and communities, we are witnessing a profound unravelling. The world is changing at a pace and scale that far outstrips our inherited tools, mental models, and institutional reflexes. Leaders are being asked to navigate challenges that are not merely complicated but entangled; not only urgent, but existential. These are no longer problems to solve; they are patterns to reprogramme. (11)

Die skrywers gebruik die akroniem F.R.A.G.I.L.E. (Fragmented, Rapidly changing, Ambiguous, teetering on the edge of Geo-political and ecological collapse, Inequitable, Lacking trust, and marked by Economic erosion and instability) om die kompleksiteit van die wêreld aan te dui. Leiers word nie vir dié soort wêreld voorberei nie. Die skrywers brei uit op die gefragmenteerde, vinnig veranderende samelewing met dubbelsinnige, geopolitieke en ekologiese verval, onbillikheid, en wantroue, gekenmerk deur ekonomiese onstabiliteit. Hulle antwoord is die ontwikkeling van die menslike bewussyn waar die uiterlike en die innerlike (dubbelheliks) mekaar beïnvloed.

Die vertikale ontwikkeling speel die belangrikste rol in hoe doeltreffend die leier is.

Vertikale ontwikkeling is transformerend. Dit verander hoe ’n persoon betekenis van hul wêreld maak. Dit gaan nie net oor die verkryging van nuwe vaardighede nie, maar om met nuwe oë te kyk en die einste raamwerke waardeur ons ervaring interpreteer, te herorganiseer. Vertikale ontwikkeling verskuif die “bedryfstelsel” van die self. (87)

Die steierwerk wat die vertikale ontwikkeling bymekaar hou, is die verskillende lyne soos kognitiewe, emosionele, morele, spirituele, en vele ander. Iemand kan hoogs ontwikkeld op die kognitiewe lyn wees, maar laag op die morele lyn.

In Deel II neem die skrywers spiraaldinamiek se navorsing en pas dit by hulle Meesterkode aan. Spiraaldinamiek is gebore uit die navorsing van Clare W Graves tydens die 1950’s en ’60’s. Sy navorsing het getoon dat mense se waardesisteme verskillend ontwikkel. Hy het ses vlakke van die eerste laag (“first tier”) en twee vlakke op die tweede laag (“second tier”) geïdentifiseer. Wat hom verbaas het, was die verskil tussen die twee lae: “The emergence of a second tier of existence is a momentous leap for mankind, a shift so profound that it will change the nature of human affairs” (117).

Don Beck, en later met Christopher Cowan, het Graves se idees ontwikkel en sedert 1986 verdere navorsing in Suid Afrika gedoen. Spiraaldinamiek gebruik kleure om die verskillende vlakke aan te dui. Pretorius en Schoeman gebruik egter argetipe terme om die verskillende vlakke voor te stel.

Die eerste laag se vlakke word soos volg voorgestel (hierdie artikel behou die oorspronklike terme):

  • Survivor – lei deur refleks en beskerming
  • Tribalist – lei deur verwantskap, ritueel en samehorigheid
  • Warrior – lei deur selfhandhawing, oorheersing en persoonlike wil
  • Guardian – lei deur reëls, struktuur en morele plig
  • Achiever – lei deur outonomie, prestasie en innovasie
  • Humanist – lei deur empatie, insluiting en sielkundige veiligheid (97)

Die tweede laag se twee vlakke is:

  • Alchemist L-Meme – ’n stelselwyse, selftransformerende leier wat oor paradigmas sien, en ontwerpe vir opkoms en aksie in lyn bring met ontwikkelende kompleksiteit
  • Steward L-Meme – ’n teenwoordigheidsgesentreerde, terrein-sensitiewe leier wat leef en lei vanuit heelheid, geestelike samehang en planetêre sorg

Deel III lê die klem op die reis van wording: die vyf deurgange na integrale leierskap.

In hierdie deel trek hulle Ken Wilber se The religion of tomorrow nader met “waking up, growing up, cleaning up, showing up, en linking up”. Die skrywers se klem is anders as Wilber s’n in die laaste een. Wilber beklemtoon “Opening up”.

Die skrywers meen dat die wêreld leiers uit die tweede laag nodig het, want die probleme is veroorsaak deur die eerste laag. Ongelukkig is die mense op die tweede laag yl gesaai en nie dinamies genoeg om ’n skip uit stormwaters te stuur nie.

Unlocking the leadership master code bring verskillende ontwikkelingsnavorsing bymekaar wat redelik onbekend in Suid Afrika is. Die voorwoord van die boek is geskryf deur Rica Viljoen, een van twee Suid-Afrikaanse vroue wat groot bydraes in spiraaldinamieknavorsing lewer. Dit is jammer dat haar deelname in Spiral Dynamics in action. Humanitys master code, nie meer aandag kry nie. Haar artikel oor Suid Afrika, “Back to the future – The South African crucible revisited,” is ’n uitstekende uiteensetting van die uitdagings waarmee Suid Afrika te doen het.

My kritiek op Unlocking the leadership master code is tweërlei. Die manier hoe die skrywers die verskillende vlakke voorstel, laat dit maklik lyk om van een vlak na ’n volgende te beweeg.

Across these chapters, you’ll encounter the leadership algorithms that shape how we act, react, and evolve. You’ll learn to recognise them in yourself, in others, and in your culture. Most importantly, you’ll gain language and insight to grow consciously – not just reactively – in alignment with the demands of our time. (94)

Wat hulle voorstel is dat wanneer leiers die boek lees, hulle die insig en taal sal bekom om die eise van ons tyd aan te spreek. ’n Mens besef nie noodwendig op watter vlak jou kern is nie. Verder dink jy dat al die mense op ander vlakke dom, oningelig, en sommer hardkoppig is. Die skrywers vergeet ook van die ses voorwaardes om van een vlak na ’n volgende te beweeg.

Ses Voorwaardes vir Verandering
  • Voorwaarde 1. Die eerste voorwaarde is die potensiaal vir verandering. Nie elke individu is in staat om te verander nie. Verandering is dalk nie altyd moontlik nie. Oop stelsels laat die grootste moontlikheid van verandering toe. Persone wat ’n oop stelsel vertoon, is oopkop, geniet nuwe stimuli en is nie rigied nie. Hulle studeer, reis en verken nuwe dinge. In ’n geslote stelsel word mense vasgevang deur interne of eksterne grense. Hulle kan slegs verander as die grense verwyder word. Vrees hou mense dikwels in die presiese posisie waar hulle is. Verandering is ’n bedreiging. Mense in ’n geslote stelsel word geblokkeer deur biopsigososiale vermoëns. Die oorsaak kan ontwikkeling, omgewing, of sielkundig wees en individue is in wese nie in staat om te verander nie.
  • Voorwaarde 2. As ’n persoon nie in ’n geslote stelsel is nie, het hy of sy oplossings nodig om huidige en vorige probleme op te los. Die doel om aan hierdie voorwaarde te voldoen, is die stabilisering van enige huidige bedreigings, hetsy ekstern of intern. As voorbeeld, dink aan ’n siek persoon wat die bedreiging van die dood beleef. Eers op daardie punt is hulle in staat tot sistemiese verandering (om ’n meer gesonde lewe te lei). ’n Verdere voorbeeld: dit sal vir ’n persoon met angsversteuring moeilik wees om deur verandering te werk sonder om eers die probleme met angs op te los.
  • Voorwaarde 3. Daar moet ook dissonansie binne die individu of binne sy of haar lewensomstandighede wees. Individue moet op een of ander manier ongemaklik wees.
  • Voorwaarde 4. Die hindernisse vir verandering moet geïdentifiseer en oorkom word. Die hindernisse moet herformuleer word.
  • Voorwaarde 5. Die individu moet insig hê in die sake wat veroorsaak het dat die vorige denkstruktuur misluk het. Hy of sy moet kennis hê van wat verkeerd geloop het met die vorige stelsel en hoekom, en dan moet hy of sy bewus wees van nuwe hulpbronne wat beskikbaar is om die probleem beter te hanteer. Nuwe modelle, benaderings en maniere moet vir die individu beskikbaar wees. Hulle moet die vermoë hê om die opkoms van nuwe lewensomstandighede te herken.
  • Voorwaarde 6. Daar moet konsolidasie en ondersteuning tydens die oorgang wees. Oorgange is dikwels wisselvallig en moeilik om te stabiliseer.

As daar nie aan al ses hierdie kriteria voldoen word nie, sal die veranderingsproses nie ’n suksesvolle uitkoms hê nie.” (Beck 49–50)

Die tweede opmerking of kritiek is dat die skrywers van die inhoud van Ken Wilber se boek The religion of tomorrow, wat in 2015 gepubliseer is, gebruik sonder om erkenning te gee. In hulle verwysings is daar een boek van Wilber, A theory of everything, wat in 2000 gepubliseer is. Ek verwys hier na Wilber se Vyf Deurgange (Five Gateways) waaroor hy nie in 2000 geskryf het nie.

Ten spyte van die kritiek bevat Unlocking the leadership master code inligting wat leiers se perspektiewe en hopelik hulle optrede sal verander, mits die voorwaardes teenwoordig is. Die vertikale beweging is om van die enkelvoudige na die meer komplekse te beweeg. Iemand op die Warrior-vlak kan byvoorbeeld nie die Humanist-vlak se kompleksiteit verstaan of verwerk nie. Tog kan die Warrior die wapentegnologie van die Achiever bekom en die Humanist manipuleer om hom as Slagoffer teen die Oortreders te beskerm. Unlocking the leadership master code arriveer op die regte tyd sodat leiers die komplekse wêreld van hoërvlakprobleme kan aanspreek.

Verwysings

Beck, DE, Larsen, TH, Solonin, S, Viljoen, R, en Johns, TQ. 2018. Spiral dynamics in action: Humanity’s master code. Chichester: John Wiley & Sons.

Pretorius, M. en Schutte, N. 2025. Unlocking the leadership master code: Five gateways to adaptive leadership intelligence. Johannesburg: KR Publishing.

Wilber, K. 2018. The religion of tomorrow: A vision for the future of the great traditions – more inclusive, more comprehensive, more complete. Boulder, CO: Shambhala Publications.

Wilber, K. 2025. Finding radical wholeness: The integral path to unity, growth, and delight. Boulder, CO: Shambhala Publications.

Lees ook:

’n Lesersindruk: Wicked smart deur Douglas Kruger

  • 1

Kommentaar

  • Amanda Glaeser

    This book brings an evolutionary step in leadership. There are levels of consciousness described by David Hawkins, also introduced by Rika Viljoen as an organisational-development cutting-edge view that is slow in being recognised. This book opens that thinking in a practical manner. Cannot wait to read it.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top