
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Kinders se spinnekoppe van Suider-Afrika
Skrywer: Rudi Steenkamp
Uitgewer: Penguin Random House Suid-Afrika (Julie 2025)
ISBN: 9781779890238
Rudi Steenkamp se boek, Kinders se spinnekoppe van Suider-Afrika, is ’n vars en toeganklike veldgids oor die fassinerende wêreld van spinnekoppe. Die boek is die derde boek in Struik Nature se reeks opvoedkundige natuurboeke vir jong lesers. Die ander twee titels is Kinders se voëls van Suider-Afrika en Kinders se slange van Suider-Afrika.
Die inleidende gedeelte van Kinders se spinnekoppe van Suider-Afrika verduidelik hoe spinnekoppe lyk, eet, jag en spin, waar hulle woon, hoe hulle voortplant en hoe lank hulle lewe. Ongeveer 370 kleurvolle makrofoto’s, wat die fynste besonderhede van spinnekoppe toon, bevestig die feite. Daarna word die boek ingedeel in kategorieë oor plant-, grond- en webbewoners, dan is daar woestyn- en waterspinnekoppe, spinnekoppe wat hulself pantser en dié wat bobaas-vermommers of nabootsers is. Die eerste vraag wat die boek beantwoord, is of – en watter – spinnekoppe gevaarlik is. Die pragtige foto’s van die vier soorte spinnekoppe wat “medies belangrik” is, met die gepaardgaande inligting, behoort alle vrese hok te slaan. (28–33)

Elke spesie – van die bekende jagspinnekop tot die geheimsinnige valdeurspinnekop – word vergesel van lieflike foto’s en fassinerende feite wat kinders aanloklik sal vind. Steenkamp (en ’n paar ander) se treffende fotografie maak van elke spinnekop ’n skildery: Wie sou kon dink dat die swart knopiespinnekop pragtige geel strepe (11) of helder oranje patrone (29) het en dat daar spinnekoppe is waarvan die lyfies vol kleure geteken is? Steenkamp verduidelik dat die uiteenlopende soorte spinnekoppe in Suider-Afrika in allerlei vorms, kleure en groottes voorkom – en dikwels slimmer is as wat ’n mens dink. Onder die meer as 50 spesies wat bekendgestel word, is daar ’n spinnekop wat sy uitspoeg om prooi te vang, een wat in seeskulpe onder die water wegkruip, een wat as ’n mier vermom is, een wat sy huisie met klein klippies versier, en dan is daar ook die welbekende langbeenspinnekop, die vreemde voëlmiskrapspinnekop en die goed gekamoefleerde basspinnekop. Die gewone name vir die spinnekoppe is ’n leerskool op sigself, bv. langspintepel-basspinnekoppe, krimpvarkiespinnekoppe, vlieërspinnekoppe, laventelhaan-springspinnekoppe en langstertkamvoetspinnekoppe. Dit is jammer dat daar nie ’n lys met die wetenskaplike name in die boek is nie; die wyd-gespasieerde woordelys sou so ’n lys kon akkommodeer.
Wat dié boek verder besonders maak, is Steenkamp se knap balans tussen wetenskaplike akkuraatheid en ’n kindervriendelike aanbieding. Steenkamp slaag daarin om ingewikkelde biologiese feite eenvoudig en boeiend aan te bied sonder om die inhoud te oorvereenvoudig. Die taalgebruik in beide die Afrikaanse en Engelse weergawes van die boek is duidelik, lewendig en dikwels humoristies, met ’n sterk verhalende gevoel, wat dit ’n ideale boek maak om aan kleiner kinders voor te lees. Die kort, saaklike feite help ook om spinnekoppe, wat dikwels vrees en afkeer uitlok, na iets bewonderenswaardig te transformeer. Daardeur speel die boek ook ’n waardevolle rol in ekologiese bewusmaking: Deur jong lesers bekend te stel aan die waarde en funksie van spinnekoppe in die natuur, help dit om wanopvattings te verander en ’n sin van verantwoordelikheid teenoor die omgewing by jong lesers te kweek.

Kinders se spinnekoppe van Suider-Afrika is ’n vermaaklike, insiggewende en visueel treffende boek wat jong lesers (en vele ouer lesers) nie net leer nie, maar ook verwonderd laat. Dit is ’n absolute aanwins vir elke boekrak, skoolbiblioteek en natuurliefhebber.
Oor die skrywer: Rudi Steenkamp
Rudi Steenkamp is die voorsitter van die Spinnekopklub van Suider-Afrika, ’n passievolle spinnekopliefhebber en ’n talentvolle makrofotograaf. Hy woon in Bloemfontein en neem foto’s van spinnekoppe (en vele ander lewende wesens) as stokperdjie. Hy noem dat hy deur die skryf van dié boek hoop om die fassinerende wêreld van spinnekoppe aan kinders bekend te stel, om die waarde en belang van spinnekoppe vir die omgewing te verduidelik en deur die visueel stimulerende aanbieding, kinders – en hul ouers – se vrese af te breek en ’n lewenslange liefde vir die misverstane wêreld van spinnekoppe te kweek.
Die boek is deur Struik Nature, ’n afdeling van van Penguin Random House Suid-Afrika, uitgegee en kos ongeveer R190,00.
Lees ook:
Field guide to the spiders of South Africa by Ansie Dippenaar-Schoeman
Nuut by LAPA: Saartjie die spinnekop met sewe bene deur Riana Scheepers


