Titel: Kleur en karamel
Skrywer: Analize Viljoen
ISBN: 9780639607252
Uitgewer: Romanza
...
Wat my geskok het, was om uit verskeie oorde te hoor dat die boek nie beskikbaar is by sekere boekwinkels nie. Mense het gesukkel om dit in die hande te kry.
...
Vir wie is die liefde beskore? Almal se eerste gedagte is sekerlik: vir ons almal. So maklik is dit egter nie. Nie as jy kyk hoe versigtig die uitgewersbedryf kwessies rondom gay mense oor die algemeen hanteer nie. Réney Warrington se Smit Motors is uitgegee onder die Wenkbrou-druknaam van LAPA. Wat was daar in die boek waaroor ’n wenkbrou gelig kon word? Niks, behalwe ’n gay karakter nie.
Daar het die afgelope tyd verskeie boeke uitgekom wat meer openhartig omgaan met genders, geslagsrolle, en gay en trans karakters, asook meer diverse kulture. Dink maar aan Robert Hamblin se Robert, Ben Viljoen se Vloek van Levitikus en meer onlangs Bottelnek breek bek van Dianne Du Toit Albertze en Hoerkind van Herman Lategan. In 2020 was daar Oor en weer van Trisa Hugo en Analize Viljoen. Daarna volg Viljoen met Kleur en karamel wat bemark is as die eerste lesbiese Romanza.
Wat my geskok het, was om uit verskeie oorde te hoor dat die boek nie beskikbaar is by sekere boekwinkels nie. Mense het gesukkel om dit in die hande te kry.
In ’n artikel beklemtoon Cliffordene Norton die belangrikheid van diversiteit in Afrikaanse boeke en sê dat “daar gereeld boeke met diverse karakters in terme van ras, kultuur of seksualiteit [verskyn] soos byvoorbeeld: Smit Motors onder ons [LAPA Uitgewers se] Wenkbrou-druknaam en Oor en weer van Trisa Hugo en Analize Viljoen” (Norton 2021).
LGBTQI+-bewusmakingsveldtogte daag ons dikwels uit om ons siening rondom geslag, gender en seksualiteit te bevraagteken en indien nodig, aan te pas. Maar wat is die rol van letterkunde om mense se siening te beïnvloed en selfs op te voed waar nodig?
Hannah Weber is van mening dat letterkunde, as deel van ’n groter kulturele liggaam, beide opvoedkundig en vermaaklik is, en die mag het om persoonlike begrip te fasiliteer en sosiale kohesie aan te moedig (Weber 2012).
Uit hierdie definisie sou mens kon aflei dat boeke in enige genre wat deel is van die groter kultuur, by magte is om mense op ’n doodnatuurlike manier begrip te gee vir die wêreld van iemand wat anders is as jyself.
In ’n artikel deur Ilse de Korte en Andrew Sutton word daar deur middel van die teoretiese raamwerk van seksuele draaiboekteorie, ’n diskoersanalise van Viljoen se Kleur en karamel gedoen om die draaiboeke van die fiksionele karakters in die verhaal te bepaal en hoe dit inpas by die werklike draaiboeke van lesbiërs, soos aangedui Suzanna Rose en Debra Zand se 2002-ondersoek. “Die seksuele draaiboek kan beskryf word as ’n versameling inligting wat individue help om te bepaal wat aanvaarbaar is binne hul spesifieke sosiale kontekste in terme van gedrag, rol en die uitbeelding van ’n persoon se seksuele self” (De Korte en Sutton 2021).
De Korte en Sutton kom tot die gevolgtrekking dat Kleur en karamel die basiese werklike lesbiese “dating script” volg wat deur Rose en Zand (2002) geïdentifiseer is. Hulle bevinding is: “Most lesbians did not adopt active versus reactive roles in dating. However, those who did rejected heterosexual notions of the woman as the sexual limit-setter. Age and lesbian dating experience also were found to be related to initiating sexual intimacy” (Rose en Zand 2002).
De Korte en Sutton sê ook dat die tradisionele vroulike seksuele draaiboek van selfonderwerping en onderdanigheid wat dikwels in romantiese fiksie voorkom, nie hier ter sprake is nie. Nie net word tradisionele genderrolle verwerp deur sowel die karakters Lily as Hanri nie, maar ook die karakter Nicolene word as sterk en onafhanklike besigheidsvrou uitgebeeld.
“Kleur en karamel herskryf dus op ’n unieke manier die Westerse, heteronormatiewe tendense waaroor Ménard en Cabrera hipotetiseer (2011) en normaliseer op vele vlakke die lesbiese draaiboek vir die leserspubliek” (De Korte en Sutton 2021).
In ’n aanlyn onderhoud oor die boek noem Viljoen dat Kleur en karamel ’n liefdesverhaal is soos enige ander, die hoofkarakters is net toevallig twee vroue (Boekemakranka 2022).
In ’n ander telefoononderhoud noem sy ook dat sy die verhaal geskryf het bloot soos wat sy die wêreld van die lesbiese vrou leef, beleef en in haar vriendekring waarneem. Sy het geensins probeer om die karakters in enige boksie te plaas, of spesifieke “gay” optrede verwag van die karakters nie. Dit is ’n segment van die lewe, ’n liefdesverhaal soos enige ander.
Wat betref die boek self: Kleur en karamel is die lekkerste Romanza wat ek seker nóg gelees het. Dit voel soos karakters wat ek ken. Die boek speel af op plekke wat ek ken, die mense praat my taal en ek kon met elke karakter identifiseer. Vir Nicolene kon ek hoor, dis asof ek haar wou vra om my te leer kerrievis maak vir die Pase, asof sy in my dorp woon. Hanri, Lily en Hein voel soos vriende.
Hierdie Romanza is regtig eietyds; al is dit bemark as lesbiese Romanza, is daar baie ander verhoudings ter sprake. Verhoudings tussen vriendinne en vriende, mense van verskillende ouderdomme, rasse, geslagte en genders. Presies soos die lewe self is. Daar is net soveel draadwerk en misverstande ook.
...
"Sy het geensins probeer om die karakters in enige boksie te plaas, of spesifieke 'gay' optrede verwag het van die karakters nie. Dit is ’n segment van die lewe, ’n liefdesverhaal soos enige ander."
...
Anschen Conradie sê: “Hierdie boek word bemark as die eerste lesbiese Romanza en, tereg so, maar dis baie meer. Ek is altyd ligweg bekommerd as daar soveel verwagtinge ten opsigte van ’n boek geskep word; as dit lesers nie geval nie, loop die arme skrywer en uitgewer gewoonlik kwaai deur. ’n Ander risiko is natuurlik dat die feit dat dit as sodanig geëtiketteer word, die skrywer in die versoeking kan stel om daardie aspek van die boek te oorbeklemtoon” (Conradie 2022).
In Kleur en karamel is dit egter geensins die geval nie. Die feit dat die twee hoofkarakters gay is, beïnvloed geensins die trant van die verhaal nie.
Alhoewel Romanzas aan sekere vereistes moet voldoen en daar ook beperkings is, lees Kleur en karamel glad nie resepmatig nie. Dis lekkerlees op die naat van jou rug onder ’n koelteboom. Jy lees so lekker aan die storie dat jy nie agterkom daar is ook ’n tema van bemagtiging van vroue dwarsdeur die verhaal nie. Kos, kleur en musiek speel ’n belangrike rol. Die boek is perfek om te lees terwyl die musiek waarna die karakters luister, speel. Heerlike lekkerlees, met genoeg diepte om ’n akademiese analise te regverdig. Kudos. (Kyk op YouTube of Spotify vir die speellys.)
Hoeveel van Kleur en karamel verkoop het, weet ek nie en dis ook nie my besigheid nie, maar dit is vir my vergelykbaar met die beginsel van die uitgee van digbundels of suiwer literêre werke, waar wins of verkope dalk nie die enigste beweegrede vir publisering is nie. Selfs uit ’n bemarkingsoogpunt sou dit sin maak om eers die aanvraag te skep, en dan daaraan te voldoen deur ’n reeks lesbiese lekkerleesboeke. Dit word veral gesien in die lig dat die kwaliteit daarvan ’n akademiese artikel in ’n literêre joernaal regverdig.
Bibliografie
Boekemakranka. 2022. Analize Viljoen stel bekend: Kleur en karamel – die heel eerste. https://www.youtube.com/watch?v=eT62xhUER5o.
Conradie, A. 2022. Kleur en karamel. https://www.goodreads.com/book/show/60296328-kleur-en-karamel.
De Korte, I. en Sutton, A. 2021. Herskrywing van die liefdesdraaiboek in Afrikaanse romantiese fiksie. Stilet, 33(2):27–40.
Norton, C. 2021. Waarom is diversiteit in Afrikaanse romanses nog so skaars? Stilet, 33(2):8–12.
Rose, S.M. en Zand, D. 2002. Lesbian dating and courtship from young adulthood to midlife. Journal of Lesbian Studies, 6(1):85–109.
Weber, H.A. 2012. Literature as a social tool: Education and cohesion or class domination? Inquiries Journal/Student Pulse. http://www.inquiriesjournal.com/a?id=606.
Lees ook:
The pink line: Journeys across the world’s queer frontiers by Mark Gevisser: a review
Kommentaar
Ek is glad nie verbaas dat die boek nie oral beskikbaar is nie. Daar is mos 'n man bo die wolke. 'n Man ja, sê hulle. Hy woon daar in die rigting van waar daai teleskoop nou onlangs daai foto's van gestuur het. En menige mens maak dit hulle voltydse werk om daai man tevrede te probeer hou. Ek moet seker eintlik Man met 'n hoofletter skryf, voor ek daaraan herinner word. My fout. Jammer.
Daai Man daar bo die wolke se reëls en wette is vir menige mens belangriker as hulle medemens se welstand. Dis maar hoe die dinge is.
Lekker gelees aan jou stuk.