Eenvoudige verhaal van liefde wat alles oorwin

  • 1

Gertrude Stein and a companion
Met: Lynita Crofford en Shirley Johnston
Deur: Win Wells
Regie: Chris Weare
Gertrude Stein and a Companion word aangebied volgens ooreenkoms met Concord Theatricals, namens Samuel French, Inc.
Theatre On The Bay
1 – 5 Februarie 2022 om 20:00
Kaartjies van R180 tot R220 deur Computicket of die Theatre On The Bay kaartjieskantoor by (021) 438-3300. Kaartjies word in pare verkoop.

Ons sit 20 minute voor die vertoning begin reeds in ons sitplekke. Ingevolge inperkingsreëls mag die teater nie meer as 50% vol wees nie en plakkers op stoele hou teatergangers op veilige afstand van mekaar.  

My hart huil: aan die een kant van dankbaarheid dat ek ná 24 maande weer ’n toneelstuk, veral van hierdie kaliber, kan ervaar. Dat ek die masker voor my mond vir die duur van my glas wyn om my keel kan vasknyp en ek effe vryer kan asemhaal. Dat twee akteurs weer ’n gehoor het; dat teater ons sieleheil bring; en dat die bekoring van die ligte op ’n verhoog ons weer beskore is.

Maar terselfdertyd huil my hart in simpatie oor die onbespreekte sitplekke – daar is nie behoefte aan gedrukte kaartjies nie, want daar is net 94 mense in die teater en waarom geld daarop mors in ’n tyd waarin elke teatersent nie net een maal nie, maar minstens tien maal omgedraai moet word. Dit is Dinsdagaand – ek verstaan dat dit mense sal weghou – maar het dié wat net so na teater gesmag het, nie die memo vir vanaand gekry nie?

Ek lig my glas wyn vir ’n foto vir sosiale media voor die skemer verhoog waar die tafels, boeke, tikmasjien, mat en hoed die intimiteit van Gertrude en Alice se woonstel voorstel. Dit voel amper normaal. Die swaar fluweelgordyne weerskante van die verhoog omarm die toneel waar gekleurde ligte sekere dele van die stel uitlig. Toe die ligte uitdoof en die twee akteurs in die sterk skemer hul plekke opneem, klop my hart vinniger.

Dis die vroeë 1920’s. Konserwatiwiteit is aan die orde van die dag, veral in Amerika, waar ’n vrou se stem nie maklik lugtyd kry nie. Die toneelstuk ontgin die uitsonderlike verhouding tussen ’n Amerikaanse outeur en digter, Gertrude Stein, en haar lewensmaat van meer as 20 jaar, Alice B Toklas, wat die konserwatiewe denke en waardes van middelklas-Amerika verwerp en skuiling in Parys se boheemse dekadensie vind.

Gertrude en haar broer, Leo, het eerste na Parys verhuis, voor Alice later oor haar lewenspad gekom het. Leo is natuurlik nie gelukkig met die nuwe intrekker in hul nes nie, maar Alice laat haar nie van stryk bring nie.

Die toneelstuk open op ’n keerpunt in Alice se lewe, maar dit sou nie regverdig wees om te verklap wat hierdie keerpunt is nie. Dit maak egter jou hart nóg sagter en meer ontvankliker vir die storie wat ontvou.

Gertrude se uitgesprokenheid, liefde vir kuns en wye vriendekring wat onder meer Hemingway, Picasso, Matisse, Cezanne, Klee en Scott Fitzgerald ingesluit het, het hul woning ’n veilige hawe vir andersdenkendes gemaak. Dis in hierdie woonstel dat Alice stil-stil haar plek kom uitkerf het, en hulle is al 25 jaar ’n paartjie wanneer die toneelstuk se openingsreëls gelewer word.

Die hoë mure van hul Parys-woonstel is oortrek met kuns wat vandag in die wêreld se voorste kunsmuseums hang. Die waarde is groter as wat enige brein kan bereken, maar vir Alice en Gertrude was dit mooi prente om na te kyk. Soos Alice tereg opmerk: “Kuns is dollarloos”, want die werke is vir hulle kosbaar bloot omdat vriende dit geskilder het.

Deur middel van ’n truprojektor word beelde van die kunswerke, foto’s van hul woonstel, hul lewe saam, op ’n wit muur vertoon.

Daardie einste kunswerke finansier een na die ander Gertrude se boeke, waarvoor sy geen gewillige uitgewer kry nie en Alice haarself die taak van uitgewer, bemarker en verspreider oplê. Ook ironies dat Gertrude se “outobiografie” oor Alice ’n topverkoper word, maar dat Gertrude altyd die uitgesproke en sigbare een van die twee was.

Daar is ’n goedige gekorswel tussen die twee vroue oor die gaste wat hul drumpel deurtrap, en ’n lieflike, eenvoudige liefde tussen dié twee wat nooit in soveel woorde geuiter word nie, maar waarvan die teerheid en aanvaarding boekdele spreek.

Die boek, in teksvorm deur Win Wells, is in 1983 publiseer, en op die uitgewer se webwerf word verkondig dat hierdie toneelstuk enige regisseur se droom is. Chris Weare het dié uitdaging opgeneem en kwyt hom meesterlik van sy taak.

Maar van meesterlik gepraat: hoe wonderlik om vir 70 minute weggevoer te word deur twee aktrises wat hul slag ken. Die bekroonde produksie het sy buiging in 2018 in die Alexander Bar in Kaapstad gemaak en is vir ’n Fleur du Cap-teater-toekenning genomineer vir Beste Ensemble-vertoning. Dit word in 2019 uitgenooi na die Dublin International Gay Theatre Festival, waar Lynita Crofford die toekenning vir beste vroulike vertoning wen.

In November 2019 speel die stuk by die Theatre on the Square in Sandton in Johannesburg en hier wen beide Lynita Crofford en Shirley Johnston die hoog aangeskrewe Naledi-toekenning vir beste hoofkarakter in ’n toneelstuk.

Toe die ligte doof na die laaste woorde weggesterf het, huil ek en my geliefde. Dis asof die woorde net vir jou verwarde gemoed geskryf is. Dit herbevestig die waarde van liefhê en om liefgehê te word. Die voorreg as daardie een oor jou pad kom wat jou volkome aanvaar en verstaan. Dit laat soveel onbenullighede waarvan die lewe vandag oortrek is, wegval.

Lank nadat die teater leeggeloop het, sit ons twee nog daar en trane afvee. Dan terug na die foyer waar ’n paar mense nog ’n glas wyn bestel om die magiese minute by Theatre On The Bay uit te rek, want geen siel in daardie teater kon onaangeraak gewees het deur die storie nie.

Megan Furniss skryf in Weekend Special: “As jy dit gemis het, maar gehoor het hoe goed dit is: Alles wat jy gehoor het, is waar en hier is jou kans om dit te sien.

Ek kan nie méér daarmee saamstem nie. Daar is nou nog net twee dae se vertonings oor, so koop jou kaartjie en word weer van vooraf deur die krag van teater betower.

Die vertoning het ’n ouderdomsbeperking van geen 0/13, en ouertoesig, want volwassene-temas is ter sprake.

  • 1

Kommentaar

  • Rick Robertson

    Dankie Maryke. So mooi geskryf. Such a talented production from all concerned and so well interpreted. Let the show go on to the many more encores - but more so... giving more people the appreciation of good theatre.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top