Lara Aucamp en CTL Creative Connections bied op 30 Julie ’n kursus aan getitel “Moths and the art of transformation”. Kaartjies is beskikbaar by Quicket.
Izak de Vries het haar ’n paar vrae gestuur.
Jy beweer motte is meesters van transformasie. Hoekom motte? Jellievisse en seekatte transformeer ook?
Om eerlik te wees, het ek motte gekies omdat hulle redelik maklik is om te teken. Motte is pragtig en kompleks. Maar die basiese vorme wat nodig is om hulle te illustreer is iets wat enigiemand kan bemeester.
En ek dink die feit dat hulle transformeer, toepaslik is, want dit is iets waarmee baie mense in die LGBTIQ+-gemeenskap kan identifiseer.
Hoe ons onsself sien, en hoe ons onsself vir die wêreld wys, is iets wat oor tyd verander. Baie mense spandeer tyd in die kas (amper soos ’n kokon) voor hulle reg is om hulle volle self vir die wêreld te wys.
Jy sê julle gaan kreatiewe spel gebruik om te konnekteer. Wat bedoel jy daarmee?
Hierdie is nie een van daardie klasse waar jy stap vir stap saam verf en waar almal met dieselfde kunswerk eindig nie. Dis ’n werkswinkel waar die belangrikste doel is om mekaar te leer ken en om ’n betekenisvolle konneksie te maak. Die kuns is ’n bonus, en nie iets wat te ernstig opgeneem moet word nie. Ons gaan saam met verskillende idees, ook kunsmateriale, speel, saam ontdek, en saam skep.
Jy sê die kursus is vir almal. Beteken dit dat iemand soos ek, met tien linkerduime, ook sou kon probeer?
Absoluut. Kuns is vir almal. Om kreatief te skep is nie net vir kunstenaars nie, maar iets wat ’n mooi belewenis vir almal is.
Selfs al dink iemand dat hulle nie kan kuns maak nie, sal hierdie werkswinkel genoeg leiding bied om hulle te help om ’n pragtige mot te skep.
Julle bemark dit as gesinsvriendelik en vriendelik vir diegene wat as LGBTIQA+ identifiseer, maar julle sê ook enige een kan deel neem, nie waar nie?
Dit word gereël deur Cape Town Lesbians. Ons byeenkomste fokus op vrouens wat vir vrouens lief is, maar is oop vir almal. Geslag en oriëntasie is ’n spektrum en ons wil ’n inklusiewe gemeenskap bou. Mense wil soms vriende of familielede wat ons gemeenskap ondersteun, saambring, en ons moedig dit aan. Almal wat ons gemeenskap ondersteun, is welkom.