Leon Strydom, jy was een van die laastes: ’n ouwêreldse kunsconnoisseur

  • 3

Leon Strydom, deur Clare Menck

Liewe Leon

Jy het toe al vir ’n hele aantal jare een keer ’n jaar aan my deur op die Weskus se plattelandse dorpie kom klop om werk op te pik vir jou galery te George. Jaarliks het jy onderneem om kunstenaars in jou wye kring te kontak en dan het jy met jou vantjie uit George gery van ateljee tot ateljee en ek neem aan meer as net tee en kuns by almal ook gesoek: Jy wou voel jy is soos een van ons. Jy was een van die laastes: ’n ouwêreldse kunsconnoisseur, en een van die laaste oorblywendes wat nog huisbesoeke onderneem het. Watter voorreg, in die konteks van ons wêreldwye mensevermydende sosiale tendense tans. Dit was kos vir jou siel. 

Maar daardie jaar het ek geweet iets is fout. Jy het jou misnoeë met my en die ander kunstenaars uitgespreek: Jy was moeg daarvoor dat dit al hoe meer tandetrek begin raak om jaarliks eenvoudig net nuwe kuns te kan bekom, en jy was moeg vir kunstenaars en hulle dinge. En per slot van rekening was jy dan seker ook moeg vir die galery. Ek het aanklank by jou diep teleurstelling gevind en besluit om jou meer aandag te gee. Ek het “die ekstra myl geloop” en aangebied om die reis terug George toe saam met jou aan te pak. Jy het ingestem.

Liewe Leon, ek onthou drie kunstenaars in die besonder, aan jou te danke: George Ramagaga, Deborah Bell en Nina Simone.

George Ramagaga, deur Clare Menck

Ons het George by sy nederige kothuisie-ateljee waar hy spartaans op jou broer se plaas gewoon en gewerk het, ontmoet. Ek was diep bewoë oor die eenvoud van sy leefwyse en die krag van hierdie man se kreatiewe drang. Die kerfsels het rondom sy wordende beeld gestrooi gelê en woorde was min. Ek het foto's geneem van Ramagaga in driekwartprofiel met ’n donker rookmerk teen die binnemuur agter sy kop, wat ek in latere jare in my skildery as 'n voorbode van sy komende dood gelees het.

Met die toer van jou huis was die een skildery wat my ewig sou bybly, die kussende paar in swaar mantels gehul deur Deborah Bell – in jou slaapkamer. ’n Intieme oomblik, halfversteek agter ’n geligte hand of hoed, die kus wat net gesuggereer word, met die mag van ’n boeiende Kitaj, wat Bell duidelik probeer herroep het. Dit was ongetwyfeld die beste skildery wat sy ooit geskilder het, en die feit dat jy daardie een besit het, en dit in jou slaapkamer gehang het, was vir my ’n bewys van jou ryk emosionele behoefte en binnewêreld.

Clare Menck, selfportret

Toe jy Nina Simone aan my voorstel, kon jy nie glo dat ek hierdie stem nie ken nie. Ek, wat soms self sing? Eerlikwaar, ek ook nie. En toe ek jou weer moes verlaat, het jy vir my juis weer Simone as troos aangebied. Dit was inderdaad ’n hartstogtelike afskeid vir my. Ek het in 'n kamertjie in die stoorruimtes van die galery verdwyn en na Simone teruggekeer. En jare later, by tye, word Simone vir my die toonbeeld van hartstog en verlange wanneer ek die troos van haar strelende, manlike en psigologies-tergende stem benodig. En dan onthou ek weer vir jou.

Clare Menck

7 Januarie 2021

Lees ook:

Leon Strydom (1944–2021) – ’n klein huldiging

Leon Strydom: Fynproewer, hengelaar, letterkundige en kunsleier tot die einde

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Piet van Vledder

    Dear Leon,

    When I met you in Utrecht as a guest of my parents I had no idea that we would later meet again in George where you invited me to stay on my way to PE. Our talks were always interesting and you gave me a look into your life as a man of art and literature. We have met several times in SA and here in the Netherlands. I will remember you as a dear friend that will now be missed.

  • Ek was 'n paar jaar bestuurder van die merkwaardige man se kunsgalery en so baie van kuns geleer.
    Hy was ingewikkeld om te verstaan, soms moeilik en broeiend en ander kere vol pret en stories. Hy het graag van sy kinderdae vertel en kon uit sy maag lag oor die herinneringe.
    Ek het 'n tydperk in Jongensfontein gewoon en hy het soms op pad Kaap toe by my aangekom en twee dae langs die viswaters deur gebring.
    Ons was vriende en het saam afval gekook, of afsonderlik en dan saam geëet. Dit kon hy heerlik doen en dit saam met 'n uitgesoekte rooiwyn geniet.
    Rus in vrede.

  • Avatar
    Piet van Vledder

    Dag Ina, Ik zal Leon missen, al woonde hij 10.000 kilometer van mij weg. Ik was een paar keer bij hem in George. Hij was een aangename vriend die ik in Utrecht ontmoette toen hij en Marianne onze huisvrienden waren. Ik heb mooie herinneringen.
    Inderdaad, hij mag RIP.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top