Leon Strydom (1944–2021) – ’n klein huldiging

  • 2

Agtergrondfoto: Leon Strydom deur sy dogter

Om van die oorlye, weens komplikasies na aanleiding van koronavirusinfeksie, van Leon Strydom op 4 Januarie te moes verneem, het ’n mens nóg ’n skeut bedruktheid in hierdie pandemietyd toegedien.

Dit maak egter ook ’n rytjie herinneringe aan kontak met sy lewe en werk wakker.

Ek het net te vroeg my voorgraadse studie in Bloemfontein voltooi om by hom, as een van die grondleggers van algemene literatuurwetenskap as studieterrein aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, te kon klas hê. Hy was vier jaar lank vóór sy aanstelling by Kovsies in 1976 in hierdie (vir Suid-Afrikaanse tersiêre onderwys) nuwe selfstandige vakgebied aan die Rijksuniversiteit van Utrecht geskool.

Skaars twee jaar later, op drie-en-dertigjarige ouderdom, is hy tot hoogleraar bevorder.

Eers toe ek in 1990 as dosent in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan my alma mater begin werk het, kon ek agterkom watter waardevolle verstewiging die doseer- en studieleierswerk wat hy en sy vakgenote verrig het, vir die kritiese bestudering van tekste op mý vakgebied ingehou het. Die diversifikasie en verdieping van die teoretiese onderbou wat in die beoefening van die Afrikaanse literêre kritiek sedert die tweede helfte van die 1970’s al hoe opvallender geword het – soos onder meer deur Ronèl Johl in haar literatuurkritiekoorsig Kritiek in krisis: Vryheid vir die teks (1986) aangetoon – het juis met die vestiging van ’n aantal leerstoele in algemene literatuurwetenskap aan Suid-Afrikaanse universiteite saamgeval. Gou kon ek bespeur hoe dikwels studente in Afrikaans en Nederlands wat algemene literatuurwetenskap as vak op voorgraadse vlak geneem het, meer krities en argumentatief deeglik begrond met literêre tekste omgegaan het as hulle eweknieë wat nie dieselfde vakkeuseroete gevolg het nie.

Leon se gepubliseerde proefskrif Oor die eenheid van die digbundel. ’n Tipologie van gedigtegroepe (1976) het ek jaarliks as kernbron by my senior poësiestudente aanbeveel. Dié werk van hom vorm trouens, naas Edith Raidt se MA-verhandeling oor “Die bundel as eenheid. ’n Ondersoek na die funksie van die simbool in Opperman se Blom en baaierd” uit 1962, ’n baken van diepgaande besinning en teoretisering oor digbundelbou in Afrikaans. Bundelbougrondslae is ’n literatuurstudieterrein waarop Afrikaanse literatore soos Raidt en Strydom, volgens byvoorbeeld die neerlandici Ad Zuiderent en E van der Starre in hul boek De tweede gisting. Over de compositie van dichtbundels (2001), internasionale baanbrekerswerk verrig het.

Strydom se Eugène Marais-prys aangekondig in Matieland 1974:2

Aan die meeste Afrikaanse letterkundebelangstellendes is Leon Strydom egter eerder bekend as digter van twee bundels: Geleentheidsverse (1973), in 1974 bekroon met sowel die Ingrid Jonker- as die Eugène Marais-pryse vir debuutwerke, en L.S. (1988). Hy het in ’n tydperk gedebuteer waarin die Afrikaanse digkuns gekenmerk is deur onder meer eksperimentering en verskeidenheid in die benutting van stylelemente en verstegniek. Daniel Hugo sluit dan ook van Strydom se digwerk by sy keur uit die Afrikaanse vernufspoësie, getiteld Speelse verse (1988), in.

Hoewel die gedigte in Strydom se twee bundels nie noodwendig konvensioneel van vorm is nie, is dit hoofsaaklik heg van konstruksie, en word dit gekenmerk deur ’n vindingryke spel met woorde en met die taalidioom. Sluimerende betekenisse en dubbelsinnighede, dikwels wat betref seksuele en bybelse tematiek, word sodoende in werking gestel. Treffend ontluisterende en antiklimaktiserende effekte word met die deureenskuiwing van verhewenhede en alledaagshede bereik. Hoewel nie intellektualisties nie, is sy poësie tog soms, weens die taalspelkenmerke en sekere moeilik agterhaalbare verwysings daarin, in bepaalde opsigte ontoeganklik. Die betekenis- en verstegniese rykdomme wat egter in baie van sy verse skuil, word beklemtoon deur die feit dat Ina Gräbe juis ’n gedig uit sý debuutbundel benut het om teoretiese aspekte van poëtiese taalgebruik en vormgewing te illustreer in ’n hoofstuk in Teks. Leser. Konteks. Gedigte ontleed volgens eietydse metodes (redakteur: Jan Senekal, 1986). Daardie gedig lui:

Droogte

in die geruis van die aandwind
het die wolke melkwit gaan wandel
en ver onder in die haai grint
het die adamsvy gekraak soos amandel
het die dor takke skor en vrugteloos
gegryp na die wolwitwolke
soos na vyeblaarskorte

en dorings en distels het verlep bly hang
onder in ’n knoesterig mik
soos menige ou slang
in vyemelk verstik[.]

Strydom was voorts ’n kunsliefhebber en -kenner van formaat. Ná sy aftrede uit die akademie in die laat 1990’s het hy dié kundigheid uitgeleef deur ’n kunsgalery te bedryf op George, die dorp van sy grootwordjare. Ek onthou hoe die aantekeninge wat hy geskryf het as inleiding tot ’n reeks skilderye deur Frans Claerhout, gepubliseer in die mooie boek Die Sonnevanger (1983), my as ’t ware geleer het om met nuwe oë na sekere eienhede van my geboorteprovinsie te kyk, naamlik deur die oë van ’n begaafde Vlaamse boorling wat die grootste deel van sy volwasse lewe as Rooms-Katolieke priester in die Vrystaat deurgebring het.

Mense wat Leon Strydom beter as ek geken het, bevestig my indruk dat hy ’n private, selfs inkennige mens was. Ek het al gewonder of dit nie aan hierdie persoonlikheidstrek toe te skryf is dat hy nie méér diep spore as die bovermeldes in die Afrikaanse letterkundewêreld kon trap nie. Ek meen dat TT Cloete iets raak gesê het in hierdie verband aan die slot van sy bespreking van Geleentheidsverse in Die Afrikaanse Literatuur sedert Sestig (1980): “Iemand wat van so baie geleenthede in die werklikheid sulke gedigte kan maak soos in hierdie debuutbundel staan, het baie versmoontlikhede.”

Die verwerklikte moontlikhede van sy lewe en werk wat wel nagelaat is, koester ons met bewondering en dankbaarheid.

Lees ook:

Leon Strydom: Fynproewer, hengelaar, letterkundige en kunsleier tot die einde

Leon Strydom, jy was een van die laastes: ’n ouwêreldse kunsconnoisseur

  • 2

Kommentaar

  • Louisa S.S. du Plessis

    Ja, ek het hom self ontmoet hier by die Julius Gordon Africana Sentrum/Versfeld-Huis op Riversdal, toe hy eendag hier kom inloer het. Ek was so jammer om te hoor dat hy oorlede is aan COVID-19. Hy het my nog genooi om sy kunsversameling wat hy in store op sy plaas buite George het, te kom besigtig, maar COVID-19 het alles kom verander. Ons het lekker gesels oor Gregoire Boonzaier en veral oor die feit dat hy nie baie lief was om blomme te skilder nie. 'n Neef van my ma van Stellenbosch het ook heelwat skilderye by hom gekoop. Graag sal ek 'n kontak e-pos van sy dogter wil bekom, om met haar te simpatiseer, asseblief, as u so gaaf sal wees. Ek is die kurator by bogenoemde museum.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top