Leon Strydom: Fynproewer, hengelaar, letterkundige en kunsleier tot die einde

  • 1

Leon Strydom, afgeneem deur sy dogter (Foto verskaf)

In ’n redelik onopsigtelike kompleks in George, in ’n straat waar jy van parfuumnamaaksels en vryloophoenders tot onderdele vir motorfietse en loodgieterswerk kan kry, was daar 45 jaar lank ’n kunsbaken wat by die grootstes in die land kon kers vashou.

Een van die Strydom-broers en dryfvere van die ikoniese Strydom-galery, Leon Strydom (76), is op 4 Januarie vanjaar aan COVID-19-verwante simptome in die George MediClinic oorlede. Hy was ’n afgeronde, belese en bekroonde akademikus en digter, maar dit was veral vir sy werk as kunskenner dat hy bekendheid verwerf en talle rigtinggewende kunstenaars ’n platform gegee het.

Sy broer en ’n mediese dokter, Matthys, het gesê Leon is kort na Kersfees in die hospitaal op sy grootworddorp opgeneem. “Ons het baie moed gehad toe hy kort voor sy dood beter gevoel het. Die tragiese is dat ons nie by hom kon kom nie. Dit moet ’n baie eensame dood wees.”

Leon was die jongste van vier kinders, en ’n laatlammetjie. Matthys onthou dat hy Leon eintlik eers aan die einde van sy eerste jaar op universiteit leer ken het. “Omdat hy so lank alleen tuis was nadat die ander kinders reeds gestudeer het, het hy en my ma ’n besonder noue verhouding gehad. Albei het geleef vir die dag dat hy ná sy twee jaar diensplig ontslaan sou word. Ongelukkig is sy ’n dag of twee voor sy ontslag oorlede, jonk, op 50.”

Hy was baie lief vir sy ouers, en danksy sy pa het hy sy lewe lank ’n groot liefde vir die see en hengel gehad. “My ma se vroeë dood het sy lewe ontwrig, maar hy het daaroor gekom.”

Leon was ’n skrander student en het onmiddellik na sy ontslag uit die weermag begin studeer, maar het aan die einde van sy eerste jaar ’n ineenstorting gehad. “Hy is deurgesit op grond van sy goeie prestasie en het sy studies daarna suksesvol voortgesit.”

In die drie maande waartydens hy by Matthys op Heidelberg in die destydse Transvaal herstel het, het sy ouer broer hom “eintlik eers leer ken”. Hulle het saam muurbal gespeel en na kunsuitstallings gegaan, en dit is hier dat sy belangstelling en insig in kuns na vore getree het. “Ons lewe lank was ons deur die kuns gekoppel. In 1999 het hy die galery oorgeneem nadat ek dit 30 jaar bedryf het. Daarna het ons baie oorleg gepleeg oor genooide kunstenaars.

“Hy het ’n baie eerlike, diep belangstelling in en liefde vir kuns gehad, ongeag medium of styl. As iets goed was, kon hy dit onderskei. Hy het ook ’n akademiese benadering tot kuns gehad, en na sy oorname van die galery kon ek baie by hom leer.”

As student was hy deel van DJ Opperman se letterkundige laboratorium aan die Universiteit Stellenbosch (US), waar hy ná sy BA en honneurs ’n MA-graad oor die slampamperliedjies van Leipoldt verwerf het. Sy doktorale proefskrif in die algemene literatuurwetenskap het gehandel oor die eenheid van die digbundel, en voor die verwerwing hiervan het hy ook aan die Rijksuniversiteit van Utrecht gestudeer.

As dosent was hy verbonde aan die US, die Universiteit van Pretoria en Universiteit van die Vrystaat, waar hy as hoogleraar afgetree het.

Een van sy oudstudente, Jan Bosman, tans eindredakteur van Landbouweekblad, onthou hom as ’n presiese dosent, altyd hoflik en pynlik georganiseerd met die voorbereiding en aanbieding van sy klasse. Met sy sagte, half eentonige stem was Leon dalk vir heelwat nie ’n opwindende dosent nie, maar vir talle wat fyn kon luister, het sy droë humorsin eerder binnepret as lagbuie veroorsaak.

Hy het ook in die vroeë 1980’s ’n beroering in studentegeledere veroorsaak toe hy Jakes Gerwel genooi het om as gasdosent ’n paar lesings by die Universiteit van die (Oranje-) Vrystaat aan te bied.

Sy debuutdigbundel, Geleentheidsverse (1974), is in 1974 met die Eugène Marais-prys bekroon en die daaropvolgende jaar met die Ingrid Jonker-prys. Heelwat later het sy opvolgbundel, L.S. (1988), verskyn. Nog publikasies sluit in Die Sonnevanger (1983), ’n studie oor die skilder Frans Claerhout se 29 skilderye met dieselfde titel, en hy het meegewerk aan TT Cloete se monumentale Literêre terme en teorieë.

Leon Strydom (Foto: Clare Menck)

Twee geleenthede het die Suid-Kaapse kunsjaar se ritme bepaal. Een was die Someruitstalling, wat ’n platform gebied het vir nasionaal genooide kunstenaars. “Nie almal groot name nie, selfs studente is genooi,” het Matthys gesê. Baie kunsversamelaars kon hier bekostigbare werke aanskaf van opkomende groot name, en Leon se raad was altyd keurig, deurdag en nooit voorskriftelik nie. Hy het jaarliks landwyd getoer om kunstenaars te besoek en in voeling met die mark te bly – tot dit eenvoudig te duur geraak het.

Die ander was die Winteruitstalling, wat opsygesit was vir Suid-Kaapse kunstenaars, en ’n keur van inskrywings is elke jaar ten toon gestel. “Die uitstallings het ’n geweldige verskil gemaak aan die gehalte van plaaslike kuns. Mense soos Judith Mason en Eben van der Merwe het onder meer gehelp met die keuring.”

Leon self het ’n wydlopende kunsversameling gehad. By geleentheid aan huis was dit ’n bykans gewyde ervaring om grootnaamwerke teen die muur te sien hang – en werke is selfs in ’n ongebruikte stort gehou. Nadat die galery 30 jaar eers deur Matthys en 10 jaar deur Leon bestuur is, is dit nog sowat vyf jaar deur Frank Kilbourn en ’n vennoot bedryf, waarna die afslaers Stephan Welz & Co dit oorgeneem en gesluit het.

Hy was ’n interessantste geselsgenoot, wat dikwels ’n gesprek om ’n geurige kerrie in ’n onverwagte rigting kon stuur danksy deeglike navorsing oor elke denkbare onderwerp. Hy was ook ’n reisiger met ’n groot liefde vir die Laeveld en ‘n kosfynproewer met ’n groot liefde vir enige seekos.

’n Vriendin in George, Hanli Meyer, onthou hom as ’n bobaasstorieverteller. “Hy kon die wonderlikste stories uit sy kinderdae opdiep. Een wat uitstaan, is oor hul kampeervakansies op Buffelsbaai – volgens Leon geen vakansie vir sy ma nie. As ywerige hengelaars het sy pa en broers heeltyd visgevang, terwyl sy ma deurentyd vis moes gaarmaak en inlê in die tent. In sy stadige trant sou hy dit afsluit deur te sê: ‘My ma het nooit vakansie by die see gehou nie.’”

Dwarsdeur die inperking het hy sin en struktuur verskaf deur skakels na aanlyn konserte en klassieke boeke wat aanlyn beskikbaar gestel is, en hy het ’n versugting gehad na letterkunde wat terapie onder die omstandighede kan verskaf in die gees van Boccaccio se Decamerone se 100 stories van 10 vlugtelinge oor 10 dae wat hulle isoleer, waarna die ergste van die pes verby blyk te wees.

By die laaste geleentheid waar ek hom gesien het, ses maande voor die inperking, het hy losgetrek met ’n vertelling oor navorsing oor begrafnisse, verassing, kiste en buitensporige pryse. Toe iemand verbaas vra waarom hy dit doen, het hy bloot gesê dit is belangrik om gereed te wees.

Dit was ’n uitgerekte kuier en niemand wou loop nie. Leon het tot heel laaste bly talm, want hy het duidelik iets op die hart gehad. In swaar reën is ons na sy bakkie, waar hy in ragfyn papier ’n linosnee van Eleanor Esmonde-White oorhandig aan my dogter na die afsterwe van haar pa. Later skryf hy: “Ek hoop die houtsnee in haar kamer sal met verloop van tyd die wêreld bietjie laat uitdy vir Gretha.”

Vir haar en heelwat meer het hy vir ’n ruimer, veelkantiger en interessanter wêreld gesorg.

Hy word oorleef deur sy broers, Matthys en Serf, ’n suster, Retha Smit, twee dogters, Magriet (bekend as die skrywer Anna Emm) en Helena, en vyf kleinkinders.

Sy dogters het in ’n verklaring gesê sy liggaam was as gevolg van onderliggende gesondheidsprobleme nie sterk genoeg om teen die virus te baklei nie. “Hy was nie lank in die hospitaal nie en rustig tot op die einde. Baie dankie aan elkeen wat deel van sy lewe was. Ons sal hom verskriklik mis.”

Net die naaste familie hou vandag, 7 Januarie, ’n herdenkingsgeleentheid op George.

Lees ook:

Leon Strydom (1944–2021) – ’n klein huldiging

Leon Strydom, jy was een van die laastes: ’n ouwêreldse kunsconnoisseur

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top