Clare Menck is ’n realisskilder van swemmers en selfportrette met ’n meestersgraad van die Universiteit Stellenbosch. Haar middelloopbaan- retrospektiewe uitstalling Clare Menck: Verborge lewe; Twintig Skilderjare (1990–2010) onder die kuratorskap en redakteurskap van Stefan Hundt, het landwyd gereis. Die gepaardgaande boek bevat onder andere Afrikaanse essays oor haar oeuvre deur Ingrid Winterbach en Amanda Botha.
Die hoogtepunt van Clare se oorsese loopbaan was ongetwyfeld haar deelname aan die internasionale vrouegroepstentoonstelling Sie. Selbst. Nackt in die Paula Modersohn-Becker-kunsmuseum te Bremen, Duitsland. Die uitstalling is ook deur ’n boek met dieselfde titel vergesel, en Clare het die opening bygewoon. Sy was die enigste deelnemer wat deur ’n volle vyf skilderye verteenwoordig was. Sy het saam met vrouekunstenaars van hoogstaande internasionale faam uitgestal, niks minder as onder andere Louise Bourgeois (Frankryk/VSA), Judy Chicago (VSA), Imogen Cunningham (VSA), Gwen John (GB), Yoko Ono (GB), Anita Ree (Duitsland), Jenny Saville (GB), Suzanne Valadon (Frankryk) en Franscesca Woodman (VSA) nie.
Clare se skildery Man (Johann Louw) en seun wat die see in waad, dogter wat struikel 2008 (uit die Sanlam-kunsversameling) is op die voorblad van Wreed én mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling (saamgestel deur Tobie Wiese) uitgebeeld. Dit is ook op bladsy 76 van Verborge lewe te sien.