US Woordfees 2015: Toorwoorde roep my by D-Street Gallery

  • 0

Valiant Swart (foto: Naomi Bruwer)

Toorwoorde roep my, 'n kunsuitstalling geïnspireer deur lirieke uit Valiant Swart se gelyknamige bundel (Lapa, 2011), word tydens vanjaar se Woordfees aangebied by D-Street Galery in Dorpstraat, Stellenbosch. Die uitstalling vorm deel van die Blaauwklippen Kunsroete en open op Vrydag 6 Maart om 18h30.

Volgens die resensent en digter Danie Marais, wat die gasspreker tydens die opening sal wees, het die gerespekteerde musiek-en-liriekskrywer, wat vanjaar 25 jaar in die kollig vier, “homself al in die kollektiewe bewussyn van die volk ingegrawe”.

In haar resensie van Swart se bundel skryf Joan Hambidge: “Hierdie digter sing sy songs van die sterre en die maan. Hy sing en skryf en praat in loslit-Afrikaans, gebruik soms ’n Engelse woord en sing die duisend myl blues oor sy baby.” Sy verduidelik voorts: “Wanneer ’n song of lied gebloemlees word, vra dit om digterlike inspeksie. Dan kyk ’n mens na die ryme, die metrum, die refreine, die beelde. Natuurlik is dit andersoortige, nee, eerder eiesoortige poësie. Dit moet gesing kan word.”

By die Woordfees kry hierdie lirieke nou ook in visuele kunswerke gestalte.

Elf hoogaangeskrewe beeldende kunstenaars is gevra om Valiant se digkuns in ’n verskeidenheid media te interpreteer. Hierdie uitgesoekte groep bestaan uit Strijdom van der Merwe, Shany van den Berg, Ingrid Winterbach, Cobus van Bosch, Karlien de Villiers, Clare Menck, Vernon Swart, Jaco Sieberhagen, Peter van Straten, Dot Vermeulen en Anton Smit.

Die uitstalling se gesamentlike kurators is Elizabeth Miller-Vermeulen en D-Street Galery. Gratis rondleidings vir die publiek vind plaas op Woensdag 11 Maart om 15:00 en Saterdag 14 Maart om 11:00. Wyn vir die opening word geborg deur Blaauwklippen.

Navrae kan gerig word aan D-Street Galery: info@dstreetgallery.com of 021-8832337.?

Cobus van Bosch – gebaseer op Valiant se "die hartseer stad"

Ingrid Winterbach

Ingrid Winterbach het drie werke; een daarvan is byvoorbeeld geskep na aanleiding van Valiant se “donker droom”:

will I go down in flames
will I drown in the rain
sal ek sink
as ek swem teen die stroom
as ek sing oor wat ek sien
as ek dink oor wat ek doen
as ek dobbel met die engel
in my donker droom
my donker droom

Clare Menck oor haar kunswerk-interpretasies:

Sekere lirieke van Valiant Swart spreek my besonders aan. Spesifiek die twee gedigte/liedere wat ek interpreteer het ("matrooslied" en "droomrivier"), hoewel die lighartige "liefde by die dam" my laat dink aan kere wat ek in die natuur bemin het en wat altyd hoogtepunte van my lewe sal wees.

Tipies troebadoer, praat die gedig, "matrooslied", van 'n vroulike muse, of femme fatale, soos deur die eeue oorgedra in verhale en weemoedige liedere van matrose wat hul angs vir die wispelturigheid en gevaar van die see tem deur dit te verpersoonlik in die vorm van 'n verleidelike vrou.

So het ek byvoorbeeld grootgeword met die Duitse volkslied "Die Lorelei", wat vertel van 'n beeldskone vrou wat op die rotse van die onstuimige Rynrivier gesit en hare kam het. Telkens het matrose, afgelei deur haar verleidelike en traak-my-nieagtige flirtasie, met hul skuite teen die rotse gesneuwel.

Die ander gedig wat ek visueel probeer verbeeld het, is die semi-outobiografiese vertelling/fantasie "droomrivier", waarin die verteller sy of haar ervaring van nagtelike swemme in "'n groen en rooi rivier" beskryf.  Ek swem deesdae daagliks saans kaal in my plaasdam omdat ek alleen is, maar kan ook getuig van hierdie ervaring in talle vorme van vars- en seewaterbronne. Die verwysing na "donker visse (wat) teen my aanskuur" is 'n liriese dog onheilspellende vertolking van die bewuswording van water se simboliese krag om mens in die onderbewussyn te laat delf. Dit doen ek graag, asook om my eie vrouwees in naakte swemmende selfportrette telkens te probeer herontdek.

Vernon Swart oor sy kunswerk-interpretasies:

Vanjaar is dit 20 jaar dat ek en Valiant vriende is. Vir die afgelope 17 jaar daarvan maak ons saam musiek. My ontwikkeling as beeldende kunstenaar is onlosmaaklik verstrengel met die paaie, die plekke, die mense en in sommige gevalle die gevoelens wat deur sy lirieke vloei. Om hierdie redes was ek opgewonde om genooi te word om aan die Toorwoorde-uitstalling deel te neem.

Maar waar begin ’n mens? Daar is immers verskeie liedjies, sommiges wat ons letterlik honderde kere opgevoer het. Soos almal het ek my gunstelinge. Maar dit beteken nie noodwendig dat daardie liedjies, of ’n deel van hulle, motiverend of inspirerend is vir ’n fisiese vorm van uitbeelding nie. Toe besluit ek  om weer deur sy oeuvre te blaai en te luister.

Die verskil tussen die uitbeelding van geskrewe woorde en die uitbeelding van lirieke in ’n liedjie is natuurlik dat die liedjie se woorde deur die musiek ingekleur en aangedryf word. Die melodie, die tempo en die manier waarop daar met instrumente te werk gegaan word, dra daartoe by dat die luisteraar se emosies in breë trekke in ’n rigting gestuur word. In sommige gevalle het ’n liedjie my met ’n algemene gevoel van byvoorbeeld nostalgie of heimwee gelaat; in ander gevalle was dit lekkerkry vir die ondeundheid en pure genot.

In “Matrooslied” sing Valiant  van “fosfor en pêrels” en van “selekante”, teen ’n agtergrond van ’n verlore liefde of ’n geleentheid wat verlore gegaan het. Dit is hierde beelde wat in my kop gedraai het toe ek die skildery gemaak het.

In “Jongetjiekind” word die liriek “ons stoot pram in die wind” in die koor herhaal. Dis ’n beeld wat ek voor my kan sien.

Die liedjie “Kleingeld” is hartverskeurend mooi. Die gedagte van ’n kind wat in ’n bloekombos gebore word en later in eensame desperaatheid weer na die bloekombos vlug, is onvergeetlik.

In “Maybe in slow motion” is daar verskeie beelde van vervaagde hoop en drome, oor ’n verhouding wat sukkel om te oorleef. ’n Laatnag oproep in ’n vreemde stad.

Jaco Sieberhagen se werk gebaseer op Valiant se “oos wes wals”

BLAAUWKLIPPEN KUNSROETE

D-Street: Toorwoorde Roep My
’n Kunsuitstalling geïnspireer deur die lirieke uit Valiant Swart se gelyknamige bundel. ’n Uitgesoekte groep, hoogaangeskrewe en gevestigde visuele kunstenaars interpreteer die digkuns van die gerespekteerde sanger-liriekskrywer deur skilder-teken-en beeldhouwerk. Met oa Claire Menck, Shany van den Berg, Strijdom van der Merwe, Peter van Straten en Anton Smit.
Opening (gratis): Vrydag 6 Maart om 18:30 met Valiant Swart
Rondleiding (gratis) | Woensdag 11 Maart om 15:00 | Saterdag 14 Maart om 11:00
Ma – Vr 10:00 – 17:00 | Sa – So 9:30 – 14:00 | Gratis

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top