Onderhoud met Clare Menck oor Outside In

  • 0

Clare Menck se Outside In is hierdie maand by die Erdmann Contemporary te sien. Steyn du Toit gesels met haar oor dié solo-uitstalling se temas, haar terugkeer na verf op doek, 2014 as persoonlike keerpuntjaar, en ook hoe sy haarself voorberei vir die publieke tentoonstelling van haar lewe.

"Self-portrait on the edge of the Seine"

Waarom die titel, Outside In, en hoe sou jy die inhoud van die uitstalling beskryf?

Hierdie jaar was 'n keerpuntjaar vir my. Dit het begin met angsaanvalle, wat ek óf moes leer oorkom óf mee moes leer saamleef. Dit het begin kort na die beëindiging van 'n verhouding, en ek is skielik aan die diep kant van 'n eksistensiële middeljarekrisis gedompel. Snags het ek terdeë bewus geword van die oudwordproses, van my naderende dood, van hoe bitter min beheer ons eintlik oor die stuur van ons lewe het, asook die dreigende leënes-sindroom met my tieners wat die huis wil begin verlaat. Hierdie dinge het my tydelik ondergekry en my laat skrik. 

Outside In het begin met ’n sogenaamde somer-reeks. Die materiaal kom van ou foto’s van pieknieks en swempartytjies saam met my gesin. Die teenwoordigheid van water was telkens 'n lafenis en 'n manier om my angs te help oorkom. So het ek my kinders en ander geskilder rondom 'n vlei, 'n rivier, 'n strandmeer en die see. Die herfs het weer die heerlikste aandtonele vir my laat skilder na aanleiding van soel en terapeutiese wandelings in die skemer en in die maanlig. 

Met die naderende winter het ek egter die hunkering na 'n verandering ervaar tydens my lang pad na beterskap en heling. En dalk ook die behoefte om van buite na binne te beweeg, op allerhande vlakke. Dit het my laat besluit om 'n week lange skilderkursus deur kollega Andries Gouws op Paternoster by te woon. Die verandering van beide die omgewing en die benadering was toonaangewend vir die “winter”-gedeelte van Outside In. Hier het ek ’n uiters beperkte palet gebruik, gefokus op donkerder en intiemer temas. Ek het ook teruggekeer na verf op doek na jare se uitsluitlike skilder op hout. 

Omdat ek as koloris bekendheid verwerf het, mag hierdie donkerder palet onverwags wees vir diegene wat bekend is met my werk. Die oorhoofse inhoud hier is Parys, met figure en selfportrette in die bed en in Paryse woonbuurte, asook aan die Seine. Sommige van die nagtelike tonele het 'n effe onheilspellende naklank. Ek het ook die donkerder, meer intieme tema van menslike seksualiteit en verhoudings ondersoek deur myself deels liries, deels eroties en deels met intrige te konfronteer. Daar is egter baie deernis in my ondersoek en selfondersoek. 

"POG self-portrait"

 

Tydens sy toespraak by die uitstalling se opening het Frank Kilbourn genoem dat Outside In uit drie genres bestaan: landskappe en intieme portrette, naakstudies en interieurs. Stem jy saam?

Ek dink mense wil my graag opsom omdat ek uit die aard van die saak met tradisionele genres, soos naakstudies, landskappe, stillewes en figure werk. Maar ek skilder so wyd dat dit eintlik sinloos is om te veel te probeer opsom watter genre ek mee besig is. Genres is 'n manier om die skilders uit die verlede volgens soort-pas-by-soort te orden. Ek is 'n eietydse skilder. Ek sien myself as 'n eksistensiële realis met romantiese bloed in my are. So sal ek nie skroom om die onverwagte vas te vang nie – die ongekunstelde, onopgemerkte oomblik, die weggooigoed wat vir my persoonlike simboliek het, of die toneel wat so anders is, so eiesoortig soos net ek dit kan raaksien en skilderagtig interpreteer dat dit verras. En uit die aard van die saak skilder ek telkens my eie lewe (soms baie intieme oomblikke daaruit) en diegene wat na aan my is.

"Late-summer portrait: staring across lagoon"

 

Frank het ook tydens sy toespraak na jou werk verwys as dubbelsinnig. Hoe interpreteer jy so ’n stelling?

Ek sien dit as 'n skerp opmerking en natuurlik as 'n kompliment. Frank is een van die grootste kunsversamelaars in die land. Sy opmerking beteken die kyker word genooi om die skildery verder te ondersoek. Niks is heeltemal so eenvoudig as wat dit mag voorkom nie. Dalk kan ek die dubbelsinnighede omskryf as ek na 'n spesifieke werk, POG self-portrait, Paris verwys. (POG staan terloops vir “post-orgasmic glow”.) Hier beeld ek myself uit, sittende op die rand van 'n dubbelbed wat die hele kamertjie van venster tot glaskas vul, met die deurmekaar komberse wat my chaoties omring deels oor my borste getrek. Stralend en pienk gebloos kyk ek op na die kyker, soos na 'n minnaar na afloop van seks. Maar my kwas het ook gesorg vir 'n effe dubbelsinnige uitdrukking: dalk 'n subtiele suggestie van ontevredenheid op my lippe? Dit wil iets van die dilemma van 'n seksuele verhouding uitdruk: ons dink ons begeer dit, maar wanneer ons dit gekry het, benodig ons dit weer, en weer, of hoe? Seks laat ons in die steek juis in ons begeerte om onsself te verloor in die ander, en die uiteinde is telkens die wete dat ons nie aan ons eie vel kan ontsnap nie.

"The wish house (moonscape with girl)"

 

Jy noem dat jy met Outside In terugkeer van verf op hout na verf op doek. Hoekom hierdie skuif en, in leketaal, hoe verskil hierdie twee tegnieke?

Ek het as student by Stellenbosch- en Kaapstad-universiteite se kunsdepartemente op doek en op hout gewerk. Ek het 'n paar jaar terug geleidelik eksklusief op hout begin verf, omdat die oppervlak hard is, en die behandelde hout boonop 'n donker en warm kleur het, wat beteken jy werk van donker na lig en moet jou witte en kleure taamlik alla prima (direkte skilderwerk sonder dun lae van opbou) neersit. Dit sorg vir meer onmiddellike tasbare kwaswerk waarvan die fynste nuanses sigbaar word. Die probleem met doek is dat indien jy relatief “dun” werk soos ek, die grein van die doek gewoonlik die skilderwerk oorrompel, tensy mens dikker opbou. Maar met my voorbereiding vir hierdie uitstalling het ek die bekoring van waterverfagtige verfwerk op doek ontdek, amper soos gouache op papier. Aanvanklik het die druppende verf wat ondertoe loop en die vorige lae deels oplos, my uitgefreak, maar ek het mettertyd die verlies aan beheer begin geniet as integrale deel van my nuwe kreatiewe proses. Dit het my op my tone gehou om kreatiewer skildermatige oplossings te vind sonder dat ek na dikker verf wou oorslaan.

Jy is bekend daarvoor dat jou werk gewoonlik op 'n klein of medium skaal gemaak word. Hoe het dit dus gevoel toe jy vir die eerste keer voor die digitale muurskildery van Self-portrait with veteran cars, Piketberg gestaan het wat die galery-eienaar, Heidi Erdmann, as ’n verrassing vir jou laat maak het?

Ek moet sê dit was aanvanklik oorweldigend toe ek dit die eerste keer sien. Die figuur wat in hierdie selfportret vir my voorstel, staande tussen veteraanmotors, was skielik lewensgroot en die motors natuurlik net so. Boonop is dit nogals 'n kleurvolle skildery. Maar dan herinner ek myself dat my vyf piepklein skilderye in Duitsland by Sie.Selbst.Nackt in Bremen op 'n internasionale uitstalling van vroue se naak selfportrette verlede jaar hulle vrou kon staan teen reusagtige foto’s, skilderye en video-installasies. Uiteindelik was ek nogals verheug oor die kompliment van hierdie muurgrootte-intervensie. Ek was veral trots op my skildervaardighede, wat op so 'n reuseskaal wys waar ek met 'n enkele streperige kwashaal die geel parkeerstrepe geskilder het in die oorspronklike skildery (wat maar 48 x 60 cm groot is). Baie mense het ook vir die eerste keer raakgesien dat daar in die donker skaduwees agter my twee mans staan en gesels. Ek het dit geniet om mense en myself afgebeeld te sien in foto’s en “selfies” wat teen hierdie indrukwekkende vergroting van my skildery geneem is. Ek is per slot van rekening 'n verslaafde selfportrettis en plaas al jare lank foto’s van myself, geneem deur my eie arm, op my Facebook-muur as 'n soort selfreflektiewe visuele dagboek oor my lewe.

"Late-summer party near vlei"

 

Kan jy my 'n bietjie oor dié stuk vertel: Wanneer het die toneel plaasgevind, wat was jou gedagtes toe jy by die karre staan en wat was die gevoel wat jy met dié werk wou oordra?

Die foto is 'n paar jaar gelede deur 'n skildervriendin op Piketberg geneem. Die verwysing na veteraanmotors is duidelik 'n hunkering na 'n ander era, en ja, daar is 'n bepaalde nostalgie in die skoonheid van 'n vorige era se estetiek. Daardie ontwerpe en kleure van die motors maak my rasend, en ek poseer by hulle met 'n soort vereenselwiging met dit wat vergaan, en mooi is vir my. In die platteland, waar ek woon en werk, is daar dikwels sametrekke van veteraanmotors en -trekkers. Ek as vrou voel deel van hierdie merendeels mannewêreld as ek myself met my kwas daarin verplaas.

Van die ander stukke in Outside In – veral die tonele uit Parys – beeld baie persoonlike aspekte van jou lewe uit. Hoe berei mens jouself voor vir so iets en die feit dat mense jou so kwesbaar gaan sien?

Ja, ek spandeer maklik 'n jaar of wat se eensame ure in die ateljee, waartydens ek dit wat ek beleef en sien (en digitaal vasgevat het, soms met die hulp van ander wat my afneem), moet verwerk en distilleer. So kry ek dan en wan as eensame skilder wat bloed sweet voor die esel, die geleentheid om te wys, en te praat. Ek gesels juis nou Woensdag (10 September) in die galery met behulp van projeksies van beelde oor wat aanleiding gegee het tot Outside In. Skielik is baie intieme oomblikke baie openbaar, en natuurlik is dit 'n aanpassing, ook vir diegene wat ek skilder. Maar die skildery is per slot van rekening 'n beeld van 'n beeld van 'n persoon, en kry deur my hand en oog 'n lewe van sy eie. Tog is dit nie maklik om te dink ek verkoop stukkies van my lewe op hout en doek, en gee vensters na my private doen en late weg vir die genot van die kyker en versamelaars en tot nadenke van ander nie. Ek sien uit daarna om weer die publieke oog te ontvlug, maar soms is dit ook katarties om uit die slaapkamer te praat.

Laastens: jy haal die kunstenaar Walter Sickert aan in twee van jou selfportrette uit die Parys-versameling. Wat bedoel jy met hierdie verwysing na hom en hoe kan ons dit in die kunswerke sien?

Min mense is bekend met dié Duitse kunstenaar. Hy het in die tyd van Jack the Ripper in Londen gewerk en was verantwoordelik vir ongelooflik intieme studies van vroue op beddens in Camden Town. Die verwysings is na die 19de-eeuse boudoirtonele van Degas, Toulouse-Lautrec, en veral Sickert, wat 'n gunsteling van my is. Hulle het vroue (soms saam met geklede mans of ander vroue) in bordele en danshuise en private slaapkamers geskilder waar hulle voyeuragtig afgeloer word terwyl hulle aan die was of aantrek is of in of op die bed lê. Ek vertel ook meer oor sulke tonele, asook my eie, tydens Woensdag se praatjie.

"Self-portrait with veteran cars, Piketberg"

 

Grafika verskaf deur die skilder en ook geplaas met toestemming van die Erdmann Contemporary-galery. Lees meer oor Outside In op www.erdmanncontemporary.co.za.

Indien jy Clare se praatjie Woensdag die 10de September 2014 om 6 nm wil bywoon, bespreek asseblief by 021-4222762. 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top