Lees en luister: ’n onderhoud met Alexa Strachan oor Aardklop 2018

  • 1

Naomi Meyer gesels met Alexa Strachan oor Aardklop 2018.

Alexa Strachan

Alexa, dis weer amper tyd vir Aardklop. Waarna sien jy uit op vanjaar se feesprogram?

Ek sê altyd dis soos om tussen jou kinders te kies. Maar ek dink darem almal sal verstaan as ons opgewonde is oor die feit dat Nataniël vir die eerste keer by ons is. Nadat ek vir twee jaar in sy ore geneul het, het hy maar ingestem.

Hierdie jaar het ons ook werklik ’n opwindende visuele kunste aanbod, waarvoor Johan Thom, ons kurator, die krediet verdien.

Diane Victor is ons feeskunstenaar, en ander kunstenaars sluit in Marina Abromović (Serwië), Donald Wasswa (Uganda), Angus Taylor, Shenaz Mahomed, Liza Grobler … dis ’n lekker indrukwekkende lys van kunstenaars, en kunsliefhebbers het reeds laat weet hoe hulle hierna uitsien.

Die oorhoofse tema is Spoke, diewe en digters, wat sommer boonop vir my lekker op die tong val.

Lesers kan dus gerus kennis neem van die Kunssafari op Maandag 1 Oktober.

Van watter produksies kan mense vanjaar kennis neem, of waarvan wil jy hulle vertel waarvan hulle dalk nog nie weet nie?

Ons volledige program is reeds bekendgestel, maar daar is wel enkele nuwighede wat intussen bygekom het — lekker projekte wat ekstra tekstuur aan die feesprogram gee.

- Kobus Burger (Uitvoerende regisseur: Drama RSG) kom lei ’n paar teatergesprekke rondom die produksies Huishou, Swerfgoed en Fotostaatmasjien. Die gesprekke word met die onderskeie geselskappe gevoer, na afloop van sommige uitvoerings. Dit bied ’n lekker platform vir interessante diskoers waaraan feesgangers gratis kan kom deelneem.

- Strauss & Co bied gratis kunswaardasies aan op 2 Oktober. As feesgangers dus wonder of die erfstuk van Ouma iets werd is, moet hulle gerus ’n draai maak.

- In samewerking met Strauss & Co bied Wilhelm van Rensburg ook ’n praatjie aan: Die lewe en tye van Christo Coetzee (Dinsdag 2 Oktober 12:00 -13:00).

- Loer gerus ook op ons webwerf oor plaaslike museumbesoeke, die Bult Erfenis Staproete, en ’n Grofsmit demonstrasie by die President Pretorius Museum vir feesgangers met ’n belangstelling in die plaaslike geskiedenis.

- Na verlede jaar se suksevolle produksiebestuurwerkswinkels, herhaal ons dit hierdie jaar, en brei ons dan ook die aanbod uit: Saam met Artéma, en met die ATKV se ondersteuning,bied ons ook ’n kortkursus in verhoogbestuur aan. Suksesvolle kursusgangers sal boonop ’n sertifikaat vanaf die NWU ontvang — ’n stukkie papier vir daardie CV is mos altyd handig.

Ek glo dat ons moet bly terugploeg in en ontwikkel aan ons bedryf, ons kan nie net sit en kla oor opleiding nie.

 - Dan is dit ook héérlik dat Maboneng Township Art Tours uitbrei na Ikageng! Dis die tipe projek wat ek onsbeskaamd as ’n witbroodjie sal uitsonder. Ek het die huisgalerye in Alexandra vroeër die jaar saam met Siphiwe Ngwenya besoek,en die gasvryheid van huiseienaars, die gemaklike en spontane interaksie tussen inwoners en besoekers, jonk en oud, die opwinding en kreatiewe energie het gesorg vir ’n heerlike ervaring — dis die tipe innoverende entrepeneurskap waarvoor ek persoonlik soveel respek het. 

Ek het dadelik gehoop ons kan in Ikageng by ’n uitbreiding van hierdie projek betrokke raak, en sowaar het Siphiwe-hulle dit betyds vir Aardklop kon laat gebeur. Ek kan nie wag om te sien hoe feesgangers hierop gaan reageer nie, en ek hoop dat die projek jaarliks sal groei.

Hoe baat die gemeenskap by Aardklop?

Watter aspekte of items op die program is gratis?

  • Ek dink die feestterrein se toegang (R30, en kinders o/12 gratis) is so weglaatbaar klein, dat dit genoem moet word.
  • Op die feesterrein is daar natuurlik die kykNET-verhoog en Aardklop OntProp-verhoog, wat daagliks gratis vermaak aanbied. OntProp is natuurlik ’n woordspeling wat verwys na unplugged:
  • Op hierdie verhoog is alle musiek lewendig, geen backtracks nie.
  • Die boekgesprekke by die ATKV-Boeke-Oase, asook Rede-kabel Gesprekkereeks by die NWU Besigheidskool / Netwerk24 Feeskafee, en die teatergesprekke is ook gratis.

Watter debuutproduksies is vanjaar daar, of watter pryswennerproduksies speel vanjaar daar?

Ons het ’n sterk aanbod debuutwerke, oa My Seuns, Bloed en Bodem, Huishou wat relevante kwessies aanspreek wat myns insiens een van teater se take is.Ons het ook lekker aweregse debute, soos Wessel Pretorius se Lykskou met Je-Ani Swiegelaar en Bouwer Bosch. Wessel hanteer ook die regie van ’n nuwe Ludwig Binge-stuk, met onder andere De Klerk Oelofse in die rolverderling. Hierdie stuk lewer kommentaar oor geslagsgelykhied, magsmisbruik en homofobie, in ’n reeks sketse , onder die titel My mense is die die kluts kwyt — ek dink die titel spreek sommer vanself, want ons is bietjie die kluts kwyt, nie waar nie?

Ons vriende van die US Woordfees bring vir ons Toutjies en Ferreira, met onder andere Frank Opperman, Antoinette Kellermann en Joanie Combrinck.

Die musiekprogram is eweneens vol. Vanaf Snotkop na Elvis Blue, na die Parlotones. Die 2017 kykNET-Fiëstas genomineerde Conroy Cupido bring ’n debuutwerk Händel Masterpieces, vir klassieke musiekliefhebbers.

Altyd ook lekker om treffer- en bekroonde produksies verdere speelvakke te kan gee. Hieronder sou ek verseker Swerfgoed en Fotostaatmasjien (Anna-Mart van der Merwe speel in beide) noem. Een van my persoonlike gunstelinge is Bal-oog en Brommel — ’n produksie vir die jonk van gees, ek het lanklaas soveel pret gehad in ’n  teater! Antoinette Kellermann skitter in Hierdie Lewe, en dieselfde kan van onder andere Dean John Smith in Klippe wat val gesê word. Ek is ook baie bly dat June von Merch en Hilandi du Toit met die bekroonde Gesnaarde Gedigte op die program is.

Hilandi bring ook saam met Olga Leonard en Babette Viljoen ’n debuutwerk met die titel Krog — ek hoef seker nie uit te wei oor waarom ’n woordkunsprogram oor Antjie Krog uitstaan nie!

Wat presies is die Aardklop-app en hoe gaan dit mense se lewens makliker maak?

Wat is die lekkerste en die mees uitdagende aspekte daarvan om ’n fees te reël en hoe bied mens iets vir almal se smaak?

Mees uitdagende en lekkerste lê nie noodwendig maklik langs mekaar nie. Ek raak soms bietjie gefrustreerd met goedbedoelde, maar totaal onkundige raad, en veral met die burokrasie, dan haal ek diep asem en beur voort. Maar, dit is wel ’n lekker uitdaging om die reusagtige legkaart te bou: om ’n program saam te stel waarop jy artistiek trots is, maar wat die fees nie tot die rand van finansiële ondergang gaan lei nie. En mens moet altyd onthou dat jou persoonlike smaak eintlik niks met die feesaanbod uit te waai het nie. Balans bly die wagwoord.

Aardklop het verlede jaar die Fiësta-toekenning as gewildste fees ontvang. Hoe gaan julle hierop voortbou?

Dis nie altyd maklik om sukses te herhaal nie. (Vra maar die Springbokke oor verlede Saterdag se vertoning teenoor die All Blacks …)

Ons glo dat feesgangers ons gekies het as hulle gewildste fees vanweë ’n verskeidenheid redes, en die programaanbod is natuurlik een. Maar ons probeer verder regtig na ons feesgangers luister.  Wanneer hulle dus bv vra vir ’n bekostigbare feesterrein, of vir ’n groter aanbod van proe-ervarings, of kla oor diensverskaffers, gee ons in diepte aandag.

Dit bly onmoontlik om almal 100% tevrede te hou, maar solank as wat mens in voeling bly met jou mark, en aan hulle terugvoer gee, al kan jy nie altyd aan versoeke voldoen nie, glo ek jy is op die regte pad. Potchefstromers se gasvryheid speel natuurlik ook ’n belangrike rol.

Die feesganger se totale ervaring gaan maak dat hy terugkom, en dis waarna ons bly streef: ’n kwaliteitervaring op elke moontlike vlak.

Lees ook:

Aardklop 2018: Volledige program beskikbaar

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top