Aardklop 2018: Volledige program beskikbaar

  • 3

Dit is Aardklop se derde jaar onder die nuwe feesbestuur se leiding. Die program is weereens sorgvuldig saamgestel en belowe opwindende verskeidenheid, waaronder 27 debuutwerke. Beplan jou Oktober-vakansie rondom die feesdatums, jy sal nie spyt wees nie!

Japie Gouws (Direksievoorsitter), Alexa Strachan (Feesbestuurder), Bosman Purén (Bedryf & finansies), Delmari van Zyl (Borge & Bemarking)

Debuutwerke is soos ’n verrassingspakkie; opwindend om oop te maak.

Teaterdebuutwerke sluit in:

Marthinus Basson en Marina Albertyn, die bekroonde span wat verlede jaar skoonskip gemaak het met Melk en Vleis, bring ’n opwindende produksie, Bloed en Bodem

Sandra Prinsloo, André Odendaal, Sandi Schultz, Donovan Pietersen, Buhle Ngaba en Edwin van der Walt speel in My Seuns deur Christo Davids, ’n eg Suid-Afrikaanse verhaal oor die kompleksiteite van ons samelewing.

Nadia Valvekens keer saam met Cintaine Schutte terug teater toe in Huishou, geskryf deur Philip Rademeyer, regie deur Nico Scheepers.

Skreeusnaakse Bouwer Bosch en Je-ani Swiegelaar is te sien in Lykskou as Dizzy en Orph – broer en suster wat hul dienste aanbied as kosmetiese kunstenaars vir lyke. 

De Klerk Oelofse is te sien in My mense is die kluts kwytToutjies en Fereirra, ’n drama-komedie, met onder andere Frank Opperman en Antoinette Kellerman, is ook iets om na uit te sien. 

Die bekroonde teaterervaring DEURnis brei vanjaar die aanbieding uit. Nie net is daar een-tot-een teater nie, maar ook 20-voor-2 teater en stukke met 20 gehoorlede en net 2 akteurs – alles behalwe tradisioneel. 

Die musiekprogram bied iets vir elke voorkeur.

Musiekdebuutwerke sluit in:

In ’n tipiese Nataniël-produksie, Classic Nataniël, gaan hy saam met onder andere die Charl du Plessis Trio en ’n strykkwartet gehore vermaak.

Die Parlotones tree een aand saam met die Nasionale Koorakademie op.

Klassiekemusiekliefhebbers kan uitsien na splinternuwe produksies deur Die Boulevard Harmoniste. Die North-West Consort en Odeion School of Music Camerata bied Händel Masterpieces aan. Hanli Stapela en Christian Bester open met No Tenors Allowed!

Krog bevat toonsettings van Antjie Krog se verse deur Babette Viljoen, Hilandi du Toit en Olga Leonard.

Die bekroonde Charl du Plessis Trio sal gehore meevoer met liriese melodieë van Verdi, Rossini en Puccini wat met jazz verweef word. 

Soos altyd sluit ons die fees finaal af met die Sondagkonsert, Musica Sacra. Karl Jenkins en John Rutter se musiek is deel van die repertoire.

Uniek aan Aardklop:

Atterbury Trust Pronk Podium skep ’n platform vir tiener- en studenteproduksies. Die top drie tiener- en studenteproduksies sal weer vanjaar by die fees aangebied word. 

Die Aardklop Langtafel, ’n eksklusiewe geleentheid vir kuier, eet en feesvier onder die reuse platane in die NWU-Potchefstroomkampus se bekende Lovers’ Lane, is die laaste smaaklike kuierkans. 

Die Aardklop Redekabel Gesprekkereeks vind weer by die NWU Besigheidskool plaas. Drie sessies word aangebied: aktuele gesprekke soggens, Sake & Sauvignon in die middae en landbougesprekke saans, saam met vleis op die kole en ’n glasie wyn. 

Die verhoogbestuurkursus en produksiebestuurwerkswinkel word in samewerking met Artéma en die ATKV aangebied ten einde die die kunstebedryf in die breë te bevorder. Invloedryke gespreksleiers se kundigheid word oorgedra.

Leefstyl

Vier van die TV-kanaal VIA se gewildste sjefs kom ons trakteer met watertand kookdemonstrasies (onder andere Herman Lensing, Sarie se kosredakteur en Annelien Pienaar, skrywer van Boerekos met ’n twist).

Visuele kuns

Spoke, diewe en digters vanjaar se oorkoepelende tema lewer kommentaar op die uiters belangrike rol van kreatiwiteit en die poëtiese rol wat enige kunstenaar uiteindelik vervul. In ons globale wêreld, met mensgemaakte grense tussen almal, is dit die plig van kunstenaars om hulle stem dik te maak en hulle visies en drome vir die toekoms en die verlede konkrete vorm te gee.

Elk van die sewe uitstallings by Aardklop 2018 draai op sy eie manier die wêreld op sy kop met unieke invalshoeke oor ons plek en rol in die samelewing. ’n Fees van visuele kunswerke van regoor die wêreld word gebied, onder meer die werk van feeskunstenaar Diane Victor en solo-uitstallings deur Liza Grobler en Donald Wasswa. Daar is opwindende groepuitstallings van jong en bekende kunstenaars soos Sharon Morris, Willem Boshoff, Shenaz Mahommed, Dylan Graham, Frikkie Eksteen, Avi Sooful en vele meer.

Die immergewilde Kunssafari skop ook weer die fees af met ’n begeleide kunstoer deur die verskillende uitstallings. Hier is die geleentheid om die kuratore en kunstenaars persoonlik te ontmoet en die opening van Aardklop 2018 met ’n heerlike openingspartytjie te vier.

Verwys na feesgids vir meer inligting.

Teater – wat jy dalk elders misgeloop het:

Sandra Prinsloo vertel saam met Franci Swanepoel ’n storie van vriendskap en seer in Soebatsfontein. 

Uit die pen van Louis Pretorius (Die Boekklub-faam) kom Drie susters. Die susters, vertolk deur Margit Meyer-Rödenbeck, Nicole Holm en Lizz Meiring, se vlug word vertraag. Wat op die lughawe afspeel is skreeusnaaks en hartverskeurend. 

Bibi Slippers se bekroonde digbundel kry lewe in Fotostaatmasjien met onder andere Slippers, Anna-Mart van der Merwe en Schalk Bezuidenhout. 

Antoinette Kellerman doen in Hierdie lewe nabetragting oor ’n onvervulde lewe. Na die roman van Karel Schoeman.

Marion Holm se Operasie Holm, en Swerfgoed met Anna-Mart van der Merwe, Nicole Holm, Richard September en Andrew Laubscher moet ook nie misgeloop word nie.

Besliste hoogtepunte is Philip Rademeyer se Klippe wat val met Dean John Smith, Wilhelm van der Walt en Gideon Lombard, en die ikoniese Uit die bloute met Paul du Toit en Jenna Dunster.

Musiek: Selfs groter en beter as ooit!

Aardklop bied in 2018 iets vir elkeen met bekendes soos Coenie de Villiers, Elvis Blue, Touch of Class, Snotkop, Amanda Strydom, Chris Chameleon, Joshua na die Reën, Helena Hettema en Jak de Priester. Interessante produksies soos Rooi4 Orrel Duo, Spanish Fire (met CH2) en die immergewilde Radio Kalahari Orkes sorg vir ’n verskeidenheid wat jy nie sommer elders sal kry nie. 

Feesterrein en algemene inligting:

Aardklop begin op 1 Oktober met die immergewilde Kunssafari. Die feesterrein open en produksies skop op 2 Oktober af. Feesterreinkaartjies is teen die sakpasprys van net R30 per persoon te koop.  Weekskaartjies teen R75, kinders onder 12 het gratis toegang tot die terrein. Kaartjies is te koop by die feeskantoor, Molenstraat 69, Potchefstroom.

Produksiekaartjies is van 23 Julie af op Ticketpro beskikbaar, by www.ticketpro.co.za, of kan by uitgesoekte takke van Spar, Jet, CNA en Edgars.

In ’n neutedop bied ons spyskaart regtig ’n allegaartjie vol verrassings en Aardklop nooi elke feesganger om sy feeservaring self saam te stel: wat ook al jou smaak, styl, voor- of afkeure.

KOM FEES JÓÚ PLEK VOL by Suid-Afrika se gewildste fees!

Laai die pdf's van die feesgids hier af:

Besoek Aardklop se webwerf vir die jongste inligting: https://aardklop.co.za/

  • 3

Kommentaar

  • Goeie more

    Ek is 'n student en wil graag hoor of daar enige werksgeleenthede nog beskikbaar is by stalletjies ens.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top