Langarm: bekoorlike baldans verskuil die hartseer van skeiding

  • 0

Foto: Jesse Kate Kramer

David Kramer se jongste musiekblyspel is tans by The Fugard Theatre in Kaapstad op die planke. Die storie speel in 1965 en 1966 in Distrik Ses in Kaapstad af. Dinah Levin se man sterf. Haar nefie, Jeff, wat in Johannesburg woon, kom Kaap toe om haar te kom uithelp by The Canterbury Hotel.

Jeff se verloofde het hom gelos en hy is erg hartseer toe hy die mooi Angelina, ’n jong baldanser, ontmoet. Toe sy hom vra om haar dansmaat te wees in The Swaziland Ballroom Championships, gryp hy die kans aan om sy verloofde terug te kry. Die probleem is hy is wit, Angelina nie. En die liefde laat hom nie deur die kleur van jou vel stuit nie.

Die nuwe Apartheidswette hang dreigend oor hul koppe en mense sal bykans enigiets doen om te oorleef.

Jeff weet dat hy gearresteer kan word as hy uitgevang word. En dan is daar die kwessie van Dinah se verlede wat weer na baie jare in die kollig is toe Eddie Jephta, die leier van die Moonlight Serenaders–langarmorkes, by die The Canterbury Hotel kom speel en die lastige man van die Buro wat besluit of jy wit of bruin is, kom inloer.

David het onlangs aan my vertel dat baie jonger mense so min weet van die onregte van die verlede en dis waar musiekblyspele ’n rol kan speel om die vergete geskiedenis weer na vore te bring. Hy glo dat blyspele soos Langarm belangrik is om in ’n demokratiese bestel te speel.

Hy werk vir Langarm weer saam met Charl–Johan Lingenfelder, saam met wie hy die eerste maal aan Orpheus in Africa gewerk het. Charl–Johan is die musikale regisseur vir die Fugard.

David loop al baie lank met die idee van Langarm rond en wou ’n storie skryf wat op langarm fokus, maar nie langarm (sokkie) nie; eerder die dansstyl van die sestigerjare met lewende orkeste en koperblaasinstrumente.

Sy eie liefde vir musiek van orkeste soos die Johnny Lyners Blue Moon Jazz Band en Willie’s Starlite Orchestra kom van sy grootworddae op Worcester, waar sy ouers naweke op die Brandvleidam gaan seil het en na afloop in die klubhuis by hierdie orkeste se musiek gekuier en gedans het.

Hoewel hy geen ondervinding van die danssale van Distriks Ses het nie, was sy vennoot, Taliep Petersen – ’n ongelooflike storieverteller, wat stories voor jou oë lewendig laat word het – die aanspoorder van baie stories uit daardie era. David het besluit dat Distrik Ses die plek moet wees vir sy nuutste blyspel, maar hierdie keer met ’n bietjie meer Joodse invloed.

Die blyspel se kostuums en stel voer jou terug na die romanse van baldanspartytjies, grasieuse paartjies wat oor die dansvloer sweef in hul deftige aandklere, terwyl ’n stormagtige tyd in ons land se geskiedenis buite die deure van die danssaal afspeel. Vir daardie paar uur kom sit die vrees van die Apartheidswetgewing weer oor die gehoor se koppe en die onmoontlikheid van liefde wat nie mag wees nie, sit magteloos in jou ledemate.

David Kramer het sorgvuldig gekies aan die span wat saam met hom hierdie blyspel op die planke gebring het en só ook die akteurs. Elkeen se bydrae is duidelik deur die loop van die aand.

Dis wonderlik om daar in die donker te sit en besef dat hoewel David se skryfmaat, Taliep, saam met wie baie van die land se voorste blyspele tot stand gekom het, weggeval het, die stories van die verlede nie ophou vertel word nie; en boonop op die ingrypende manier wat net David kan, aangeraak word.

En mens kan nie help om na die tyd in nabetragting jou kop te skud oor die geskiedenis wat homself herhaal nie. In die teater is dit die mense wat in die sestigerjare uit hul huise in Distrik Ses verwilder word; waar families in stukke geskeur word om oor die Kaapse Vlakte versprei te word. In die noorde van die wêreld word nuwe grense in Ierland voorspel omdat Brexit dreig – en jy wonder onwillekeurig hoe daardie families oor grense verskeur gaan word.

Maar as jy nie te diep wil dink en wroeg oor die verlede nie, is die mooi musiek, pragtige danspare en magiese stel, genoeg om jou mee te voer.

Langarm

Met: Rushney Ferguson, Cameron Botha, Kim Louis, Elton Landrew, Pierre Nelson en Julio Jantjies.

Deur: David Kramer

Regie: David Kramer

Musiek: Charl–Johan Lingenfelder

Stel–ontwerp: Saul Radomsky

Kostuums: Widaad Albertus

Die Fugardteater, Harringtonstraat, Kaapstad.

Regdeur die feesseisoen, met addisionele middagvertonings van 16 Desember 2018

Ouderdomsbeperking: geen onder 12’s

Kaartjies deur Computicket by 0861 915 8000, www.computicket.com of aanlyn by www.thefugard.com of by die Fugardteater se kaartjieskantoor by 021 461 4554

 

Wat gat nou an, Bo-Kaap?

Baai baai, Bo-Kaap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top