Landskap en kuns vanuit ’n ekoteologiese perspektief

  • 1

Pieter GR de Villiers gesels met Annalet van Schalkwyk oor haar artikel wat onlangs in LitNet Akademies (Godsdienswetenskappe) verskyn het: “Die sublieme in die ekologie: ’n Ekofeministiese teologiese interpretasie van ’n Oos-Kaapse kunstenaar se ekologiese visie, spiritualiteit en identiteit”.

...............................

Annalet van Schalkwyk (Foto: Verskaf)

Jy gebruik terme soos ekofeministies en ekoteologie om Heleen du Preez se skilderye te bespreek, maar om ook oor jou eie navorsing te praat. Kan jy vir mense wat die terme nie ken nie, die betrokke begrippe op ’n eenvoudige manier verduidelik?

Aan die hart van ekoteologie is die vraag hoe Christene die Bybel moet lees en die evangelie moet verstaan en moet leef in ’n tyd waarin “[d]ie hele skepping sug in die pyne van verwagting”, soos Paulus skryf in Romeine 8:22. Dan gaan dit oor vrae soos: Wat is die verhouding van die drie-enige God tot die kosmos en aarde wat ons “huis” en “tuiste” noem? Is die Gees van God teenwoordig in die natuur? Wat behoort gelowiges se rol te wees, indien hulle ’n rol het, om ekologiese krisisse te help aanspreek en om ’n toekoms vir volgende geslagte op hierdie planeet moontlik te maak?

Thomas Berry is vir my een van die mees bevredigende ekoteoloë om te lees, omdat hy die Christelike geloof se sentrale boodskap verbind met die kennis van die moderne mens oor die ontstaan van die aarde, sodat mens die verhouding van hedendaagse Christene tot die aarde en die ekologie kan verstaan. Ek verwys op ’n paar plekke in die artikel na hom.

Ekofeministiese teologie daag die Christelike tradisie uit wat vir baie eeue verlossing uit die aardse en liggaamlike na ’n bonatuurlike domein verplaas het. Onderliggend aan hierdie verplasing is ’n teologie wat wil oorheers, uitbuit en oorwin. Histories was, en is nog tot ’n mate, die hoekstene van hierdie teologie die onderdrukking van vroue, die armes en die aarde deur middel van tradisionele manlike oorheersing wat in ekonomiese en politieke magsisteme ingebed is. Die ontmaskering van hierdie hoekstene is die kritiese dimensie van ekofeministiese teologie.

Die positiewe fokus van ekofeministiese teologie en spiritualiteit is die liefdevolle respek vir en versorging van al die verskillende lewensvorme op aarde – insluitende die menslike gemeenskap. Teologie strewe daarna om ’n duursame lewegewende spiritualiteit aan te wakker by mense wat prakties werk om die gemeenskap van lewende wesens op hierdie planeet te beskerm teen vernietigende menslike gedrag, en om die aarde se lewende sisteme te versorg sodat dit kan herstel en herleef.

Hoe het dit gebeur dat jy self in die omgewingskwessies begin belangstel het?

Ek het in die ou Transkei en later die Noordoos-Kaap grootgeword, met ouers wat sendelinge was van die NG Kerk in die ou NG Kerk in Afrika, wat later die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika geword het. Om as kind tussen wit en swart gemeenskappe, en tussen die ou tuislande van Transkei en Ciskei en die “ou Suid-Afrika” te beweeg, het my bewus gemaak van skreiende landelike armoede waarin veral ouer mense, vrouens en kinders in die beperkte grondgebiede van die tuislande moes leef. Toestande in die woonbuurte buite die wit dorpe was ook haglik. Ek het van vroeg af bewus daarvan geraak dat iets baie verkeerd is met hoe die samelewing deur die apartheidsowerhede gerangskik is.

Ek het ook onder die indruk gekom van hoe afhanklik swart en wit mense van die land en die omgewing was om ’n bestaan te voer, en hoe verskynsels soos toegang tot grond, droogte, en gronderosie ’n impak gehad het op die welsyn van mens, dier en grond.

Aan die ander kant was ek intens bewus van die skoonheid en grootsheid van die bergomgewing waarin ons gewoon het. Ek het gewens dat mense in harmonie met hierdie omgewing kon leef. Toe ek later besig was met nagraadse studie in teologie, het hierdie vroeë indrukke tot my belangstelling in ekofeminisme en ekoteologie gelei.

Jou artikel handel oor die skilderye van Heleen du Preez, ’n Oos-Kaapse kunstenaar, waarin jy haar spiritualiteit en identiteit bespreek. Jou artikel weerspieël insigte wat jy oor jul 12-jarige vriendskap oor haar kuns gekry het. Maar wat is dit spesifiek aan haar skilderye wat jou met jul eerste ontmoeting in hierdie vriendskap betrokke laat raak het?

Heleen du Preez se Landskap tussen Lady Grey en Dordrecht (Foto: Henk Coetzee)

Wat my in Januarie 2006 so van Heleen se kunswerke in die Essences-reeks geraak het, was die fyn en ongelooflik vaardige wyse waarop sy die grasvelde en ruwe bergterrein van die Lady Grey-omgewing uitgebeeld het. Dit was asof sy persoonlik geïdentifiseer het met die toestand waarin die grasvelde gedurende verskillende tye en seisoene was – of dit die glorieryke grasvelde van herfstyd was, of die tyd van vernietigende veldbrande.

Ek kon identifiseer met hoe sy die ekologie beleef en uitgebeeld het, en gereageer het teen mense se vernietiging van die ekologie. Sy was akuut van die streek se ekologie bewus – iets wat ek nog nie vantevore by ’n kunstenaar gesien het nie. Ek dink ons gedeelde liefdes vir daardie wêrelddeel het tot mekaar gespreek. Haar man, Johan, het ’n ou Land Rover gehad. Net soos my man, Henk. Ons het dit almal geniet om die berge van hierdie streek te verken. Wel, die ontmoeting in Januarie 2006 het heel gemaklik in vriendskap oorgegaan.

Vertel ’n bietjie meer van Heleen du Preez se plek in die Suid-Afrikaanse kunstoneel.

Ek vermoed Heleen was in die Suid-Afrika van 2003–2005 haar tyd vooruit toe sy die Essences-reeks geskilder het, in terme van haar temas wat uit spiritualiteit (eerder as godsdiens) en ekologie gekom het. Wel, sy was beslis uniek. Haar begrip van die sublieme in kuns en die ekologie het historiese wortels in die Westerse kunswêreld en ook in die verkenning van ekofeministiese spiritualiteit in postmoderne kuns. Sy was baie goed onderlê in kunsgeskiedenis. Sy het bekendheid en aansien verwerf as kunstenaar en kunsonderwyseres in Johannesburg en omstreke en het heelwat jong kunstenaars gementor.

Haar plek kan verduidelik word deur die werk van haar jare lange vriendin Gwenneth Miller van Unisa se Departement Kunsgeskiedenis en Musiek wat ’n M-verhandeling geskryf het oor postmoderne tendense in die verstaan van die sublieme in kuns. In die kontemporêre kunswêreld is hierdeur groot ruimte skep vir temas uit die ekologie, feminisme, spiritualiteit en godsdienste. Gwen Miller het byvoorbeeld met haar kunswerk Earthskin (2000; nou in die Unisa-kunsversameling) met ekologiese en feministies-geïnspireerde metodes en temas gewerk, alhoewel sy verkies om nie haarself as ’n ekofeministiese kunstenaar te bestempel nie.

Hierdie kunswerk was oorspronklik deel van die uitstalling Cross Cut – Criss Cross wat Gwen in 2000 saam met Karin Lijnes by die Millennium-galery in Pretoria gehou het. In hierdie kunswerke gebruik albei kunstenaars hars, garing, herwinde materiaal en was. Hulle skilder, en doen naaldwerk en borduurwerk. Hulle idees is verweef met dade van omgee vir vroue, vir die ekologie en vir die ontwikkeling van ander werklikhede as die metanarratief van mag wat wil oorheers.

Onlangs het Gwen gewerk met objekte en materiale uit die omgewing, en dan veral hoe hulle rangskikking en uitbeelding geestelike en emosionele temas soos weerloosheid, verlies, heelwording en transformasie verteenwoordig. Hierdie temas kan ook in terme van ekologiese prosesse geïnterpreteer word.

’n Ander bekende kunstenaar wat kuns skep wat beïnvloed is deur kosmologie, argitektuur, ekologie en simbole uit prehistoriese en San-godsdienste, is Karel Nel. Ek sou dit waag om te sê dat Heleen tuishoort tussen belangrike kunstenaars wat in ’n postmoderne en postkoloniale tyd werk met ’n begrip van die noue verband tussen die heelal, die aarde se ekosisteme, die ervaring van mense en lewende wesens wat minder mag het as die heersende magshebbers, spiritualiteite, godsdienste, die Goddelike, en die sublieme. Hierdie kunstenaars wys vir ons hoe ons deel is van hierdie groter geheel.

Is daar vir jou ander belangrike kunstenaars in ons land wat aandag gee aan die brandende kwessie van omgewingsbesoedeling?

Soos reeds hier bo verduidelik, pas Heleen in ’n tydvak waar meer kunstenaars met ekologiese en godsdienstige of geestelike motiewe begin werk het. Een kunstenaar wat alreeds vanaf 1995 ekologiese kuns met ’n sterk invloed van ekologiese spiritualiteit geskep het, is Diana Graham van Hogsback in die Oos-Kaap, wat die Ecoshrine geskep het.

Vandag, 15 jaar later en in die konteks van toenemende aardverwarming, is ekologiese kuns met temas van ekologiese/ekofeministiese spiritualiteit en ook ekologiese aktivisme waarskynlik meer op die voorgrond. Kunswerke neem nuwe vorme aan, word van herwinde materiaal of natuurlike objekte gemaak, en dra dikwels op interaktiewe wyses sterk ekologiese boodskappe oor. Ook populêre of openbare kuns dra ’n sterk boodskap oor in hierdie verband. Ek gee ’n korterige lys van kunstenaars en kunsprojekte:

  • Populêre straatkuns in Kaapstad (sien capetownetc.com).
  • Greenpop, ook in Kaapstad.
  • Die Vrystaatse Kunstefees van 2018 het baie sterk gefokus op kuns, kultuur; klimaat en geregtigheid. 
  • ’n Opkomende kunstenaar-aktivis is Janet Botes (kyk gerus hier en hier). Sy is ook betrokke by “land art”.
  • Kali van der Merwe doen ekologiese kuns met sterk temas van spiritualiteit en liggaamlikheid soos dit verband hou met ons deelwees van die aarde en kosmos, dood en vernuwing, ens.
  • Nog ekokunstenaars is Virginia MacKenny (kunstenaar, akademikus en aktivis wat oor ekologie, klimaatsverandering werk); Grace Kotze, Noeleen Klein, John Roome (kyk hier vir voorbeelde van hulle kuns); Santu Mofokeng (kunstenaar en fotograaf wat spiritualiteit en landskap soos dit saamhang met mag, grond en ekologie verken); Hannelie Coetzee, wat werk met publieke kuns ivm mynbesoedeling, water en biodiversiteit; Georgia Papageorge; en die ontwerper Bethuel Maphetho.
  • Kunstenaars wat met herwinde materiaal werk en ook ’n sterk boodskap oordra oor die verhouding tussen mens en ekologie, is Galia Gluckman en Mbongeni Buthelezi.
  • Maria Magdalena Blok het in 2002 ’n magistergraad in visuele kunste aan Unisa met die titel “Herwinning as ’n kunsvorm: ’n ekofeministiese perspektief”

Jou artikel verteenwoordig jou siening van Heleen du Preez se skilderye. Enige interpretasie is vanselfsprekend subjektief. Dikwels sê sulke interpretasies meer van wat die kyker wil raaksien as wat daar in die skilderye self is. Watter kontrole is daar dat jou siening van haar skilderye werklik betroubaar is, veral wat die godsdienstige aspekte betref?

Die eerste kontrole wat enige interpreteerder van kuns – en van menslike verhale – moet gebruik, is dié van groot respek vir die mens wat voor jou staan en vir haar kuns. Dit moet regtig te alle tye jou doel wees om die navorsingsubjek te respekteer en daarom so goed as moontlik die navorsingsresultate te kommunikeer.

In feministiese navorsingsmetodologie gaan respek ook saam met ’n erkenning van die navorser se eie empatie: om jou emosionele intelligensie te vertrou en te weet wanneer jy elemente van die ware aard van die navorsingsonderwerp raaksien en raakskryf.

Die kunstenaar Heleen du Preez (Foto: Henk Coetzee)

Ek sou Heleen se kuns nie alleen voldoende kon vertolk het nie. Ek het gebruik gemaak van insigte van Gwen Miller. Sy het jare lank saam met Heleen gewerk. Verder moes ek my eie teologiese insig vertrou dat die teologiese raamwerk van Heather Eaton, Sallie McFague en Thomas Berry iets sou laat deursyfer van Heleen se visie.

Toe die artikel voltooi is, het ’n kunstenaar wat ook ’n student van Heleen was, Alex Trapani, die volgende terugvoering gegee: “This article … outlines Heleen’s personal philosophies so clearly and so beautifully. It is a wonderful homage to who she was as a person and an artist … It respectfully preserves everything I love about Heleen.” Ek kan net sê dat ek baie geraak was deur hierdie en ander opmerkings.

Hoe dink jy as teoloog oor die rol van die teologie in die stryd vir die behoud van ons planeet? Hoeveel artikels en boeke word oor die tema geskryf?

Vandag is ekoteologie ’n gerespekteerde navorsingsgebied. Daar word toenemend bydraes van ekoteoloë gepubliseer in elke teologiese dissipline, oa in die Bybelwetenskappe, sistematiese teologie en etiek, missiologie, praktiese teologie en spiritualiteitkunde. Dit behoort al hoe meer teologiese studente, navorsers, praktisyns en gelowiges in staat te stel om op ’n ingeligte wyse op die ekologiese krisis van ons dag te reageer.

Ekumeniese organisasies soos South African Faith Communities’ Environmental Institute speel ook ’n belangrike rol om gelowiges van verskillende geloofsgemeenskappe tot ekologiese aktivisme te motiveer.

As geloofsgemeenskappe net soveel aandag aan klimaatsverandering as aan die gay-saak bestee het, was ons planeet seker lankal in ’n beter toestand, of hoe? Kan kerke bv meer praat oor ekologiese sake, soos ook die manier waarop ons land steeds steenkoolverbranding toelaat en selfs bevorder?

Kerke kan inderdaad meer praat oor ekologiese sake soos steenkoolverbranding. Ek moet byvoeg dat die NG Kerk en VGK meer in hierdie verband doen as wat mense besef. Die NG Kerk is ’n lid van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) se Benchmarks Foundation, ’n stigting wat net na 1994 deur die SARK gestig is om groot maatskappye tot sosiale verantwoordelikheid in ’n demokratiese Suid-Afrika te motiveer en by te staan.

Die stigting doen byvoorbeeld uiters belangrike werk om gemeenskappe wat deur mynbesoedeling benadeel word, te bemagtig om deur burgerlike wetenskap (citizen science) self besoedeling deur myne en die gesondheidsgevare daarvan te meet. Dit stel dan die stigting in staat om die publiek van hierdie probleme bewus te maak en om met die regering en georganiseerde mynbou daaroor te onderhandel. Die NGK en VGK ondersteun hierdie Benchmarks Foundation.

 

Lees Annalet van Schalkwyk se artikel in LitNet Akademies hier:

Die sublieme in die ekologie: ’n Ekofeministiese teologiese interpretasie van ’n Oos-Kaapse kunstenaar se ekologiese visie, spiritualiteit en identiteit

  • 1

Kommentaar

  • Annalet doen hier n waardevolle bydrae tot die kunsgeskiedenis om Heleen se werk te beskou en te positioneer deur haar (Annalet) se unieke lens. Heleen se intense en intelligente belewing van kuns, filosofie, en empatie word geeer hier.
    Dankie aan Annalet vir die vermelding van my werk. Ek wil noem dat die werk Earthskin begin het in n projek wat ek en Heleen saam aangepak het. Haar deel van ons twee persoon projek het nie uit Lady Grey gereis nie, maar dit was n monumentale installasie, geskilder met die grond van die omgewing. Dele van die werk van Heleen is in verskeie privaat versamelings.
    Ek skryf n paragraaf oor die projek in my webwerf
    https://www.gwennethmiller.com onder exhibitions/earthskin
    Dankie Annalet vir die pad saam.
    Nota: Errata: Maria ’Blok’ nie ‘Vlok’ nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top