Landbouweekblad: ’n onderhoud met Lizette Rabe

  • 0

LitNet het vir Isabeau Botha, korporatiewe kommunikasiebestuurder van Agri-Expo, gevra om met Lizette Rabe oor haar LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel,’n Landboublad as ‘sosiale barometer’: Landbouweekblad as aanwyser van een eeu se landbou-ontwikkeling”, te gesels.

...........................

100 jaar is ’n láng tydperk – hoe het Landbouweekblad daarin geslaag om oor soveel jare relevant te bly?

In my artikel oor Landbouweekblad se 100 jaar het ek die begrip wat in die akademiese veld van tydskrifstudie as subveld binne mediastudie gebruik word, naamlik tydskrifte as “sosiale barometers”, toegepas.

Ek dink dit is veral gepas vir ’n landboublad, wat uiteraard die temperatuur, lugdruk, ens daar buite gemeet het, en voortdurend meet, net soos in die landbou, en dan daarvolgens beplan en optree.

Dus het die blad voortdurend figuurlik gesproke sy vinger op die pols van die landbou gehou wat betref sy teikenmark. As produk self het hy ook voortdurend vernuwe – dis die kern van langlewendheid: dat die produk homself oor en oor herbedink, herontdek, herverbeel en dan herverpak.

Dis dieselfde beginsel as Woolies se kosrakke: daar is altyd weer iets nuuts. Jy kan nie dieselfde oor en oor aan jou klante opdis nie. As produk het Landbouweekblad ook tegnologies op die voorpunt gebly danksy die ou Naspers, en sedert 2000, Media24, se fokus op vernuwing.

Naspers was van sy ontstaan ’n vernuwende, entrepreneuriese maatskappy, daarom ook dat hy duidelik die gaping in die mark gesien het wat betref ’n Afrikaanse landboublad en toe die mark in die gaping gesoek het. En duidelik gevind het, al was dit dwarsdeur landbourampe, droogtes en politieke aardbewings.

Wat die produk self betref: Vandag se splinterprodukte van die kernhandelsmerk is bewys daarvan hoe hy homself vernuwe het binne die ontwrigtende digitale (media-) ekonomie en nuwe markte vir homself geskep het.

Wat is volgens jou die drie grootste veranderinge, in volgorde van belangrikheid, wat in 100 jaar by Landbouweekblad plaasgevind het?

Ek sal nie hierdie vraag kan beantwoord sonder om te sê só ’n vraag vereis ’n empiriese studie oor dié onderwerp nie. Maar ...

  • Ek dink oorsigtelik kan ’n mens wel sê dat Landbouweekblad homself tegnologies voortdurend aangepas het – byvoorbeeld hoe hy die produk self vernuwe het met kleurdrukwerk, en toe, met die koms van digitale media, aanlyn produkte, met vandag se kernhandelsmerk “Landbouweekblad”, as verskillende produkte vir die mediaverbruiker te kry.
  • Wat betref sy fokusgebied, die landbou, het hy voortdurend relevant gebly deur die landboujoernalistiek wetenskaplik maar toeganklik te bedryf.
  • Wat betref mediabestuur, was die skuif na die Kaap waar daar reeds ’n beter tydskriffabriek was, en wat daaropvolgend telkens tegnologies vernuwe het, waarskynlik die deurslag wat die eindproduk se sukses betref. In die Kaap was daar die nodige infrastruktuur, en dis ook voortdurend opgegradeer om die beste drukwerk te kan lewer (toe die blad nog slegs ’n drukmediaproduk was). Weer eens, wat betref mediabestuur: Die feit dat die blad in die stal van ’n vernuwende mediamaatskappy was wat voortdurend in die nuutste tegnologiese ontwikkelings belê het, ook wat betref die brug wat geslaan moes word tussen drukmedia en digitale media, het beteken die blad het homself voortdurend nie net relevant vir die mark gehou nie, maar ook gesorg dat hy die beste produkte uitgee wat moontlik is.

In hoe ’n mate, of nie, was Landbouweekblad anders as Naspers se Afrikaanse dagblaaie van sy tyd, polities onpartydig en wat getrou op praktiese landboukwessies gefokus het?

Ek dink nie ’n mens kan sê Landbouweekblad was onpartydig nie. Hy het immers binne die Afrikanernasionale dampkring ontstaan, het met ’n Afrikanernasionale bril na die landbou gekyk, en hoewel hy nie partypolitiek as sodanig verkondig het nie, was daar geen twyfel tot watter politieke-denke-groepering hy behoort het nie.

Sy stamboek is duidelik: gestig as deel van sy stigtingsmaatskappy se Afrikanernasionale droom. Dit sal interessant wees om ’n studie te doen oor hoe hy homself gemaneuvreer het binne die verskillende broederstryde binne Afrikanerdom sodat hy nie lesers verloor na weerskante van die politieke spektrum van aan die een kant hervormingsgesind, en die ander ultrakonserwatief nie, maar dat hy sy oog op die bal gehou het – in hierdie geval, ’n suiwer fokus op die landbou.

Die eerste groot broederstryd was in die dertigs, met die “Gesuiwerdes“ en die “Smelters“, en die tweede groot een waarskynlik in die tagtigs, met eers die Herstigte Nasionale Party van Hertzog, en toe ook die Konserwatiewe Party van Treurnicht.

Maar ek dink soos wat byvoorbeeld Sarie haarself gefokus het as tydskrif vir die moderne vrou, het Landbouweekblad homself gefokus gehou as tydskrif vir die moderne boer, en moes die ouens maar so tussendeur hul partypolitieke gevegte tussen mekaar uitbaklei.

Hoekom dink jy het LWB in 100 jaar nog nooit ’n vrou as redakteur gehad nie?

Dis natuurlik alles deel van die patriargale kultuur wat gegeld het, en natuurlik nie net in Suid-Afrika nie.

Voorheen was joernaliste, en tot nog maklik so twee, drie dekades gelede, natuurlik veral landboujoernaliste en politieke joernaliste, vanselfsprekend manlik.

Dus: Uit die voedingsbron vir landboujoernaliste was daar in die vorige eeu gewoon nie ’n vrou wat as redakteur kon dien nie.

Die globale patriargale kultuur is een rede; plaaslik was dit natuurlik ook veral ’n kwessie van dat die blad tot ’n superpaternalistiese maatskappykultuur behoort het. In die vorige eeu sou nie eens gedink gewees het dat ’n vrou in daardie posisie sou kon funksioneer nie. Sarie het dan maar eers in 1994 haar eerste vroulike redakteur gekry.

Dus: Voorheen is selfs daardie pos vir seker nie aan ’n vrou toevertrou nie, hoewel daar uitstekende vroulike joernaliste was wat dwarsdeur Sarie se bestaan hulself uitstekend van hul taak sou kwyt.

Een voorbeeld: Alba Bouwer, wat die eerste adjunkredakteur was met die stigting sewentig jaar gelede in 1949, kan ek my voorstel sou ’n uitstekende redakteur uitmaak. Die patriargale brein het net eenvoudig nie gedink ’n vrou sou daardie stoel kon volsit nie.

Gelukkig het dit verander, en gelukkig is daar ook briljante jong landboujoernaliste – wat toevallig ook vroulik is – wat in aanmerking geneem kan word vir toekomstige redakteurskappe.

Die landbou is immers nie ’n bedryf wat net deur mans gepraktiseer word nie. Dis maar histories dat die meeste boere manlik is; eweso die landboujoernalistiek.

Leierskap binne die landboujoernalistiek is natuurlik nie iets waarvoor mans spesiaal gepredestineer is nie; dis maar bloot histories dat die meeste landboujoernaliste manlik was. Maar dit is gelukkig alles verlede tyd, gelukkig nie teenswoordige tyd nie, en veral ook nie toekomstige tyd nie.

Hoe lank glo jy het Landbouweekblad nog ’n bestaansreg as ’n papierproduk?

Dis die miljoendollarvraag. Hoe lank het enige papierproduk nog ’n raklewe?

Ek dink dagblaaie as papierprodukte is mediasourusse. Hul dae is getel. Die nuus gebeur te vinnig vir ’n nuusblad wat gedruk moet word.

Ek hoop net ons sal wel steeds gehalte- Afrikaanse digitale nuusjoernalistiek in die toekoms kan hê. Vir weekblaaie en tydskrifte – en Landbouweekblad val in albei daardie kategorieë – lyk die kristalbal effens anders.

Ek dink hulle kan nog ’n leeftyd as drukprodukte hê, maar dan is die dilemma dat jy al daardie duur infrastruktuur vir druktegnologie nie net in stand moet hou nie, maar ook voortdurend moet vernuwe.

Vir e-produkte is al daardie infrastruktuur van koste van tegnologie, ink en papier, ook die koolstofvoetspoor, nie ’n kwessie nie. Maar kyk byvoorbeeld die herrysenis van Insig. In papier is daar beslis nog lewe, want ons verhouding met ’n weekblad/tydskrif is heel anders as met ’n dagblad, maar ’n p-produk gaan noodwendig ongelukkig ook ’n duurder produk wees as ’n e-produk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top