Lag en leesmotivering: ’n onderhoud

  • 0

“Vandag,” sê die seun vir sy ma, “het my onderwyser met my geraas oor iets wat ek nie eens gedoen het nie.”
“Wat was dit?” vra die ma, ontsteld.
“My huiswerk,” antwoord hy.

Moenie die waarde van humor onderskat nie. Of van jou kinders se lees van kinderboeke nie. Lees hierdie gesprek van Estelle Kruger met Nandi Lessing-Venter oor haar LitNet Akademies (Opvoedkunde)-artikel: ’n Beskouende ondersoek van humorontwikkeling, humorsin en enkele meganismes onderliggend aan humor.

Hoe het jy bewus geraak van die moontlikheid om boeke van Jaco Jacobs te gebruik vir die ontwikkeling van humor by kinders – maw wat is die agtergrond van jou studie?

Enigiemand wat lief is vir Afrikaanse kinderboeke weet wie Jaco Jacobs is. Jaco se gewildheid onder Afrikaanse kinders is ook geen geheim nie. Dit is egter Jaco se eie woorde wat my motivering was om hierdie studie aan te pak: “Hulle sê die pad na ’n man se hart loop deur sy maag; maar ek het geleer die pad na ’n leser se hart loop dikwels deur sy lagspiere. Moet nooit ooit die waarde van humor onderskat nie. Selfs al onthou ’n leser niks van ’n storie nie, is die kans goed dat hy die gevoel sal onthou as ’n boek hom kon laat glimlag terwyl hy dit gelees het” – aldus Jaco.

In jou vorige artikel1 ondersoek jy hoe humor tot leesmotivering kan bydra. Kan jy kortliks noem wat die verband tussen daardie artikel en hierdie een is?

Die vorige artikel handel oor die kwessie van lees- en geletterdheidsvaardighede, leesbegrip, leeswaardering, leeshouding, leesbehoeftes en leesplesier. Die kognitiewe en affektiewe faktore wat jong lesers beïnvloed, word bespreek en ’n oorsig oor die toepassing van motiveringstrategieë op leeswaardering word gebied. Die artikel sluit af met die voorstel van humor as ’n moontlike sleutel tot leesmotivering. Die huidige artikel word gewy aan ’n voorgestelde definisie van humor, die meganismes onderliggend aan humor, ’n bespreking van bestaande meetskale vir ’n sin vir humor, asook aan die ontwikkeling van ’n kind se sin vir humor in ’n kognitiewe, linguistiese en sosiale konteks. Hierdie artikel bou dus voort op die vorige artikel se voorstel dat humor tot ’n liefde vir lees kan lei.

Mense se sin vir humor verskil – dit is dus nogal subjektief. Hoe is dit moontlik om stories te ontleed en tot ’n objektiewe slotsom te kom van wat humoristies in die stories is?

Dit is waar dat humor en die ervaring daarvan subjektief is, aangesien die ervaring van die humor gebaseer is op die leser. Om die subjektiewe aard van die ervaring van humor en die indeling van voorbeelde volgens kategorieë egter meer geldig en geloofwaardig te maak, het ek van die insig van kundiges op die gebied van kinderliteratuur gebruik gemaak. Elkeen van hierdie kundiges het my kategoriese indeling van die voorbeelde van humor nagegaan en aangedui dat hulle daarmee saamstem. Die beperkings van subjektiwiteit in my studie is hierdeur verminder. Die bevindinge van wat humoristies is en wat nie, kan nie veralgemeen word nie, maar die gevolgtrekkings kan wel na ’n ander konteks oorgedra word.

Jou artikel gee ’n baie omvattende oorsig oor die meganismes, teorieë, elemente en meetskale ivm humor. Wat was vir jou die belangrikste insig wat uitgestaan het terwyl jy hierdie artikel geskryf het?

Die meganisme van meerderwaardigheid wat van toepassing is op situasies waar daar gelag word vir grappe wat met iemand anders se foute, gebreke, ongeluk of swakhede spot, was vir my baie interessant en het my ook baie geleer van myself en ander mense. Deurdat daar ’n mate van afstand geskep word teenoor die bogenoemde situasie as gevolg van die gevoel van meerwaardigheid wat ervaar word, kan daar oor die situasie gelag word. Onder normale omstandighede dink mens nie dat jy sommer sal lag vir iemand anders wat ’n  "slagoffer" is van ’n grap of iemand met wie se ongeluk daar gespot word nie. Eers nadat ek besef het dat ek self lekker kan lag vir die "epic fails"-video's op YouTube, het ek werklik verstaan wat leedvermaak beteken en dat ’n mens nie noodwendig lag omdat die persoon seerkry of in ’n penarie verkeer nie, maar dat ’n mens eerder lag omdat jy verlig is dat dit nie jy self is wat in daardie penarie is nie, en dus uiting gee aan ’n gevoel van verligting oor die moontlike angstigheid wat so ’n situasie vir jou sou veroorsaak het. Dink byvoorbeeld aan ’n situasie waar iemand oor ’n ketting spring met sy hande in sy sakke. Sy voet haak vas en hy slaan neer, gesig eerste. Daar is ’n mate van spanning wat opbou as gevolg van die verwagting dat jy die ongeluk sien kom. Wanneer die omstandighede dan afspeel soos jy dit voorspel het, veroorsaak dit dat die spanning gebreek word, en die energie wat opgebou het, word dan vrygestel in die vorm van lag. Om te lag bring dan ’n gevoel van verligting.

Kon jy van jou insigte met jou kollegas deel? Het jy enige kritiek gekry?

Soos ek hier bo genoem het, het ek van die ervaring en insig van kundiges op die gebied van kinderliteratuur gebruik gemaak om die subjektiwe aard van humor te verminder. Daar was enkele gevalle waar van die kundiges nie met my saamgestem het oor die gepastheid van sekere humoristiese voorbeelde nie, maar dit was nie omdat die voorbeelde nie snaaks was nie; dit was eerder kritiek teen die gebruik van ’n sekere grap in ’n sekere konteks of teen ’n spesifieke kulturele agtergrond.

Hoe het jy besluit watter grappe om te gebruik as voorbeelde vir ’n artikel wat deur akademici (en moontlik onderwysers) gelees sal word? Wat was jou kriteria vir geskiktheid in so ’n betreklik formele dokument?

Die keuse van grappe was so subjektief van aard soos wat die ervaring van humor is. Ek het deur verskeie grappe gesif voor ek besluit het op ’n grap wat die geskikste was (na my mening) vir elke meganisme van humor. Die artikel is nie uitsluitlik bedoel vir akademici en moontlik onderwysers nie. Ek dink dat enige persoon wat lief is vir lees, vir kinders en vir ’n sin vir humor, by hierdie artikel sou kon baat. Soos ek in die vorige antwoord genoem het, was daar twyfel oor ’n voorbeeld of twee binne die konteks van gepastheid vir onderwysers. Ek voel egter dat onderwysers ook verligting van angstigheid verdien en sal lag vir die grappe wat ek as voorbeelde gekies het (al sou dit dan tong-in-die-kies wees). Die artikel is nie bedoel vir kinderlesers nie, maar wel vir mense wat met kinders werk. ’n Enkele grap in die artikel is dalk eerder meer geskik vir volwasse lesers. *knipoog*

Jy gebruik McGhee se uiteensetting van fases van humor van kinders tot op die ouderdom van 11 jaar – dus meestal die laerskooljare. Hoe verskil dit van die humor van adolessente? Jaco Jacobs skryf tog ook vir adolessente?

Jong volwassenes of adolessente is dikwels meer geneig om te lag vir grappe of situasie wat selfverlagende humor bevat. Hulle waardeer ook grappies wat gemaak word oor werklike probleme om moeilike situasies ligter te maak. Gewone taboe-onderwerpe is van die kwessies wat op ’n lagbare manier uitgebeeld kan word om jong volwassenes in te lig terwyl dit hulle ook vermaak, en hulle kan dit dan krities bespreek.

Jy bespreek humorontwikkeling in kognitiewe, linguistiese, sosiale en kulturele kontekste. Kan jy kortliks verduidelik wat die verskil tussen hierdie kontekste en humorontwikkeling behels?

Kognitiewe, linguistiese en sosiale ontwikkeling is komplementêre prosesse wat vervleg word in die vorming van ’n kind se aanleer van geletterdheid (Vygotsky 1978) en dit is daarom dat die verband tussen humor en kognitiewe, linguistiese en sosiale ontwikkeling in die artikel bespreek word. Kognitiewe ontwikkeling dui op die manier waarop kinders leer en dink en hoe hulle hul verworwe kennis aanwend. Elke ontwikkelingsfase word gekenmerk deur ’n besondere manier van denke uniek daaraan. Navorsers bied getuienis wat dui op ’n verband tussen die waardering van humor en kognitiewe funksionering. Die meeste navorsers glo dat die bestaan van humor afhanklik is van spesifieke kognitiewe en ontwikkelingsprosesse.  Humor kan gebruik word as ’n instrument om die kognitiewe en linguistiese ontwikkeling van kinders aan te moedig, wat kan bydra tot akademiese prestasies en sosiale insluiting. Daar word ook aangevoer dat ’n ontwikkelende humorsin by kinders dien as ’n aanduiding van ontwikkelende kognitiewe funksies soos die erkenning van intensionaliteit en ’n begrip van simboliek. Ontwikkeling in sosiale en kulturele kontekste kan gekoppel word aan kinders se sin vir humor omdat kinders se humorsin parallel met hul denkvlakke ontwikkel. Wanneer kinders teenstrydighede erken, dui dit op wat hulle reeds van hulle eie klein wêreldjie verstaan. Sosiale en kulturele fasette beïnvloed wat kinders snaaks vind en hoe hulle op humor reageer.

Hoe kan onderwysers die inligting wat in jou artikel uiteengesit word, in hulle klaskamerkontekste gebruik? Het jy enkele praktiese idees wat ons op LitNet kan laai?

Die kennis oor die inligting- en leesbehoeftes van kinders stel ouers, onderwysers en ander rolspelers in staat om kinders se gedrag en emosies beter te verstaan. Kennis van humorontwikkeling kan dien as ’n instrument vir die fasilitering van kommunikasie. Die inligting in die artikel kan onderwysers help tydens die keuse van boeke vir hulle leerders. Wanneer aspekte van kinders se kognitiewe en humorontwikkeling, asook hulle leesbehoeftes in gedagte gehou word, help dit onderwysers om geskikte boeke te kies wat kinders sal geniet om te lees. 

Hier onder is ’n praktiese idee vir ’n humoristiese en kreatiewe speletjie wat in die klaskamer gebruik kan word:

 

“SNAAKSE SINNE”-SPELETJIE

Hierdie speletjie moedig humor en kreatiewe taalgebruik aan en nadat die sinne geproduseer is, kan die leerders een sin kies en ’n storie of koerantartikel skryf met hierdie sin se titel as opskrif.

MAAK SO

Sny ongeveer 40 woorde uit tydskrifte of koerante en plak dit op ’n papier of plakkaat in geen spesifieke volgorde nie. Gee afskrifte daarvan aan leerders  in groepe van vier. Gee die leerders omtrent tien minute (afhangende van die vlak en kompleksiteit van die taak) om die volgende te skep: een sin met drie woorde, een sin met vier woorde, ens, afhangende van die vlak van kompleksiteit. Moedig leerders aan om snaakse of humoristiese sinne uit te dink.

Voorbeelde van sinne:

3 woorde – Basta met aknee. 4 woorde – Beide ouers speel banjo.  
5 woorde –  Fobie vir atjar veroorsaak chaos. 6 woorde – Hiert! ’n Harem met ’n angel.  

 

Waarmee het jy in hierdie navorsingsproses gesukkel, indien enigiets? Was daar enige nuwe ontdekkings?

Ek het soms gevoel asof ek oorval word met nuwe inligting en asof daar nie meer plek vir ’n enkele gedagte in my kop oor was nie. Dit was ook soms moeilik om die regte grappies te kies om as voorbeelde te gebruik. Daar was ook soveel nuwe ontdekkings. Wanneer ’n mens dieper begin delf in kinders se sin vir humor, maak dit ’n hele ander wêreld vir ’n mens oop. Jy onthou ook weer baie dinge wat jy self geniet het as kind en dit is dan sommer weer van voor af ’n plesier.

Wat het jy van jouself geleer in hierdie proses van navorsing en publikasie van jou artikel?

Ek het geleer dat humor ook ’n ernstige onderwerp kan wees. Humor is nie bloot net vermaaklik nie, maar ook baie terapeuties. Humor kan egter ook soms donker wees en mens moet versigtig wees met veral selfverlagende humor. Ek het ook geleer dat nie alle navorsers dink dat humor nagevors kan word vir die vermaaklikheid daarvan nie. Tog voel ek, as navorser wat humor diepgaande ondersoek het, dat die blote gedagte aan my navorsing my in die stille laat glimlag en die vermaaklike kant daarvan grootliks bygedra het tot die keuse van hierdie veld van ondersoek.

Is daar enige nuwe navorsingsprojek(te) op jou horison wat jou inspireer? Kan jy ons kortliks daarvan vertel sonder om jou geheime uit die mou te laat?

Ek werk tans aan ’n opvolgartikel oor die soorte en kategorieë van humor in kinderliteratuur. Kennis van verskillende fases van die ontwikkeling van kinders se sin vir humor, soos in my nuutste artikel bespreek is, gee rolspelers ’n maatstaf vir die kies van boeke vir kinders. Nog ’n maatstaf is kennis van die soorte humor wat teenwoordig is in kinderliteratuur, soos in die volgende artikel uiteengesit sal word. Die gebruik van humor in kinderliteratuur word in die opvolgartikel ondersoek op grond van die hipotese, soos in my en Maritha Snyman se eerste artikel bespreek is, dat leesbetrokkenheid en leesmotivering aangemoedig kan word deur die leesplesier wat humor in kinderliteratuur kan verskaf.

Eindnota

1 Lessing-Venter, N en M Snyman. 2017. Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed. LitNet Akademies, 14(3):866.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top