’n Hernude inisiatief is deur Cyril Ramaphosa van stapel gestuur om die sukkelende ekonomie aan die gang te kry. Ramaphosa en lede van sy kabinet het onlangs weer met sakelui gesels. Drie krisiskomitees is van stapel gestuur om sekere brandpunte aan te spreek. Hulle is: energie, logistiek, en misdaad en korrupsie.
Jannie Durand, bestuurshoof van Remgro, is deel van die komitee wat misdaad en korrupsie moet aanspreek.
Durand het aan Freek Robinson gesê daar is verskeie maniere waarop die sakelui reeds betrokke is by misdaadbekamping en die insamel van misdaadintelligensie. Met hierdie inligting gaan hulle dan na die staat, want die staat moet misdaad vervolg. Dis hier waar die probleem lê. Soos oral, wil die regering inmeng, maar die staatsorgane werk nie. Laat die sakesektor toe om die werk te doen, maar ondersteun ons dan, is Durand se pleidooi.
Robinson wou by Durand weet: Wat gáán julle doen om die probleem op te los?

