
Die plakkate wat lok en spog en talent vertoon, wat die ingang na die hotel versier.
Woorde: Maryke Roberts; foto’s: Clifford Roberts/Canon R6
Die 14de kykNET Silwerskermfees is pas aangebied en bied jaarliks ’n ryk en uiteenlopende keuse van films wat die diepte van plaaslike storievertelling weerspieël.
Die Silwerskermfees 2026-program se 22 rolprente – 17 kortfilms en vyf speelfilms – het eerlike, raakpraterrealisme met verhale van hoop verweef. Dit weerspieël ’n Afrikaanse én groter Suid-Afrikaanse filmbedryf wat nie net nié skroom om swaar kwessies soos trauma, onreg en sosiale druk te takel nie, maar ook die veerkragtigheid, passie en kleurvolle gemeenskapslewe van sy mense vier.
Ek het baie geleer oor onderwerpe waarvan ek niks geweet het nie: armdruk, sportsielkunde, vroulike jong DJ’s wat klankgodinne word en die haglikheid van hul huislike omstandighede vir ’n paar uur ontsnap, en spinning.
Maar wat uitstaan, is wanneer filmmakers flieks of dokkies maak oor goed waarvan hulle persoonlike ervaring het, dan maak dinge sin. Ek dink hier byvoorbeeld aan Dian Weys se kortfilm Aasvoëls – die paar minute ná ’n ongeluk wanneer die sleepdienste – voor die ambulans of polisie – opdaag. Dian was self in twee motorongelukke en sê hy hou van die stories ná geweld.

Dian Weys, draaiboekskrywer, regisseur en redigeerder van die kortfilm, Aasvoëls, gesels met Wikus Pretorius van #Fiësta. Dian se eerste drie kortfilms, Versnel (2017), Plaashuis (2021) en Bergie (2022), is by meer as 100 filmfeeste vertoon. Versnel het Silwerskermtoekennings vir beste kortfilm en beste draaiboek gewen, en Bergie het die Silwer Tanit-prys by die Carthago Filmfees verower. Aasvoëls is gekies vir die Kortfilmkompetisie by die 78ste Cannes Filmfees wat verlede Mei gehou is.
Of die dokkie Die gees agter die spiere oor die sportsielkundige, motiveringspreker en lewens-afrigter Henning Gericke, wat verklaar dat die lewe én sy werk nie oor rugby of sokker of atletiek gaan nie, maar oor die lewe self. Daar is iets ná die sport en jy moet heel anderkant uitkom. Sy insette het al verskeie sportmanne en -spanne tot groot hoogtes aangespoor.
Of Juandré de Jager, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kortdokkie Druk dit! oor armdruk as sport, wat sê: “Ek dink omdat ek die sport verstaan, dit self beoefen en ook ’n skeidsregter is, het ek geweet wat ek wil hê die kyker moet sien.”

Dansers van Figure of 8 wat in Silas en die ysbeer op Tafelberg was saam met akteurs in die film, De Klerk Oelofse en Frieda van den Heever, pryk op die bloutapyt.
Of Christian Grobler, skrywer-regisseur van die bekroonde Wag ’n bietjie, waar ’n vreemdeling by die bed van ’n man se sterwende ma sit en waak sodat sy nie alleen sterf terwyl haar seun moet werk nie. Christian het die dood van sy eie ma verwerk en uiteindelik die film as terapie gebruik. Sy rou en seer word op ’n heel ander manier in die film uitgebeeld, maar dit spreek van persoonlike ervaring en insigte. (Die kortfilm is aangewys as beste kortfilm deur ’n gevestigde filmmaker; beste akteur – Danny Ross – en beste kinematografie – Jason Haji-Joannou.)
Of die span agter die ander dokkie, Pappa Kitsch, wat Stefanus Nel volg in sy soeke na die waarheid oor ’n skildery en plakboek van Vladimir Tretchikoff wat hy aanlyn gekoop het. Die regisseur, redigeerder en kinematograaf Adam Heyns sê hulle het maar dinge uitgerafel soos Stefanus nuwe inligting bekom het. Hulle kon net verfilm wat waarlik gebeur het. “Ons is saam op ’n avontuur; danksy die Silwerskermfees,” het hy in die paneelbespreking verklaar. En danksy hulle is die gehoor op ’n wonderlike avontuur geneem.
........
Ná vier dae se springmielies, kortfilms, speelfilms en dokkies het die volgende temas vir my sterk na vore gekom: die soeke na geregtigheid, historiese geheue en ’n mens se plek in die maatskappy, familie of samelewing. Dokumentêre soos Die grond onthou takel die impak van historiese onregte (soos die verskuiwing van gesinne uit plekke soos Protea Village na die Kaapse Vlakte); in ’n Poppy oppie heuwel is die plaas waarop ouma Poppy haar hele lewe gewerk het, nie vir haar beskore as finale rusplek nie. Albei kyk na hoe gesinne vandag poog om trauma te verwerk en hul plek terug te eis.
........
Ná vier dae se springmielies, kortfilms, speelfilms en dokkies het die volgende temas vir my sterk na vore gekom: die soeke na geregtigheid, historiese geheue en ’n mens se plek in die maatskappy, familie of samelewing. Dokumentêre soos Die grond onthou takel die impak van historiese onregte (soos die verskuiwing van gesinne uit plekke soos Protea Village na die Kaapse Vlakte); in ’n Poppy oppie heuwel is die plaas waarop ouma Poppy haar hele lewe gewerk het, nie vir haar beskore as finale rusplek nie. Albei kyk na hoe gesinne vandag poog om trauma te verwerk en hul plek terug te eis.

In die paneelbespreking ná Aasvoëls vertoon is, is van links Jordy Sank, Dominique Jossie, Wim Steyn van Idea Candy, Dian Weys en gesprekleier Quentin Krog, wat in Muneera Sallies se plek deelgeneem het.
Kortfilms soos Twee persent en As ek kon kies verken die spanning tussen tradisionele/kerklike verwagtinge en persoonlike vryheid of vorige verhoudings. Selfs Landmyn is ’n binnekykie na die hiërargie van familie en behoort en trauma.
Verskeie kortfilms skram nie weg van die werklikhede van hedendaagse Suid-Afrikaanse sosiale kwessies nie. Verwerking daag tradisionele beskouings oor geslagsgeweld uit. Dit fokus op die verskillende maniere waarop geweld manifesteer en hoe slagoffers poog om hul trauma te hanteer.
Baie verhale ondersoek die grens tussen verlies, pyn en die uiteindelike soeke na hoop en herskepping.
In beide kort en vollengteprojekte is daar ’n sterk fokus op unieke plaaslike subkulture en die “gees van oorwinning” teen alle verwagtinge in. Films wat op die Kaapse Vlakte afspeel, soos Yaadt Queen en From dust we spin fokus op hoe kuns, sport, musiek en drome uit die as van sosiale uitdagings verrys.
Hoewel ek dink Landmyn is ’n briljante fliek (lees meer oor Nico Scheepers en die proses agter die fliek hier) en Al wat ek weet ’n wonderlike tydlose verwerking van ’n goeie boek is, was die kortfilms en kortdokkies vanjaar my gunstelinge.

Nico Scheepers en Anna-Mart van der Merwe gesels op die bloutapyt oor Landmyn.
In die paneelbespreking oor kortfilms na afloop van Dian Weys se Aasvoëls – gekies vir die Kortfilmkompetisie by die 78ste Cannes Filmfees wat verlede Mei gehou is – kry feesgangers interessante insigte tydens die gesprek tussen filmmakers Dian Weys, Jordy Sank en Dominique Jossie en Wim Steyn van die SA TV en filmproduksiehuis Idea Candy en Quentin Krog, opdraggewende redakteur, Premium-kanale by MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy.
Wim se raad aan voornemende kortfilmmakers wat wil inskryf vir die Silwerskermfees, is:
- ’n Kortfilm is ’n mikro-oomblik. Die konsep moet gebaseer wees op 'n klein, spesifieke oomblik – selfs net ’n oomblik van twee minute waarop ’n 10-minute-storie gebou word – eerder as ’n grootskaalse of ingewikkelde narratief.
- Dit moet die gehoor dadelik emosioneel aangryp en meesleur sonder dat die kykers ’n volledige historiese agtergrond of groot storie-omgewing nodig het om in die karakters te glo.
- Vermy ingewikkelde en langdurige karakter- en kunsregie-opstellings. Die storie moet nie te “groot” wees vir die formaat nie.
- Kortfilms moet dien as ’n toetsterrein vir nuwe talent en ’n filmmaker se unieke stem, en om te sien hoe ’n spesifieke tema of karakter by die gehoor aanklank vind.
- ’n Kortfilm is nie ’n episode van ’n reeks of ’n verkorte vollengterolprent nie. Dit hoef nie ’n tradisionele begin, middel en einde of ’n volledigebiografie te hê nie.
Dian het meer vertel oor sy proses met Aasvoëls, wat hy saam met ’n Franse maatskappy vervaardig het. Sy bywoning van die Brussel-kortfilmfees het hom laat besef dat die kortfilm ’n unieke en indrukwekkende kunsformaat op sy eie is. “Ek het eintlik heel skaam gevoel om te sien watter ongelooflike werk mense met kortfilms doen.” Dit het hom gemotiveer om baie kortfilms te kyk en te ontdek wat werklik binne die medium werk. Hy het geleer dat nie elke idee vir 'n kortfilm werk nie. Waar idees oor etiese dilemmas goed gepas het, was ’n te breë konsep soos Aasvoëls aanvanklik baie moeilik om na kortfilmformaat te verwerk.

Landmyn, Nico Scheepers se nuutste speelfilm, het met die meeste toekennings weggestap, waaronder beste redigering, beste draaiboek, beste regie en beste speelfilm. Hier staan die spelers voor die première van links Carla Smith, Ben Albertyn (beste akteur), Juan-Christoff Smith, Anna-Mart van der Merwe (beste aktrise), Dhania Kara Schultz en Nicole Holm (beste vroulike byspeler).
“Tydens die navorsing vir Aasvoëls moes ek ure lank laatnag buite ’n vulstasie sit en wag vir insleepvoertuigdrywers wat my nie altyd verwelkom het nie of bloot nie opgedaag het vir ons afsprake nie. Die betrokkenheid van ’n Franse vervaardiger het my egter gedwing om aan te hou druk.”
Dian het gesê hy het die waarde van “skryf as herskryf” besef. Terwyl sy vorige kortfilms sewe of tien keer herskryf is, moes Aasvoëls deur 25 konsepte gaan, omdat sy Franse vervaardigers hom gedwing het om die storie te aanhou verbeter.
“Die kortfilmformaat dwing ’n mens om vinnig ’n struktuur van oorsaak en gevolg te bou, weens die beperkte tyd. Hierdie dissipline help my nou wanneer ek langer draaiboeke skryf.”
In die paneelbespreking na die eerste episode van die nuwe kykNET-reeks Invisible, gebaseer op Deon Meyer se boek Onsigbaar, wat in 2007 verskyn het, vertel Deon en medevervaardigers Tim Theron en Cobus van der Bergh dat die Britse itv Studios aan boord gekom het en hulle as Suid-Afrikaanse vervaardigers getrou aan die storie wou bly en dit nie wou verinternasionaal of Hollywood wou maak nie. Cobus sê: “Dis ’n Suid-Afrikaanse storie; bly getrou daaraan. Dis uniek, en ons het wonderlike stories. Waarom sou ons dit wou verander om dit in Europa of elders te laat afspeel?

Stefanus Nel met die kartonhondjie wat in die kort dokumentêre film Pappa Kitsch te sien was. Die fliek volg Stefanus in sy soeke na die waarheid oor ’n skildery en plakboek van Vladimir Tretchikoff wat hy aanlyn gekoop het.
“Wat finansiering betref: As jy jou indink dat jy ’n gastehuis met vyf slaapkamers wil oopmaak, moet jy jou denke verruim na die idee van ’n hotel met 200 slaapkamers. Dis hoe dit werk. Jy moet groter dink; jy moet buite die boks dink.
“Dit gaan nie soseer oor beperkings nie, maar oor die vereistes van ’n internasionale verspreider soos itv: Hulle wil internasionale talent hê. Skielik kos jou talent jou byna 50 keer meer as wat plaaslike talent sou kos. Dit plaas jou onmiddellik onder druk, want dis bloot nie regverdig nie, maar dis nou maar eenmaal so.
“Ons het darem ons eie talent op ’n vlak geplaas waar hulle met die res van die wêreld kan meeding, en dit was ’n voorreg. Sulke vereistes bring natuurlik uitdagings mee. Mense word van regoor die wêreld ingevlieg; hulle vlieg eersteklas en wil in die beste hotelle tuisgaan. Dit plaas verdere druk op jou. Hulle het ’n spesifieke manier van werk waarby jy moet aanpas, want jy wil hê hulle moet die beste weergawe van hulself wees.
“Jy moet dus anders dink; jy moet groter dink. Maar dis ’n viering van wie ons in Suid-Afrika is en waartoe ons in staat is, en dit was wonderlik om dit met die res van die wêreld te deel.”

Vele films was volbespreek, maar indien jy nie betyds opgedaag het nie, kon jy in die “Laat maar lucky”-ry wag vir ’n sitplek.
Dis interessant dat ek juis terwyl ons daar met akteurs, klankmanne, kinematograwe en regisseurs omgaan, op hierdie berig oor die filmmaker Pedro Almodóvar afkom.
Sy nuutste fliek, Bitter Christmas, was eers ’n kortverhaal met dieselfde naam, wat in 2003 geskryf is en in 2023 in Almodóvar se versameling The last dream gepubliseer is.
Almodóvar waarsku dat stromingsdienste (soos Netflix) die stryd teen die tradisionele bioskoopervaring amper gewen het. Hy voel bitter hieroor, want vir hom gaan filmkuns verlore. Hy sê bioskoopelemente soos amptelike plakkate, die opwinding van premièremodeparades en die “hipnose van die groot skerm” is besig om te verdwyn.
........
Hy weier om sy kuns te verlaag na wat hy sien as blote “TV-flieks” en veg vir die behoud van die bioskoop as ’n kulturele en sosiale ervaring.
Hy merk op dat die moderne gehoor toenemend “lui” word. Hy voel kykers is nie meer gewoond daaraan om moeite te doen om ingewikkelde, gelaagde stories te volg nie, grootliks weens die maklike en passiewe manier waarop inhoud op stromingsplatforms verbruik word.
.........
Hy weier om sy kuns te verlaag na wat hy sien as blote “TV-flieks” en veg vir die behoud van die bioskoop as ’n kulturele en sosiale ervaring.
Hy merk op dat die moderne gehoor toenemend “lui” word. Hy voel kykers is nie meer gewoond daaraan om moeite te doen om ingewikkelde, gelaagde stories te volg nie, grootliks weens die maklike en passiewe manier waarop inhoud op stromingsplatforms verbruik word.

Die onafhanklike vollengte- dokumentêre film From dust, we spin vertel die storie van Logan Maart, ’n jong meisie van die Kaapse Vlakte wat die vreugde van “spinning” – ’n motorsport van tollende motors, skreeuende bande wat aan flarde spat en baie rook en geraas – ontdek en deur die onderwyser Mark Linden afgerig word. Haar motor waarmee sy aan spinningkompetisies deelneem, was op die bloutapyt en hier pryk sy in haar aanddrag by haar neonpienk motor.
Ten spyte van sy pessimisme oor die bedryf en sy eie fisieke uitdagings op 76, soos gehoorverlies en ’n knaende ooginfeksie, bly hy vasberade om voort te gaan. Hy glo vas dat filmkuns die belangrikste dryfveer in sy lewe is. Hy sal aanhou flieks maak en skryf solank hy kan, ongeag hoe die bedryf verander.
Ek wil egter die hele kwessie van die “luiheid van gehore” vanuit ’n ander hoek benader (maar steeds aansluit by sy siening): Dis asof die betowering en onuitgesproke boodskap wat dikwels in kunsfilms te sien was, algeheel weggeval het. Baie jong filmmakers dwing amper hul standpunt op jou af, en net om seker te maak dat jy hul boodskap verstaan, herhaal hulle dit verskeie male, uit verskeie oogpunte. Hulle laat niks aan die kyker se verbeelding oor nie. Waar ’n film op ’n hoë noot kon eindig en elke kyker se eie verbeelding kon gebruik om die einde voor te stel, neem filmmakers dit weg en sê voor hoe hulle wil hê dit moet eindig.
Een van die kortfilms (net 11 minute lank) wat weggebreek het van dié koekiedrukkerpatroon, is Carla Smith se Trilstraat. ’n Aandjie uit vir ’n paartjie in Kaapstad neem ’n onaangename wending toe hulle op pad na hul motor beroof word. Die grootste kommer van dié traumatiese ervaring is egter nie om in die middel van die nag hulp te vind nie. Die kontrasterende reaksies van die man (Ludwig Binge) en die vrou (Cintaine Schutte) is waar die kern lê. Dit is ’n oomblik van ontnugtering, en die band tussen dié twee lyk skielik nie meer so sterk nie.
Die kyker kan besluit of hul verhouding dié ervaring gaan oorleef en sterker gaan wees, of vervlak het omdat hy nie opgetree het soos sy gehoop het nie. Dit laat jou na binne kyk; jy wonder hoe jy en jou maat dieselfde ervaring sou benader het.

Invisible, die nuwe aksiespanningsreeks gebaseer op Deon Meyer se topverkoper Onsigbaar, se eerste episode is by die kykNET Silwerskermfees vertoon. Dit word van 14 Oktober op DStv-kanaal 101 uitgesaai. Invisible-spanlede op die bloutapyt is van links: Jorrie van der Walt (kinematograaf), Cobus van den Berg (vervaardiger by Scene23), Tim Theron (vervaardiger en hoofspeler), Deon Meyer (skrywer van Onsigbaar en uitvoerende vervaardiger van Invisible) en Tina Kruger (programdirekteur van kykNET Silwerskermfees en kreatiewe uitvoerende vervaardiger van Invisible), en voor is Anika du Toit (reeksvervaardiger) en Amy Jephta (addisionele skryfwerk en mederegisseur saam met Jozua Malherbe).
Ook Frances Sholto-Douglas se Change – ’n kortfilm wat ’n R2-muntstuk gebruik om ’n storie van verskillende sosiale klasse te vertel en ook ’n opinie jeens kontantlose beleide uitspreek, is ’n blitsvinnige kykie in ’n storie wat soveel karakters en soveel fasette het, maar jou los om elkeen se storie in jou kop in te kleur.
Dis Henning Gericke se woorde wat my ná die fees bybly: “You make a living with what you get. You make a life with what you give.”
Dis ook waarin goeie films se genot vir my lê. En wanneer goeie filmmakers dit in hul werk uitleef, is daardie gee waarvan Henning praat, soveel groter.

Vir vier dae verander The Bay Hotel in Kampsbaai in Suid-Afrika se eie Cannes.
Lees ook:
Silas en die ysbeer op Tafelberg: ’n onderhoud met Annie Klopper en Zandré Coetzer

