kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met De Klerk Oelofse

  • 0

Die kykNET Fiëstas, wat vanjaar vir die eerste keer vooraf opgeneem is, vereer sedert 2011 jaarliks uitsonderlike prestasies in die uitvoerende kunste. Ten spyte van ’n uitdagende jaar, is daar besluit om steeds die kunste en kunstenaars te vereer. Hier is ’n lys van die wenners.

Persverklaring: Hier is die wenners van die 11de kykNET Fiëstas

Foto van De Klerk Oelofse: https://www.litnet.co.za/persvrystelling-my-mense-is-die-kluts-kwyt-by-aardklop/

.........

Die Fiëstas was dus nie net belangrik sodat ons, die kunstenaars, vereer en onthou word nie, dis ook vir die kyker by die huis om nie van ons te vergeet of die impak wat die inperkings op ons industrie gehad het nie. 

...........

Die akteur De Klerk Oelofse het ’n Sinjatuur-toekenning by vanjaar se kykNET Fiëstas ontvang. Hy praat met Naomi Meyer oor die toekenning.

Baie geluk met jou kykNET Fiësta-toekenning! Die ondenkbare het gebeur: hierdie virus.  Hoe het die afgelope tyd se Covid-situasie jóú lewe en wêreld beïnvloed?

Uiteraard dink ek mense wêreldwyd se lewens is beïnvloed deur die pandemie. Daar is soveel industrieë wat ernstige houe in hierdie tyd gevat het en ’n daarom wil mens nie vergelyk of sê wie dit dan nou die ergste gevoel het nie. Die feit is, dit is vandag presies ’n jaar sedert ek laas op die verhoog kon gaan om te werk. My vermoede is ook dat die uitvoerende kunste een van die laaste industrieë sal wees wat weer terugkeer na normaal toe, juis omdat dit staatmaak op mense om bymekaar te kom vir ’n ervaring. Dit maak ’n mens, om eerlik te wees, so ’n bietjie mismoedig. Aan die ander kant klou die optimis in my vas aan die hoop dat die uitvoerende kunste op die ou end deur ’n bloeitydperk sal gaan wanneer ons terugkeer, juis omdat mense uitgehonger sal wees vir ’n gedeelde ervaring.

Ek het jou pas oor die verwoestende effek van die Covid-maatreëls gevra. As die geld op is, is dit op. As die teaters leeg is, is daar niks. Nou vra ek jou oor alternatiewe en nuwe maniere van dink. Wat moes jy doen om te oorleef die afgelope tyd? En hoe sien jy ’n nuwe, of andersoortige, hibriede kunstewêreld?

Ek is gelukkig genoeg om darem ook ’n voet in die deur te hê met TV- en radiowerk en dit het my aan die gang kon hou tot nou. In die stiller tye werk ek as ’n vrywilliger by ’n inheemse kwekery in Kaapstad genaamd Happy By Nature, en dit help weer om die beurt om na my emosionele welstand om te sien.

.........

Ek weet nie of ek heeltemal oortuig is deur ’n nuwe, andersoortige, hibriede kunstewêreld nie. Ek dink daar is fantastiese projekte wat geloods word, maar op hierdie stadium sien ek dit eerder as ’n manier om kunstenaars aan die lewe te hou en nie as ’n nuwe kunstewêreld nie.

..........

Ek weet nie of ek heeltemal oortuig is deur ’n nuwe, andersoortige, hibriede kunstewêreld nie. Ek dink daar is fantastiese projekte wat geloods word, maar op hierdie stadium sien ek dit eerder as ’n manier om kunstenaars aan die lewe te hou en nie as ’n nuwe kunstewêreld nie. Soos ek vroeër genoem het glo ek dat dit taai gaan wees, maar as ons op die een of ander manier net kan vasbyt, gaan ons ’n bloeitydperk aan die anderkant van dié ding sien.

Wat beteken ’n toekenning soos hierdie een vir jou juis in ’n tyd soos hierdie?

Ek dink dis wonderlik dat kykNET deurgedruk het en tog die Fiëstas aangebied het vanjaar. Jy weet, ek kan nie onthou dat die President die afgelope jaar in enige van sy toesprake kunstenaars eers genoem het nie. ’n Mens voel dan ’n bietjie uitgelaat en vergete. Die Fiëstas was dus nie net belangrik sodat ons, die kunstenaars, vereer en onthou word nie, dis ook vir die kyker by die huis om nie van ons te vergeet of die impak wat die inperkings op ons industrie gehad het nie. 

Op ’n persoonlike vlak hits die Sinjatuur-toekenning my net nog verder aan om vas te byt en aan te hou doen wat ek doen, want dit dra waarde en dit word raakgesien. Ek is baie dankbaar daarvoor.

Lees ook:

kykNET Fiëstas 2021: ’n Onderhoud met Dean Balie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top