Kwarantynketting: "’n Seisoen van onsekerheid" deur Alta Cloete

  • 0

Foto van Alta Cloete: verskaf

Ure, maande, jare, glip soos skaduwees verby ... Vier maande is verby – 125 dae, sê dié wat nog telling hou. Ek het lankal uitgesak. Maar ek weet dit was die stadigste én die vinnigste tyd van die nagenoeg 23 500 dae van my lewe. Die mees intense, vreemdste, vreesagtigste, onsekerste, ontstellendste, inspirerendste, hoopvolste, bekommerdste, hartseerste 125 dae. Maar ook 125 dae van ongekende vreugde op onverwagte plekke en ’n nuwe vlak van dankbaarheid oor allerhande voorheen onbelangrike dinge.

Alles het verander. Die wêreld het nou werklik ’n vreemde plek geword. Regulasies kom en gaan (en party gaan nié),  emosies fluktueer, politici draai hul mantels, die stemming wissel tussen hoop en wanhoop. Maar baie het ook dieselfde gebly: Die mens is steeds gierig, egosentries en eiegeregtig, maar ook in staat tot ongelooflike onbaatsugtigheid, vrygewigheid en naasteliefde.

Sommige voel hulle het die herfs geheel en al misgeloop. Maar nee, ek het die herfs selfs meer intens beleef as ander jare. ’n Enkele blaar wat die lig vang terwyl ek my dertig rondes om die huis stap. Die skelm inry by ’n stil laning platane waar die blaretapyt vanjaar nie deur motorwiele versteur word nie. Die eerste ekstatiese stap deur die ou bekende buurt toe ons weer mag oefen. Die skoonheid van die arboretum toe ons weer vryelik mag oefen, waar elke boom en blaar die boodskap van die herfs in sagte, ryk kleure uitroep.

Vanjaar is die Boland se lug blouer, sy bergspitse skerper afgeteken, sy reën donkerder en meer onheilspellend. Vanjaar is ons nog blyer oor die reën as gewoonlik – ten minste staar nog ’n droogte ons DV nie ook  in die gesig nie. Maar vanjaar bring die reën ook nog dieper lyding vir dié sonder ’n dak oor die kop of ’n stewige skuiling teen die elemente, plus nog sterker skuldgevoelens vir die bevoorregtes. Vanjaar kyk ons met nuwe oë na ou, bekende dinge.

Alles het vloeibaar geword, niks is meer seker nie.

Vanjaar verlang ons na vreemde plekke waar ons al was en na plekke waaroor ons nog nie eens gedroom het nie. Maar veral verlang ons na die klein dingetjies. Die braaivleis saam met vriende, die onbevange kuier in ’n mooi koffiewinkel waar ’n kelner wat jy op die naam ken, vir jou koffie en koek presies na jou smaak aandra. Die vryheid om iemand ’n drukkie te gee. Die vashou van ’n bejaarde ma se hand. Die lyfie van ’n kleinkind.

Herinneringe waaraan jy voorheen skaars aandag gegee het, is nou met goud deurstraal. ’n Nuwe glans hang om ervarings wat op daardie oomblik vir jou lekker was, maar nie van ewigheidswaarde nie. Jy onthou gesprekke met vriende, oomblikke in die natuur, ’n doodgewone rit na ’n doodgewone bestemming – en die doodgewone het nou spesiaal geword.

Die wete dat daar nie ’n enkele dag, ’n enkele oomblik gaan aanbreek wanneer alles weer gaan wees soos dit was nie, het stadig en pynlik by ons ingesink. Met die aanbreek van die 100-dae-merk het ek werklik besef: Die sogenaamde nuwe normaal is alreeds hier.

Stadig word ons vryheid weer aan ons teruggegee. Wel, soort van teruggegee. Ons is bly, maar dis ’n getemperde blydskap. Want vryheid is ook nie meer wat dit tevore was nie. Dorp toe gaan word ’n ekspedisie en met die terugkom vou jou huis gerusstellend om jou. Die eerste koffiedrink is toe nie so wonderlik nie, want die koffiewinkel volg nie die protokol stiptelik nie. Die eerste werksessie in ’n ander vertroude koffiewinkel vlot nie behoorlik nie en ure later kliek jy eers dit was omdat die plek so stil was; die gewone buzz was nie daar nie.

Die skuldgevoel bly meedoënloos op jou hakke. Jy het ’n huis, jy het ruimte, ’n tuin, ’n motor, ’n oorlaaide yskas. Jy is dankbaar, maar soms verdwerg die skuldgevoel jou dankbaarheid.

Jy raak siek van smart oor die hongeres, die banges, die siekes, die eensame oumense, en jy raak siek van skuldgevoel oor jy nie honger, siek of eensaam is nie. (Bang is jy wel, al probeer jy hard om nie daarop te konsentreer nie.)

Jy is dankbaar vir (en skuldig oor) jou goeie gesondheid, maar mettertyd sink dit in dat jy nog steeds in die ouderdomsgroep met die hoogste sterftesyfer is. Jy hoor van hoogsbejaarde mense wat gesond word en jy hoor van sterk jongmense wat sterf. Jy besef toenemend die virus laat hom nie in ’n boksie druk nie.

Jy dink oor jou lewe en wat jy al gedoen het en wat jy nog wil doen, en uiteindelik besef jy jy is nie soseer bang vir sterf nie. Jy is bang vir alléén sterf.

Dan dink jy aan almal wat wel alleen sterf en jy is van vooraf hoog op dankbaarheid en siek van skuldgevoel.

Meteens is daar soveel geleenthede om andere te ondersteun dat jy nie weet waar om te vat of te los nie. Eers is daar die eetplekke wat met aflewering begin. Jy eet meer takeaways as in jou hele lewe tot dusver. Dan begin die aanlyn konserte en jy kan jou geluk nie glo nie – soveel talent, in jou binnekamer. Daarna maak restaurante en koffiewinkels oop. Jy besef jy het soveel gespaar tydens vlak 5 dat jy wel iets ekstra het om te spandeer. Jy besef ook jy kan nie oral ondersteun nie; jou gawes is maar ’n druppel in ’n wye, wrede see waarin besighede en individue spartel om bo te bly. Jy weet jou randjies kan nooit oral bykom nie.

Jy kyk verwonderd terug op die vier mees buitengewone maande van jou lewe. En jy weet voor jou siel net een ding is seker oor die volgende klompie maande: Baie mense gaan nog sterf. En jy mag dalk een van hulle wees.

Want korona gee nie keuses nie.

Jy gaan die volgende vier maande in met die enkele sekerheid: Niks is seker nie en al wat ons werklik het, is die hiér en die nóú. Die oomblik se son op ’n blaar, die oomblik se innigheid met ’n geliefde, die roep van ’n duif, die spin van ’n kat.

Want niemand kan jou binnewêreld van jou wegvat nie. Ook nie korona nie.

Luister hier na ’n voorlesing deur Alta uit haar nuutste romanse Herfsmelodie:

Lees ook:

Kwarantynketting: "Dis COVID, en ek kou witbrood" deur Zirk van den Berg

Kwarantynketting: "Burying Grandmother ‒ A lockdown diary" by Tanaka Chidora

Kwarantynketting: "The Afrikaans patient" deur Naomi Meyer

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top