Kwarantynketting: "Los gedagtes terwyl jy wag dat ’n tsunami oor jou breek" deur Marita van der Vyver

  • 10

Fear and trembling and the sickness unto death (Kierkegaard).

’n Openbare biegsessie kort voor nóg ’n inperking …

Dis enkele moontlike titels vir wat ek hier sit en skryf. Ek wil dit nie eens ’n storie noem nie, want ’n storie is veronderstel om ’n einde te hê, en hierdie een begin voel soos daardie eindelose Amerikaanse TV-reekse waar elke seisoen met ’n cliffhanger eindig.

Gisteraand het die Franse president, Emmanuel Macron, aangekondig dat almal in die land weer, vir die tweede keer in net meer as ses maande, streng ingeperk gaan word vir “minstens ’n maand”, want die tweede golf van COVID-19 is “erger as wat enigiemand verwag het”.

En terwyl ons sukkel om hierdie nuus te verwerk, en dringend rondskarrel om alles te doen wat ons moet doen voordat ons weer nie ons huise sonder spesiale toestemming mag verlaat nie, kom die nuus van nóg ’n Islamitiese terreuraanval, dié keer in ’n kerk in Nice.

Postcards from the edge. Miskien is dít die titel wat ek soek. Want dit voel asof ek op die rand van ’n afgrond staan en desperaat gou ’n paar woorde moet neerskribbel voordat ek spring.

Om vir die twééde keer ’n grendelstaat binne te gaan, is veel erger as die eerste keer. Die eerste keer het ek gevoel soos iemand wat aan kloustrofobie ly en gedwing word om by ’n smal, donker grot in te kruip. Ek was beangs, maar daar was darem ’n skrefie lig wat my laat glo het daar is ’n uitgang aan die ander kant, en oor ’n paar maande gaan ek en my geliefdes daar uitkruip. En sug van verligting en voortgaan met ons normale lewe.

Ek het nie geweet hóé donker dit in daardie grot kan raak nie. Of dat die konsep van ’n normale lewe moontlik vir altyd verander het nie.

Die tweede keer wéét ek hoe aaklig die ervaring gaan wees. En die skrefie lig het amper onsigbaar geword.

My lewensmaat is met ernstige depressie gediagnoseer kort vóór die vorige grendelstaat aangekondig is. Dis die eerste keer dat ek dit in die openbaar erken.

Tot dusver het ek gevoel ek moet eerder stilbly, want daar is soveel mense wêreldwyd wat op soveel verskillende maniere onder die gevolge van COVID-19-regulasies ly, en my ma het my geleer om altyd aan te hou glimlag selfs al breek jou hart, en my pa het my geleer om altyd positief te wees en die blink kant bo te hou.

’n Paar van Marita se onlangse Instagram-plasings (@fakingfrench)

Met die eerste inperking het ek dus ’n soort dagboek van dank op Instagram begin – onder die speelse naam @fakingfrench – kamtig om vir mense wat my volg te help om nie in wanhoop te verdrink nie. Maar eintlik, laat ons nou maar eerlik wees, om te keer dat ek self verdrink.

Hierdie keer is ek so moeg gespartel om my kop bo water te hou (emosioneel, professioneel, finansieel) dat ek nie meer na hutsmerke kan gryp nie.

Waarna ek wel vanoggend gegryp het, is my stapskoene. Want van môre af kan ons weer nie verder as ’n kilometer rondom ons huis gaan stap nie. En as my kop rêrig begin raas, het ek nog altyd geglo, is daar net één ding wat rêrig help. Om ’n lang ent te gaan stap.

So al stappende, terwyl ek probeer uitwerk wat die dringendste take op my “Om te doen”-lysie vir die volgende paar ure van betreklike vryheid tot middernag moet wees, het ek ook ’n musiekspeellys begin opstel. Want musiek, boeke en rolprente wat ek by die huis kon kyk, het my deur die donkerste dae van die vorige inperking gedra.

Daarom is dit so ondraaglik om te dink dat die boekwinkeltjie op die dorp wéér gaan toemaak. Dat al my vriende wat uit kuns of kultuur ’n bestaan probeer maak, wéér gaan spartel om nie finansieel én emosioneel te sink nie.

Aan al die mense wat aan emosionele steurnisse ly, durf ek nie eens dink nie.

Die vorige inperking was uitmergelend, selfs vir mense wat gewoonlik min of meer emosioneel stabiel is, maar vir dié wat aan sielkundige siektes ly – en hulle naastes – was dit lewensbedreigend sleg. Van een moedelose dag na die volgende. Van een slapelose nag na die volgende.

Daarom kan ek nie hierdie laaste dag voor die volgende inperking in ’n storie verander nie. Ek kan net los gedagtes bymekaar hark, besluit wat ek teen sononder vanaand gedoen móét kry, en na flardes musiek luister terwyl ek stap.

Die eerste liedjie op my lys is Nancy Sinatra se “These boots are made for walking”, veral omdat die simpel danspassies van die gestewelde meisies uit die jare sestig in die oorspronklike video my nog altyd laat glimlag het. En op ’n dag soos vandag sal ek swig voor enigiets wat my laat glimlag:

Wyn vir die pyn. Dis wat ek ná my staptog doen. Nee, ek begin darem nie (dadelik) drink nie, maar ek ry na die plaaslike wynkelder, wat ook wéér sal moet toemaak, en koop genoeg wyn sodat ek darem elke aand ’n glas of twee saam met my kos kan drink. Want as dié laaste skans teen die wreedheid van die lewe wegval … Nou ja, ek hoef vir niemand in Suid-Afrika te herinner aan die ontberings van ’n wynlose inperking nie, nè. Op pad na die kelder luister ek na ’n ou-ou gunsteling van Kevin Ayers, “Whatevershebringswesing”, en ek sing kliphard saam: “So let’s drink some wine and have a good time …”:

Kry jou geldsake in orde voordat die banke weer weke lank toemaak. Betig ek myself en ry na die naaste tak van Credit Agricole. Watse geldsake? vra die skeptiese duiwel wat agter my een oor woon. Finansieel was 2020 vir my, soos vir die meeste ander mense wat nie ’n salaris verdien nie, ’n katastrofe.

Ek lewe, meer as ooit voorheen, op die skamele rande wat ek nog in Suid-Afrika uit boekverkope kan verdien. Maar al die boekwinkels was maande lank toe – en die rand is swakker as ooit wanneer ek dit vir euro’s verruil. Dis ’n verloor-verloor-situasie, wroeg ek al die pad bank toe. As troos luister ek na Pink Floyd se “Money”, nog ’n vreeslik oue, maar ek gaan nie verskoning vra vir die antieke musiek op vandag se speellys nie. In ’n tyd van krisis en onsekerheid soek almal na ’n klein bietjie sekerheid – en ek kan ten minste seker wees ek hou van Pink Floyd:

Skuins oorkant die bank stap ek verby Nathalie se skoonheidsalon. Eintlik eerder ’n salonnetjie, ’n beskeie plattelandse onderneming sonder glans. Ek het vir Nathalie twintig jaar gelede in ’n jogaklas ontmoet, en elke nou en dan maak ek ’n afspraak sodat sy my gesig kan masseer en my lyf kan bederf. Vanjaar het ek nooit by haar uitgekom nie, maar ek het myself belowe ek gaan binne die volgende maand ’n behoorlike bederfsessie by haar bespreek. Al is dit dan net om die feit te vier dat ons albei die jaar 2020 oorleef het.

Nou staan Nathalie met betraande oë (bo haar masker) voor my en bely dat sy nie dink haar onderneming kan nóg ’n inperking oorleef nie. En ek kan haar nie eens ’n druk gee nie, want COVID-19. Maar sy belowe om my te bel sodra die inperking verby is – indien haar salon nie ondergegaan het nie – sodat ons daardie broodnodige bederfsessie kan inpas.

Terug in my kar soek ek na Joe Cocker se rasperstem. Sedert my tienerjare luister ek na sy Woodstock-weergawe van “With a little help from my friends”, en hoe ouer ek word, hoe meer besef ek dat ons nie kan oorleef sonder vriende en familie nie:

By die huis moet ek my dogter bel om vir haar te sê dat ek nie Parys toe kan kom om haar 21ste verjaardag oor ’n maand saam met haar te vier nie, want ons gaan heel waarskynlik nog ingeperk wees. Sy besef dit reeds, want sy het ook na Macron se toespraak geluister, maar dis nogtans nie die soort oproep wat enige ma wil maak nie.

Jammer, skattebol, maar jy sal jou 21ste verjaardag op jou eie moet vier.

Nou het ek ’n opbeurende liedjie nodig, anders gaan ek soos ’n wolf tjank. “I love rock ’n roll” was altyd my en Mia se bonding song in ons kar. Van sy klein was, draai ons die klank oorverdowend hard en bulder die lirieke saam met Joan Jett uit. Vandag luister ek dit op my eie, maar ek sien hoe my dogter op die passasiersitplek haar voete stamp en haar hande klap:

Vroegaand ry ek na wat waarskynlik my laaste jogaklas in weke sal wees en probeer my geestelik voorberei op die stilte en die afsondering en die verlange en die alleenheid wat nou weer op ons wag. Ek wonder hoe ek my depressiewe geliefde deur nóg ’n inperking gaan help. Ek wonder hoeveel krag daar nog oor is in my lyf. Nog nooit voorheen het “Cry to me” van The Staccatos só gepas geklink nie:

Lank, lank gelede het ons op maat van dié musiek in donker garages gedans en gevry, sonder maskers, sonder sosiale afstand, sonder enige voorgevoel van ’n hoogs aansteeklike virus wat sulke gedrag eendag in ons eie leeftyd gevaarlik sou maak.

Maar op die naat van my rug op my jogamat kan ek nie ontspan en op my asemhaling konsentreer nie. “Don't you feel like crying?” hoor ek elke keer as ek diep inasem. As ek my oë toemaak om te mediteer, sien ek die ingang van ’n grot. Dis pikdonker daar binne, en so smal dat jy nie kan omdraai as jy eers begin kruip het nie. Jy moet eenvoudig aanhou kruip tot jy anderkant uitkom.

Ek asem stadig uit.

Bon courage, groet ek en my Franse jogamakkers mekaar. Sien julle aan die anderkant. Waar dit ook al is, wanneer ons ook al daar sal uitkom.

Dis die cliffhanger waarmee hierdie seisoen van die COVID-reeks in Frankryk vanaand eindig.

Lees ook:

Kwarantynketting: "’n Seisoen van onsekerheid" deur Alta Cloete

Kwarantynketting: "Dis COVID, en ek kou witbrood" deur Zirk van den Berg

Kwarantynketting: "Burying Grandmother ‒ A lockdown diary" by Tanaka Chidora

  • 10

Kommentaar

  • Marita, baie dankie vir jou wonderlike openhartige skrywe. Ja, positiwiteit is goed – tot op 'n punt. Wanneer ons ons swakheid vir mekaar begin wys, kan ons mekaar eers regtig ondersteun.
    Ek ken die swart hond van depressie persoonlik. Mag julle genade en krag vind om hom van julle nekke af te hou, al hap-hap hy so na mens se hakskene. (Deurmekaar beeld, maar toemaar!)
    Mooiste wense uit die Boland.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Soms kom daar skrywes uit 'n ander windrigting wat soos 'n opslagwind 'n mens se kuif laat wip. Dis soos 'n mini kortverhaal....... met klank, wat verder kleur gee aan 'n storie wat tref. Hierdie is so een. Baie gaan baat vind hierby. Dankie.

  • Avatar
    Estelle Neethling

    Marita se ontboeseming is veel meer as aandoenlik. Elke keer, het ek al ondervind, wat 'n mens in alle egtheid die hart oopmaak, word ander gehelp. Met haar kragtige profiel, glo ek, het sy hiermee tallose mense in hierdie onnatuurlike lewenstydperk gehelp.

  • Avatar
    Esther Snyman

    Marita dankie.
    Vanaand het jou skrywe my besonder geraak. Ek wat gewoond is om afgesonder te leef, is hard getref deur die vorige lockdown...
    Sterkte, seën en liefde in die tyd wat voorlê. Vir jou en jou wederhelfde... mag julle saam die donkerte teestaan.
    Liefdegroete
    Esther Snyman

  • Liewe Marita, ek dink aan jou... en ek wonder wat ek sou neerpen as ek die moed gehad het...

  • Marita, dankie, ek lees so graag jou stukkies en het nou per toeval op die een afgekom. Jy het so dikwels in my gedagtes opgekom met die vorige lockdown, seker as 'bekende' in ’n vreemde land. Bid vir julle. Bid dat julle die verloop ook sal kan hardloop en verstaan en anderkant uitkom. Ons almal wag vir ’n wonderwerk. Marietjie

  • Avatar
    Henning Janse van Vuuren

    Ek ken min mense wat iets sal sê soos: “Sien julle aan die anderkant. Waar dit ook al is, wanneer ons ook al daar sal uitkom.”

    In Karel Schoeman se slot van die dag lees ek, 'When lilacs last in the dooryard bloom’d' (Whitman)

    Come lovely and soothing death,
    Undulate round the world, serenely arriving, arriving,
    In the day, in the night, to all, to each,
    Sooner or later delicate death ...

    (1865), reëls 135–138

    Op met met die oorfone en laat waai.

    https://www.youtube.com/watch?v=bNowU63PF5E

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top