Kuns en kennis: Wie is navorser en woordkunstenaar Willem Boshoff?

  • 0

LitNet Akademies se nuwe maandelikse reeks deur Mercia Coetzee stel gegradeerde navorsers en hul navorsing van hoogstaande gehalte aan LitNet-lesers bekend.

’n Lys met Afrikaanse vakterme word by elke bydrae verskaf.

Kuns en kennis: Wie is navorser en woordkunstenaar Willem Boshoff?

Willem Boshoff is een van Suid-Afrika se bekendste konseptuele kunstenaars. Hy word internasionaal beskou as ’n uitnemende kunstenaar en beeldhouer vir sy werk waarin taal, kennis, natuur, wetenskap en filosofie tot ’n unieke eenheid saamvloei.

Foto: © Karenboshoff (2009), CC BY-SA 4.0, via Wikimedia Commons

Akademiese agtergrond 

Willem Boshoff is in 1951 gebore en bring sy kinderjare in Vanderbijlpark aan die oewer van die Vaalrivier deur. Sy vader, Martiens Boshoff, was ’n skrynwerker, derhalwe het Boshoff reeds vanaf vroeg in sy lewe ’n intense waardering vir hout, vakmanskap en tegniese presisie ontwikkel. Hierdie blootstelling, tesame met sy liefde vir hout en bome, sou later ’n bepalende invloed op sy beeldhoukuns uitoefen.

Hy voltooi in 1974 ’n Nasionale Onderwysdiploma in kuns aan die Johannesburg College of Art (nou die Fakulteit Kuns, Ontwerp en Argitektuur van die Universiteit van Johannesburg), in 1980 ’n Nasionale Hoër Diploma in Beeldende kuns (Drukkuns) aan die Technikon Witwatersrand, en in 1984 ’n magisterdiploma in Tegnologie: Beeldende kuns (Beeldhoukuns). Gedurende hierdie tyd onderneem hy ook studiereise na Oostenryk en Duitsland en later na Engeland, Wallis en Skotland, waar hy navorsing oor internasionale kunsontwikkeling doen.

Ná sy studies het hy nie net as kunstenaar gewerk nie, maar ook as onderwyser, dosent, senior dosent en uiteindelik departementshoof van die Departement Beeldende Kuns aan die Technikon Witwatersrand (nou deel van die Universiteit van Johannesburg) gewerk. Gedurende hierdie tyd het hy ’n groot invloed op baie jong Suid-Afrikaanse kunstenaars gehad. Boshof was ook vir jare eksterne eksaminator en moderator vir verskeie Suid-Afrikaanse universiteite, waaronder die Universiteit Stellenbosch, Rhodes-universiteit en die Universiteite van Kaapstad, Pretoria en die Vrystaat. Sy akademiese bydrae is in 2008 bekroon met ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Johannesburg.

Sedert 2011 is Boshoff as mentor en senior professor verbonde aan die Departement Beeldende Kunste van die Universiteit van die Vrystaat, waar hy nagraadse studente begelei en sy uitgebreide internasionale ervaring met kunstenaars deel. Sy bydrae tot kunsnavorsing is bevestig toe hy in 2021 ’n A2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NRF) ontvang het. Dit was die eerste keer dat ’n beeldende kunstenaar hierdie vlak van akademiese erkenning van die NRF ontvang het, wat sy uitsonderlike internasionale navorsing- en kreatiewe bydraes verder beklemtoon het.

Woordkunstenaar

Boshoff beskou kunswerke nie bloot as estetiese objekte nie, maar eerder as vorme van navorsing. Die uitstalling van ’n kunswerk is volgens hom die artistieke ekwivalent van ’n gepubliseerde akademiese artikel: Albei stel nuwe kennis aan die publiek beskikbaar. Hierdie benadering verklaar moontlik waarom sy werke dikwels deur uitgebreide verklarende tekste vergesel word. Tydens ’n onderhoud met Cinde Greyling in 2020 verduidelik hy: “Besides knowing what material the work is made of, when, and by whom, it is important to provide context. This helps with a better understanding of the piece, and a deeper experience thereof. Of course, you can still make up your own mind about it, but it is also good to know mine.”

Hoewel Boshoff internasionaal as beeldhouer bekend is, beskryf hy homself dikwels eerder as ’n woordkunstenaar. Sy oeuvre sentreer meermale rondom taal, woorde, linguistiek, leksikografie, filosofie en die maniere waarop taal mense óf bemagtig óf uitsluit.

Reeds sedert die 1970’s stel hy woordelyste en woordeboeke saam wat as grondslag vir baie van sy kunswerke dien. Hy het oor dekades verouderde Engelse woorde, tegniese en wetenskaplike terme, onbekende vaktaal, dialekwoorde en vreemde taalvorme versamel. Hy het daarna die woorde bestudeer, geklassifiseer en dan in konseptuele kuns omgesit of in woordeboekformaat rangskik. Onder hierdie woordeboeke tel A dictionary of colour, Dictionary of perplexing English, Dictionary of Manias and Phobias, Dictionary of morphology, Dictionary of beasts and demons, Dictionary of winds en Dictionary of obscure financial terms. Sy persoonlike versameling van gunstelingwoorde bevat reeds duisende inskrywings. In 2022, met die afloop van die retrospektiewe uitstalling Willem Boshoff: Word Woes (wat in Afrikaans én Engels verstaan kan word) by die Javett Kunssentrum van die Universiteit van Pretoria, is The Oh no! Dictionary vrygestel, gepubliseer deur die kurator Helene Smuts in samewerking met die Ampersand Stigting. The Oh no! Dictionary bestaan uit ’n lys woorde, name en plekname wat aanleiding gee tot ’n gevoel van ongeloof of skok. Slegs 100 eksemplare van hierdie besonderse boek is gedruk.

Een van Boshoff se bekendste taalprojekte is Blind alphabet (1995–), ’n deurlopende reeks woorde en letters in verskillende soorte hout uitgebeeld. Die werke is spesifiek vir blinde besoekers ontwerp met die doel om die siende en die dominansie van sig as primêre sintuig te ontmagtig. Siende besoekers mag nie aan die woordbeelde raak nie; slegs blinde persone mag die werke uit die staalhouers haal en deur middel van gevoel ondersoek. Die beskrywings van die werke is ook slegs in Braille beskikbaar. Dus word die gewone verhouding tussen siende en blinde omgekeer: Die blinde word bevoorreg en word die deskundige terwyl die siende die afhanklike waarnemer is.

Writing in the sand is Willem Boshoff se huldeblyk aan Suid-Afrika se inheemse tale en terselfdertyd ’n waarskuwing ten opsigte van hierdie tale se kwesbaarheid. Die werk beklemtoon dat tale, ondanks hul grondwetlike erkenning, steeds deur globalisering, die oorheersing van wêreldtale en digitale kommunikasie bedreig word. Sand dien as metafoor vir die verganklikheid van taal en kultuur: Net soos letters in sand maklik deur wind of water uitgewis word, kan tale en die mondelinge tradisies wat hulle dra, verdwyn. Boshoff ondersoek die verband tussen taal, identiteit en kulturele geheue en keer die tradisionele magsverhouding tussen dominante en gemarginaliseerde tale om deur ingewikkelde Engelse vakterme met verklarings in Suid-Afrikaanse tale aan te bied. Daardeur daag hy taalhiërargieë uit en moedig hy wedersydse begrip en gesprek tussen verskillende taalgemeenskappe aan. Die werk beklemtoon uiteindelik dat die verlies van ’n taal ook die verlies van ’n gemeenskap se geskiedenis, kennis en kulturele identiteit kan beteken.

Ander kunswerke 

Boshoff se voortdurende studie van taal word aangevul deur sy belangstelling in plantkunde, musiek, filosofie en ekologie. Hy put groot plesier uit etniese en avant-garde musiek en uit Gregoriaanse sang. Hy bestudeer ook die wisselwerking tussen die visuele en ouditiewe kunste en het reeds wyd daaroor gepubliseer.

Nog een van sy belangrike projekte, Garden of words, bestaan uit ’n reeks van drie werke waarin duisende plantname as artistieke materiaal gebruik word om die verhouding tussen taal, die natuur en plantklassifikasie te ondersoek. ’n Bykomende doel met die werk is om aandag te vestig op die moontlike verlies aan biodiversiteit en die uitwissing van bedreigde plantspesies. Sy soeke na kennis oor plante het hom na botaniese tuine regoor die wêreld geneem en het ook tot sy selfbenaming as Big Druid gelei.

Boshoff se vroeë visuele digbundel KYKAFRIKAANS (1977–1980) het reeds sy belangstelling in konkrete poësie en visuele taal bevestig, terwyl latere werke soos Circle of knowledge, Children of the stars, Thinking stone, Paniface en Big Druid sy voortdurende ondersoek na kennis, geestelikheid, wetenskap, politiek en die natuurwêreld demonstreer.

Internasionale erkenning 

Sedert sy eerste solo-uitstalling by die Johannesburgse Kunsmuseum in 1981 het Boshoff se werk wêreldwyd bekendheid verwerf. Sy werk is onder meer uitgestal by:

  • die Johannesburg-biënnale
  • die São Paulo-biënnale
  • die Venesië-biënnale
  • die Havana-biënnale
  • die Smithsonian National Museum of African Art, Washington
  • Centre Pompidou, Parys
  • Museo Nacional Centro de Arte Reina Sofía, Madrid
  • Museum Boijmans Van Beuningen, Rotterdam
  • White Box Gallery, New York
  • Yorkshire Sculpture Park, Engeland
  • die Reina Sofía, Madrid
  • talle museums en galerye in Europa, Noord-Amerika en Afrika

en vorm deel van die permanente versamelings van verskeie internasionale museums, universiteite en korporatiewe kunsversamelings.

Toekennings en eerbewyse

Gedurende sy loopbaan het Boshoff talle nasionale en internasionale toekennings ontvang. Hieronder tel:

  • New Signatures-pryse vir beeldhoukuns (1971) en grafiese kuns (1974)
  • FNB Vita-toekenning vir kuns (1997)
  • Ludwig Giess Preis für Kleinplastik, Duitsland (1998)
  • Gauteng Arts, Culture and Heritage Award (1999)
  • Aardvark-prys tydens Aardklop (2000)
  • Helgaard Steyn-prys vir Beeldhoukuns (2001)
  • Eremedalje vir Beeldhoukuns van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (2001)
  • Golden Loerie- en D&AD Global-toekennings (2005)
  • Eredoktorsgraad van die Universiteit van Johannesburg (2008)
  • die A2-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (2020/2021).
Kunsfilosofie

Boshoff gebruik kuns as instrument om gevestigde aannames uit te daag. Hy beklemtoon dat kuns nie morele lesse moet oordra nie, maar eerder onsekerheid, nuuskierigheid en kritiese denke moet stimuleer. Volgens hom is verandering die enigste sekerheid, en daarom moet kunstenaars voortdurend bestaande kennis, taal en ideologieë bevraagteken en uitdaag. Dit is juis hierdie siening wat sy lewenslange belangstelling in seldsame woorde, onbekende kennis en interdissiplinêre navorsing verklaar. Hoewel sy vaardigheid as beeldhouer in veral hout en graniet alom besing word, is sy kuns nie bloot visueel nie, maar ook linguisties en filosofies konseptueel.

Nalatenskap 

Willem Boshoff se unieke vermoë om beeldhoukuns, taal, leksikografie, filosofie, plantkunde, musiek en sosiale kommentaar saam te voeg, het reeds ’n besondere bydrae tot die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse en internasionale kontemporêre kuns gelewer. As kunstenaar, akademikus, mentor en navorser het hy oor dekades heen nuwe maniere geskep om oor taal, kennis, waarneming en identiteit te dink en het hy waarnemers van sy kuns láát dink. Sy invloed strek veel verder as galerye en fisiese uitstallings: Dit leef voort in sy studente, sy uitgebreide woordeboeke, sy monumentale kunswerke en sy volgehoue strewe om kuns as ’n vorm van kennisproduksie te vestig.

Vakterme
  • Avant-garde musiek: eksperimentele musiek wat nuwe klanke, tegnieke, strukture en idees ondersoek en dikwels bestaande musikale reëls uitdaag
  • Druïde: ’n lid van die priester- en geleerdestand onder die antieke Keltiese volke van Brittanje, Ierland en Gallië (hedendaagse Frankryk). Hulle het as priesters, regters, filosowe, onderwysers en raadgewers opgetree en is verbind met die natuur, wysheid, rituele en mondelinge oorlewering
  • Gregoriaanse sang: ’n vorm van gewyde Middeleeuse kerkmusiek wat bestaan uit onvergeselde, melodiese sang in Latyn, gebaseer op die liturgie van die Rooms-Katolieke Kerk
  • Konseptuele kunstenaar: ’n kunstenaar wat idees, konsepte en intellektuele ondersoek as die kern van sy of haar kuns gebruik, eerder as om hoofsaaklik op estetiese skoonheid of vakmanskap te fokus
  • Oeuvre: die total of volledige versameling van ’n kunstenaar se skeppende werke, gesien as ’n samehangende geheel
  • Retrospektiewe uitstalling: ’n omvattende uitstalling wat ’n kunstenaar se oeuvre of ’n belangrike deel daarvan histories oorsigtelik aanbied
  • Taalhiërargieë: die sosiale en politieke strukture waardeur sekere tale meer status, mag en erkenning geniet as ander
  • Woordkunstenaar: ’n kunstenaar wat woorde en taal as sy of haar belangrikste medium gebruik om betekenis te skep en mense intellektueel of emosioneel te prikkel.
Inligtingsbronne 

Inligting is hoofsaaklik bekom van die Willem Boshoff-webtuiste (https://www.willemboshoff.com), met insette van Hélène Smuts, kurator: Willem Boshoff.

Addisionele bronne wat geraadpleeg is, sluit in:
  • Staden-Garbett, M. 2009. The worldcentric art of Willem Boshoff: an analysis of artefact and discipline in “Children of the Stars”. South African Journal of Art History, 24(2):114-127.
Lees ook:

Nanotegnologie en kankerondersoek en -behandeling: Wie is navorser Tebello Nyokong?

Dassiemis, klipsweet en vlermuisguanoen: Wie is navorser Louis Scott?

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top