LitNet Akademies se nuwe maandelikse reeks deur Mercia Coetzee stel gegradeerde navorsers en hul navorsing van hoogstaande gehalte aan LitNet-lesers bekend.
’n Lys met Afrikaanse vakterme, in hierdie geval byvoorbeeld kryttyd en kwartêre periode, word by elke bydrae verskaf.
Wie is: Louis Scott
Louis Scott (80) is ’n afgetrede professor van die Departement Plantwetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), ’n palinoloog en ’n begaafde kunstenaar. Hy dien tans as navorsingsgenoot en nagraadse mentor aan die UV, is verbonde aan die Nasionale Navorsingstigting, is ’n NRF-B-gegradeerde navorser en is ’n Genoot van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Kwartêre Navorsing (SASQUA). Scott beskik oor ’n besonder omvangryke publikasierekord: Hy het 185 wetenskaplike artikels gepubliseer, 153 konferensiebydraes gelewer en was mentor en studieleier van verskeie meesters- en PhD-studente van regoor die wêreld.

Louis Scott (foto deur Maitland Seaman). Met toestemming.
Akademiese agtergrond
Louis Scott matrikuleer in 1963 aan Grey Kollege in Bloemfontein en studeer daarna plantkunde aan die UV. Vir sy meestersgraad (1971) bestudeer hy fossielstuifmeel uit boorgate van die Kryttyd-afsettings en gaan werk daarna as palinoloog by die Suidelike Olie-Eksplorasie Korporasie (Soekor) in Johannesburg. Hy keer in 1974 terug na die UV om gefossileerde stuifmeel uit die Kwartêr in spruit- en moerasafsettings in Suider-Afrika te bestudeer. Hy behaal sy PhD in 1979 met die proefskrif “Late Quaternary pollen analytical studies in the Transvaal (South Africa)” / “Laat- kwartêre stuifmeel-analitiese studies in die Transvaal (Suid-Afrika)”.
In 1979 en 1980 gaan Scott vir sabbatsverlof na die Universiteit van Arizona in Tucson, Arizona in die VSA. Daar sien hy hoe gefossileerde houtrotafsettings gebruik word om makroplantmateriaal te onttrek wat dan met behulp van radiokoolstofdatering die opeenvolging van klimaatsveranderings aandui. Hierdie vondste het hom beïnvloed om na iets soortgelyks in Suider-Afrika te soek.
Hy besoek eers Marion-eiland om veenafsettings vir klimaatsverandering te bestudeer voordat hy in dele van Suider-Afrika begin om stuifmeel uit dassiemis te onttrek met die doel om omgewingsveranderinge tydens die Kwartêre periode te ondersoek. Met hierdie baanbrekernavorsing kon hy bewys hoe die plantegroei tydens die laaste Ystydperk (ongeveer 22 000 jaar gelede) gelyk het. Die ys het hoofsaaklik die Noordelike Halfrond bedek met gletsers wat suidwaarts versprei het. In Suider-Afrika was die ys waarskynlik net tot valleie in die hoogste berge van Lesotho beperk, met geen ys of gletsers in die res van die land nie. In die gebied wat nou die Bosveld genoem word, was daar tydens die Ystydperk geen bome nie; die plantegroei het hoofsaaklik uit oop grasvelde bestaan terwyl die fynbos wat nou in die berge van die hoëveld groei, toe op laer liggende gebiede voorgekom het.
Fossielstuifmeel in dassiemis
Scott se navorsing fokus op die studie van fossielstuifmeel in natuurlike meer-, grot-, vlei-, moeras- en fossielmisafsettings met die doel om Afrika se omgewingsgeskiedenis te rekonstrueer. Hy het bevind dat veral dassiemishope buitengewoon ryk paleo-omgewingsargiewe kan wees. Die mishope bevat ’n mengsel van materiale, insluitend dierlike metaboliese produkte, antieke DNS, organiese elemente, oplosbare soute en karbonate, ’n verskeidenheid plantdele, isotope, verskillende insekte, stuifmeel, onverteerde voedsel, houtskooldeeltjies en ander ligte materiaal wat deur die wind ingewaai word of via dassiepote of -pels ingedra word. Uit al hierdie bronne kan inligting oor dassies se dieet, gedrag, metaboliese reaksies op omgewingsdruk, en veral die breër paleo-ekologiese konteks van die terrein vasgestel word.
Dassies (Procavia capensis) is plantvretende soogdiere wat regoor Suider-Afrika aangetref word. As sosiale diere wat in kolonies van 25 tot 40 individue leef, kruip hulle gewoonlik in rotsskuilings en -skeure weg om warm en veilig te bly. Dassies eet kruidagtige plante, gras, takkies, bas, blare en die lote van bosse, struike en bome, en sal selfs mosse en ligene eet. Belangrik is dat dassies slegs binne ’n radius van ongeveer 60 meter van hul skuilings voed. Hulle dieet maak hulle dus gunstige kandidate om die plantegroei van ’n spesifieke gebied aan te dui.
Dassies het die besondere gewoonte om deur baie generasies dieselfde plek as toilet te gebruik. Hierdie dassietoilette is gewoonlik binne skeure tussen rotslae en word aangedui deur “klipsweet” – die volksnaam vir die kenmerkende bruin strepe dassie-urine wat teen rotse afloop. In droë gebiede verkalk die urine gewoonlik tot wit strepe. Klipsweet, wetenskaplik bekend as “hyraseum”, is dus ’n taai vloeistof wat uit mis en urine loop en uitdroog om ’n soliede laag teen die rotse te vorm.
Dassiemisbolletjies is gemiddeld 0,5 tot 1 cm in deursnee en akkumuleer vinnig. Vars urine wat oor die misbolletjies vloei en tussen hulle inloop, kristalliseer, sementeer en bewaar die inhoud van die mis in dik, harde lae bekend as dassiemishope (hyrax middens). Wanneer dassiemishope teen reën en verrotting beskerm word, kan dit oor duisende jare in afsettings ophoop wat meer as ’n meter dik en verskeie meter wyd kan wees. Die tempo waarteen hierdie hope groei, hang af van die argitektuur van die skuiling, die rots waarop dit rus, die grootte van die dassiekolonie en die morfologie van die hoop. Dassiemishope wat hoofsaaklik uit hyraseum bestaan, hoop baie stadiger op en toon ’n fyner gelaagdheid as dié wat baie misbolletjies bevat. Die netto tempo waarteen dassiemishope vorm, kan ook baie wissel, van 20 jaar per cm tot meer as 2 000 jaar per cm.
Die meeste dassiemislae waarop Scott navorsing gedoen het, dateer ná die Holoseentydperk (tot ongeveer 11 700 jaar gelede), en die laat Pleistoseentydperk (tot ongeveer 26 000 jaar gelede). Hoewel die geologiese argitektuur van sommige terreine aangedui het dat die dassiemislae moontlik tot 100 000 jaar oud kan wees, is die meeste volgens Scott aansienlik jonger, omdat mislae oor lang tydperke kan verweer.
Scott bestudeer egter nie net dassiemis nie; sy navorsing sluit ook stuifmeelreste in gefossileerde hiënakoproliete (hiënamis) en vlermuisguano uit Kwartêre neerslae in. Dassiemis is ideaal omdat dit stuifmeel en ander plantmateriaal vir duisende jare kan preserveer – in Namibië en in die Cederberge het hy byvoorbeeld stuifmeel onttrek uit afsettings wat ongeveer 50 000 jaar oud is en in die Tswaingkrater naby Pretoria rekords wat oor ongeveer 200 000 jaar strek.
Scott en sy studente versamel segmente van die mees ontwikkelde dassiemishope om in die laboratorium in submonsters vir radiokoolstofdatering en aanwyseranalise verdeel te word. Verskeie aanwysers (bv stuifmeel, houtskool, plantmateriaal, ens) kan uit dieselfde submonster onttrek word en daardeur kan direkte vergelykings gemaak word wat betroubare data oor die verhoudings tussen die aanwysers verskaf. Dit is veral waardevol om aanwysers wat plantegroeiveranderings weerspieël (soos die stuifmeel van sekere sensitiewe spesies wat hoofsaaklik deur klimaat beïnvloed word), te vergelyk met dié van die huidige plantegroei. Só kan die relatiewe rol van klimaatsdryfkragte en plantegroeidinamika ontleed word, wat op sy beurt weer lei tot ’n meer volledige en betroubare begrip van paleo-omgewingsdinamika (insluitend klimaats- en plantegroeiveranderinge) regoor Suider-Afrika.

Ongepubliseerde sketse wat Scott van stuifmeelkorrels geteken het (Kopiereg: Louis Scott). Met sy toestemming.
Bydrae tot palinologie en Kwartêre navorsing
Scott se navorsing sluit rekonstruksies van plantegroei en klimaatsgeskiedenis in verskeie dele van Suider-Afrika in. Hierdie studies bied insigte in omgewings- en klimaatstoestande tydens die Laaste Ystydperk en die daaropvolgende ontwikkeling van moderne landskappe. Sy waarnemings verskaf kerninligting oor historiese omgewingskontekste, langtermynpatrone van klimaatsverandering en die impak van aardverwarming. Van sy bevindinge is reeds in numeriese modelle van plantegroeiverandering wêreldwyd toegepas.
Om vorige omgewingstoestande en klimaatsveranderinge te bepaal maak Scott gebruik van ’n verskeidenheid bewyse, insluitend fossielplante en dierlike oorblyfsels, mikro-organismes, biochemiese merkers soos alkene, en geochemiese aanwysers soos isotope. Die ouderdom van hierdie afsettings word vasgestel deur verskeie radiometriese dateringsmetodes, insluitend uraanreeksdatering, radiokoolstofdatering, termoluminessensie en kalium-argon-datering. Al hierdie data word geïntegreer om ’n omvattende beeld van ’n paleo-omgewing te skep.
“Ek poog om ons natuurerfenis, wat direk met Afrika se prehistoriese verlede verband hou, te rekonstrueer deur middel die omgewingsgeskiedenis en natuurlike veranderingsprosesse,” verduidelik Scott. “Ten einde toekomstige klimaatstoestande te voorspel, moet ons die langtermynverandering daarvan in die verlede verstaan.” Scott meen dat as ons weet waar ons vandaan kom, ons kan voorspel waarheen ons op pad is. Hy noem dat klimaatsverandering ’n natuurlike proses is wat ten spyte van die mens se invloed gebeur, maar dat mensgedrewe prosesse oor die laaste 150 jaar ’n groot invloed op klimaatsverandering het en daarom vind dit veel vinniger as normaalweg plaas. “Maar tog,” meen hy, “kan agtergrondkennis van omgewingstoestande tot meer akkurate voorspelling van toekomstige weerpatrone lei, veral met behulp van superrekenaarsagteware en kunsmatige intelligensie.”
Prestasies en eerbewyse
Louis Scott se navorsingsbelangstellings sluit stratigrafiese palinologie, langtermyn- kontinentale omgewingsverandering gedurende die Kenosoïese Era, asook die interpretasie van paleo-omgewingsrekords wat met argeologiese terreine verband hou, in. Van sy noemenswaardigste prestasies was:
- Sy navorsing op veenlae by Florisbad buite Bloemfontein – waar die fossiel- menslike kranium (kopbeen) gevind is – het baie bygedra tot die paleoantropologiese ontdekkings by dié spesifieke argeologiese en paleontologiese terrein.

Scott by die Florisbadnavorsingsterrein
- Hy het uitgebreide veldwerk, dikwels in samewerking met argeologiese projekte, in Suid-Afrika, Oos-Afrika, Botswana, Namibië, Marion-eiland (Sub-Antarkties), die VSA, Spanje en Israel uitgevoer, en sy akademiese en navorsingsbetrokkenheid strek oor lande soos Duitsland, Frankryk, Kanada, Swede, die Verenigde Koninkryk en die VSA.
- Hy was die streekskoördineerder vir Suider-Afrika vir die IGBP/PAGES Pole–Equator–Pole paleo-omgewingstransekte (PEPIII). In kort verwys dit na ’n internasionale navorsingsprojek wat langtermynveranderinge in die aarde se klimaat en omgewing bestudeer het. PEPIII se fokus was die trajek vanaf die Arktiese gebied in Europa tot in suidelike Afrika met die doel om paleo-omgewings in tydskale wat wissel van duisende tot honderde duisende jare te rekonstrueer om beter voorspellings te maak oor toekomstige klimaatsveranderinge.
- Hy was deel van die groep palinoloë wat in 1996 in Bierville, Frankryk, die African Pollen Database begin het.
- Hy is ’n jare lange lid van die Southern African Society for Quaternary Research en het van 1991 tot 1993 as president van dié vereniging gedien.
- Hy het ook die International Union for Quaternary Research in verskeie hoedanighede gedien.
- Scott was gasredakteur en/of redaksielid vir verskeie vaktydskrifte, insluitend Journal of Arid Environments en Palaeoecology of Africa.
- Hy is ’n Genoot van The Royal Society of South Africa.
Met sy aftrede in 2014 is die internasionale konferensie “From past to present: changing climates, ecosystems and environments of arid Southern Africa: a tribute to Louis Scott” tot sy eer aangebied. Verteenwoordigers van 14 Noord-Amerikaanse, Europese en Midde-Oosterse universiteite en instellings, nege Afrika-universiteite en -instellings, en 12 Suid-Afrikaanse universiteite en instellings het die konferensie bygewoon. Die akademiese uitsette van hierdie konferensie het bestaan uit 11 artikels in een vaktydskrif en 12 hoofstukke in ’n ander publikasie. Dit is sprekend van sy betekenisvolle rol in beide die paleowetenskappe en die natuurwetenskappe.
Ter afsluiting
Louis Scott se navorsing het ’n beduidende invloed gehad op die terreine van plantkunde, paleo-ekologie, paleobotanie, paleontologie, geologie, palinologie, klimatologie, geografie, argeologie en antropologie, en is leidinggewend rakende omgewingstoestande sedert die Laaste Ystydperk en oor hoe moderne omgewingstoestande ontwikkel het. Hy was die dryfveer agter die werk van baie ander navorsers en het die loopbane van talle studente, nagraadse studente en kollegas, nasionaal sowel as internasionaal, begelei, gemonitor en beïnvloed.
Volgens ’n onlangse publikasie-opname het Scott, as ’n lank reeds afgetrede personeellid en navorsingsgenoot van die UV, in 2024, op bykans 80-jarige ouderdom, meer publikasies in een jaar gelewer as in enige ander jaar van sy loopbaan. Op 80 is hy dus, wat publikasie-uitsette betref, onder die top 10 wetenskaplikes aan die UV.
Vakterme
- Holoseentydperk: die tydperk tot ongeveer 11 700 jaar gelede.
- Hyraseum: ’n taai vloeistof wat uit mis en urine loop en uitdroog om ’n soliede laag teen die rotse te vorm.
- Kenosoïese paleo-omgewings: historiese omgewings (insluitend klimaat, plantegroei, dierelewe en landskappe) van die Kenosoïkum.
- Kenosoïkum: die geologiese era wat ongeveer 66 miljoen jaar gelede begin het en steeds voortduur.
- Klipsweet: die volksnaam vir die kenmerkende bruin strepe dassie-urine wat teen rotse afloop, wetenskaplik bekend as hyraseum.
- Kryttyd: die tydperk wat met die uitwissing van dinosouriërs eindig.
- Kwartêre periode: die tydperk gekenmerk deur die Ystye en die verskyning van moderne mense.
- Laat Pleistoseentydperk: die tydperk tot ongeveer 26 000 jaar gelede.
- Paleontologiese navorsing: die studie van alle vorme van prehistoriese lewe.
- Palinoloog: ’n spesialis in palinologie, die wetenskaplike studie van fossielstuifmeel, spore, en mikroskopiese plantreste.
- Termoluminessensie: ’n fisiese verskynsel waar ’n stof lig uitstraal wanneer dit verhit word nadat dit vroeër aan sonlig of radioaktiewe straling blootgestel is. Die hoeveelheid lig wat uitgestraal word met verhitting, help om te bepaal hoe oud die voorwerp is.
Inligtingsbronne
Inligting is hoofsaaklik bekom van Louis Scott en Maitland Seaman. Addisionele bronne wat geraadpleeg is, sluit in:
- Bousman, B en L Scott. 1994. Climate or overgrazing? The palynological evidence for vegetation change in the eastern Karoo. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Wetenskap, 90:575–8.
- Chase, BM, L Scott, ME Meadows, G Gil-Romera, A Boom, AS Carr, PJ Reimer, L Truc, V Valsecchi, en LJ Quick. 2012. Rock hyrax middens: a palaeoenvironmental archive for southern African drylands. Quaternary Science Reviews, 56:107–25.
- Crampton, S. 2000. Homage to Professor Frederick Petrus Scott. CULNA, Junie/Julie, ble 30–1.
- Horwitz, LK en P Holmes. 2015. From past to present: Changing climates, ecosystems and environments of arid southern Africa. A tribute to Louis Scott. Transactions of the Royal Society of South Africa, 70(3):193–4.
Lees ook:
Nuwe navorser Monique Visser oor die veiligheid van jou speseryerak

