Nanotegnologie en kankerondersoek en -behandeling: Wie is navorser Tebello Nyokong?

  • 0

LitNet Akademies se nuwe maandelikse reeks deur Mercia Coetzee stel gegradeerde navorsers en hul navorsing van hoogstaande gehalte aan LitNet-lesers bekend.

’n Lys met Afrikaanse vakterme, in hierdie geval byvoorbeeld ftalosianiene en kwantumkol, word by elke bydrae verskaf.

Wie is Tebello Nyokong?

Tebello Nyokong (74) is ’n bekroonde, A-gegradeerde professor en beklee ’n DST/NRF-navorsingsleerstoel in Medisinale Chemie en Nanotegnologie aan Rhodes-universiteit, waar sy ook dien as direkteur van die DST/Mintek Nanotechnology Innovation Centre (NIC). Nyokong se baanbrekersnavorsing in nanotegnologie, medisinale chemie en fotodinamiese terapie (FDT) het aan haar internasionale erkenning besorg.

Tebello Nyokong (Foto-erkenning: verskaf deur Rhodes-universiteit se mediaspan)

Akademiese agtergrond

Tebello Nyokong is op 20 Oktober 1951 in Maseru, Lesotho gebore. Haar ouers het later in Sharpeville gewoon, maar haar op agtjarige ouderdom na haar grootouers in Lesotho gestuur om daar skoolonderrig te ontvang. In Lesotho het sy op afwisselende dae skool bygewoon en skape opgepas – ’n ervaring wat haar deursettingsvermoë en ’n diep waardering vir die natuur geleer het. Ten spyte van die moeilike omstandighede en beperkte hulpbronne in Lesotho, was sy vasberade om akademies te slaag. Hoewel sy aanvanklik geesteswetenskaplike vakke op hoërskool geneem het, het sy in standerd 8 (deesdae graad 10) na natuurwetenskappe oorgeskakel. Dit het haar gedwing om binne twee jaar dieselfde hoeveelheid werk te bemeester as wat ander leerders in vyf jaar gedoen het. Gemotiveer deur ondersteunende onderwysers en haar passie vir wetenskap het sy die Cambridge Overseas School Certificate in 1972 verwerf.

Daarna, in 1973, het sy by die National University of Lesotho ingeskryf, waar die dosente haar intellek en belangstelling in chemie en navorsing raakgesien en versterk het. In 1977 het sy ’n BSc-graad in chemie en biologie én ’n onderwyssertifikaat suksesvol verwerf, terwyl sy terselfdertyd ook onafhanklike navorsing gedoen het oor die rol van chemie in die alledaagse lewe in Afrika. Met ondersteuning van ’n beurs vanaf die Canadian International Development Agency (CIDA) het sy haar nagraadse studie in Kanada voortgesit en in 1981 ’n MSc-graad in chemie aan McMaster University voltooi, gevolg deur ’n PhD in chemie aan die Western University in 1987. Haar doktorale navorsing het gefokus op die sintese en fotofisiese eienskappe van porfiriene en ftalosianiene, veral op die inkorporering van metale in hierdie verbindings en die toepassings daarvan in medisinale verband. In 1990 het sy die gesogte Fulbright-beurs ontvang om nadoktorale navorsing aan die University of Notre Dame, Indiana, VSA te onderneem.

In 1992 keer sy na Lesotho terug as dosent in fisies-anorganiese chemie aan die National University of Lesotho, voordat sy later dieselfde jaar as senior lektor by Rhodes-universiteit aangestel word. As gevolg van haar buitengewone navorsingsuitsette het sy spoedig erkenning van die Nasionale Navorsingstigting van Suid-Afrika (NNS/NRF) ontvang, wat haar in staat gestel het om ’n navorsingslaboratorium by Rhodes-universiteit te vestig. Hierna het sy vinnig deur die akademiese geledere tot professor en uiteindelik uitgelese professor gevorder.

Nanotegnologie

Nanotegnologie is die wetenskap vir die beheer en manipulasie van materie op atoom- en molekulêre skaal, met ander woorde, dit fokus op strukture en materiale tussen 1 en 100 nanometer (nm) groot. Nyokong se navorsingsgroep ontwikkel tans multifunksionele nanomedisyne deur metaal-, magnetiese of halfgeleiernanodeeltjies chemies aan fotoaktiewe ftalosianien-fotosensitiseerders te koppel. Dié hibriede nanomateriale kan ’n wye spektrum van lig absorbeer en dit dan omskakel in fototoksiese spesies binne kankerselle. Veral goudnanodeeltjies, wat ’n groot oppervlak-tot-volume-verhouding het, het doeltreffende geneesmiddeldraende vermoë omdat hulle oor optiese eienskappe beskik wat beeldvorming en visualisering tydens behandeling moontlik maak. Deur lig te reflekteer, ondersteun goudnanodeeltjies nie slegs genesende terapie nie, maar ook kankerdiagnose en -monitering.

Nanotegnologie maak dit ook moontlik om hidrofobiese molekules soos ftalosianiene in bioafbreekbare nanodraers te verpak vir gebruik in fotodinamiese terapie, terwyl een enkele nanodeeltjie chemies ontwerp kan word om gelyktydig as kontrasmiddel, katalitiese suurstofgenerator en platform vir beide fotodinamiese en fototermiese terapie te dien. Verder kan kwantumkolle met presiese nanotegnologiese beheer ingestel word sodat hul fluoresserende kleur volgens grootte verander, wat hoogs presiese opsporing van kankerselle op sellulêre vlak moontlik maak.

Fotodinamiese terapie (FDT)

Nyokong se navorsing is hoofsaaklik daarop gerig om kankerbehandeling te vergemaklik deur alternatiewe tot konvensionele chemoterapie te ontwikkel. Haar navorsing het getoon dat daar deur middel van fotodinamiese terapie (FDT) selektief op siek weefsel gefokus kan word terwyl skade aan gesonde selle tot die minimum beperk word.

FDT is ’n mediese behandelingsmetode waarin ’n ligsensitiewe middel (fotosensitiseerder) aan ’n pasiënt toegedien word en daarna deur lig van ’n spesifieke golflengte geaktiveer word om reaktiewe suurstofspesies te genereer wat siek weefsel, soos kankerselle of besmette selle, selektief vernietig, terwyl omliggende gesonde weefsel ongeskonde bly. Die fotosensitiseerders wat in FDT gebruik word, behoort tot verskeie chemiese klasse, insluitend porfiriene, chloriene en ftalosianiene, wat gekenmerk word deur sterk ligabsorberende eienskappe en effektiewe produksie van reaktiewe suurstofspesies. In gevorderde nanomediese benaderings kan hierdie fotosensitiseerders geïntegreer word met nanostrukture soos goudnanodeeltjies en kwantumkolle om ligabsorpsie, fotostabiliteit en terapeutiese doeltreffendheid te verbeter.

Ftalosianiene is molekules wat chemies soortgelyk is aan die sintetiese kleurstowwe metileenblou en toluïdienblou wat gebruik word om denim blou te kleur. Ftalosianien-fotosensitiseerders is gebaseer op makrosikliese verbindings wat ligenergie in reaktiewe suurstofspesies kan omskakel. Ftalosianien en ligenergie dien as chemiese sensors om siekteverwante molekules en organismes op te spoor. Ftalosianien is een van die mees gevorderde middels wat tans in FDT vir die vernietiging van gewasse en kankerselle gebruik word.

Ftalosianien-fotosensitiseerders, metaalnanodeeltjies en kwantumkristalle word met terapeutiese middels gekombineer om medikasie te vorm wat in pil- of vloeistofvorm aan pasiënte toegedien word. Dié nanodeeltjies dien as draers vir die terapeutiese middels deur dit direk na kankergewasse via die verhoogde deurlaatbaarheids- en retensie-effek van tumorweefsel te vervoer waar hulle ophoop. Die nanodeeltjies bly ongeskonde totdat hulle die gewas bereik en voorkom sodoende dat gesonde weefsel aan die terapeutiese middels blootgestel word. Indien die kankerweefsel hierna aan ’n spesifieke golflengte van lig blootgestel word, word ’n chemiese reaksie tussen die ligsensitiewe middels en die suurstofmolekules binne die kankergewas geaktiveer, wat lei tot die vorming van toksiese suurstofspesies wat kankerselle vernietig. FDT kan gevolglik slegs dele van die liggaam behandel wat deur lig bereik kan word, en word dikwels gebruik vir die behandeling van velkankers, voorkankerletsels en hardnekkige aknee.

Hierdie multifunksionele stelsels is ontwerp om effektief teen lae ligintensiteite en verminderde dosisse medikasie te werk, wat die veiligheid en bekostigbaarheid van die behandeling verhoog, veral in gevalle waar hulpbronne beperk is. Dit is ’n minimale indringende prosedure en bied die potensiaal om aftakelende newe-effekte, soos haarverlies, naarheid en skade aan gesonde weefsel, te verminder.

Nyokong se huidige navorsing fokus spesifiek op die verbetering van die presisie en doeltreffendheid van FDT met die doel om die behandeling toenemend kankerspesifiek te maak. Haar werk het reeds ’n beduidende bydrae tot die ontwikkeling van FDT as ’n meer toeganklike en minder indringende kankerbehandelingstegnologie gelewer, en is reeds vir sekere kankers in lande soos die VSA en in dele van Europa en Rusland goedgekeur.

Benewens kankerondersoek en -behandeling het Nyokong die toepassings van FDT en nanotegnologie uitgebrei om ook antimikrobiese weerstand (AMW) en omgewingsbesoedeling aan te spreek. Haar studies toon dat FDT bakterieë, swamme en virusse effektief kan uitskakel sonder dat mikro-organismes weerstand ontwikkel – ’n toenemend ernstige probleem wat met konvensionele antibiotika verband hou. Sy ondersoek ook die vermoë van nanoveselgebaseerde fotokatalitiese materiale om besmette water van organiese besoedeling te suiwer. Nanovesels bevat katalitiese materiale wat sonenergie in antimikrobiese aktiwiteite omskakel terwyl dit terselfdertyd gifstowwe in waterbronne afbreek. Hierdie nanomateriale word ontwerp om maksimum sonligabsorpsie te verseker, langtermynprestasie te behou, onder vloeiende-water-omstandighede te funksioneer en om terselfdertyd omgewingsveilig en ekonomies haalbaar te bly. Vir industriële toepassing van hierdie tegnologieë werk Nyokong saam met Mintek, Suid-Afrika se nasionale mineralenavorsingsorganisasie.

Toekennings en erkennings

Gedurende haar akademiese loopbaan het Nyokong 55 gesogte toekennings ontvang, onder andere:

  1. Lidmaatskap van die Royal Society (2023): een van die hoogste wetenskaplike eerbewyse in die wêreld, toegeken aan slegs ’n klein groepie van die wêreld se invloedrykste wetenskaplikes.
  2. Die Unesco-medalje vir haar bydrae tot nanowetenskap en nanotegnologie (2015), ’n belangrike internasionale erkenning vir uitnemendheid in wetenskaplike navorsing.
  3. Die Orde van Mapungubwe (Brons) (2005): Suid-Afrika se hoogste nasionale eerbewys vir buitengewone prestasies vir Suid-Afrikaanse burgers.
  4. Die Afrika-Unie Kwame Nkrumah Wetenskaplike Toekenning (2016) – die hoogste wetenskaplike toekenning van die Afrika-Unie vir wetenskaplike leierskap.
  5. The World Academy of Sciences- (TWAS-) medalje (2013) – ’n internasionale toekenning wat uitnemendheid in wetenskap in ontwikkelende lande erken.
  6. Aanwysing as lid van die Pontifical Academy of Sciences (2022) – ’n hoogs selektiewe globale wetenskaplike adviesliggaam wat elite internasionale wetenskaplike status weerspieël.

Tebello Nyokong het reeds ses eredoktorsgrade ontvang, is gelys as een van die “12 Names to Change the World” deur die Spaanse Nasionale Sentrum vir Navorsing oor Menslike Evolusie, asook as een van die top 10 invloedrykste vroue in wetenskap en tegnologie op die Afrika-vasteland deur die tegnologienuuswebwerf IT News Africa. Die Raad van Rhodes-universiteit het in 2023 besluit om die nuwe R90 miljoen-navorsingsgebou ter ere van haar te benoem – dit staan as die Tebello Nyokong Institute of Nanotechnology Innovation bekend.

Ander uitsonderlike bydraes 

Ten spyte van al hierdie uitsonderlike erkennings en deur ander onderskeidings – soos haar aanstelling deur pous Franciskus in die Pontifical Academy of Sciences en haar lidmaatskap van elite globale akademiese organisasies – beklemtoon Nyokong dat die waarde van toekennings hoofsaaklik lê in die geleenthede wat dit skep om beleid te beïnvloed, wetenskap aan breër gehore te kommunikeer en die globale sigbaarheid van Afrika se navorsingsvermoë te verhoog. Sy beskou erkenning as ’n middel tot ’n doel – ’n doel wat haar vermoë om studente te mentor versterk, om vir wetenskaponderrig te pleit en om tot die groei van navorsing en vernuwing in Afrika by te dra. Sentraal tot haar ingesteldheid is haar verbintenis tot die erkenning van Afrika, weerspieël in haar stelling dat sy “gedryf word deur haar Afrika-identiteit” en passievol is oor die sukses van die kontinent.

Nyokong het gedurende haar loopbaan op verskeie nasionale en internasionale rade, komitees en evalueringspanele gedien en het ook betekenisvolle redaksionele en wetenskaplike rolle binne die internasionale wetenskaplike gemeenskap vervul. Benewens haar redaksionele werk het sy groot internasionale navorsingsprojekte vir befondsingsagentskappe in Frankryk, België en die Tsjeggiese Republiek geëvalueer, op verskeie multidissiplinêre en internasionale wetenskaplike forums gedien, asook op adviesrade vir omgewingsbestuur, analitiese chemie, bio-elektrochemie, laserterapie en chemiese wetenskappe, dikwels in samewerking met globale vennote. Deur hierdie rolle het Nyokong bygedra tot die vorming van wetenskaplike standaarde, die ondersteuning van navorsingsontwikkeling, en die versterking van samewerking tussen akademie, nywerheid en beleidsomgewings op sowel nasionale as internasionale vlak.

Jong wetenskaplikes 

Volgens Nyokong is haar grootste bydra tot die wetenskap die studente en jong wetenskaplikes wat sy deur haar loopbaan opgelei het. Haar benadering tot studieleiding beklemtoon internasionale blootstelling en samewerking, en sy moedig studente aan om met navorsingsgemeenskappe van regoor die wêreld te skakel om sodoende hulle vermoë om tot die wetenskap by te dra, te versterk. Sy is veral verbind tot die bevordering van vroue in die wetenskap. Nadat sy self ’n oorwegend manlike akademiese omgewing betree het, het sy vroue aangemoedig om vrees vir die manlik gedomineerde wetenskap te oorkom. Haar mentorskap het talle studente geïnspireer, van wie baie self professore en navorsers geword het.

Nyokong bevorder ook wetenskaponderrig onder skoolleerders en -onderwysers. Sy het uitreik-inisiatiewe ontwikkel wat die wetenskaplike beginsels agter alledaagse produkte aan leerders demonstreer sodat hulle wetenskap as deel van die lewe kan sien. Sy het die Tebello Nyokong-beursfonds gestig wat daarop gemik is om geleenthede vir toekomstige wetenskapstudente uit te brei. Sy voer aan dat wetenskaponderrig in Afrika plaaslike voorbeelde en kontekste moet insluit eerder as om uitsluitlik op ingevoerde opvoedkundige materiaal te steun. Volgens haar beskik Afrika oor enorme natuurlike en intellektuele hulpbronne, maar hierdie potensiaal kan slegs deur aansienlike beleggings omskep word in wetenskap, navorsing en vernuwing in stabiliteit, welvaart en tegnologiese onafhanklikheid. Nyokong is krities oor sekere aspekte van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, veral die klem op hoë slaagsyfers ten koste van ’n sterker wiskunde- en wetenskaponderrig. Sy voer aan dat baie onderwysers onvoldoende opleiding in wetenskaplike vakke het en dat, onder druk om hoë slaagsyfers te handhaaf, leerders dikwels ontmoedig word om wetenskaplike rigtings te volg. Volgens haar skep dit ’n fundamenteel gebrekkige stelsel wat die land se wetenskaplike toekoms ondermyn.

Ter afsluiting 

Tebello Nyokong se akademiese loopbaan weerspieël ’n trajek van volgehoue uitnemendheid wat begin het as ’n akademiese studente-assistent en tot erkenning as ’n wêreldbekende en uitgelese professor gelei het. Tydens haar loopbaan het sy ’n omvangryke wetenskaplike produksie van meer as 1 040 navorsingsbydraes gelewer, insluitend 1 009 ewekniegeëvalueerde joernaalartikels, verskeie boeke, hoofstukke in boeke, konferensiebydraes en patente. Sy het ook ’n deurslaggewende rol gespeel in nagraadse opleiding met die suksesvolle begeleiding van 74 PhD-studente, 71 MSc-studente en 44 nadoktorale genote, en sodoende beduidend bygedra tot die ontwikkeling van wetenskaplike kapasiteit in chemie en nanotegnologie.

Nyokong is ’n weduwee en die ma van ’n seun en ’n dogter, en sy is ook die ouma van twee kleindogters. Buite die akademie geniet sy reis, stap en tuinmaak – wat sy beskryf as “fisiese aktiwiteit met ’n doel”, en het sy ’n besondere waardering vir mode, veral vir mooi handsakke en deftige skoene. Haar voorkeurvakansiebestemming is Mauritius, en sy lees graag, veral boeke soos Malcolm Gladwell se David and Goliath en Outliers. Ten spyte van haar beskeie stelling dat sy “nie meer ’n rolmodel is nie”, beliggaam haar lewe en loopbaan steeds ’n voortdurende soeke na kennis, toewyding en inspirasie, en demonstreer sy die verreikende moontlikhede van ’n lewe toegewy aan wetenskap en onderwys.

Vakterme 
  • Antimikrobiese weerstand (AMW): Die vermoë van mikro-organismes soos bakterieë, virusse, swamme en parasiete om die werking van antimikrobiese middels (bv antibiotika, antifungale medikasie, antivirale middels, ens), te weerstaan sodat hierdie middels nie meer effektief is om infeksies te voorkom of te behandel nie.
  • Deurlaatbaarheids- en retensie-effek (DRE): ’n Biologiese verskynsel waartydens nanodeeltjies en makromolekulêre geneesmiddels selektief in tumorweefsel ophoop as gevolg van die verhoogde deurlaatbaarheid van tumorbloedvate en die beperkte limfatiese dreinering van die tumor.
  • Fisies-anorganiese chemie: ’n Subdissipline van chemie wat beginsels en metodes uit die fisiese chemie gebruik om die struktuur, eienskappe, reaktiwiteit en bindingsgedrag van anorganiese verbindings te bestudeer.
  • Fotodinamiese terapie (FDT): ’n Minimaal indringende mediese behandelingsmetode waarin ligsensitiewe verbindings (fotosensitiseerders), deur lig van ’n spesifieke golflengte geaktiveer word om sitotoksiese reaktiewe suurstofspesies te vorm wat kanker- of ander siek selle vernietig.
  • Fototoksiese spesies: Hoogs reaktiewe molekules of vryeradikale chemiese verbindings wat skadelik of giftig word wanneer dit deur lig (UV- of sigbare lig) geaktiveer word. Hierdie spesies het ’n lewensduur van ’n paar mikrosekondes en kan slegs 10 tot 55 nanometer beweeg voordat hulle onaktief word.
  • Ftalosianiene: Sintetiese makrosikliese (ringvormige) organiese verbindings wat intens blou of groen gekleur is. Hulle is chemies stabiel, hitte- en ligbestand, en absorbeer rooi/naby-infrarooi lig wat hulle in staat stel om energie oor te dra om reaktiewe suurstofspesies te skep wat tumor- of mikrobiese selle vernietig.
  • Goudnanodeeltjies: Uiters klein deeltjies goud (ongeveer 1–100 nm) met unieke fisiese, chemiese en optiese eienskappe. Weens hulle grootte dra hulle medikasie of fotosensitiseerders direk na die gewas toe, en wanneer lig die gouddeeltjies tref, begin die elektrone op die oppervlak skud, wat die lig verstrooi. Sodoende kan die aangehegte fotosensitiseerders meer fototoksiese spesies genereer wat die tumorselle vernietig.
  • Kwantumkolle: Submikroskopiese, kunsmatige halfgeleiernanokristalle met ’n deursnee van tussen 2 en 10 nanometer. In kankerbehandeling word kwantumkolle aan ftalosianiene gekoppel om fototoksiese spesies te genereer. Omdat hulle lig uitstraal en bestand is teen fotobleiking, is hulle in staat om die presiese ligging en verspreiding van kankerselle in die liggaam op te spoor, te teiken en te behandel.
  • Makrosikliese verbindings: Groot ringvormige organiese of anorganiese molekules wat uit verskeie atome bestaan en ’n holte bevat waarin atome of metaalione kan verbind. Hierdie verbindings verhoed dat die metale in die liggaam vrygestel word en toksisiteit veroorsaak. Wetenskaplikes kan die binneste deursnee van die ring chemies manipuleer en daardeur die grootte van die metaalioon of medikasiemolekule wat verbind word, beheer. Die dubbelbindings maak die molekule bestand teen ligdegradasie, wat dit in staat stel om die funksie (soos die generering van fototoksiese spesies) herhaaldelik uit te voer. Makrosikliese verbindings word gebruik as fotosensitiseerders (FDT) of as molekulêre draers in geneesmiddelaflewering.
  • Nanometer (nm): Een miljardste van ’n meter (10⁻⁹ m).
  • Nanosintese: Die doelbewuste chemiese of fisies-chemiese proses waarin twee of meer chemiese elemente of eenvoudige verbindings gekombineer word om ’n nuwe, meer komplekse stof of materiaal te vorm. In nanotegnologie en fotodinamiese terapie (FDT) word chemiese reaksies gebruik om atome of molekules aan mekaar te las vir die skep van komplekse makrosikliese verbindings (soos ftalosianiene), die kweek van kwantumkolle, of die reduksie van goudione om goudnanodeeltjies te vorm.
  • Nanovesels: Baie dun veselagtige nanostrukture met ’n deursnee in die nanoskaal wat unieke fisiese en chemiese eienskappe vertoon as gevolg van ’n hoë lengte-tot-deursnee-verhouding en ’n enorme oppervlakarea per eenheid massa. In nanotegnologie en moderne medisyne word nanovesels vervaardig hoofsaaklik deur ’n elektriese veld wat polimeeroplossings, of mengsels van metale of nanodeeltjies, in ultradun drade spin. In FDT-konteks word nanovesels gebruik om fotosensitiseerders (bv ftalosianiene of metileenblou) te dra en stadig en beheerd vry te stel of om chemiese reaksies met uiterse doeltreffendheid deur lig te bestuur.
  • Porfiriene: Natuurlike makrosikliese verbindings wat metaalione, soos yster, magnesium of sink, kan verbind. Porfiriene speel ’n sleutelrol in hemoglobien (die suurstofdraende proteïen in bloed) en in chlorofil (die groen pigment in plante wat fotosintese moontlik maak). As gevolg van hul sterk ligabsorberende eienskappe kan hulle die energie van lig opneem en oordra, wat hulle ideaal maak om as fotosensitiseerders in FDT gebruik te word.
Inligtingsbronne 

Inligting is hoofsaaklik bekom van Nyokong self en haar persoonlike assistent, Gail Cobus. Addisionele bronne wat geraadpleeg is, sluit in:

Forbes Woman Africa. 2015. From shepherd to scientist. https://www.forbesafrica.com/woman/2014/06/01/from-shepherd-to-scientist.

Jackson, A. 2014. Distinguished South African Professor Tebello Nyokong on science, education and innovation. http://blogs.nature.com/soapboxscience/2014/10/13/distinguished-south-african-professor-tebello-nyokong-on-science-education-and-innovation

Kinfu, KA. 2023. From herding sheep to leading science: the remarkable journey of Professor Tebello Nyokong. The Africa I know. 22 November 2023. https://www.theafricaiknow.org/features/Tebello-Nyokong.

Kunene, O. 2026. Distinguished Professor Tebello Nyokong and the legacy of knowledge creation. https://www.ru.ac.za/latestnews/dear_prof_nyokong-1.html.

McMasterNews. 2021. Fall 2021 Convocation: Meet honorary degree recipient Tebello Nyokong. 26 November 2021. https://news.mcmaster.ca/fall-2021-convocation-meet-honorary-degree-recipient-tebello-nyokong.

Nyokong, T. 2011. Tebello Nyokong’s letter to her 18-year-old self. Scienceclubforgirls.wordpress.com.

Nyokong, T en I Gledhill. 2013. The use of phthalocyanines in cancer therapy. AIP Conference Proceedings 1517(1): 49–52.

Nyokong, T, BP Ngoy en EK Amuhaya. 2021. Overcoming hurdles facing researchers in Africa. Nature Materials, 20(4):570. 

SA People. 2017. Legendary South African scientist wins excellence award. https://www.sapeople.com/education/legendary-scientist-inspires-students-excellence.

Subramanian, A. 2021. 5 African scientists we need to celebrate. Funtimes Magazine, 31 Desember 2021.

The Division of Communication and Advancement. 2026. Nanotech pioneer Prof Nyokong to receive sixth Honorary Doctorate. https://www.ru.ac.za/nanotechnology/latestnews/nanotech_pioneer_prof_nyokong_to_receive_sixth_honorary_doctorate_.html

The formation of DSI/Mintek NIC. 2025. https://www.ru.ac.za/nanotechnology.

Women in science. 2023. Prof Tebello Nyokong: Pioneering chemist and inspirational educator shaping the future of cancer treatment and nanotechnology. 15 August 2023. https://www.womeninscience.africa/prof-tebello-nyokong-pioneering-chemist-and-inspirational-educator-shaping-the-future-of-cancer-treatment-and-nanotechnology

Lees ook:

Dassiemis, klipsweet en vlermuisguanoen: Wie is navorser Louis Scott?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top