Kristel Loots: Liefde nie net vir jong bloed nie

  • 0

Kristel Loots (Foto deur Lettalie Kemp, l'Atelier Photography Studios & Gallery)

Carla van der Spuy het by Kristel Loots gaan kuier. Hier is hulle gesprek.


Kristel Loots se skryfstyl is al beskryf as “plesierig, tong in die kies, loslit, byderwets en snaaks.” Ander noem dit “chic lit”.

Kristel lag maar net. Sy skryf om te vermaak. Tog is sy bekend vir die empatie en die hope wysheid waarmee haar stories vertel word. Die ander ding wat jy ook maar kan weet van haar werk: Die liefde laat hom nie net tot bruisende jong bloed beperk nie.

Kristel Loots is die skrywer van meer as 40 boeke waarvan Sjokoladesoene en Lemoenseisoen onlangs ’n baie goeie resensie deur Juliana Coetzer op LitNet gekry het.

Soetkoekies en brandewyntertjies

In die gemelde resensie sê Coetzer: “ʼn Heerlike, smaakvolle stuk erotika maak deel uit van haar boeke.”

Dít het Kristel effens laat bloos.

Sý sê: “Die lyflike is so deel van elke vrou se lewe en speelsheid, selfs ’n tikkie roekeloosheid, maak maklik van ’n soetkoekie ’n brandewyntertjie met heelwat meer skop en smaak in. In elke kuise vrou skuil daar ’n flirt wat net wag vir die regte geleentheid en die regte man om haar flikkers voor te gooi en die mag van vrouwees te gebruik – of misbruik.”

Biografiese agtergrond

Kristel Loots het as ’n met die wind in haar hare as “klipgooier” grootgeword in die Oos-Kaapse dorpie Despatch, daar waar sy die stofstrate platgetrap het.

Haar gesin is as ietwat “anders” beskou.

Haar vriendelike, vrolike predikant-pa, van ’n effens volksvreemde kerk, was geseënd met ’n basuin van ’n basstem wat ver bo ander gehoor kon word.

Ná haar studies het sy by die boomryke Krantzbosch Bosboustasie naby Knysna begin skoolhou. Operasie Manvang het toe in alle erns begin. Draaie in Oos-Londen en Kaapstad het gevolg; sy het eers in Kimberley sukses behaal. Twee telge is uit die verbintenis gebore.

Haar inspirasie

Haar ma was tog so lief vir skryf. Op enigiets van ’n Croxley-skryfblok vir spesiale briewe, tot oefeningboeke het sy notules vir vele Vroueverenigingsvergaderings geskryf, prekies en praatjies vir die sustersbidure, treffende Bybelversies, inkopielysies en herinneringe aan haar skooldae.

Kristel het by haar ma aangesteek die oomblik toe sy ’n potlood kon vashou.

Hoewel sy glo op skool ’n taamlike bleeksiel was, sou ’n mens dit nooit kon raai as jy haar dagboeke van destyds kon lees waar haar verbeelding vlerke gekry het nie. Daarin is elke ervaring as ’n avontuur opgetower.

Veel later, by ’n ATKV-skryfskool, was dit vir haar ’n voorreg om Petra Müller as ’n groepsleier te hê.

Skryfproses

Dis toe haar kinders by die voordeur uit is, die wye wêreld in, dat sy eers die tikmasjien en later die rekenaar begin nadertrek het. “Hoofsaaklik om my gedagtes besig te hou sodat ek my nie so baie oor hulle en alles anders sou bekommer nie.”

Daar oorval die euforie van stories vertel haar toe behoorlik.

Die magic daarvan bekoor haar nog elke keer wanneer daar een van haar boeke gebore word. Niemand is meer verbaas en dankbaar daaroor as sy sélf nie. Sy beskryf dit as ’n "Blessing from Above".

Dit was Cecilia Britz, wat as die verhaalredakteur van Huisgenoot  haar kop in die rigting van liefdesverhale laat draai het, eers met kortverhale vir die tydskrif en later vir die Romanza-reeks waarmee LAPA sulke groot sukses behaal het. Hieruit het die skryf van liefdesromans gespruit, ’n genre waarin Kristel haar steeds bevind.

“Die stories wat skree om vertel te word, tuimel oor mekaar in my kop, maar dis nie altyd maklik om met die pynlike, maar ook prettige en plesierige proses te begin nie.”

Kristel glo dat die muse en verbeelding tweelingsusters is. Beide is nodig om woorde aan ’n storie te gee en sy vermoed Joshua Foer het oor haar skouer geloer en toe die volgende geskryf het: “One of the great challenges of our age, in which the tools of our productivity are also the tools of our leisure, is to figure out how to make more useful those moments of procrastination when we’re idling in front of our computer screens.”

Dis nou wanneer sy nog één keer na iets nuuts op Facebook gaan soek het en doodseker gemaak het daar is nie intussen vir haar e-pos afgelewer is nie, dan pak sy uiteindelik haar manuskrip. Maar net totdat die volgende SMS deurkom …

Stokperdjies en belangstellings

Kristel het ’n draai by die Toast Master’s Klub in Bellville gemaak waar die lede in openbare optrede afgerig word en beurte moet maak om toesprake te lewer. Om ’n gehoor te hê wat uitgelewer aan haar moet sit en luister na wat sy ook al in haar toespraak kwytraak, is volgens Kristel ’n voorreg wat nie veel vroue beskore is nie.

Dan sluit sy ook soms by die Goodwoodse Leeskring aan en verstom haar aan die leeslus en geesdrif wat daar onder die lede heers. “Om nie te praat van die lekker versnaperinge wat gewoonlik na die tyd bedien word nie. Par excellence!”

Prestasies

Sy het ’n ATKV-woordveertjie gewen vir Eendagmooi en die opvolgboek, Die ander vrou, is die jaar daarna as ’n finalis vir die Woordveertjies aangewys.

Haar gunstelingskrywers:

Kristel lees taamlik lig, min of meer die soort boek wat sy self ook skryf.

Jilly Cooper, met haar tong stewig in die kies, is ’n besliste gunsteling; asook Marian Keyes, wat sy dink daarin slaag om ernstige temas met fyn beskrywings en ’n tikkie humor aan te bied. Sy hou ook van Adele Parks en ’n verskeidenheid Britse skrywers, veral dié wat liefdesverhale met ’n humoristiese aanslag skryf.

Sy sonder nie graag Afrikaanse skrywers uit nie, maar hou van enigiets wat voel "asof dit waar kan wees".

Haar gunstelingboeke:

  • Jilly Cooper se “beginnerboeke” soos Bella, Imogen, Harriet en Octavia.
  • Marian Keyes se Sushi for Beginners.
  • Alta Cloete se jongste boek, Opdrag van oorkant.

Haar gunstelingaanhaling uit ’n boek

“Why do writers write? Because it isn't there.” Thomas Berger.

’n Gunstelingaanhaling uit een van haar eie boeke

In Eendagmooi staan: “Sy voel miskien nooit besonder kosbaar of waardevol nie, maar sy voel altyd nódig. Soos ’n elektriese implement wat die lewe vir ’n mens makliker maak. Iets wat, soos die Kama Sutra, met instructions for use kom. Soos ’n broodrooster wat vier snye brood gelyktydig brosbruin kan rooster of ’n mikrogolfoond waarin dinge vinnig warm of gaar kan kom.”

Volg Kristel Loot op die sosiale media

Facebook: https://www.facebook.com/kristel.loots

Twitter: https://twitter.com/mwloots

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top