Kortliks met Stefaans: My top-8-boeke van 2025

  • 0

Almal soek Kersfeesleesstof of -presente. Hier is my top-8-boeke van 2025. Ek het my keuse uit alle genres waar ek vanjaar gekuier het saamgestel. Uiteraard bestaan my lys uit Afrikaanse en Engelse boeke. Omdat ek nie appels met piesangs probeer vergelyk nie, verskyn my keuses in geen spesifieke volgorde nie, buiten nommer 1. Bloot omdat dit my gunstelingboek van 2025 was.

8

Skrywer: PEN Afrikaans/LitNet
TitelKyk hoe ver het ons gekom

Joanne Hichens het met haar reeks Short. Sharp. Stories iets soortgelyk as die Woordfeesbundel geskep. Ek sien elke jaar na hierdie bundel uit. (Hou asseblief my indruk op LitNet dop.) Hichens se mees onlangse bloemlesing, Power, was weer eens ’n wenner. Elke verhaal in Power is ’n waardige toevoeging tot die geheel. Elkeen maak my jaloers – ek wens ek kon so goed skryf.

Luca se bundel inspirasie-kortverhale, Stories vir die siel, het my opnuut geïnspireer. Plek-plek laat huil. Al lees jy net Pieter van Zyl se kortverhaal, “Boom van voëls”, was dit R300 well spent. Maar daar is meer: Irma Steffens, Michelle Venter, Bettina Wyngaard, Elize Parker en natuurlik ek. My kortverhaal oor die doodstraf, “Kruis teen die muur”, is in 2001 in die tronk geskryf en “Glo net” is intussen tot ’n vollengte roman verwerk. As ek dit kan doen, wat keer jou? Lees en skryf.

Die Sandy Schoeman- en Woordfees-kortverhaalkompetisie is reeds aangekondig – skryf in!

Maar dit is PEN Afrikaans se 57 kortverhale wat op LitNet geplaas is, wat vir my vanjaar uitstaan. Afrikaans het moerse groot talent; kyk sommer na Huisgenoot en Rooi Rose se gehalte en besluit vir jouself. Die gekeurde verhale is gratis, jy kan dit hier lees.

7

Skrywer: Nicole Engelbrecht
TitelBare bones: cold cases from True Crime South Africa
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781776193363

Die statistieke van onopgeloste moorde oor die afgelope dekade moet skrikwekkend wees. Om nie eens te praat van vermiste persone wat nie deel vorm van die SAPD se statistieke nie. Dit is die tema van Nicole Engelbrecht se vierde publikasie. In die wêreld van waremisdaad het sy geen bekendstelling nodig nie. Sy gee immers die toon in hierdie genre aan. Die boek is ook in Afrikaans beskikbaar.

6

Skrywer: Karin Mitchell
TitelThe High Treason Club: the Boeremag on trial
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776392162

Die niefiksie-afdeling was vanjaar besonder indrukwekkend. Dink byvoorbeeld aan Attacking the heart of apartheid (Yunus Carrim) en Death in Pretoria (Peter Auf der Heyde). Maar Karin Mitchell se boek oor die Boeremag was vir my ’n hoogtepunt. Veral in ’n jaar waar plaasmoorde en vlugtelinge internasionaal onder die vergrootglas geplaas is. Ek het in my resensie alles gesê wat ek wou, nou wil ek net sê: Koop die dêm boek. En hopelik is daar volgende jaar meer mense wat Versoenings- en Erfenisdag gedenk.

5

Skrywer: Onke Mazibuko
TitelCanary
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776381036

Ek koop so ’n klein bietjie meer plaaslike Engelse fiksie en minder internasionale stemme. Natalie Conyer se Present tense en Gareth Crocker se Now you suffer staan beslis vir my uit. Maar Onke Mazibuko se Canary was next level. ’n Versamelstuk. Nie net oor die onderwerp (fluitblasers) nie, maar veral oor die skrywer se sterk stem. Die boek is die produk van sy doktorsgraad in kreatiewe skryfwerk. Voeg daarby die skrywer se ondervinding in sielkunde en jy het ’n naelbyter. Maar dit is veral hoe Mazibuko beeldspraak inspan om die spanningslyn te verskerp wat my bybly. Dit is hoe ek wil skryf.

4

Skrywer: Elsa Winckler
TitelOm Karolien te beskerm
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779870780

Romanza Inspirasie was ’n groot sukses, net soos die Romanza Stoom-boeke.

Elsa Winckler se Om Karolien te beskerm is my eerste Romanza Spanning. Ek het meer cozy as Romanza verwag – my skuld, ek is mos ’n skop-skiet-en-donner outjie. Selfs hier is die spanning meer emosioneel. Winckler is ’n meester in die woordkuns. Ek het my so geniet – jip, daai chemiese reaksie wat jou laat goed voel. Ek het dit selfs oorweeg om ’n cozy te skryf. Of ’n Romanza Spanning!

Ek sien uit na die volgende Romanza Spanning – veral as Winckler of Malene Breytenbach se naam daarop pryk. (Sorry, as ek ’n naam uitgelaat het, ek is nie ’n Romanza-kenner nie.)

3

Skrywer: Erla Diedericks
TitelBonsaimeisies
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781779860262

Erla Diedericks skryf my bang. Regtig bang. Dis al.

2

Skrywer: Jaco Wolmarans
TitelSekelmaan en Donkermaan
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624093237 en 9780624095569

Ek twyfel of enige krimi vanjaar langer op die Nielsenlys se top-20 was as Marie Lotz se Nagdier. Sy het haar stewig gevestig as die koningin van misdaadfiksie. PP Fourie het met Die dood van Rachel April iets vars in Afrikaans geskep. Maar dit het ons mos verwag. Wat ek nie verwag het nie, was Wilna Roux se Die ooggetuie (hof) en Marieta Carrick se Bloed van ’n vlinder (medies). Nog minder Jaco Wolmarans se tweeluik, Sekelmaan en Donkermaan. Dit – hel, ek kan nie uit die twee kies nie – is sonder twyfel die kragtigste spanningsverhale wat ek in dekades gelees het.

1

Skrywer: Louise Viljoen
TitelToevlug
Uitgewer: Luca
ISBN: 9781779880185

Dit is die eerste jaar dat ’n krimi nie my gunstelingboek van die jaar is nie – dit op sigself sê alles.

Christelike literatuur – inspirasiefiksie – volg ’n patroon. Meestal is dit vir hierdie leser boring.

Elize Parker verpak van haar boeke doelbewus anders. Sy het die fondament vir vanjaar se twee uitskieters gelê. Jaco Strydom se Daka en Louise Viljoen se Toevlug. Beide skrywers (en Parker) het my geïnspireer om self iets in hierdie genre neer te pen. Kom ons hou duim vas.

Toevlug open met geweld op die ergste vlak. Dink aan Robert Ruark se Uhuru en Joseph Conrad se Heart of darkness. Maar dit is nie wat die boek vir my laat uitstaan onder die 2025-publikasies nie – krimiskrywers ken geweld. Wat hierdie leser aangetrek het, is Viljoen se vermoë om rou oor seer en trauma te skryf. Amper asof sy uit persoonlike ondervinding geskryf het. En dan bou sy op hierdie emosies. Die lewe gebeur op Woensdag – Sondag se preek lankal vergete; Toevlug gee vir daardie stormdae hoop.

Bonusboek

Skrywer: Sam-Annique Lowry
Titel: Forever yours
Uitgewer: Naledi
ISBN:
9781067234928

Ek het vanjaar 25 resensies, 11 profielonderhoude en -artikels, asook twee boeke geskryf. Maar dit het alles saam nie vir my soveel vreugde besorg as Sam-Annique Lowry se roman, Forever yours, nie. Sy het my geleer: Dit gaan nie oor wat jy in die lewe bereik nie, maar wie jy help om húlle drome te bereik. Koop hierdie boek vir jou dogter (lees dit eers self) en bedank my eendag.

Wat is op my bedkassie?
  • Piet van Rooyen – Hinterland
  • Marcell A Greeff – Trompie en die Kruger geheim
  • Mike Nicol – Falls the shadow
  • James Fouche – Gray
Lees ook:

Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie

Wanneer jy deur God verlaat voel ... Toevlug deur Louise Viljoen: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top