Kook & Geniet: ’n onderhoud met Eunice van der Berg

  • 6

’n Nuwe program op kykNET vestig Suid-Afrikaners se aandag op ’n kookboek wat almal ken. Eunice van der Berg, een van die dogters van Kook & geniet-skrywer SJA de Villiers, is ook in hierdie program te sien en gesels met Naomi Meyer oor dié alombekende boek.

Eunice, jou ma se boek Kook & Geniet is in talle Suid-Afrikaners se kombuise. Vertel my asseblief van jou vroegste herinneringe aan jou ma: speel hierdie geheueflitse af in ’n ruimte soos die kombuis?

My vroegste herinnering aan my ma is nie in die kombuis nie, maar wel aan die bedrywige huishouding met wasgoed was en ander huishoudelike dinge. My ma het ook baie tyd aan admin bestee, omdat sy K&G self uitgegee en versprei het. Smiddae het sy in die sonkamer (waar sy ook naaldwerk gedoen het) op ’n divan gerus en ek het agter haar rug ingekruip. Hier het sy my op vyf jaar leer horlosie lees.

Het jou ma op haar eie gekook, was dit ’n gesinsaktiwiteit? In watter mate is jy, jou suster en dalk jou pa betrek by kosmaak?

My ma het nooit op haar eie gekook nie. Ons huishulp, Florina Scheepers, was baie goed deur my ma opgelei om volgens haar instruksies te kook. My pa het skaars vir homself ’n koppie tee kon maak, maar het gereeld kort voor ete ’n vooraf proefie in die kombuis kom haal. Een van my groot plesiere was om vir hom ’n lekkerny te maak, maar verder het ek en my suster, Heleen, nie veel bygedra tot die maaltye nie. Kosmaak was beslis nie ’n gesinsaktiwiteit nie.

Toe jy die huis verlaat, het kosmaak saam met jou gegaan? En was dit jou eie resepte, of jou ma s’n?

Dit was vir my beslis heerlik om my eie kombuisie te hê en voel-voel te begin kook. Natuurlik het baie van my agtergrond van my ma gekom, maar ek het ook huishoudkunde gestudeer en moes in my tweede jaar ’n kookkunsmodule volg. Die kursus was op ’n eksperimentele basis gegrond en het my later baie goed te staan gekom toe ek my ma begin help het met Klein Kook & Geniet, asook met die nuutste hersiening van K&G.

En het jy toe van kosmaak gehou? Was dit nog altyd vir jou ’n persoonlike vreugde? Vertel asseblief nog meer van jou eie vreugdes en genietinge in die lewe wat nie met kosmaak te doen het nie.

Ek was aanvanklik baie meer geïnteresseerd in tekstiele en ontwerp as in kosmaak. Die huishoudkundekursus het my blootstelling aan ’n hele klomp aspekte van ’n huishouding laat kry en ek het dit baie bevredigend gevind. Later, toe my kinders van die hand af was, het ek Afrikaans en Nederlands en Frans by die US geneem. Dit het my belangstelling in die letterkunde laat ontwikkel wat vandag vir my kosbaar is. Ek was ook baie lief vir koorsing. Ek het ’n ruk by Acama Fick in die Camarata gesing, en ook by Louis van der Watt in Canticum Novum.

Jy weet ook baie van boeke. Dink jy dat ’n roman en ’n resep raakpunte toon in dié opsig dat sekeres (boeke en resepte) die kanon haal, en dus belangriker geag word as ander? Watter resepte is na jou mening onontbeerlik vir Suid-Afrikaners?

In resepte is daar basiese dinge wat ’n mens moet baasraak en wat in baie ander resepte toegepas kan word. Ek glo nie dat ’n mens dit met ’n kanon in die letterkunde kan vergelyk nie. Verskillende kokke het verskillende voorkeure en style, net soos lesers verskillende boeke interessant of genotvol vind. As ek moet raai, sou ek sê dat iets soos bobotie, ’n oondgebraaide lamsboud en ’n lekker bredie die klassieke Suid-Afrikaanse geregte is. Daar bestaan egter verskillende resepte vir elk.

Wat is jou gunstelingresep? (Dit kan in Kook & Geniet wees, of jou eie!)

Dit is ’n vraag wat baie sal laat kopkrap – ook vir my. Uit K&G kan dit moontlik die ryk vrugtekoek of die kaas-soufflé wees, maar my K&G val vanself oop by die piesangbrood. Uit ander bronne is dit miskien basiliepesto of Jenny Morris se wilderys-en-gort-slaai.

Hoe belangrik is dit om eksak te wees as mens kook? Mense met ’n natuurlike aanvoeling vir kosmaak kan seker regkom sonder presiese afmetings of sonder om te veel ag te slaan op akkurate lesings, maar is dit ’n goeie idee om jou eie kop, eerder as die resep, te volg as mens wil hê dat ’n gereg moet slaag?

Dit is ’n interessante vraag. Met sekere geregte, soos ’n bredie of muesli of gestoomde groente, is dit nie nodig om ’n resep te volg as jy die metode eers onder die knie het nie. Met gebak, konfyt of ’n gereg wat moet stol, is dit egter baie belangrik dat die regte bestanddele in die regte verhoudings tot mekaar gebruik word. Dit is hier waar gesoute kokke steeds ’n resep nader trek. Dan verskil mense natuurlik in hul benadering tot kosmaak. Party wil nie gebind wees nie, terwyl ander ’n behoefte het om noukeurig af te meet. ’n Goeie idee is om ’n nuwe resep versigtig te volg en later die resep op eie inisiatief aan te pas.

Hoe het jy dit ervaar om deel te wees van ’n TV-program mbt Kook & Geniet?

Die TV-reeks is gemaak deur Riaan Badenhorst. Hy is verantwoordelik vir die styl en inhoud en Lise Swart was sy keuse vir aanbieder. Ek kon vir niks beter gewens het nie. Hulle het ons op ons gemak laat voel en alles het heel spontaan verloop. Uiteindelik is die reeks ’n wonderlike erkenning vir my ma se lewenstaak.

Lise Swart

Jy was die samesteller van die Klein Kook & Geniet, of hoe? Wil jy dalk iets hiervan vertel?

Ja, die geleentheid het in 1981 gekom toe my ma deur ’n uitgewer genader is om resepte vir ’n kinderkookboek te kies. Hulle sou dit dan oorskryf, afrond, laat illustreer en uitgee. Die kort storie is dat hulle nie ’n geskikte persoon kon vind om die skryfwerk te doen nie. Daarom het ek aangebied om die resepte te verwerk vir kinders. Ek het Klein Kook & Geniet nie beskou as my boek nie en was stom verbaas toe die eerste uitgawe verskyn en my naam saam met my ma s’n daarop staan. Dit was ’n onverwagte gebaar van erkentlikheid van my ma teenoor my.

  • 6

Kommentaar

  • Dankie tog vir Kook en Geniet. Gebruik nog myne (1973 druk) gereeld hier in Oostenryk waar ek woon!

  • Ek dringend opsoek na die eersste druk van die klein Kook en Geniet soos hier bo geadverteer. Waar kan ek een te koop kry?

  • Eunice van der Berg

    Jolanda, ek weet nie waar jy woon nie, maar Klein Kook&Geniet is gewoonlik by Exclusive Books en Wordsworth te koop. Enige boekwinkel behoort dit te kan bestel en binne ‘n paar dae beskikbaar hê. Hoop jy kom reg.

  • Ek is op soek na die blou-en-wit blokkies-buiteblad klein 'Kook en geniet'. Dit is die 1990-druk, as ek dit reg het. Het al probeer by boekwinkels, maar hulle het nog met niks vorendag gekom nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top