Koerante: sewe heildronke … en ’n huildronk

  • 2

Laat ons die lewe van papierkoerante vier met ’n terugblik wat op hul roemrykste prestasies konsentreer. Glorie-oomblikke was daar in beter dae, en voorspoediger tye immers talryk.

Dit sou ’n onreg wees om buitengewone bakens, wat so onlangs soos die einde van die vorige eeu behaal is, net stil-stil in vergetelheid te laat wegsink.

Laat ons vir die viering ons allerbeste uit die kelder gaan haal en ons fynste kristal te voorskyn bring. Laat ons iets moois aanskakel om gepas te groet. Die nostalgiese “Auld lang syne” sou die keuse kon wees, ook Andrea Bocelli se “Time to say goodbye” of, heelwat ligter, “Those were the days, my friend” van Mary Hopkin.

Koeranteglorie is nie net te vind in hoogtepunte wat gemeet kan word aan scoops en ander magtige joernalistieke dade nie. Ook nie net in treffervoorblaaie, blitsuitgawes en waardevolle bylaes, of in invloed, status, pryse en bekronings nie.

Nee, juis ook op daardie terreine wat vir hulle in ’n fase van agteruitgang toenemend ’n struikelblok geword het, was hoogtepunte: in leserstalle, sirkulasies en winste; in die harde syfers en grafieke wat in direksiekamers dikwels die deurslag gee.

Heelparty uitskieterprestasies van daardie aard is in vergeelde jaar-, balans- en ander state in opgestapelde bokse in kluise opgeteken. Die veeleisendste direksies en mees ambisieuse besture (en hardvogtigste rekenmeesters!) in vorige tye moes uitermate verheug gewees het.

Op minstens sewe daarvan in die vorige halfeeu – die presiese bestaan van die dagblad Beeld wat 50 jaar gelede, in 1974, gestig is – kan onbevange by die afskeid glasies geklink word. Hulle word in chronologiese volgorde besoek:

Sewe heildronke

1974

Rapport-fees: Kom vier saam fees. So het Rapport mense na sy week lange 500 000-fees genooi.

Rapport behaal ’n sirkulasie van 500 000; die eerste (en seker ook laaste?) Suid-Afrikaanse publikasie wat dit regkry.

Die koerant vier die baken met ’n koerantefees soos tevore en agterna nooit gesien is nie: ’n 500 000-sekonde-party van ses dae en ses nagte aaneen in die weelderige Presidentsuite van destyds Johannesburg se spoghotel, die Carlton.

Dit is gereël deur die destydse hoofbestuurder van Rapport, Tobie Boshoff, ’n man wat nie klein gedink het nie.

1980

Spotprent: Die koerantstryd in die Noorde is gewonne; Die Transvaler is uitgeknikker en Beeld wen die taai stryd stormenderhand. Vir Lang David de Villiers ’n heuglike oomblik. Hy gooi sy arms triomfantelik in die lug.

Beeld kry sy neus voor ná ses jaar, dit ná ’n langer as verwagte vestigingstryd. Hierdie vaandeldraer van die toe nog Nasionale Pers se droom om ook die Noorde te verower, word die Afrikaanse dagbladkoning in Johannesburg.

1983

Beeld raak die enigste Afrikaanse dagblad in Johannesburg; en nie lank daarna nie in die ganse Noorde.

Koerantvoorblad: In 1983 breek Beeld deur 100 000.

Die blad, nog nie 10 jaar oud nie, breek deur die 100 000-sirkulasiekerf – die eerste Afrikaanse dagblad wat dit regkry – en styg uit tot die grootste van die spesie in die land met ’n sirkulasie van tot 116 000 op sy hoogste. Hy word mettertyd in vyf provinsies versprei: Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en die Vrystaat. 

In 50 vrugbare jaar bou hy ’n merkwaardige geskiedenis, soos opgeteken in sy blitsverkoperhalfeeuboek, Beeld 50 – Om die groot storie hard te slaan, met samesteller Erika de Beer.

1993

Die drie susterkoerante van die Nasionale Pers, Beeld, Die Burger en Die Volksblad (toe nog met die Die vooraan), bereik miljoenêrstatus met hul gesamentlike lesertal (nie sirkulasie/verkope nie).

Hulle spog met 1 004 000 lesers, volgens die jaarlikse leseropname deur die onafhanklike organisasie Amps.

1996 (i)

Die koerantsektor wen die DP de Villiers-trofee – ’n gesogte huishoudelike prys vir die beste presteerder in die Nasionale Pers. Dit is weens blink vertonings oor die spektrum, veral die wins wat snel opskiet.

Aan die begin van die ’90’s was die wins R6 miljoen. Gou was dit R20 miljoen. Toe word dit R40 miljoen. Daarna klim dit in 10 miljoene tot oor die R70 miljoen, nogal ’n aardige profyt daardie tyd. In koerantgange word gejubel.

1996 (ii)

In hierdie goue jaar vir koerante verwerf Die Burger voorts die markleierskap in die Wes-Kaap – ’n ideaal wat in ’n stadium amper onbereikbaar gelyk het. Sy weekdagsyfer styg tot 76 000 en sy Saterdagsyfer tot oor die 100 000.

Koffiebeker: Die Burger word die grootste in die Wes-Kaap en vier dit met ’n koffiebeker wat die nuus uitgalm.

Om dié doel te bereik, word ’n tamaaie voorsprong van die Cape Argus stelselmatig weggevreet. ’n Jaar tevore was Die Burger nog 16 000 agter, twee jaar vroeër 28 000, en drie jaar vroeër 34 000.

Die Burger (Oos), Afrikaanse spreekbuis vir die Oos-Kaap ná sluiting van Oosterlig in 1993, verdubbel sy sirkulasie in drie jaar ‒ ’n unieke groeilyn in die geledere van alle Suid-Afrikaanse koerante. In 2008 steek Die Burger se twee uitgawes, Oos en Wes, soos Beeld tevore, saam die 100 000-kerf verby. 

1997

Net ’n jaar later gee Die Burger en Beeld hul Engelse mededingers nog ’n opstopper. Hulle word die markleiers in die primêre fokusgroep vir adverteerders, die wit, bruin en Asiër-lesers, volgens Amps. Hul ontnugterde mededingers kan net in ongeloof hul wonde lek.

Hoe het die groei plaasgevind?

Dagblaaie het nooit so flambojant feesgevier oor sirkulasiepieke soos Rapport in 1994 nie. Hulle mag egter ook spog. Selfs Die Volksblad, die oudste maar kleinste van die drie met Bloemfontein as kleiner magsbasis (en met ’n totaal van 13 redakteurs vir die groep, dus meer bekend as redakteursfabriek), het in goeie tye aan die 40 000 gevat. (In 1973 was hy ’n keer oor.)

Bepaalde kragte moet daardie verrysenis van Afrikaanse koerante in die ’90’s gedryf het. Vir eers is Afrikaanse lesers “duidelik deur die Afrikaanse gemeenskap getroetel”, soos persbaas Ton Vosloo dit in sy voorsittersverslag van 1997 gestel het.

Lesers het dit duidelik goed gevind om ’n vertroude koerant te lees wat in hul eie taal en ooreenkomstig hul eie waardes die nuus van die dag oordra en vertolk. Selfs baie mense wat in die Afrikanerstryd van die ’80’s na regs weggedryf het, het dankbaar die ou band hervat.

Bruin lesers het in ’n hoë tempo bygekom, veral in die Wes-Kaap, waar meer as 50% van Die Burger se lesers van toe af al uit daardie groeiende mark kom.

Waardering het steeds ook oor die hele spektrum van lesers gegroei vir die koerante se waghondrol, veral teen al die nuwe vorme van wanbestuur en korrupsie van ’n nuwe politieke bestel.

Adverteerders het terselfdertyd die Afrikaanse koerante, die dagblaaie en Rapport, herontdek as doeltreffende kanale na die Afrikaanse verbruiker se beursie. Nuwe steun aan alle fronte het die sirkulasiesyfers en omsette gebring wat broodnodig is vir topklas dienslewering.

Gedugte spanne vakmanredakteurs en -bestuurders het gesorg vir goeie diens: Redakteurs het toenemend daarin geslaag om hul produkte vir al hoe meer lesers onmisbaar te maak, en bestuurders het in ’n kragtige spanpoging die regte fokus, doeltreffendheid en kookwaterbemarking bygedra.

Ook op almal van daardie spannetjie wat nog in lewe is, kan mense wat koerante waardeer en liefgehad het, met vrymoedigheid ’n glasie klink wanneer hulle die verdwynende era in hierdie somber week in herinnering roep.

Lig die glas!

Piet Cillié – die “grootste Nasperser”, volgens Vosloo – had ’n skatkis vol stories, nommerpas vir elke okkasie. Hy sou beslis by hierdie afskeid van ’n era ook iets uit die sak kon geskud het.

As ek moet raai, sou hy sy teksvers dalk gaan haal het by die reaksie van ’n Amerikaanse redakteur nadat Eric Louw, veglustige minister van buitelandse sake in die ’50’s, die New York Times in die parlement afgeransel het.

Cillié het die redakteur, ene Archimbeaud, gevra: “Wat dink u van die aanval?” Sy antwoord: “The New York Times is an institution. Mr Louw is just a passing phase.”

Die gewone Cillié-snorklag sou op die storie volg, maar dié keer sou dit ’n snorklag sonder sy gewone lewensvreugde wees. Eerder ’n wrang, skaam laggie. Hier te lande het die “institution” dan nou wel die “passing phase” geword! Daarop sal ’n huildronk van pas wees.

Sewe heildronke en ’n huildronk dus. Laat hulle val waar hulle wil.

  • Alle beeldmateriaal verskaf.
Lees ook:

Hoekom my hart so bloei oor die koerante

Projek T en die verowering van die Noorde

Waagmoedige antwoorde: ’n lesersindruk van Ter wille van oorlewing, ideologie en geld­ deur Johannes D Froneman

Perspoësie en joernalisgedigte

  • 2

Kommentaar

  • Hennie van Deventer

    Digitale era. Nuwe generasie. Nuwe leespatrone. Ander bestuurfilosofie. Omgewing het ingrypend verander.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top