KOER lanseer Armand hoog in die app-mosfeer

  • 0

Armand Aucamp is nie net ’n suksesvolle akteur wat Suid-Afrikaners se harte laat galop nie. As entrepreneur spin hy goud met unieke projekte wat die Afrikaanse mark soos ’n handskoen pas. KOER, Armand se vlerksleep-toep, is die jongste onderneming wat uitsonderlik presteer. Melt Myburgh het met Armand gesels en die geheime van sakesukses binne die Afrikaanse mark probeer ontrafel.

 

Graansilo’s in Fort Beaufort

Toe Armand Aucamp ’n tjokker in Fort Beaufort was, het hy en sy broer sy ma se groentetuin wederregtelik ingevaar, spinasie geoes en dit teen R2 ’n bossie in die hoofstraat gaan verkoop. Digby Bokomo se reusegraansilo’s wat oor dié Oos-Kaapse dorp uitkyk, het die seuns Tinkies met “fabrieksfoute” spotgoedkoop in die hande gekry. Die sponskoekie-en-room-lekkerny is dan tydens pouses aan skoolmaats verkwansel. Teen ’n wins, natuurlik.

Dit was baie jare voordat Armand sukses as akteur sou behaal; lank voordat hy die bloudruk van die romantiese held in Suid-Afrikaners se psige geword het.

Dié sin vir entrepreneurskap is in die Aucamps se gene. “Van kleins af is daar altyd besigheidplannetjies beraam,” vertel Armand. “My pa is ’n fantastiese entrepreneur en is my inspirasie. Hy het in 1996 as professor in geskiedenis uit die akademie getree en op Stellenbosch ’n besigheid begin wat vandag nog operasioneel is. My pa is 72.”

Armand se ingebore sakevernuf het hom as volwassene uitstekend te staan gekom. “Ek is mál oor akteur wees, mál oor stories en die bedryf. Maar ’n mens móét bereid wees om verskillende hoede op te sit as jy ’n bestaan wil maak. Ek wil nie bloot oorleef nie, ek wil floreer.”

Hoede wat netjies pas

Daardie hoede waarvan Armand praat, het tot dusver elke keer netjies gepas. Die sukses van projekte soos die Armand kook kaal-kosboeke en KOER, die vlerksleep-app, dien as getuienis. Al dié ondernemings is vierkantig gebore en getoë binne die Afrikaanse mark, en voorsien in die unieke smaak en behoeftes van mense wat in Afrikaans dink en leef.

Binne 18 maande nadat KOER gebore is, het die app met meer as 50 000 gebruikers gespog, en dit is al meer as 80 000 keer op selfone wêreldwyd afgelaai. In ’n kort tydjie het dit ook ’n string toekennings verower: sewe Pendorings vir bemarking en as beste toepassing, die tweede plek in WAT se handelsmerknaamkompetisie, en ’n Tinteltong-toekenning as toepassing van die jaar.

Vandag is KOER een van die top Suid-Afrikaanse apps in beide Apple en Google se aanlyn winkels, en omdat dit so goed in die plaaslike mark presteer, word Armand en sy vennote genooi om insette by Apple en Google se aanlyn konferensies te lewer.

“Ons is oorbluf en voel supergeëerd dat ons werk vir soveel mense so baie beteken,” sê hy. “Van die begin af wou ons natuurlik hê dat ons voëltjie die nes moet verlaat en vlieg, maar ons het nie verwag dat hy teen só ’n tempo en met sulke krag die app-mosfeer sou bestyg nie!”

Liefde met Afrikaans in die hart

As akteur wie se sukses in die Afrikaanse omgewing ingebed is, is Armand se voelers gespits vir besigheidsmoontlikhede binne dié taalgemeenskap. Die sukses van KOER is te danke daaraan dat dit onbeskaamd fokus op ’n Afrikaanse ervaring vir Afrikaanse gebruikers. “KOER-lede het almal een ding gemeen,” sê hy. “Hulle soek na liefde met Afrikaans op die hart.

“Afrikaans in al sy vorme, kleure en geure, is vir my só opwindend. Ek bedoel, kyk maar net na wat reeds daaruit geskep is – films, teater, poësie, musiek, letterkunde, joernalistiek en nou apps. Die moontlikhede is eindeloos vir ieder en elk.

“KOER is ’n idee wat by my opgekom het in 2018,” verduidelik Armand. “Dit was asof ’n vonkie in my brein gespark het langs ’n braaivleisvuur in Johannesburg. Een van my enkellopende vriendinne het vir my gevra waarom dit so moeilik is om net ’n ordentlike Afrikaanse pasmaat te vind. Sy was eintlik op soek na ’n gawe boerseun en iets binne my het gesê: Daar is die idee!”

Voordat KOER op 1 September 2020 amptelik wêreldwyd van stapel gestuur is, is daar hard agter die skerms geswoeg. “’n Jaar, en baie oproepe, sketse, idees en gefrommelde papiere in die asdrom later, was ons op dreef.”

Die akteur het drie vriende, wat sedertdien vennote geword het, genader om te help om ’n app vir soekende Afrikaanse harte ’n realiteit te maak. Tydens die pandemie is koppe bymekaargesit en die projek is met mening gedryf. Met Armand se openbare profiel as ’n romantiese held wat in vroue én mans se harte ingekruip het, was dit vanselfsprekend dat hy die leisels met bemarking sou neem.

Armand en die Dit&Dat-span: Dewald van Zyl, Marteni Burger en Jacques Engelbrecht (Foto: Dit&Dat)

Omring jou met die beste

Maar sy benadering teenoor die onderneming is gegrond op ’n belangrike sakebeginsel: Omring jouself met bekwame mense. Daarom was die reklamespan van Dit&Dat, met Dewald van Zyl en Marteni Burger aan die hoof, van die begin af aan boord. Ook Jacques Engelbrecht as tegniese ontwerper en IT-spesialis. Dié span se Afrikaanse reklamekopie, grafiese ontwerp en konsepontwikkeling het gesorg vir die string pryse wat KOER reeds ingepalm het.

Die konsep vir die toepassing het behoorlik gestalte kry in die verlammende periode wat deur die COVID-19-pandemie ingelui is. “Toe die hele wêreld stil raak en binnenshuis verkeer, het ons ’n maatsoek-app gebou om mense met mekaar te verbind. En omdat ons die projek met soveel liefde benader het, het alles net sy plek gevind,” vertel Armand.

Tussen die harde werk deur was daar heelwat ligte oomblikke. Grappies soos “Ouma en oupa sit op die toep” was volop. “Maar in werklikheid sit die ontwikkeling, instandhouding en dag-tot-dag kommunikasie nie in elke man se broek nie,” sê Armand. “Dit verg absolute toewyding en positiewe energie op ’n daaglikse basis.”

KOER se vennote kom uitstekend met mekaar oor die weg, en soos wêreldburgers dinge deesdae doen, werk hulle van oral op die aardbol. “Selfs nog voor die pandemie het ons die konsep van afstandwerk onder die knie gehad. Marteni bly al vir meer as 10 jaar in Frankryk. Jacques woon in Douglas op die oewer van die Vaalrivier in die Noord-Kaap, en ek en Dewald woon drie spronge duskant die promenade in Kaapstad.”

Eerder op KOER as in ’n kroeg!

Daar is geen tekort aan suksesverhale van mense wat mekaar op KOER ontmoet het nie, en Armand-hulle word gereeld na verlowingspartytjies en troues genooi. “Ons kry daagliks briewe in ons inbus van paartjies wat hul KOER-kysverhale vertel. Mense wat gedink het hulle gaan opgee op die liefde. Mense wat ’n huweliksmaat gevind het, of ’n ware kans op ’n tweede liefde ontdek het. Paartjies waar die een persoon in Suid-Afrika was en die ander in Namibië of selfs Australië. En een wat sommer vanuit Kaïro vlerksleep met iemand in die Karoo!”

Nuwe moontlikhede wat deur ontwikkeling in tegnologie geskep word, maak die wêreld vandag soveel makliker en veiliger. ’n Entrepreneur wat sy sout werd is, sien daardie moontlikhede raak en omarm dit. Die volgende woorde van ’n vrou wat haar lewensmaat op KOER gevind het, resoneer by Armand: “As ’n 30-jarige vrou sal ek baie eerder sê ek het my man op KOER ontmoet as in ’n kroeg.”

As mens die werklikheid van die afgelope twee jaar in ag neem, sê Armand, is die kuberruim die plek waar mense nou mekaar die meeste ontmoet. Veiligheid en vertroulikheid is daarom kardinaal vir die sukses van ’n vlerksleeptoepassing. “Een van KOER se belangrikste uitgangspunte is dat dit ’n plek moet wees waar mense mekaar sonder bedreiging kan vind. Jy kan mos lekker rustig op jou rusbank sit en blaai en klets en mekaar behoorlik leer ken voor julle paaie fisies kruis.

“Wat ons wel aanraai, is dat mens maar (soos met enige iets in die lewe) op jou hoede moet wees wanneer jy ’n afspraak met iemand maak. Maar met KOER is jy tog altyd in beheer. Jy besluit wie, wat, waar, wanneer. Jy kan kies, keur en ’n tikkie flankeer!”

Hoewel ’n vryery aanlyn niks meer nuut is nie, hoor mens soms nog van Suid-Afrikaners wat ietwat huiwerig is. Gewoonlik is hulle bang dit is gevaarlik, of dat ander mense gaan dink hulle is desperaat. Armand het egter goeie raad: “Soos enigiets anders is dít wat jy nie ken nie, vreemd. Aanlyn verhoudings – en veral ontmoetings – is in 2022 nie meer taboe nie. Mense is soms dalk skrikkerig omdat hulle dit nog nie probeer het nie, of te bang is om ’n bietjie te waag.”

Ons ma’s moet veilig voel langs die internet-opsitkers

En vir dié wat vrees dat hulle desperaat mag lyk as hulle die internet-opsitkers brandsteek, het Armand troos: “Wel, dan is ons almal sáám desperaat. Of jy nou iemand op sosiale media, per e-pos, op ’n Zoom call of deur ’n nefie se nommer gekry het – dis tog maar alles aanlyn in die digitale era waarin ons leef. Daar is niks om te vrees nie. Die besluit bly in jou hande.”

Dit is eweneens belangrik dat mens die mark waarin jy jou produkte verkoop, deeglik ken. Armand het sy vinger op die pols wanneer dit by KOER-gebruikers kom. “Geen twee mense se profiele is dieselfde nie. Elkeen is anders sodat elke pot sy eie unieke deksel kan vind.” Tans behoort 52% van KOER se profiele aan vroue (alle seksuele oriëntasies ingesluit), en ongeveer 48% is dié van mans. Meeste lede is tussen 25 en 40 jaar oud. Sowat 85% van KOER-intekenaars identifiseer as heteroseksueel, en daar is lede met Engels en Frans as huistaal.

“Of jy straight, gay, transseksueel of ’n kleurvolle ongedefinieerde groot oop mens met ’n tjoklit-klop hart is, al wat ons almal tog soek, is ’n plek – ’n plek waar ons almal, sonder oordeel, ons kans op liefde en geluk kan waag,” sê hy.

Om ’n veilige aanlyn omgewing te skep en in stand te hou, verg omvattende beplanning en toewyding, en dinge moet deurentyd gemonitor word. KOER het streng huisreëls wat op ’n prettige manier vir gebruikers uiteengesit word. As jy nie wil KOER nie, kan jy “KOES”. En die toepassing word konstant dopgehou om walgworse en vuil uile weg te hou. “Ek moet sê die mense hou grootliks by die reëls,” vertel Armand. “Enige lid kan ’n onvanpaste of vreemde profiel rapporteer en ons stel so gou as moontlik ondersoek in.”

Die moontlikhede wat KOER aan gebruikers bied, is streng afgebaken volgens die behoeftes van die mark wat bedien word. Mense in saai verhoudings of droefgeestelike huwelike wat soek na skelm seksuele avonture – ’n los gelukkie hier, ’n groepswoeps daar – sal vind dat KOER die verkeerde bestemming is. “KOER is nie dáárdie soort platform nie,” waarsku Armand. “Daarvoor is daar verskeie ander apps en webblaaie waar jy sal regkom.

“Ons sê altyd ons ma’s moet veilig voel om te KOER.”

Dawie Kabouter en iets uit Kook en geniet

’n Kernbeginsel waarsonder KOER nie in die mark sou slaag nie, is dat dit maklik en aangenaam is om te gebruik. Selfs die oudste dinosourus wie se hart galop, sal regkom as hy of sy ’n slimfoon en internettoegang het. Jy laai die app gratis van ’n app-winkel af, registreer per e-pos, skep ’n profiel, spreek jou voorkeure uit, en tjoef-tjaf, die liefde lê om die draai en wag.

En baie belangrik: die produk moet bekostigbaar wees. Lede het toegang tot ’n beperkte aantal aksies op KOER per dag, en sodra die drif sy loop neem, kan onbeperkte toegang teen ’n skamele R69,99 per maand verkry word.

Vir Armand en sy span is die grootste beloning om paartjies wat op KOER geluk gevind het, te ontmoet. “Ons eerste KOER-verlowing (waarvan ons weet) was verlede jaar en dié paartjie is in April vanjaar getroud. Ons kry foto’s van ringe en uitnodigings, dankies en mense wat vertel dat hulle sommer hul vriendekring laat aansluit het sodat hulle self liefde kan vind.”

Die belangrikste voorwaarde vir ’n suksesvolle produk is natuurlik dat dit ’n behoefte aanspreek wat op min ander maniere bevredig kan word. “Een ding wat nie twee is nie,” sê Armand, “is dat almal na liefde soek. Elke mens smag na toenadering en vriendskap, ondersteuning en geluk. Wat ek geleer het, is dat Afrikaanse mense makliker liefkry en liefhet in hul hartstaal. Dis makliker om met iemand te gesels as hulle ook weet wie Dawie die Kabouter is en weet hoe smaak iets uit Kook en geniet.”

Vir voornemende entrepreneurs wat slaggate wil vermy, het Armand wyse raad wat hy uit dure ondervinding geleer het: “Maak seker alles is 100% op papier uiteengesit en deur alle partye aanvaar. Doen jou huiswerk. Maar wees ook bewus van wat jy kán en nie kán nie, en kry dan hulp. Ek het al baie goed self probeer aanpak omdat ek te precious was. Maar die projekte wat werklik floreer het, het deur sáámwerk gebeur.”

Armand se belangrikste wenk vir mense met sterre in die oë klink dalk eenvoudig, maar dit is waarskynlik die moeilikste om toe te pas: “Begin net! Begin nou!”

’n Pond eie vleis

Mense wat na die akteur kyk en dink dat sakesukses gewaarborg is omdat hy soos ’n adonis lyk, misgis hulle liederlik. Natuurlik het sy profiel as silwerdoekhartebreker hom van ’n platform voorsien van waar hy die moontlikhede kon ontgin om homself as ’n industrie op sy eie te vestig. Maar dit gebeur nie sonder opofferings nie.

Hy het lankal vrede gemaak met die idee om ’n pond van sy eie vleis te gee om die sukses van sy produkte te help verseker, al loop hy die gevaar om homself kwesbaar te maak. “Ek is reeds in die publieke arena weens my werk as akteur, en ja, daar was al oomblikke waar ek voel dat my privaatheid effens kwesbaar was, maar dit kom met die job – ek het dit vooraf geweet. Ek voel nie uitgelewer nie, ek ag dit as ’n enorme voorreg om die platform te hê wat ek het om besighede mee te loods.

“Ek is die baas van my eie plaas, en as ek nie gemaklik is met enige aspek van iets wat ek self aanpak nie, doen ek dit eenvoudig nie.”

 

  • Tensy anders vermeld, is al die foto’s vir hierdie artikel deur KOER verskaf.

 

Besoek ook:

KOER se webwerf

KOER se YouTube-kanaal vol interessante bemarkingsmateriaal

Dit&Dat se webtuiste

 

Ietsie meer akademies:

Lees hier in LitNet Akademies hoe tegnologiese ontwikkeling armoede kan help bekamp

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top