Totsiens, Jacinda Ardern

  • 3

Foto van Jacinda Ardern (foto se grootte gewysig): Wikipedia, vry om te gebruik, lisensie: Creative Commons Attribution-Share Alike 4.0 International-lisensie

“I believe that leading a country is the most privileged job anyone could ever have, but also one of the more challenging. You cannot and should not do it unless you have a full tank plus a bit in reserve for those unexpected challenges.”

Met daardie woorde in Napier, Nieu-Seeland, het Jacinda Ardern op 19 Januarie 2023 as eerste minister bedank. Sy het in 2017 op 37-jarige ouderdom die land begin lei, en is na my mening een van die heel beste leiers op die wêreldverhoog. Dink maar aan die wyse waarop sy in Maart 2019, binne dae nadat 51 Moslems in twee moskees in Christchurch vermoor is, aanvalsgewere en semi-outomatiese vuurwapens verban en verseker het dat sulke wapens teruggekoop kon word deur die regering. Onder haar leiding, en as gevolg van haar vinnige optrede, het Nieu-Seeland vir ’n tyd die minste Covid-sterftes in die wêreld gehad.

...........
Ardern het naam gemaak as empatiese leier wat bewys het dat vroue op die wêreldverhoog kan skitter sonder om op tradisioneel “manlike” manier te probeer lei. Sy het keer op keer bewys dat sy omgee vir haar land. Met die aankondiging dat sy bedank, het sy ook bewys dat sy omgee vir haarself.
................

Ardern het naam gemaak as empatiese leier wat bewys het dat vroue op die wêreldverhoog kan skitter sonder om op tradisioneel “manlike” manier te probeer lei. Sy het keer op keer bewys dat sy omgee vir haar land. Met die aankondiging dat sy bedank, het sy ook bewys dat sy omgee vir haarself.

Ek kan nie dink aan een manlike leier wat dieselfde erkenning sou maak nie, al is hulle ook duidelik nie meer geskik vir die taak nie. Ek kan nie anders as om te dink dat Ardern se bedanking in sommige kringe gebruik sal word as bewys dat vroue nie het wat nodig is om politieke leiers te wees nie.

Die teenoorgestelde is eerder waar. Dit verg besonder eerbare leierskap om te erken wanneer nuwe oë, en ’n nuwe stel hande op die leisels nodig is. Dink hoe anders ons politieke landskap daar sou uitgesien het as Zuma of Ramaphosa erken het hulle is uitgeput. Aan die ander kant kan om uitgeput te wees net gebeur as jy iets gedóén het. Nie een van hierdie twee leiers kan juis beweer dat hulle enigiets gedoen het wat hulle tenkies kon leeg tap nie. In Zuma se geval is dit eerder die land se tenk wat leeggetap is onder sy leierskap. Dieselfde is besig om onder Ramaphosa te gebeur, alhoewel dalk nog nie met dieselfde intensiteit nie. Nóg nie, maar die voortslepende beurtkrag kan dinge baie, baie vinnig verander.

Dis duidelik vir almal behalwe vir homself dat Eskom die oorsaak van Ramaphosa se politieke dood gaan wees, of die rede vir ’n herrysing uit die dood. En steeds is hy nie in staat om die basiese probleme wat al minstens 20 jaar voorspel word, die hoof te bied nie. ’n Klassieke voorbeeld van ’n leë tenk en tyd om leisels te oorhandig, maar in stede daarvan veg hy verbete vir politieke oorlewing.

Ek wens Jacinda Ardern alle voorspoed toe in haar toekoms. Haar uittrede is ’n verlies op die wêreldverhoog, en breek my eie hart.

............
Ons het baie meer leiers soos sy nodig. Maar ek verstaan dat sy haar heel beste wil gee, en nie meer voel sy kan nie. Ek wens net meer van ons leiers in Suid-Afrika kon haar voorbeeld volg en land voor eie gewin stel. Ons verdien leiers wat tot ons voordeel kan optree, al is dit dan net deur hul swanesang te sing en weg te gaan. En weg te bly.
.............

Ons het baie meer leiers soos sy nodig. Maar ek verstaan dat sy haar heel beste wil gee, en nie meer voel sy kan nie. Ek wens net meer van ons leiers in Suid-Afrika kon haar voorbeeld volg en land voor eie gewin stel. Ons verdien leiers wat tot ons voordeel kan optree, al is dit dan net deur hul swanesang te sing en weg te gaan. En weg te bly.

Dalk kan sy vir ’n rukkie hier kom aflos voordat sy finaal aftree?

Lees ook:

Is vroulike politici beter vir ons wêreld?

  • 3

Kommentaar

  • Dit verstom my hoe vinnig Suid-Afrika teen hulle eie president gedraai het. Ek onthou nog so goed president Ramaphosa se "huisvergaderings" tydens die 2020-pandemietyd. Hy't altyd afgesluit met "God seën Suid-Afrika". Dan het menige saffa 'n traan gepik en op Bakkiesblad sou ons dan later lees oor ons prez wat "so omgee" ...

    Ennieway, wat ek eintlik wou sê is, ek kan aan baie redes dink hoekom Nieu-Seeland werk. Afrika het ook al vroue as presidente gehad. Dit het nie veel gehelp nie. Nieu-Seeland het byvoorbeeld nie 'n uitvoerende gesag wat gelaai is met herontplooide kaders en partylojaliste nie. Dit help nogal. Dis ook 'n land waar mense maklik besighede kan begin en so werk kan skep. Anders as Suid-Afrika.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top