Klein Karoo Klassique 2026 reik uit na jongmense met spesiale orkesaanbieding: ’n onderhoud met Richard Cock

  • 0

Foto van Richard Cock vir bemarkingsdoeleindes deur Klein Karoo Klassique verskaf

Woorde: Maryke Roberts, Richard Cock en Anina Lundie

Die Klein Karoo Klassique wat van 7–9 Augustus op Oudtshoorn gehou word, het ’n baie groter visie as net om gehore met uitsonderlike klassieke musiek te vermaak. Die aanbieding fokus op die jeug wat die gehore van môre gaan wees en een van dié programhoogtepunte is ’n interaktiewe konsertervaring vir skoolgroepe van graad 4 tot 9, getiteld Inleiding tot die orkes.

Leerders sal saam met kenners soos die bekroonde dirigent Richard Cock die wêreld van die orkes binnestap met hierdie leerskool, ontwerp vir nuuskierige geeste. 

Inleiding tot die orkes nooi die gehoor op ’n musikale reis deur die orkes se verskillende groepe, waar elke instrumentfamilie se eie karakter en stem wat dit tot die geheel bydra, ontdek word.

Deur middel van demonstrasies, bekende musiekvoorbeelde en gehoordeelname, leer die kinders hoe komponiste klanke saamvoeg, wat die boustene van orkesmusiek is en wat agter die kreatiewe proses skuil.

Hierdie geleentheid word gelei deur Richard Cock met sy kenmerkende toeganklike en gehoorvriendelike styl, wat musiekliefhebbers regoor Suid-Afrika inspireer. As hoof van Richard Cock Music Enterprises tree hy op as dirigent regoor Suid-Afrika, aangrensende gebiede en verder oorsee. Hy is ewe gemaklik in die konsertsaal saam met wêreldberoemde soliste soos Joshua Bell, Lynn Harrell, Julian Lloyd Webber en Pavarotti, as wanneer hy opelug-skouspele behartig, soos Starlight classics of interaktiewe konserte – wat nuwe aanhangers na musiek lok. Baie voel hy het meer as enigiemand anders in Suid-Afrika gedoen om klassieke musiek gewild te maak. Sy werk strek ook na koormusiek op klein dorpe, sowel as korporatiewe spanbou en groot koorwerke.

Hierdie konsert skakel ook naatloos in by Cock se langdurige opvoedkundige werk. In 1981 het hy saam met Nick Lewis die Apollo Music Trust gestig om ’n platform vir Suid-Afrikaanse uitvoerders te bied en finansiële hulp aan tersiêre musiekstudente te verskaf. Tientalle studente het reeds hieruit baat gevind en suksesvolle uitvoerende of onderwysloopbane gebou. ’n Verdere belangrike aspek van die trust se werk is opvoedkundige konserte wat jaarliks in plekke van Limpopo tot Heidelberg in die Wes-Kaap aangebied word.

Die interaktiewe ervaring op Oudtshoorn beloof 60 minute van loutere plesier in die Burgersentrum op 7 Augustus om 10:00 vir sowel nuwe aanhangers as ervare luisteraars. Die program word ondersteun deur die ATKV en die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD).

Maryke Roberts stel vrae aan Richard Cock.

MR: Jy het reeds deur die Apollo Music Trust opvoedkundige konserte van Limpopo tot Heidelberg in die Wes-Kaap aangebied. Hoe vergelyk die energie en nuuskierigheid van skoolkinders op ’n plattelandse dorp soos Oudtshoorn met dié in groter stede?

RC: Jong mense in landelike gebiede is baie meer nuuskierig oor hierdie konserte, omdat hulle relatief min daarvan te sien kry. Daar is nie baie geleenthede vir hierdie soort aktiwiteit nie. Daar heers groot opgewondenheid wanneer ons dit in kleiner plekke aanbied, en ek weet dat Oudtshoorn ’n groot sukses sal wees.

MR: Met jou toeganklike en gehoorvriendelike styl wat gehore regoor die land inspireer, watter spesifieke tegnieke gebruik jy tydens Inleiding tot die orkes om graad 4- tot 9-leerders aktief te laat deelneem aan die konsert?

RC: Musiek bestaan ​​uit verskeie elemente: toonhoogte, ritme, melodie, dinamiek, ensovoorts. Ek gebruik al hierdie elemente en soek na werklike voorbeelde in die musiek wat ons speel, sodat die gehoor hierdie aspekte self kan ervaar. Ek verduidelik ook die mees basiese beginsels van hoe klanke gevorm word, maar op ’n baie prettige manier – deur orkeslede te gebruik om te demonstreer hoe hul instrumente klank voortbring en waarom elke instrument anders klink.

MR: Tydens die sessie ontdek leerders die verskillende instrumentfamilies se karakters en hoe komponiste klanke saamvoeg. Wat hoop jy is die een kerninsig wat ’n kind ná hierdie 60 minute in die Burgersentrum saam met hulle huis toe neem?

RC: Die belangrikste les uit hierdie sessie is dat musiek pret is, en dat ’n orkes baie verskillende klanke kan voortbring en opwindende musiek kan speel.

MR: As iemand wat saam met wêreldsterre soos Pavarotti en Joshua Bell opgetree het, sowel as gemeenskappe op klein dorpe opgebou het, hoekom bly die fokus op die jeug as “die gehore van môre” vir jou persoonlik ’n prioriteit?

RC: Ek werk al met jong mense vandat ek vir die eerste keer by musiek betrokke geraak het. Ek weet dat as jy hulle op ’n jong ouderdom kan inspireer, hulle hul lewe lank entoesiasties oor musiek sal wees. Dit is wat ons nodig het: Mense wat lief is vir musiek en die krag daarvan verstaan.

Vrae aan Anina Lundie, adjunkhoof-onderwysspesialis vir Skeppende Kunste, Direktoraat: Kurrikulum Algemene Onderwys en Opleiding by die WKOD

MR: Waarom het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement besluit om Inleiding tot die orkes by die Klein Karoo Klassique vir graad 4- tot 9-leerders te ondersteun?

AL: Ons vennootskap met die KKNK is nou in sy vyfde jaar, en dit groei steeds omdat dit ’n werklike verskil in leerders se lewens maak. Die fees deel ons visie om gehalteonderrig in die kunste vir meer jong mense toeganklik te maak en hulle deur betekenisvolle ervarings te inspireer.

Vir die WKOD is onderrig in die kunste veel meer as ’n vak op die skoolrooster. Dit help om kreatiewe, selfversekerde en veerkragtige jong mense te ontwikkel wat krities kan dink, effektief kan saamwerk en met empatie na die wêreld kyk.

........
Met Inleiding tot die orkes beweeg leer buite die klaskamer. Leerders ervaar die Skeppende Kunste-kurrikulum eerstehands deur saam met professionele musikante te leer en die wêreld agter ’n produksie te ontdek. Hulle ontmoet nie net kunstenaars nie, maar kry ook blootstelling aan die vele loopbane wat die kreatiewe bedryf moontlik maak – van verhoogbestuur en tegniese produksie tot kunsadministrasie en gebeurtenisbestuur (events management).
........

Met Inleiding tot die orkes beweeg leer buite die klaskamer. Leerders ervaar die Skeppende Kunste-kurrikulum eerstehands deur saam met professionele musikante te leer en die wêreld agter ’n produksie te ontdek. Hulle ontmoet nie net kunstenaars nie, maar kry ook blootstelling aan die vele loopbane wat die kreatiewe bedryf moontlik maak – van verhoogbestuur en tegniese produksie tot kunsadministrasie en gebeurtenisbestuur (events management).

Hierdie benadering sluit direk aan by die WKOD se Growth for Jobs-program, wat daarop gemik is om onderwys met toekomstige loopbaan- en ekonomiese geleenthede te verbind. Wanneer skole, die onderwysdepartement en gevestigde kunstefeeste saamwerk, skep ons geleenthede wat geen enkele vennoot alleen sou kon bied nie.

Ons wil hê elke leerder moet besef dat die kunste ook ’n wêreld is waarin jy kan leer, groei en uiteindelik ’n loopbaan kan bou.

MR: Watter waarde sien die WKOD in interaktiewe, buite-kurrikulêre blootstelling aan uitvoerende kunste en orkesmusiek vir leerders uit die streek?

AL: Daar is eenvoudig geen plaasvervanger vir die ervaring van lewendige musiek nie. Wanneer leerders ’n professionele orkes voor hulle sien optree, gebeur iets besonders. Skielik word die begrippe wat hulle in die klaskamer leer, sigbaar, hoorbaar en tasbaar.

Hulle ontdek hoe die verskillende instrumentfamilies saamwerk, hoe komponiste musiek opbou en hoe elke instrument sy eie unieke kleur tot die geheel bydra. Dit wek nuuskierigheid, verdiep begrip en laat leerders op ’n nuwe manier na musiek luister.

Onderrig in die kunste speel ook ’n belangrike rol in die ontwikkeling van die vaardighede wat jong mense vir die toekoms nodig het. Deur dans, drama, musiek en visuele kuns, ontwikkel hulle kommunikasie, samewerking, kritiese denke en kreatiwiteit – vaardighede wat in verdere studie én in die wêreld van werk van onskatbare waarde is.

Maar die grootste waarde lê dalk in die inspirasie wat so ’n ervaring bring. Vir baie leerders is dit die eerste keer dat hulle ’n professionele orkes van naby beleef. Dit verbreed hul wêreld, prikkel hul verbeelding en wys vir hulle dat die kunste iets is waaraan hulle self kan deelneem en presteer.

Wanneer ’n leerder die krag van ’n volledige orkes vir die eerste keer ervaar, gebeur daar meer as net leer. Daardie oomblik kan ’n lewenslange liefde vir die kunste – en selfs ’n toekomstige loopbaan – aan die brand steek.

MR: Baie leerders op die platteland kry selde die geleentheid om ’n lewendige orkes van naby te beleef. Hoe pas hierdie vennootskap in by die WKOD se groter strategie vir gelyke toegang tot kulturele opvoeding?

AL: Een van die WKOD se kernprioriteite is om seker te maak dat elke leerder, ongeag waar hy of sy woon, toegang het tot gehalteonderrig én betekenisvolle leerervarings. Ongelukkig bly professionele kunsuitvoerings vir baie leerders in landelike en onderbediende gemeenskappe buite bereik.

Vennootskappe soos dié met die Klein Karoo Klassique help ons om daardie gaping te oorbrug. Deur leerders bloot te stel aan professionele kunstenaars en wêreldklasuitvoerings, verbreed ons nie net hul verwysingsraamwerk nie – ons help hulle om nuwe moontlikhede vir hul eie toekoms raak te sien. Dit stuur ook ’n belangrike boodskap: Die kunste behoort aan elke leerder.

Vir baie jong mense sal dit die eerste keer wees dat hulle ’n simfonieorkes regstreeks beleef. Só ’n ervaring kan nuuskierigheid aanwakker, selfvertroue bou en talente ontsluit wat andersins dalk onontgin sou bly.

Ons glo dat ’n leerder se potensiaal nooit deur sy of haar geografiese ligging of omstandighede beperk behoort te word nie. Daarom bou ons doelbewus vennootskappe met feeste en kulturele organisasies om professionele kunservarings na leerders regoor die Wes-Kaap te bring.

Wanneer ons toegang tot die kunste verbreed, ontwikkel ons nie net toekomstige gehore nie – ons ontwikkel die volgende geslag kunstenaars, kreatiewe denkers, probleemoplossers en kultuurleiers.

MR: Hoe is die skole en leerders uit die Oudtshoorn-streek geïdentifiseer en gekoördineer om hierdie sessie op 7 Augustus in die Burgersentrum by te woon?

AL: Hierdie projek is die resultaat van noue samewerking tussen die WKOD se hoofkantoor, ons distrikskantore en die span van die Klein Karoo Klassique.

Ons vakadviseur vir Skeppende Kunste werk deurlopend saam met skole in die Eden- en Sentraal-Karoo-distrikte en speel ’n sleutelrol om skole vir hierdie geleentheid te identifiseer. Skole binne bereik van Oudtshoorn is genooi om deel te neem, waarna registrasie, logistiek en vervoer in noue samewerking gekoördineer is.

Waar moontlik word graad 4- tot 11-leerders betrek wat tans die orkes, instrumentfamilies en musiekelemente as deel van die Skeppende Kunste-kurrikulum bestudeer. Dit verseker dat die konsert nie ’n losstaande uitstappie is nie, maar ’n verlengstuk van die leer wat reeds in die klaskamer plaasvind.

Ons streef daarna om soveel moontlik leerders, ook dié uit kleiner en meer afgeleë skole, die geleentheid te gee om hierdie ervaring te beleef. Daarom is die vennootskap tussen die WKOD, Kunste Onbeperk en die feesorganiseerders so waardevol.

Hierdie projek wys wat moontlik is wanneer onderwys en die kunste hande vat. Saam skep ons geleenthede wat inspireer, leer verdiep en vir jong mense nuwe wêrelde oopmaak.

MR: Op watter maniere kan onderwysers die konsepte van hierdie interaktiewe ervaring (soos die boustene van musiek en instrumentfamilies) na die klaskamer terugneem en in die kurrikulum integreer?

AL: Die waarde van Inleiding tot die orkes lê daarin dat dit die Skeppende Kunste-kurrikulum lewendig maak. Leerders leer reeds in die klaskamer oor instrumentfamilies, musiekelemente en die orkes, maar hierdie ervaring gee betekenis aan daardie kennis. Hulle hoor die instrumente, sien hoe hulle saamwerk en beleef die musiek op ’n manier wat geen handboek kan oordra nie.

Om hierdie leerervaring verder uit te bou, het die WKOD ’n begeleidende werkboek ontwikkel wat onderwysers voor, tydens en ná die konsert kan gebruik. Die aktiwiteite sluit direk aan by die KABV en help leerders om te luister, waar te neem, te reflekteer en hul begrip verder te ontwikkel.

Die geleentheid bied ook uitstekende moontlikhede vir geïntegreerde leer. Onderwysers kan byvoorbeeld skakels maak met Wiskunde deur patrone en ritmes te ondersoek, met Sosiale Wetenskappe deur die geskiedenis en kulturele betekenis van instrumente te verken, en met Lewensoriëntering deur die uiteenlopende loopbaanmoontlikhede binne die kreatiewe bedryf bekend te stel.

Ons hoop dat hierdie ervaring nie by die konsertsaal eindig nie. Inteendeel, dit behoort die beginpunt te wees van nuwe gesprekke, kreatiewe aktiwiteite en verdere ontdekking in die klaskamer. Wanneer leerders iets eers beleef en daarna daaroor leer, word kennis betekenisvol – en dít is waar ware leer begin.

MR: Wat is die WKOD se visie vir toekomstige samewerking met feeste soos die Klein Karoo Klassique en organisasies soos die ATKV om artistieke geleenthede vir plattelandse leerders uit te brei?

AL: Ons sien hierdie vennootskap as deel van ’n veel groter visie vir onderrig in die kunste in die Wes-Kaap. Die Klein Karoo Klassique is ’n uitstekende voorbeeld van wat moontlik is wanneer die onderwyssektor en die kunste saamwerk om vir leerders betekenisvolle geleenthede te skep.

Deur die WKOD se Growth for Jobs-program werk ons reeds saam met verskeie kunstefeeste, waaronder die KKNK, Suidoosterfees, Woordfees en Maynardville, om leerders aan professionele kunstenaars, kreatiewe bedrywe en loopbaanmoontlikhede bloot te stel. Hierdie ervarings help jong mense om nuwe moontlikhede vir hulself raak te sien en wys dat die kreatiewe ekonomie ’n waardevolle bydrae tot Suid-Afrika se toekoms lewer.

Ons visie is om hierdie vennootskappe verder uit te bou, sodat nog meer leerders – veral dié in landelike en afgeleë gemeenskappe – toegang kry tot inspirerende kunservarings wat hul leer verdiep en hul wêreld verbreed.

Ons wil hê elke leerder moet die geleentheid kry om die transformerende krag van die kunste te beleef – nie net as toeskouer nie, maar as deelnemer, skepper en moontlik selfs as toekomstige beroepspersoon.

Ons droom is van ’n Wes-Kaap waar talent nie deur afstand of omstandighede beperk word nie, maar waar elke leerder die geleentheid kry om sy of haar potensiaal deur die kunste te ontdek en te ontwikkel.

Lees ook:

Stellenbosch International Chamber Music Festival 2026: an interview with Nina Schumann

Washington DC-Jeugorkes bewys weer dat musiek hoop kweek

Indeks: notas, toetse en vraestelle

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top