
Foto: Clifford Roberts
Daar is min plekke in Kaapstad waar die geskiedenis so tasbaar teen die mure en glasvensters kleef as in die St George-katedraal naby die Kompanjiestuine. Dit is die “mense se katedraal” – ’n ruimte wat dekades se verset, gebede en drome huisves. Wanneer die koue Kaapse winterluggie om jou bene sny, bied die katedraal se hoë gewelwe en ryk houtteksture ’n skuilte.
Maar Woensdagaand was dit nie net die argitektuur wat die ruimte warm en knus laat voel het nie; dit was die polsende energie van die Washington DC-jeugorkes (DCYOP).
Hierdie einste heiligdom dra die letsels en die seges van ons land se vryheidstryd, wat ’n mens onwillekeurig laat terugdink aan die ryk tradisie van verset wat in hierdie klipmure en -pilare ingeprent is. Dit was immers in hierdie gees van kollektiewe opstand dat die historiese opmars van vroue in 1956 – hoewel die nasionale massabeweging uiteindelik op 9 Augustus daardie jaar in Pretoria sy kruin bereik het – die weg gebaan het vir geslagte se stryd teen onreg.
Met die afgelope paar weke se onreg teen mense van ander lande wat hier onder ons neuse gebeur, dwing die datum en die betekenis daarvan jou tot stilte.
Die herinnering aan daardie moedige vroue wat opgestaan het teen die vernedering van die paswette om hul gesinne en hul vryheid te beskerm het my soos ’n onsigbare jas in die katedraal omvou.
Soos my oë oor die orkes lei en sien dat die helfte jong meisies is, kan ek nie anders as om te dink hoe anders die wêreld kon lyk as dit nie vir vroue was wat saamgestaan het nie.
Transformerende krag begin dikwels by diegene vir wie die samelewing die minste kanse gun – ’n tema wat universeel weerklink in die werk wat hierdie jeugorkes vandag doen.
Die program in my hand vertel: “Vir meer as ses dekades is die DCYOP ’n baken van musikale uitnemendheid in die VSA. Dis in 1960 op versoek van die openbare skole in Washington, DC gestig en die doel was nog altyd groter as net die korrekte plasing van note op ’n balk. Dit gaan oor transformasie, oor die saamsnoer van jongmense uit uiteenlopende sosio-ekonomiese agtergronde en om vir hulle ’n stem te gee deur die universele taal van simfoniemusiek.
“Hulle geskiedenis dra die gewig van reuse soos Aaron Copland, Yo-Yo Ma en Gustavo Dudamel wat reeds saam met hulle op die verhoog gestaan het. Hulle was die eerste jeugorkes wat in die gesogte Kennedy-sentrum opgetree het.”
Dit is hierdie ryk tradisie wat Suid-Afrikaanse gehore die afgelope week meegesleur het. Dis die laaste aand van hul weeklange reis deur Suid-Afrika.
Die koor staan onder leiding van die artistieke direkteur en hoofdirigent Evan Ross Solomon. Voor die eerste note opklink in ’n stampvol katedraal, bedank hy Suid-Afrikaners vir die gul ontvangs wat hulle hier geniet het.
My oë skiet vol trane. Dié gulheid het perke en dis juis diegene wat vir jare lank soos inkommers in hul eie land laat voel is, wat nou so ’n koue skouer jeens ander draai.
Maar dan van die eerste swaai van Solomon se dirigeerstokkie, kry die katedraal se formidabele akoestiek lewe. Waar ’n mens soms bang is dat ’n katedraal se eggo ’n orkes se klank kan vertroebel tot ’n ondefinieerbare brij, het Solomon – self ’n gerekende klarinetspeler en Grammy-genomineerde kunstenaar – die ruimte met absolute presisie hanteer.
Hy verstaan hoe klank reis. Onder sy leiding het die orkes nie teen die katedraal se akoestiek baklei nie, maar dit eerder as ’n ekstra instrument ingespan.
Die energie van die jong musikante was aansteeklik. Om te sien hoe musikante van verskillende kulture en agtergronde as ’n enkele, organiese eenheid asemhaal was ’n visuele en ouditiewe bewys van die orkes se kerndoel: gemeenskap deur musiek.
Die gedrukte program het bloot as handleiding gedien, want – soos ons vooraf ingelig is – die orkes se program het ’n lewe van sy eie gekry.
Ons het onder meer pragtige werke soos Norman Dello Joio se Variations, Chaconne en Finale en Symphony no 8 in G Major van Antonin Dvořák gehoor, maar daar was ook lekker verrassings tussenin: Raffie McEachin (skaars 17) se werk The primordial orb dances, wat hy beskryf het as die klank van ’n bonsende bal; en Chimera, van Kalman Levitin (19), wat verskeie musiekgenres ingesluit het.
Hematite deur Evan Ross Solomon was ’n vreugde, maar die hoogtepunt van die aand vir my was die vertolking van Brahms se Song of destiny, Op 54 saam met die Suid-Afrikaanse Jeugkoor. Die katedraal se akoestiek het waarlik vlerke gekry en elke koue kerkstoeltjie verwarm.
Solomon se eie musikale agtergrond (as alumnus van die Peabody-konservatorium) het deurgespreek in die noukeurige balans van die frases en die dinamiese skakerings wat van fluisterstil tot reusagtige crescendo’s gewissel het. Dit was duidelik dat hierdie nie sommer net nog ’n stop op ’n internasionale toer is nie. Vir hierdie jongmense, en vir Solomon, was hierdie ’n gedeelde, transformerende ervaring met die Kaapse gehoor.
Die DCYOP se alumni sluit vandag wetenskaplikes, staatsamptenare en top-musikante in. En as mens kyk na die konsentrasie, die dissipline en die pure vreugde op die gesigte van die jongmense wat die St George-katedraal aan die brand gespeel het, is dit maklik om te sien waarom. Musiek kweek hoop en samehorigheid.
Die Washington DC-jeugorkes het nie net hulle tegniese vaardigheid na ons land en Kaapstad gebring nie; hulle het ’n stukkie van hulle siel in die Moederstad agtergelaat.

