Kirby van der Merwe

  • 0

Gebore en getoë

Kirby van der Merwe is in die 1960’s in die Paarl gebore. Hy is een van ses kinders en was ’n tipiese middelkind – altyd hartseer en ontevrede. Sy ma, Rosa, was ’n kleremaker van formaat. Hy wou altyd skep en het vroeg saam met Ma Rosa leer kosmaak en tuinmaak – groente- en blomtuin. Hy ontwikkel ’n verbondenheid met die aarde wat met die jare groei en later neerslag in sy skryfwerk vind.

Kirby begin sy skooljare in die Paarl en toe hy tien is, verhuis hulle na Franschhoek vir twee jaar. Hierdie tydperk laat ’n blywende indruk op sy lewe en is die mees vormende tyd van sy kinderlewe. Dit is veral te danke aan die uitstekende onderwysers wat daar onderwys gegee het. Hulle is terug na die Paarl, waar Kirby matrikuleer. Kirby vertel dat sy kinderjare in die Paarl ook heelwat daartoe bygedra het dat hy ’n kunstenaar en skrywer geword het: “Jou sintuie word so gebombardeer dat jy ’n bietjie skeppend moet wees. Die lig is kenmerkend en uniek. Wanneer die son sak en jy die berge sien verkleur en verander, lyk selfs die skaduwees of ’n nat pad mooi.” Daar is ook die geluide van die deel van die Paarl waar hy grootgeword het. “Ek het in die jare 60 grootgeword met sulke klanke uit die Tweede Wêreldoorlog soos sirenes en skroefvliegtuie,” vertel hy aan Roline Norval (Die Burger, 4 Mei 2000).

Hy wou altyd boeke versamel, en sy groot ideaal was om eendag sy eie biblioteek te hê. Hy onthou dat hy eendag in standerd vyf ’n dik Tolstoi uit ’n onderwyser se boekrak vasgelê het om by sy versameling te voeg.

Kirby toon ook van kleins af ’n aanleg en liefde vir grafiese kuns. In standerd nege en tien neem hy kuns as ’n vak en was hy ook vir ’n jaar by die Michaelis-kunsskool ingeskryf.

Verdere studie en werk

Na matriek is Kirby na die Hewitt-kollege, en hy begin onderwys gee – in uiteenlopende vakke soos onder meer taal, kuns en biologie. Hy werk ook as kabinetmaker en kunstenaar en is ’n ywerige stapper en rotsklimmer. Die natuur raak vir hom al hoe belangriker.

Later wend hy hom tot die joernalistiek en doen hy joernalistieke werk vir Huisgenoot, Insig en Media24 se koerante.

Hy was getroud en is die trotse pa van drie dogters.

Dit het nooit by Kirby opgekom om te skryf nie, en dit was eers toe hy as jong kunstenaar (skilder, beeldhou- en keramiekwerk) op Onrus by mense soos Uys Krige en Jan Rabie betrokke geraak het, dat hy begin het om gedigte te skryf. In 1993 skryf hy sy eerste gedig en van sy gedigte is later opgeneem in die bundel Nuwe stemme. Hy lewer ook bydraes tot Groot Verseboek en Gerrit Komrij se bundel De Afrikaanse poëzie in duizend en enige gedichten. Hy sou graag wou poësie skryf, maar volgens hom lees mense dit nie en sal hy nou maar tussenin hardloop deur beeldende prosa te skryf.

Kirby skryf ook kortverhale wat opgeneem is in Die stukke wat ons sny en Vonkfiksie. Hy was ’n finalis in RSG se radiodramakompetisie met Vis en vleis, asook in De Kat se Vonkfiksie-kompetisie met "Brand".

En toe kom Klapperhaar slaap nie stil nie, wat in 1999 deur Kwela gepubliseer is. Die basiese manuskrip is binne twintig dae voltooi, maar toe het die harde werk eers begin. Die boek handel oor Kinta Januarie, ’n begaafde meisie wat uit die strikke van die sukkelbestaan op die “Vlakte” probeer ontsnap en haar eie pad begin loop; sy is ’n regsgeleerde  wat probeer vrykom van haar agtergrond. Sy is nie die stereotipe nie en het die grens oorgesteek na ’n groter wêreld, alhoewel sy steeds aan die een waaruit sy kom verbind is.

Kirby vertel aan Roline Norval (Die Burger, 4 Mei 2000) dat in sy grootwordhuis was vroue die sterkste persoonlikhede en het hy daarom nie geskroom om sy hoofkarakter ’n vrou te maak nie. “Daar is mans, ek is een van hulle, wat emosioneel en op ander gebiede die fyn aanvoeling van vroue het, maar ek het gevoel dit sou beter werk en meer aanvaarbaar wees as ek die hoofkarakter ’n vrou maak. Ek het myself emosioneel ontbloot in die karakter van Kinta.”

Wat vir Lucas Malan (Rapport, 18 Januarie 2004) van Klapperhaar  as ’n eerste roman beïndruk het, Kirby se raak “sintuiglike waarneming, vaardige taalgebruik en beeldende vermoë” is. Ook toon Van der Mere vir Lucas Malan sy poëtiese knapheid wat meebring dat daar dwarsdeur die roman baie mooi frases en reëls is wat tot die emosionele samestelling van die roman meewerk.

Lizette Potgieter (Die Burger, 1 Maart 2000) beskou Klapperhaar as ietwat onrustig, maar wat tog algemene en tersaaklike probleme aanspreek. Die lewe op die Kaapse Vlakte word ook vir Potgieter baie raak en lewendig beskryf.

Fanie Olivier (Beeld, 1 Maart 2000) is dankbaar dat daar eintlik ’n jonger roman is wat geen toegewens maak teenoor politieke korrektheid nie. Die skrywer het ’n storie gehad om te vertel en dít het hy gedoen. Die naam Kirby van der Merwe gaan volgens Olivier meer van gehoor word.

Elmari Rautenbach skryf in haar resensie in Volksblad (Volksblad, 1 November 1999) dat Klapperhaar gelees moet word deur almal wat ’n stuk persoonlike bagasie met hulle saamdra; vir diegene wat dit ken om afvallig te raak van jou afkoms, jou familie en jou verlede; vir diegene wat ’n ander pad wil loop, maar wat tog nog met deernis terugkyk na die einste verlede. “Wat hierdie boek verrassend maak, is die eerlike uitbeelding van Kinta en haar agtergrond. Dis ’n realistiese prentjie van die dilemma van vandag se jong, opgevoede bruin mens in Suid-Afrika wat na beter streef, maar dan agterkom dat sy familie nie daardie pad met hom of haar wil loop nie.”

Oor die varkslagtoneel in die boek sê Kirby dat dit deel is van sy kinderjare. Hulle het langs ’n slagpale vir varke gewoon. “Die varke het regdeur die nag geskree. Eers wanneer die laaste varke geslag is, het dit stil geword en dan het ek en my broer geweet dis opstaantyd,” vertel hy aan Roline Norval (Die Burger, 4 Mei 2000).

Klapperhaar slaap nie stil nie se titel was aanvanklik Duskant die Liesbeeck, maar die uitgewers het gevoel dat dit te literêr klink en mense sal afskrik van wat in werklikheid ’n lekker leesboek is.

Kirby vertel aan Herman Wasserman (Die Burger, 13 April 2000) dat hy juis ’n boek wou skryf wat die hele ding op sy kop keer. “Ek wou juis 'n boek skryf wat die hele ding op sy kop keer. Daar’s steeds die idee dat bruin mense koddig moet wees. As jy nie dreadlocks het nie, of jou voortande is nie uit nie, of jy speel nie kitaar nie, wil hulle nie van jou weet nie. My hoofkarakter is dus vir mense moeilik om aan te kou; ’n gesofistikeerde, middelklas bruin vrou. As ’n bruin skrywer wil skryf, moet jy jou beperk by sekere dinge. ’n Mens kry die idee dat mense net bruin mense se stemme wil hoor as hulle nie ‘oorlams’ is nie.”

Kinta, die hoofkarakter in Klapperhaar slaap nie stil nie, probeer wegbeweeg van haar verlede en haar herkoms. Hieroor sê Kirby aan Marguerite Black op LitNet dat Kinta die toonbeeld is van daardie bruin mense wat goed gekwalifiseer is en wat na skool verder gaan studeer het, maar hulle eie mense minag hulle steed en hulle word veoordeel op hulle voorkoms en hulle spraak. “Ek hou self nie daarvan om gekategoriseer te word nie en in boksies geplaas te word nie.”

In 2002 word die M-Net Beurs vir Skeppende Skryfwerk aan Kirby toegeken, wat hom in staat stel om ’n MA in Skeppende Skryfwerk onder leiding van Etienne van Heerden te voltooi.

Kirby is ook bekend as kunstenaar (beeldhouwerk) uit eie reg en in 1998 ontvang hy ’n merieteprys in die Bellville-Kunsvereniging se Nuwe Handtekeninge Kompetisie vir kunstenaars wat nog nie alleen uitgestal het nie. In 2000 is hy die wenner van die beeldhouwerk-afdeling.

As joernalis en rubriekskrywer blink Kirby ook uit. In 2002 word hy benoem vir die Mondi-toekennings in die kategorie sake-artikels vir “As diewe mense word”. In 2004 is hy die Mondi-wenner van die beskrywende-artikel-afdeling ("Features") met sy artikel “Terug na Brandfort” wat in Insig verskyn het. Hy word weer aangewys as finalis met sy artikel “Paraat! In Dainfern”, wat ook in Insig verskyn het. In 2007 word hy deur Beeld se hoofredaksie aangewys as die wenner van die beskrywende artikel van die jaar vir die reis na Zimbabwe en terug wat hy met ’n taxi onderneem het.

Die ATKV bekroon Kirby in 2009 met ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategorie Diepte-artikels/Ondersoekende Joernalistiek vir sy artikel “Die swart en wit van Swartruggens”, wat in BY verskyn het.

In 2010 is Kirby aangewys as die naaswenner van die glansartikel-joernalis van die jaar van Media24. Ook in 2010 is Kirby aangewys as een van die finaliste vir ’n ATKV-Mediaveertjie in die kategotie diepte-artikel/ondersoekende joernalistiek vir sy artikel “So waai die wind in Richmond”. Hy was uiteindelik die wenner van die Veertjie.

In 2000 neem Kirby deel aan Die Burger se lesingreeks “Hoekom trek die kinders van apartheid hul skouers op?” tydens die KKNK en doen hy ’n beroep op voorheen agtergeblewenes om nie agterryers van wit skrywers se taalstryd te word nie, maar om hul eie stories oor hul apartheid-ervarings te skryf en ’n eie boekebedryf op die been te bring. “Hulle, die wit skrywers, het klaar die apartheidstema in romans, die poësie en die teater deurgewroeg, hul skuld bely, die toekennings gekry. Daar is nie nou tyd vir mense wat ou koeie uit die sloot wil grawe nie. Nou is alle taalgenote nodig om skouer aan die wiel te sit. (...) Want waar is die stories, die manuskripte? Hoekom is die oes so skraal? Ons moet rolmodelle vir die nuwe geslag wees, boodskappers, rigtingwysers, gewetenswakkermakers. Ons moet ons geïnternaliseerde woede, sinisme en pessimisme in ’n kreatiewe krag omskep. En met oortuiging kan sê: Ons is geen reggesteldes nie, of kwota dit of kwota dat nie, of touleier of agterryer nie. Ons sit agter die stuur van ons eie ryding.” (Die Burger, 1 April 2000)

Kirby lees eerder Afrikaanse as ander Suid-Afrikaanse literatuur, maar het ’n groot liefde vir skrywers uit voormalige kolonies van die Weste, soos Arundhati Roy, Ben Okri en Salman Rushdie. Op ’n vraag watter boek sy gunsteling is, antwoord hy dat daar ’n ellelange lys is, met skrywers soos Grass, Nabokov en Garcia Marquez, maar dat hy graag One hundred years of solitude sou wou geskryf het. (aan Lezel Amoraal, Die Burger, 8 Maart 2003)

Kirby het in 2012 as deel van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) ’n slypskool in kreatiewe joernalistiek met die tema “’n Kirby-plan” aangebied. Hy het gefokus op die skryf van artikels en rubrieke.

Publikasies:

Kirby van der Merwe as vertaler:

Artikels oor Kirby van der Merwe beskikbaar op die internet

’n Keur van artikels deur Kirby van der Merwe beskikbaar op die internet

Bronne

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum


• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2014-05-20
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top