Venesiese Biennale 2015: Ontug in die lug?

  • 0

Kirby van der Merwe (foto: Naomi Bruwer)
Kirby van der Merwe het die Venesiese Biennale van 2015 bygewoon. Hy skryf vir LitNet vanaf die Suid-Afrikaanse pawiljoen, Arsenale, Venesië. Onderaan verskyn foto's.

Ontug in die lug. Waarom kom Koos Kombuis se lied uit die laat 1980’s by my op hier tussen die gaste by die amptelike opening van die Suid-Afrikaanse pawiljoen?

Op die stasies, in lokasies
Skep ons wrywing situasies
Want daar is ontug in die lug
Ontug onder die brug
Ontug orals waar jy ry
Ja, dis ontugtyd vir jou en my …

Daar is ontug, as ek dit so kan stel, in die lug, by die kunsuitstalling. Die kurators van die Suid-Afrikaanse pawiljoen, Christopher Till en Jeremy Rose, het dertien kunstenaars, onder andere Mohau Modisakeng, Haroon Gunn-Salie, Nandipha Mntambo en gevestigde kunstenaars Brett Murray, Willem Boshoff en Diane Victor se werk gekies om die huidige Suid-Afrikaanse Zeitgeist bloot te lê. (Dit was voordat Willem Boshoff se bydrae tot die groepuitstalling “What remains is tomorrow” in die sleurstroom van die joernalis Allister Sparks se uitlating oor die voormalige eerste minister Hendrik Verwoerd én teen die agtergrond van die Jan van Riebeeck- en “Rhodes must fall”-debatte en Steve Hofmeyr se toespraak by Krugerplein in Pretoria onthutste stemme in ’n plaaslike Sondagkoerant laat opklink het.)

Boshoff se kunswerk is ’n verklaring: “I am proud to be labelled racist in South Africa if it means that I am revolted by ineffective, dim-witted 4x4 politicians/ I am shocked that countless farm murders go unchallenged/ I loathe it when the police take bribes without being punished, I could scream in frustration when jobs are given to unqualified people”, gevolg deur ’n lys van ellendes, vermoedelik vir wit mense, onder ANC-bewind. So ’n verklaring, en dít op die amptelike Suid-Afrikaanse uitstalling en die openingsfunksie aangebied deur die Suid-Afrikaanse konsulaat nogal?

Dís wat Koos se song opgeroep het: “What remains is tomorrow” gee my ’n gevoel van nostalgie vir die struggle-kuns van die 1980’s. In die 1980’s is daar betoog teen die apartheidsregering deur kuns, musiek en vele anti-apartheidsprojekte.

Ek onthou ’n kunsuitstalling van die End Conscription Campaign in die Tuine in Kaapstad wat deur die veiligheidspolisie ontwrig is. In dieselfde tydperk, AWB-lede wat by ’n uitstalling instorm en ’n kopbeeld of twee van Eugene Terre’Blanche wat veel getrek het op die manlike geslagsorgaan flenters slaan omdat die kunstenaar hul leier se eer aangetas het.

Die Venesiese Biënnale, die wêreld se grootste kunssaamtrek, word hierdie jaar die 56ste keer aangebied. Die werk van 136 kunstenaars uit 89 lande, van Albanië tot Zimbabwe, word in nasionale uitstallokale of pawiljoene in die Giardini en die Arsenale in Venesië uitgestal. (Daar is ook 44 onafhanklike uitstallings in lokale regoor Venesië.)

“Ek dink die uitstalling is relevant vir Suid-Afrika, want ons hou ’n spieël op vir onsself waarin ons onsself deur die oë van die kunstenaars kan bekyk,” sê Till. “What remains is tomorrow” sluit aan by “All The World’s Futures”, kurator Okwei Enwezor se oorkoepelende tema vir die 2015-Biënnale.

Enwezor is die eerste swart kurator in die Biënnale se 120-jarige bestaan. Sy keuse van kunstenaars en kunswerke weerspieël sy persoonlike belangstellings en polities-maatskaplike sentimente, en hy gebruik Karl Marx se Das Kapital as sentrale motief en vertrekpunt.

“All The World’s Futures” is ’n reuse-uitstalling, omvangryk in kunskonsepte, maar swaartillend en ’n swartgallige blik op die wêreld wat, as ’n mens die uitstalling moet glo, steier onder geweld, brutaliteit, ebola, bloeddorstige kapitalisme, politieke opstande, die vernietiging van die natuur, hedendaagse slawehandel, xenofobie.

“Ons herbekyk die verlede, ons apartheids- en koloniale verlede, en die reaksies wat ons daagliks in die koerante waarneem, die kwessies wat Suid-Afrikaners raak,” sê Till terwyl hy en Rose aanstap na die werk van Haroon Gunn-Salie.

Hulle poseer vir ’n foto by die rooi afgietsels van die standbeeld van Jan van Riebeeck se hande.

“Ons het kennis van Gunn-Salie geneem deur ’n film wat hy gemaak het. Hy het al die naamborde van die buurt Zonnebloem na die oorspronklike naam Distrik 6 verander. Die naamborde is steeds daar,” sê Rose. “Niemand het dit verwyder nie.”

Gunn-Salie wou aanvanklik op 31 Mei koloniale beelde met verwyderbare kleursel ontsier. Die verwoesting en ontsiering van beelde was toe in die nuus. Maar vir die Biënnale het hy die afgietsels van die arms en hande van die Jan van Riebeeck-standbeeld in Kaapstad gemaak. Die afgietsels is rooi gekleur, simbolies van die bloed aan kolonistehande, sê Till. In dié jong kunstenaar se geval het hulle gehelp om toestemming van die erfenisraad te kry en om die werk in rekordtyd te giet en hier in Venesië uit te stal.

Ons staan voor Boshoff se werk: hulle het kunstenaars gekies wat hulle met hedendaagse kwessies bemoei, “kwessies soos Marikana en xenofobie wat ons as Suid-Afrikaners daagliks onderling bespreek,” sê Till.

“What remains is tomorrow” is volgens hom ’n kakofonie van stemme. Hy glo die Suid-Afrikaanse kunstenaars het daarin geslaag om te sê wat hulle wil sê. Hy en Rose het die werk byeengebring sodat die boodskap duidelik verstaanbaar is.

Het Willem Boshoff dit dalk té duidelik gestel?

Till: “Volgens Willem kom alles wat hier staan, uit koerantberigte. Elke sin praat van iets wat elke dag in die koerant verskyn het en wat hom kwaad gemaak het. Almal kan dit lees. En die boodskap snap.”

Christopher Till (links) en Jeremy Rose voor afgietsels van Jan van Riebeeck se standbeeld (foto: Kirby van der Merwe)

Willem Boshoff, Racist in South Africa, 2011
Geanodiseerde aluminiumpaneel waarop met ink gegraveer en geskryf is
120 x 120 x 0.3 cm
Erkenning aan die kunstenaar
Foto: Bronwyn Law-Viljoen

Willem Boshoff se werk by die Biennale (foto: Kirby van der Merwe)

Foto: Bronwyn Law-Viljoen

Diane Victor, Ashes to Ashes, 2015
Die as is vervaardig deur 'n faksimilee van 'n mynwerker se handboek
150 x 200 cm
Erkenning aan die kunstenaar
Foto: Bronwyn Law-Viljoen

Foto: Bronwyn Law-Viljoen

Foto: Bronwyn Law-Viljoen

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

Foto: Kirby van der Merwe

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top