
Ons het 31 jaar gelede, op 26 Februarie 1994, trou aan mekaar belowe, die beste dag van my lewe! Ek was jonk, 21 jaar oud, maar sal dit weer so doen. Ek het ’n wonderlike man!
My broer het my verras met my droommotor, ’n spierwit Rolls-Royce. Alles was net perfek en alles het perfek uitgewerk.
Natuurlik moes daar egter ook kinkels in die kabel wees!
- Ons kat het besluit om haar naels te probeer skerp maak teen my sluier en daar was ’n gat in! Gelukkig het my ma, soos gewoonlik, vinnig plan gemaak en dit reggemaak – niemand het eens geweet daarvan nie.
- Ongelukkig het die man wat ons video geneem het, sy been gebreek twee weke voor die troue. Hy was daar, maar die videokamera het probleme gegee tydens die troue, so ongelukkig het ons nie ’n opname van ons troue gehad nie.
- Ons blomme was ook glad nie wat ek bestel het nie, maar teen die tyd dat ek dit gesien het, was dit heeltemal te laat. Ons moes dit maar net aanvaar. Gelukkig maak die blomme nie die troue nie. 🙂
Vandag, 31 jaar later, stuur my man nog steeds vir my die liedjie waarmee ons die dansbaan geopen het as dit op die radio speel. Dit was “A whole new world” uit Aladdin.
Wat ’n wonderlike wêreld met hom in my lewe, ook met ons twee pragtige dogters.
Dankie dat ek weer ons troudag kon herleef!
Op nog 31 jaar!
Groete
René Brits

