
Vanjaar slaan ons die 20ste huweliksherdenkingmerk oor. Daar was ’n goeie balans van uitdagings en genot dat ek kan sê ons is dankbaar en wyser. Of ek alles weer sou wou oor doen, is egter oop vir bespreking.
Twintig jaar gelede was die lewe baie anders – minder gekompliseerd. Deesdae se jonges maak ’n glansgeleentheid van elke “normale aankondiging”. Die kompetisie is groot.
Ons troue was egter ’n baie normale binne-die-begroting-geleentheid, met geen verwaande eise of versoeke van kleurskemas of geskenke aan ons gaste nie. Net ’n lekker kuier.
Ek is ’n plein Jane – maar nie dat ek dink ek sal afsteek by enige glansgeleentheid nie; ek glo net minder is meer.
Dis toe juis ook in die eenvoud waar die potensiaal geskep is vir moontlike moeilikheid. Jy sien, my man se ouma, wat my skoonma se skoonma was, was ’n bobaasbakker, ’n regte boeretannie wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Ouma kón bak en al het sy net ’n karige Sassa-pensioen gekry, het sy daarop aangedring om vir ons ’n eg tradisionele troukoek as geskenk te bak.
Ouma wou niks weet van ’n finansiële bydrae nie; sy het betyds begin bak en die koek met brandewyn grootgemaak.
Ek het ’n engel van ’n skoonma, maar sy en haar skoonma deel beslis nie hierdie sentiment nie. Iewers was daar ’n hakerigheid wat steeds onopgelos saamgesleep word.
Ek is ’n mens wat lig leef, so ek het doelbewus nie aandag gegee aan die “ou koeie” nie.
So vra my skoonma my met deernis oor hoe my droomkoek moet lyk. Frilletjies, valletjies en versiersuikerblommetjies was nog nooit iets wat my opgewonde kon maak nie, en daarom antwoord ek: “Een eenvoudige spierwit vierkantige troukoek met vars blomme op. Dit sal meer as die ding doen.”
Ons moes egter beraadslaag en ’n kompromie aangaan. My skoonma moes afsien van die tradisionele standaard drielaagtroukoek. Soos ek kon aflei uit die annale van oorvertellings, word een koek op die bruilof gesny, een word verdeel tussen die bruidspaar se ouers, en die laaste koek word gehou vir die eersteling se doop.
Ná beraadslaging, en die inagneming van Ouma se begroting, kon ek almal oortuig dat ek steeds volstaan by my plein, wit vierkantige koek.
Ons groot dag breek uiteindelik aan. Ek en my bruidegom se ouers woon twee dagreise te perd uitmekaar, dus word dit wat onder normale omstandighede ’n middaguitstappie kon wees, ’n uitgerekte naweeksaamtrek.
Families van heinde en verre trek in op die plaas, en so kom my skoonma bleek, verward en doelgerig voor my tot stilstand. Ek kan sien sy het iets dringend op die hart. Sy fluister geheimsinnig dat die koek toe nie lyk soos ek gevra het nie. Dis wel wit, maar met soveel frilletjies, valletjies en versiersuikerblommetjies dat niemand kan sien dit is vierkantig nie.
My skoonma maak opregte verskoning en kom met ’n oplossing: “Ek kan hom gou laat val – dan kyk ons wat bly oor.”
Dalk vergruis die val ’n paar frilletjies, valletjies en versiersuikerblommetjies en die koek kan sy oorspronklike vorm aanneem. Sy sal ten volle die skuld dra ...
Ek waardeer haar eerlikheid en vernuwing. Gelukkig skud min dinge my, en ’n koek is allermins iets wat my gaan ontstel. Ek sê: “Nee, dis nie nodig nie, ons gaan hom net so eet, dit gaan lekker wees.”
Die vars blomme wat ek toe verniet vir die koek gereël het, gaan na Ouma om dankie te sê vir al haar moeite en harde werk. Die ure, dae en maande wat in die fyn vakmanskap van my blommekrans ingegaan het, verdien eintlik ’n toekenning op Koekedoor.
Vandag is Ouma nie meer by ons nie en ek is ewig dankbaar vir my blommekrans-besige-koek met frilletjies en versierings wat ’n ereplek op ons troue kon hê. Dit was dalk nie die mooiste nie, maar dit was beslis die lekkerste.
Ouma se uit-die-hart-met-liefde-koek sal my vir ewig bybly!

