Kinderstories kan help om die dood te hanteer

  • 3

Die dood is onlosmaaklik deel van die lewe en van elke lewende wese se lewensiklus. Leiding om die dood en hartseer te hanteer is dikwels skaars. Dit is nie maklik om oor ons sterflikheid en die dood te praat nie. Plaaskinders was vroeër jare meer blootgestel aan die dood, maar in vandag se samelewing is dit anders. Die dood ruk jou uit jou gemaksone en jy word met ’n nuwe werklikheid gekonfronteer. Dit is gewoonlik ’n traumatiese ervaring. Gedwonge afskeid gaan gepaard met baie emosies, soos hartseer, angs, vrees, woede, verwarring en onsekerheid.

Gesprekke met kinders oor die dood is nodig om hulle deur die pyn, angs en vrae wat mag opduik wanneer hulle persoonlik met die dood kennis maak, te help navigeer. Baie kinders se eerste kennismaking met die dood gebeur wanneer ’n troeteldier doodgaan.

Baie oupas en oumas is nou betrokke by kleinkinders. Wanneer ’n kind deur die dood van ’n troeteldier of iemand naby geraak word, kan ’n oupa of ouma saam met die ouers help om dit te hanteer. Die vermoë om deur verlies te werk, dood te hanteer en uitdrukking aan hartseer te gee, is noodsaaklik vir ’n kind se gesonde ontwikkeling.

Stories weerspieël ons samelewing met sy vreugde, verdriet en kompleksiteit. Stories kan help om situasies in die lewe te hanteer. Stories kan wys hoe daar met probleme omgegaan kan word en het die potensiaal om kommunikasie oor die dood te fasiliteer. Volwassenes weet soms nie hoe om ingewikkelde onderwerpe met ’n kind aan te pak nie, en hier het stories ’n rol om te vervul. Wanneer ’n kind met ’n karakter se emosionele gewaarwordinge en situasies identifiseer, kan begrip vir omstandighede gekweek word. Die storie bied ’n veilige afstand en help om uitdagings te konfronteer. Die kind kan besef sy situasie is nie uniek nie en daar is ander wat dit ook ervaar

Die tema van dood en sterflikheid is nie onbekend in kinderliteratuur nie. Griekse skrywers het die dood eufemisties aangespreek. Die dood kom mildelik in mitologie voor, maar karakters ondergaan ’n metamorfose en verander in diere, plante of iets anders in die natuur. Ook in sprokies en volksverhale kom die dood voor. Niemand treur wanneer die nare koningin in Sneeuwitjie aan haar einde kom nie. Dieselfde sentiment geld in Die drie bokkies wanneer die nare trol deur die grootste bok afgemaai word. In Hans Christian Andersen se oorspronklike meerminverhaal (wat ons meestal as Little mermaid ken) offer die meermin haarself op en word beloon met ’n onsterflike siel. Die meisie met die vuurhoutjies verkluim op Kersaand wanneer sy tevergeefs probeer warm bly. Hompie Kedompie val van die muur af en breek. Hy kan nie herstel nie.

Deur antropomorfisme, waar menslike eienskappe aan diere of voorwerpe gegee word, staan dierekarakters in vir kinders. Die dierekarakters trotseer menslike emosies en vrese en oorkom dit. In Charlotte’s web (EB White) word die varkie Wilbur gekonfronteer met die dood van sy moederfiguur en vriendin Charlotte die spinnekop. Kinders loop saam met hom sy pad waar hy treur en verlies en woede ervaar, en het empatie met sy pyn.

Kinderliteratuur word toenemend realisties en spreek eietydse probleme en aktuele sake aan. Die dood is een daarvan. Wanneer die dood in ’n storie op ’n manier aangespreek word wat ’n kind verstaan, kan dit hom of haar help om vrae oor die dood te beantwoord en leer hoe om oor ’n geliefde troeteldier, vriend of familielid te treur. Versigtige, eerlike antwoorde bied ’n kind geborgenheid. Dit is egter belangrik om te onthou dat elke mens, en dus ook ’n kind, se ervaring van en reaksie op die dood uniek is. Kinders se ervaring van die dood sal beïnvloed word deur die persone rondom hulle.

’n Paar kinderboeke met die lewensiklus en dood as tema:

Ben en die walvisse: ’n wonderbaarlike reis, deur Ingrid Mennen; illustrasies deur Irene Berg. Tafelberg.

Dit is ’n storie wat die herhalende siklus van die lewe, van verlies en hernuwing vier. Ben en Oupa stap dikwels op die voetpaadjies waar hulle die walvisse – “vlieënde reuse van die see”- dophou. Wanneer Oupa doodgaan, is dit moeilik om tot siens te sê. Ben se pa verduidelik afskeid deur die walvisse se lewensreis. Die mooie herinneringe aan Oupa help hom om sy eie pad te vind en gee hom vlerke, aanvaarding en berusting.

Eend, Dood en die Tulp, deur Wolf Erhbruch. Protea Boekhuis.

’n Eenvoudige, hartseer storie oor Dood se vreemde vriendskap met Eend. Wanneer Eend met Dood kennis maak, word hulle vriende en bespreek hoe dit sou wees as Eend nie meer daar is nie. Die boek verskaf nie antwoorde nie, maar bied ruimte vir bespreking. Die storie toon aan dat Dood deel is van die lewe en nie gevrees hoef te word nie. Ons leef elke dag daarmee saam. Dood gaan met deernis met Eend om en wanneer Eend doodgaan, word hy saggies in die rivier neergelê.

Kinta se lied, deur Cheryl Scott; illustrasies deur Cora Coetzee. Anansi.

Kinta se ma sterf en “die hartseer diep in haar was soos donker wolke voor die son”. Juffrou Nellie se begrip en deernis help haar om in die natuur ’n lied te gaan soek wat sy in haar hart kan sing. Deur Juffrou Nellie se ondersteuning kan sy verder gaan op haar lewenspad.

In jou gedagtes, deur Herman van Veen; illustrasies deur Alida Bothma. Protea Boekhuis

"Hierdie boek het ek geskryf," sê Van Veen, "na ’n geselsie met ’n man en ’n vrou wat my vertel het dat hul kindjie dalk nou ’n engeltjie is." ’n Prenteboek oor lewe en dood. In jou gedagtes kan jy oral wees; in die hemel sonder om eers dood te gaan. In jou gedagtes kan jy begryp wat jy nie verstaan nie.

Blou Feetjie, deur Lizette Rabe; illustrasies deur Mandi Fuchs. Naledi.

Hierdie is ’n storie met ’n begin en ’n einde wat weer begin. Blou Feetjie is, nes almal om haar, deel van die siklus van die lewe. Ons is almal sterstof. “Almal is deel van ’n begin en ’n einde wat altyd weer begin, net soos elk klip wat eendag ’n stoffie word, en elke stoffie wat eendag weer ’n klip sal wees.” Dit is ook ’n troosboek vir grootmense.

Lena se bottelboom, deur Wendy Maartens; illustrasies deur Anna-Carien Goosen. LAPA.

Lena woon by Oupa en Ouma na haar ma se dood. Wanneer sy na haar ma verlang, tap sy bottels vol water en maak musiek soos Mamma haar geleer het. Kersfees hang sy al haar musiekbottels aan ’n boom. Ouma gee vir haar Mamma se reukwaterbottel. Sy dra dit in haar sak en ruik Mamma. Later hang sy dit ook aan die boom en hoor Mamma sing. ’n Deernisvolle verhaal.

Die goue kring, deur Koos Meinderts en Harrie Jekkers; illustrasies deur Piet Grobler. Protea Boekhuis.

’n Humoristiese rymvertaling oor ’n koning wat bang is om dood te gaan. Hy beraam saam met sy geleerdes ’n plan om ontslae te raak van die dood. Vir jare aaneen slaag hulle daarin, maar besef ten laaste dat dit nie die antwoord is nie. Die koning oorkom sy vrees vir die dood. “My angs vir die Dood is nou tog genees.”  Kinders kan leer dat die dood uiteindelik onafwendbaar is, maar dat ’n mens dit nie hoef te vrees nie.

Lees ook:

Miniseminaar: Boeke vir alle kinders in Suid-Afrika

Ingrid Mennen vertel van die kinderboek Ben en die walvisse – en van die wonderbaarlike reis

Die sleutel tot die vreugde en plesier van kinderboeke

  • 3

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top