Ingrid Mennen vertel van die kinderboek Ben en die walvisse – en van die wonderbaarlike reis

  • 0

Titel: Ben en die walvisse – 'n wonderbaarlike reis
Outeur: Ingrid Mennen
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624055068

'n Kinderboek wat handel oor die normaliteit van die dood het by Tafelberg-uitgewers verskyn. Ben en die walvisse is geskryf deur Ingrid Mennen met illustrasies deur haar dogter Irene Mennen-Berg. Naomi Meyer het met die ma én die dogter gesels. Hier vra sy vir die skrywer van die boek, Ingrid Mennen, oor die wonderbaarlike reis.

Wat het die storie geïnspireer? Die illustrasies, die behoefte aan leiding as kinders smart moet verwerk, of iets anders?

Op ’n keer in Duitsland, in Dussmanns in Berlyn, het ek meer as een kinderprenteboek deurgeblaai wat die dood as tema het. En ek het gedink, sjoe! vir ’n kind! Ek weet darem nie. Maar deurgaans was die tema kindervriendelik aangebied en ek het begin wonder daaroor. Die dood is nie ’n tema wat ons maklik aanspreek nie. Ons wil baie liewer net gelukkig wees en saam kuier en lag. Ons wil speel. Ek het myself daaraan herinner dat baie sprokies met die intrap die dood van ’n pa of ’n ma aankondig; dat die dood ’n onvermydelike deel is van die lewe. Maar ek was nie van plan om iets so gewigtigs aan te pak nie.

Maar op ’n dag kom ’n kind / ’n walvis na jou en jy weet hier is iets: werk daarmee. En dan gaan iemand naby die kind dood en jy moet die kind daar deurkry. Dalk moes ek hierdie storie skryf om die dood van iemand naby my, ’n paar jaar gelede, te verwerk, en moes die kind wat in my woon, ook getroos word.

 Ek stel belang in hierdie onsekere tussenmomente wat ’n kind soms tref, die hartseer wat onafwendbaar deel is van die lewe, waardeur die kind, soos die volwassene, leer en groei; die volle reis!

Die storie het eers gekom, en later, nadat dit aanvaar is en ek en Irene klaar was met ons boek, het ek begin oplees om te kyk wat sielkundiges sê oor kinders en verlies. En wat ’n mens kan verwag wanneer kinders die dood van iemand naby hulle ervaar. Hoe kinders byvoorbeeld die dood in verskillende ouderdomsfases verwerk. My storie is ook nie ’n sprokie nie, maar lyk soos die realiteit. Met die sterk medetema van die natuur en die walvisse, hoop ek dat ouers en kinders wat ons boek lees, hulle van nuuts af sal verwonder oor die lewe self, en van nuuts af nuuskierig sal wees oor die natuurwonders aan ons kus – die walvisse – en dat ons boek lesers nuuskierig sal maak om die walvisse beter te leer ken. Ons beskryf walvisse in kindervriendelike besonderhede!

Ek hoop ook dat ons boek ouers kan help om lank voor krisistyd die onderwerp van die dood aan te raak om met hul kinders daaroor te gesels. Aan die einde van my storie voel die kind Ben asof hy vlerke het, soos die wonderbaarlike reuse van die see, die walvisse. Dit gebeur nadat Pa en hy tyd saam spandeer het, ook oor die dood van Oupa gesels het, en hy versterk is deur ’n storie. Stories maak ons sterk, want ons verstaan meer, dit bring ons ’n bietjie nader aan onafhanklikheid en vryheid. Stories gee vlerke.

Die seuntjie op die voorblad sit op Moby Dick. Waar kom die walvistema vandaan? (Wie woon in Hermanus? )

Êrens het ek gelees dat die walvis, soos die olifant en die skilpad, ’n argsimbool is van stabiliteit – van dit wat altyd was en altyd sal wees. ’n Sterk kontras met die tydelike, die dood, met alles wat verander. Hulle beweeg ook in herhalende patrone deur die see, deur seisoene en tyd; eindelose reise oor verre horisonne. Dis nie moeilik om metafore te vind vir ons eie lewens nie. Terselfdertyd is daar iets verbysterend groots rondom walvisse en hul reise, en dit laat ons besef hoe klein ons is; hoe groots die natuur is; hoe onverklaarbaar die ewige.

Die groot stories en boeke wat die tyd oorleef, is ook soos sulke simbole van stabiliteit, en vorm deel van die sterk onderbou van ’n beskawing. ’n Liefde vir lees is ’n geskenk aan ’n kind wat lewenslank bly, lank nadat ’n grootmens wat daardie geskenk aan ’n kind gegee en help vorm het, nie meer daar is nie. Dis hoekom Ben op ’n hoop boeke sit; en gepas bo-op Moby Dick, Herman Melville se groot walvisroman van 1851, een van die groot werke in die kanon van Westerse wêreldletterkunde.

Dis die gesprek wat ons as lesers voer met die dooies, maar dis in hierdie aksie van gesprekvoering dat stories duidelik ook sterker is as die dood. Ek hou van die gedagte dat stories die dood kan afweer, soos Scheherazade bewys het toe sy vir 1001 nagte lank stories vertel het om so haar lewe te red.

Ben wat bo-op ’n hoop boeke sit, met Moby Dick heel bo, was die eerste tekening wat Irene gemaak het. Dit het baie spontaan gebeur en dit was vir my ’n belangrike illustrasie juis omdat ons daarmee sê dat boeke en stories die sterk onderbou van Ben se lewe is, soos ’n stabiele fondament. Dis ’n kind wat eintlik verlore sit en lees, en sy verbeelding het sulke vrye teuels dat die walvis van die boek waaruit hy lees, groter raak as die boek self. Die walvis waarvan Ben dalk lees, boog oor hom. Niks daarvan was regtig beplan nie, maar dis hoe ek dit nou sien. Die uitvoering het instinktief gebeur.

In die beplanningsfase van die illustrasies het ek op die internet afgekom op die ou Moby Dick-illustrasie wat ons op die titelblad gebruik, “The Voyage of the Pequod”, wat Irene aangepas en vereenvoudig het. Ek was baie opgewonde daaroor, omdat die kaart van Afrika so prominent was; ook die dood van ’n walvis in ’n toepaslike geskiedkundige konteks weergee, ’n wonderlike illustrasie van ’n ou uitgawe van Moby Dick. Ek het geweet dat dit die regte prent is om in Oupa se kamer te hang. Dis die “poster” waarna Ben staan en kyk. Vir ons boek het Irene Tafelberg op die horison ingeteken. Ons was besig om nader aan Hermanus te beweeg! Dis klein besonderhede, maar ek hoop dit skep die soort atmosfeer wat sal vertel dat daar ’n geskiedenis voorafgaan van boeke en stories, en dat ons land daarby ingesluit is. Dat daar ook iets is soos ’n geskiedenis van walvisjag, wat nooit weer moet gebeur nie. Want stories bring kennis. En Oupa se liefde vir walvisse en stories is oorgedra aan Pa en aan Ben, en sonder om te veel buite die raamwerk van my boek te gesels, nodeloos om te sê sluit dit ook die vrouegeslag in!

In Moby Dick (ook The Whale) praat Melville, deur sy karakter Ishmael, oor die aantrekkingskrag van water: dat mens maar kan kyk hoe ’n staproete keer op keer voor ’n poel water eindig. Daar wil mens rus. Dan is daar die grootste poel water: die see. Melville praat elders van die ewigheid in water, die ewigheid in onsself. Ishmael sê dat as sy gees vol November-onstuimigheid is, is dit tyd om op ’n skip te klim, diepsee in. Lees- en skryfwerk is partykeer ook soos daardie skip wat jou wegneem van triestigheid, op ’n wonderbaarlike reis. En al kan ek nie oor al hierdie dinge skryf wanneer ek ’n afgebeitelde kinderboekteks skep nie, is dit vir my as skrywer goed om die rykdom van baie dinge ongesegd binne in my rond te dra.

Die wonder dat ons die oeroue diere so naby ons kus kan sien, wou ek ook eer en vier in my storie. Ek het ook begin gedagtes maak oor my ouers, wat aanstap in jare, en die noodwendige afskeid wat wag. ’n Paar jaar gelede het ons my pa se 80ste verjaarsdag op Hermanus gevier, daar waar ons ’n paar maal saam met my ouers somervakansies deurgebring het toe ek ’n kind was. Ons het sedertdien ook al ’n paar familie-reünies dig teen die Hermanus-kus gevier. Noudat my ouers aanstap in jare, is die terugkeer na daardie kus gevul met spesiale herinneringe - ook vir my ouers, Irene se oupa en ouma, aan wie ons die boek opgedra het. Die walvishuismuseum is op die dorp, die walvisfees elke September, en mens kan walvisse vanaf die voetpaadjies sien.

Tydens wintervakansies aan die Plettenbergbaaise kus kuier walvisse en kalwers ook in die baai. ’n Vriendin het my onlangs herinner hoe sy my jare gelede toevallig op die strand teëgekom het, besig om ’n reuse-walvis saam met ons jongste kind uit sand te bou. Soos twee kinders aan die speel. Op ’n wintersmiddag verlede jaar, net voor die boek verskyn het, was daar ’n rare oomblik toe walvisse sewe keer binne so twintig minute geboogspring het in die baai, reg voor ons! Die wit skuim wat oorgebly het na daardie spronge, het net soos Irene se tekeninge gelyk. En die walvisse wat boog, amper soos háár walvisse!

Nie ek of Irene kan sê dat ons walviskenners is nie. Ons het hard gewerk om ons baie beperkte kennis oor walvisse wetenskaplik korrek deur te gee. En ek moes skaaf aan my storie sodat dit biologies verhaalbaar is. Daar was baie onsekerheid by my of ons walvis byvoorbeeld ’n bultrug-walvis kon wees, want die Hermanus-kuslyn, waar my storie afspeel, is eintlik baie meer bekend vir die suidelike noorkapper. In die Hermanus-walvishuismuseum hang die skelet van ’n suidelike noorkapper. Ek het die museum besoek lank voor ons die illustrasies gemaak het en was bewus daarvan dat die museum daar in die eerste plek gaan oor die suidelike noorkapper. Maar van die begin was ek gefassineer deur die lang vinpote van die bultrug, die pragtige vorm wat hulle het, en hulle vermoë om te sing.

Ek moes seker maak dat ek ’n bultrug in die Hermanus-baai kon plaas. Een van die mees ervare walvisspesialiste, Peter Best, was vir ons van groot waarde in dié opsig. In ons boek wou ons graag ons eie museum skep, want dit was vir my belangrik om ou Kaapse skilderye van walvisjag te gebruik en die walvis teen ’n historiese agtergrond te plaas. Dis waardevol vir my dat die kindleser ’n walvisgeskiedenis leer ken wat gekoppel is aan ons Kaapse geskiedenis. Dat die kind mettertyd kan ontdek dat Ben en die Walvisse méér vertel as ’n kind wat sy oupa se dood moes verwerk. Ander kwessies rondom die dood word aangespreek, byvoorbeeld: Wanneer het walvisjag in ons Tafelbergse baai gebeur? Gebeur dit nóú nog? Jag ons nog steeds walvisse en hóékom het dit gebeur? Die kosbaarheid van lewe … Dit is alles groot kwessies, en veral ook in ons land.

Is daar tans jong kinders in jou lewe? Of onthou jy die dae uit jou eie dogter se lewe toe jy moes kinderstories vertel?

Ons het nog geen kleinkinders nie, maar daar woon wonderlike kinders in ons groter familiekring en bure se kleinkinders in ons straat! Ek maak ook baie staat op my eie kinderherinneringe en dinge wat ek onthou uit ons drie kinders se kinderjare. En ja, ek was altyd aan die lees vir hulle: sprokies, legendes, storiereekse, en baie meer. Partykeer het ons amper dwarsdeur drie reënerige vakansiedae gelees net omdat húlle nie wou ophou luister nie. Die Leeu, die Heks en die Hangkas van CS Lewis sal byvoorbeeld altyd so onthou word.

Het jy van vroeg af al gedink Irene het ’n liefde vir kuns en ’n talent?

Ja, van kleintyd het Irene anders as ander kinders van haar ouderdom geteken, en spontaan báie. En tekentyd was enige tyd van die dag! So het dit ook aangehou deur haar hoërskooljare. Ek onthou hoe sy ’n hele kombuismuur vol papier geplak het om ’n kunsprojek te verf – sy wou áltyd baie verf! En haar tekenwerk het my altyd geroer. Dit het my nie verbaas toe sy my vertel dat sy ingeskryf het vir ’n grafiese kursus in Duitsland nie. Toe ek van die werk sien wat sy vir haar kursus gedoen het, het ek besef dat die tegniese rekenaarvaardighede wat sy bygekry het, haar gereed maak om een van my stories te illustreer.

Ingrid Mennen en Irene Mennen-Berg

Het julle die boek saam-saam beplan – en wat was die eerste, die teks of die illustrasies?

My storie is eers aanvaar en daarna het ons toestemming gekry dat Irene die illustrasies mag doen. Ons het ’n goeie aanvoeling vir mekaar; ek was ook gelukkig dat sy gedeel het in die visie vir die boek wat noodwendig begin vorm aanneem het terwyl ek aan die teks gebeitel het. En op haar beurt het sy in die finale illustrasiewerk ons voorbeeldboek baie verder geneem deurdat sy haar eie stempel daarop geplaas het.

Ek het teksveranderinge aangebring terwyl ons aan die voorbeeldboek gewerk het en die teks tot op die been afgebeitel omdat die illustrasies se atmosfeer duidelik begin saampraat het. Irene se illustrasies het daarom sy eie soort invloed gehad op my teks. Die eerste twee volbladsye is ook te danke daaraan: Oupa en Ben wat uitkyk oor die see; en die museumtoneel en ons gesamentlike verwondering oor die walvisse. Ek wou met hierdie verwondering begin: walvisse en die see! Die voordeel om teks en illustrasie as geheel te kan ontwikkel, is ’n groot pluspunt. ’n Mens verstaan die ritme van teks en illustrasie beter.

En in die maak van die boek kom meld die boek hom obsessief by jou aan, op geleë en ongeleë oomblikke, en ek dink dis wanneer jy ’n kans het om iets wat atmosferies goed en ryk is, te skep. Elke besonderheidjie van die boek raak belangrik. Baie dae het ons ook baie groot vertwyfeling gehad of ons dit regtig gaan regkry, want ons wou graag ’n mooi produk skep. Dan moes ons mekaar aanmoedig. Michelle Cooper by Tafelberg-uitgewers was ’n kalme krag en baie lekker om mee saam te werk. En my man was geduldig as ek weer ’n keer met Irene in Duitsland wou skype. My ander twee kinders se bemoediging was ook wonderlik, al woon hulle ook nie meer tuis nie.

Vertel vir ons lesers van jou ander boeke. Is jy altyd aan die skryf aan iets? ... Iets nuuts?

Toe ek nege jaar oud was, het ek ’n storie geskryf wat in die 1960’s se kindertydskrif Die Jongspan gepubliseer is. Nou wel nie ’n boek nie, maar ek het geweet, toe ek ’n kind was, dat ek graag skryf. k het ’n ma gehad wat ook stories geskryf het en baie graag vir ons voorgelees het – nóú nog!

My eerste boek is by Human & Rousseau aanvaar en uitgegee toe ons jongste kind ’n baba was, 26 jaar gelede. Die tema was eenvoudig en as’t ware uit ons eie huis: ’n kind wat sy bed aan sy ouma afstaan toe sy kom kuier.

Toe my eerste boek verskyn het, was Suid-Afrika nog diep verstrengel in apartheid. Die eerste Suid-Afrikaanse boekesimposium, Give them Wings, is by die Universiteit van Wes-Kaapland gehou. Omtrent daardie tyd het Niki Daly ’n groep skrywers uitgenooi om saam met hom ’n reeks werkswinkels te doen om boeke te skep onder die vaandel van David Philip Uitgewers / Songololo Books; boeke wat oor grense kon beweeg en meer inklusief verteenwoordigend kon wees van ál ons land se kinders.

Ek het besef dat as ek kon, ek my stories so sou wou skep dat ek ook iets van Afrika wou vertel in die werk wat ek doen – en ek wou my boekkarakters wegneem uit die woonkamers van ’n middelklas bevoorregte huis soos die een waarin ek grootgeword het. Die kind in my wou saamloop met elke ander kind, met ál ons kinders, en sáámvoel wat hulle voel, want ons is ook hulle, en saam is ons óns.

Ek het begin skryf aan Ashraf van Afrika, oor ’n kindkarakter wat in die Bo-Kaap woon en van daar af sy stad ontdek, op pad na die stadsbiblioteek, met sy geliefkoosde boek onder die arm. En daarmee het ek my kindkarakter meer vryheid gegee as wat kinders miskien vandag het wanneer hulle in een van ons stede sou rondloop. Ek het Ashraf laat stap deur die strate wat ek goed leer ken het toe ek by die kultuurhistoriese museum in Kaapstad gewerk het, want as satellietmuseum was die Bo-Kaap Museum my verantwoordelikheid. Ek het ook die kinderherinnering gehad van ’n kuiermaat wat vir my gesê het sy het gedink dat leeus en olifante in ons strate sou rondloop. Dit was nogal snaaks, want sy het van die destydse Rhodesië gekom, en dis presies wat ek van haar land gedink het: dat leeus nog wild rondloop. Dit het die basis gevorm vir Ashraf van Afrika, wat ek op die ou end saam met Niki Daly geskryf het en geïllustreer is deur Nicolaas Maritz, een van Suid-Afrika se kunstenaars. Die boek het in 1992 in Engeland (Bodleyhead) en Amerika (Dutton’s) onder die titel Somewhere in Africa verskyn en is in Japannees en Sweeds vertaal en het ’n paar toekennings ontvang.

Ashraf of Africa is pas gekies om in Parys en Helsinki uitgestal te word, een van tien kinderboeke van Suid-Afrika. Volgende maand sal Ashraf of Africa deel wees van ’n uitstalling van prenteboeke by Bologne Boekeskou in Italië.

One Round Moon and a Star for Me is deur Niki Daly geïllustreer en het hier, en in Amerika en Engeland, verskyn. Dit is deur die jare in verskeie tale vertaal, onder andere Koreaans, Spaans, Katalaans en Deens.

Na die verskyning van hierdie boeke het ek teruggegaan universiteit toe en vir ’n paar jaar lank Engelse letterkunde geswot.

 Soos ’n wens so groot / A Wish this Big, geïllustreer deur Katrin Coetzer, (Tafelberg), het in 2011 verskyn. Ek het ook nou saam met haar gewerk aan die voorbeeldboek vir die illustrasies.

Alhoewel ’n kinderboekteks min woorde het, werk ek baie voor my rekenaar. En alhoewel ek gedink het dat ek ’n jaar of wat wil afvat om dalk weer te gaan swot, is ek besig met ’n storie wat ek INK noem. En ons moet maar kyk wat gebeur. Niks is ooit klinkklaar wanneer ’n mens met woorde werk nie. Dis hoekom skryfwerk seker is soos om op ’n skip te klim en oor horisonne te vaar. As mens gelukkig is, ontdek mens dalk ’n eiland waar mens vir ’n kort rukkie kan woon.

Om tuis te bly en kardamom-tee in die Bo-Kaap te drink, is ook baie lekker!

Lees 'n onderhoud met die illustreerder van Ben en die walvisse

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top