Kemp J Kemp SC – vanuit die advokatuur se binnekamer, en sy fotoalbum

  • 6

Foto van Marnewick (links) deur die skrywer ingestuur, alle ander beeldmateriaal goedgunstiglik verskaf deur Anna Kemp, die weduwee van Kemp Kemp

 

Dit was moeilik om jou vir Kemp te vervies wanneer hy ’n argument teen jou voorgedra het, selfs wanneer hy jou in ’n doolhof van onsekerhede ingelei het met ’n onverwagse benadering. Daar is advokate, ongelukkig hopeloos te veel van hulle, wat die saak bedryf asof die advokaat aan die teenkant die teiken is. Kemp was nie een van hulle nie; sy aanslag op die geskilpunt was baie meer subtiel. Die geskilpunt het hy met vaardigheid, sy intellek en sy kennis van die reg en die feite aangespreek, maar die advokaat aan die teenkant het hy met sy sjarme oorrompel. Die aanklaer in die Zuma-verkragtingsaak het, toe sy van sy afsterwe hoor, opgemerk dat hy haar elke oggend tydens daardie kontensieuse saak vriendelik gegroet het en dan daarna die geveg met die feite en die getuies voortgesit het. Met sy sjarme het hy ook die regters oorrompel, of ten minste hulle aanslag op sy argumente afgeweer of afgewend. Na ’n onlangse verskyning in Namibië (Kemp het orals verskyn – Swaziland vandag, Bloemfontein môre, en eergister was hy nog in Lesotho of Kaapstad) merk die regter op, “What a gentleman!”

Kemp se eerste reaksie wanneer hy, soos ’n bokser, ’n goeie hou teen die ken ontvang het, was om te glimlag, met ’n houding wat sê: “Dit was ’n goeie hou, maar ek het nie seergekry nie.” Wanneer hy verplig was om, soos gereeld met advokate gebeur, onder druk van ’n vyandige regter ’n toegewing te maak, het hy dit op ’n manier gemaak wat beteken het dat hy nog steeds nie gehensop het nie. “Dit is ’n goeie punt, maar daar is ander punte in die saak, wat ek nou sal aanspreek,” was die uitweg wat hy in so ’n geval gevolg het.

Kemp en Anna as jongmense

Ek sit op ’n dag langs ’n tennisbaan. Op die baan speel twee van my kollegas, Kemp J Kemp en Johann Ploos van Amstel, teen hulle vrouens. Die twee dames is swanger, maar is te rats en vaardig vir die manne, en dek die baan van hoek tot kant om Kemp en Ploos se aanslae af te weer. Annatjie Kemp en Lynn Ploos van Amstel wen redelik maklik. Toe hulle van die baan afkom, terg ek my manlike kollegas ’n bietjie. Kemp het dadelik met ’n gepaste riposte vorendag gekom: “Hulle was vier en ons twee was alleen.”

Om ’n saak teen Kemp te voer het altyd vir my gevoel asof ek alleen was, en dat daar vier aan die ander kant was.

Kemp en sy dogter Alida as 'n baba (gelukkig aan die slaap); Kemp kyk The Termimator

Ek het Kemp die eerste keer “ontmoet” lank voor hy by die balie in Durban aangemeld het om sy pupilskap te doen. Ek het op Dinsdagmiddae ’n klas vir pupiladvokate aangebied om hulle vir die Eksamenraad se Legal Writing-eksamen voor te berei. Tydens daardie klasse het die LLB’s wat by die Universiteit van Zoeloeland hulle regskwalifikasies behaal het, tydig en ontydig en met lof gepraat van professor Kemp. Professor Kemp dit, en professor Kemp dat. Sonder uitsondering het die Unizul LLB’s hulle sukses by daardie universiteit aan Kemp toegeskryf. Ek sou later uitvind waarom hulle so beïndruk met hierdie professor was. Hy het ’n buitengewone intellek gehad, en ’n menslikheid wat ek sal erken ongewoon is in die beroep. Advokate is ingestel om probleme op te los, maar Kemp het altyd die mense agter die probleem gesien, en hulle met deernis en ywer en vaardigheid verteenwoordig.

Kemp se besonderse intellek het my opgeval toe hy deelgeneem het aan my Legal Writing-seminare. Ek het vir die pupille huiswerk gegee – ’n pleitstuk of ’n advies of regsmening – wat hulle later moes indien vir my kommentaar. Van meet af aan kon ek sien dat Kemp anders dink as die res van die klas. Daar was meer alternatiewe eise, meer alternatiewe verwere, en meer verrykende en selfs buitensporige argumente. Hy het, soos dit vir my gelyk het, die vermoë gehad om moontlikhede te sien wat vir ander, my ingesluit, opgeval het eers nadat hy sy standpunt verduidelik het. En dan het dit vanselfsprekend gelyk. En hy was nie skaam om ’n nuwe benadering voor te stel nie.

Van Kemp se pupilskap gepraat: Ek het jare later ’n eksepsie aangeteken teen een van sy pleitstukke, heel voorspelbaar een met talle alternatiewe en kruisverwysings. Ongelukkig was daar weersprekings en vaagheid wat verwarring geskep het, so het ek betoog. In sy antwoord blameer Kemp my sowaar en sê vir die regter: “Ek het Legal Writing by my geleerde vriend geloop, en as my pleitstukke nie in orde is nie, dan is dit sy skuld.” Ons het lekker gelag, maar Kemp moes sy pleitstukke wysig. Hy het baie sake verloor, miskien meer as die res van ons, hoofsaaklik omdat, soos sy reputasie gegroei het, hy opdragte in stygende grade van hopeloosheid ontvang het. By een geleentheid, met so ’n hopelose saak voor die hof, sê hy vir my: “Mens kan so ’n geveg nie eers met die bystand van ’n sjamaan wen nie.”

Kemp en Alida, sy dogter

Professor doktor Kemp SC, om sy volle titel te gebruik, het sy doktorsgraad by Cambridge onder Tony Honoré voltooi nadat hy sy LLB summa cum laude by UPE (nou NMU) gedoen het. Die onderwerp van Kemp se doktorale verhandeling was oorsaaklikheid (kousaliteit) en hy het vir my ’n kopie daarvan geleen. Daarin het hy, soos vereis word vir ’n doktorale proefskrif, nuwe insigte tot die onderwerp gevoeg; insigte wat op beide die Suid-Afrikaanse en die Engelse reg van toepassing was. In die hofsake wat nou hier en elders gevoer word oor vrae met betrekking tot versekeringsmaatskappye se verpligtinge ten opsigte van skade wat volg op die COVID-19-virus en die inperkings wat daarop gevolg het, sou Kemp by uitstek die versekeraars se saak oortuigend kon aanvoer. Daardie sake gaan juis, so lyk dit vir my, oor kousaliteit. Bygesê, hy sou ewe gemaklik namens die versekerde besighede kon optree, soos dit ’n advokaat van sy formaat betaam.

Alida, sy dogter, Charles, sy seun, en Kemp

Sy beste vriende by die balie was Johan Ploos van Amstel SC (nou ’n regter) en Ben van Heerden SC (nou ’n boer op ’n plaas wat hy en Kemp saam gekoop het). Hulle was huisvriende en het oor en weer gekuier, waar hulle hom in al sy fasette sou ondervind. Ek, daarenteen, was ’n bietjie verder weg, en vir dit wat ek in sosiale verkeer met Kemp misgeloop het, het ek dubbel en dwars in ons gemeenskaplike belangstelling in en passie vir die reg as ’n wetenskap vergoed. Kemp was een van daardie advokate wat eerder op regsbeginsels as op presedente staatgemaak het. “Die howe se heilige koeie is maar net iemand anders se opinie,” het hy vir my voorgehou toe ek by hom raad gesoek het oor ’n appèlhofbeslissing waarvan ek oortuig was dat dit verkeerd was. Ek troos myself dat dit beter is om saam met Kemp J Kemp SC verkeerd te wees as om ’n saamprater met selfs die hoogste gesag te wees. Kemp was g’n saamprater nie; nie eers naastenby nie. Sy aanslag was altyd eiesoortig, oorspronklik, en by tye gewaagd, en definitief nooit vervelig nie.

Ek het gereeld by Kemp gaan sit om ’n regsprobleem of taktiek met hom te bespreek en advies in te win. Omgekeerd het hy ewe dikwels by my kamers opgedaag. Daar het ek ’n ander sy van Kemp gesien; sy taktiese bewustheid was verstommend, en soos dit vir my gelyk het, gebaseer op instink eerder as boekgeleerdheid. Toe die eertydse visepresident (Zuma) in 2006 aangekla is van verkragting, het Kemp op ’n Saterdagoggend by my ingestap. Hy wou weet hoe ver hy kon gaan met sy aanslag op die klaagster se geloofwaardigheid. Die temas wat hy voorgelê het, het ek herken. Irving Younger van die VSA het die styl van kruisverhoor en temas om te ontgin in sy lesings en ’n artikel bespreek. Kemp het egter van Younger en sy sogenaamde Ten Commandments of cross-examination nog nooit gehoor nie, of so het hy beweer. (Ek het ook maar net geweet omdat ek in Nieu-Seeland opleiding gedoen het en dit daar raakgeloop het.) Nietemin, dit lyk toe vir my of Kemp elkeen van die Younger-beginsels instinktief toegepas het, en die temas vir kruisverhoor wat Younger aanbeveel het, doelgerig en tematies gebruik het, een na die ander. Die uitslag van die saak is goed bekend; Zuma is onskuldig bevind omdat die klaagster se getuienis nie die mas kon opkom nie. Danksy Kemp se kruisondervraging, sou ek sê.

In die gesels daardie dag vra Kemp my of ek dink dat hy te ver gegaan het deur die karakter en geloofwaardigheid van die klaagster so op ’n openbare platform aan te val. Dit was ’n verkragtingsaak en mens moet sagkens werk met die “slagoffer”. Ek noem toe vir hom die saak in die Britse Queen’s Bench van so 1870 waarin ’n advokaat se plig so uitgespel word: Dit is ’n advokaat se plig om binne die perke van die bewysreg, hofprosedure en etiek van die beroep soveel skade moontlik aan die teenparty se saak en sy getuies te doen, sonder aansien des persoons. Kemp se kommentaar was: “Dit is presies wat ek gedink het, maar ek sal erken,” het hy met ’n glimlag toegegee, “dat ek nie van daardie beslissing geweet het nie.” Weer eens ’n geval van uitstekende instink.

’n Paar dae later sien ek vir Kemp op die aandnuus. Hy stap in die straat af, nog steeds in sy hofgewaad, omring deur ’n aantal mediamense wat aandring op sy kommentaar oor die dag se gebeure. Hulle skrum met hulle mikrofone onder sy neus en draf langs hom die straat af. Kemp glimlag net en stap aan. Kykers op televisie en daardie lede van die media sou dalk dink hy was ongeskik. Die waarheid is egter dit: Volgens die baliereëls van etiek en etiket mag ’n advokaat nie kommentaar lewer oor ’n saak waarin hy of sy een van die partye verteenwoordig nie. So hard as wat hy in die howe geveg het, so ernstig het Kemp die etiek van die beroep gehandhaaf.

Hy het beide in die media en onder die publiek onder skerp kritiek deurgeloop omdat hy vir Zuma verdedig het. Die holruggeryde vraag: “Hoe kan jy iemand wat jy weet skuldig is verdedig?” het hy geduldig geantwoord met ’n verduideliking wat ek net vroeër vandeesweek elders moes aanhaal: “In die oë van die gereg is ’n persoon ’n moordenaar eers wanneer ’n bevoegde hof na ’n regverdige verhoor op toelaatbare en oortuigende getuienis daardie persoon skuldig bevind. Die advokaat en prokureur se taak is maar net om te verseker dat die getuienis wel so oortuigend is. En ek dink nie jy wil jou vryheid in die hande van ’n staatsamptenaar (aanklaer) met onbeperkte magte laat nie, wil jy? Die howe en advokate en prokureurs is daar om jou teen magsmisbruik deur die owerheid te beskerm.” As die president nie op advokate en prokureurs en die howe kan staatmaak nie, wat dan vir die res van ons? Wie gaan ons dan teen die mag van die staat beskerm?

Kemp was lief vir kos maak

Ek het wel in een geval vir Kemp moes gaan sien oor ’n etiese probleem wat tussen ons opgeduik het. ’n Onervare prokureur, aan my kant, het vertroulike en beskermde dokumente per abuis aan Kemp se opdraggewende prokureur oorhandig. Kemp se opdraggewer het daarop aangedring om die dokumente in die verhoor te gebruik. Ek het afgedraf na Kemp se kamers toe. Ons was dit eens dat sy kliënt regtens veroorloof was om die dokumente te gebruik, want as ’n privilegie eenmaal verloor is, is dit vir altyd verlore. “Maar,” het Kemp gesê, “dit voel nie reg nie. En as dit nie reg voel nie, dan is dit verkeerd, wat die reg ook al voorhou.” Sy prokureur het kort daarna vir ons die dokumente teruggestuur.

Kemp op die plaas Schildpadbeen, tussen Willowmore en Uniondale

Kemp se reputasie as die advokaat wat met die Stalingrad-taktiek vorendag gekom het, het sy oorsprong in ’n aansoek deur die vervolging om sekere dokumente wat in Mauritius was, te gebruik in president Zuma se vervolging op van die klagtes wat tans vir ’n verhoordatum wag. Tydens ’n aansoek in daardie verrigtinge het die regter vir Kemp gevra: “As die beskuldigde dan onskuldig is, waarom opper jy al hierdie punte wat net die saak vertraag?” of soortgelyke woorde. Toe ek vir Kemp daaroor uitvra, antwoord hy: “Ons gaan hierdie ouens nog lank besig hou.” Dit is nou 12 jaar later, en die saak is nog nie op verhoor nie. Die skade wat Kemp aan die vervolging se saak gedoen het, soos sy regs- en etiese plig as advokaat ongetwyfeld van hom vereis het, is onberekenbaar, en ons het nog nie die einde daarvan gesien nie.

Kemp met sy getroue plaasvriend, die hond Benson

Hy was besig. Ek weet nie van ’n advokaat wat so ’n besige praktyk gehad het nie. Sy sukses in die Zuma-verkragtingsaak het tot gevolg gehad dat hy opdragte van regoor die land en van prokureurs van wie hy nooit voorheen gehoor het nie, ontvang het. Die volume werk wat hy kon hanteer, het my verstom. Vir elke opdrag wat hy kon aanvaar, moes hy twee of drie van die hand wys. Wat ook vir my uitstaan in die opdragte wat hy wel aanvaar het, is dat hy telkens aan Jan en Sannie Publiek se kant van die geskil was, eerder as aan die owerheid of ’n magtige maatskappy se kant. In die voorstede in en om Durban word van hom gepraat as “ons advokaat”, en nie as “die polisie se advokaat” of “die munisipaliteit se advokaat” nie.

My herinnerings aan Kemp sluit in ’n arbitrasie waar ek die arbiter was (Kemp het gewen); ’n arbitrasie waar ek teen Ploos voor Kemp as arbiter verskyn het (ek het verloor); ’n saak in Pretoria waar Kemp my junior was (ons het verloor); en ’n appèl in Bloemfontein. Ja, daar was ek “die munisipaliteit se advokaat”. Dit was goeie tye, met gebeure wat my gereeld herinner hoe ’n interessante en wonderlike beroep dié van ’n advokaat is, of ten minste kan wees.

In Pretoria loop ek en Kemp ons vas teen ’n regter met die naam Hartzenberg. Ons opponent is ook ’n Hartzenberg. Ons ry met die hysbak op om die regter te ontmoet, soos die protokol vereis. Hy vra ons om te sit; hy wil gou eers familie uitlê met my Hartzenberg-kollega. Hulle lê familie uit, al die pad terug tot by die Slagtersnek-rebellie. Einde ten laaste sê regter Hartzenberg: “Die saak sal seker nie lank vat nie.” Ons stap stadig terug hysbak toe – stadig, want my opponent loop met ’n kierie. By die hysbak sê Kemp vir my: “Hierdie regter gaan ons op&%$ vandag.” “Dit is nie wat ek gesê het nie!” hoor ons die regter se stem agter ons. Hy het ons gevolg na die hysbak toe, en op die luukse matte in die gang het ons nie sy voetstappe kon hoor nie. In die hof maak regter Hartzenberg korte mette met ons argument, ongeregverdig, het Kemp gedink. Kemp se aweregse kommentaar terwyl ons ons boeke wegpak was: “Hulle moes die hele lot by Slagtersnek opgehang het.”

Kemp en Anna, regs, kuier saam met vriende op hul plaas

Een van die hoogtepunte van my loopbaan was die week – dit mag twee weke gewees het – toe ek en Ploos aan weerskante van ’n arbitrasie oor ’n reg-van-weg oor ’n plaas voor Kemp as arbiter verskyn het. Ons moes die arbitrasie in ’n dorp in noordelike KZN gaan doen. Ons het saamgery, die drie van ons, op ’n Sondagmiddag, en toe weer op die Vrydagmiddag laat saam teruggery huis toe. Drie of vier uur saam in die motor op noord en weer af suid kon ons nie oor die saak gesels nie. Ons het in dieselfde hotel tuisgegaan en mekaar by ontbyt en aandete weer ontmoet. Ons kon kwalik elkeen in ’n ander hoek van die eetsaal gaan sit. Om die etes op te kikker sonder om oor die saak te praat, het my junior – ek het ’n junior gehad – voorgestel dat ons ’n spel speel wat so verloop: Elkeen kry ’n beurt om ’n storie te vertel en elkeen van die ander kry dan ’n beurt om op dieselfde onderwerp sy eie storie by te dra. ’n Eerste soen; die mooiste meisie; die beste rugbywedstryd; ’n noue ontkoming; ’n lekker professor op universiteit; en so aan. Dan vertel die volgende een sy storie. Daar het ons van mekaar geleer en mekaar se stories gehoor. Ons het baie wyn gedrink by daardie etes. Kemp was ’n uitstekende kok, en ek het veral sy stories oor sy lekkerste maal, sy beste resep, die verste plek waar hy al ooit geëet het, geniet. Hy kon ’n storie vertel soos hy gekook het, met uitheemse speserye en smaak. Nietemin: Daar waar ons om die tafel gesit en stories vertel het, het dit weer eens vir my gevoel of ons drie in die kwaliteit en oorredingsvermoë van ons stories aan die een kant alleen was, terwyl Kemp aan die ander kant vier van ons werd was.

“En een waar Kemp in die veld sit, waar hy uiteindelik altyd sy beste self was,” die woorde van Anna Kemp.

Kemp se openbare aansig was ook nie van die Kemp wat ons as sy vriende en kollegas geken het nie. Hy het net verdraagsaam geglimlag as iemand hom “Kemp kwadraat” noem. In sy hofgewaad het hy my telkens aan die Rolling Stones se Keith Richards laat dink: so effens verslons en deurmekaar, totdat jy ’n kitaar in Richards se hande plaas. Dan verrys die kunstenaar uit die boemelaar op en bring hy die suiwerste note te voorskyn. So ook met Kemp: Die oomblik wat hy in ’n hof opgestaan het, het die advokaat in hom verrys en het die hof ’n geheel ander atmosfeer aangeneem. Ek het soms gedink sy “unkempt Kemp”-voorkoms was oëverblindery. Ja, dit is hoe hy by die balie gespot is. Unkempt Kemp. Hulle kyk hom vlak, soos die gesegde lui, maar dan vee hy die vloer met hulle snyerspakke en blink skoene en Ede & Ravenscroft-togas van die suiwerste sy. Kemp was ’n toonbeeld van die wysheid dat die kwaliteit van ’n betoog nie afhang van die identiteit of voorkoms van die persoon wat dit voordra nie, maar van die interne struktuur en logika daarvan. Geen regter was ook ooit intellektueel sy meerdere nie, en hy kon gevolglik nie geboelie word nie.

Dikwels, ’n uur na ’n hofverskyning, sien ek hom in ons gebou se trappe in sy rugbybroek, terwyl hy die 14 verdiepings op en af stap om te oefen. Soms het hy so gesit en werk, kaalvoet met net sy rugbybroek aan, maar darem nie as kliënte ingekom het nie. Sy kamer was soos ’n negosiewinkel, met brevette en saakrekords en lêers wat orals rondgelê of opgestapel was: op die vloer, op die vensterbank, op sy lessenaar en sy tafel, op die stoele, sommer net orals. As ek wou sit, moes hy altyd eers vir my ’n stoel skoonmaak. Maar hy het geweet waar elke bladsy was en kon ’n argument soos ’n goeie skaakspeler ses of sewe skuiwe vorentoe voorspel. ’n Buitengewone intellek wat miskien, nieteenstaande sy uiterlike verstrooidheid, ’n helder innerlike fokus gehad het.

As tennisspeler was Kemp nou wel nie te waffers nie, maar op die krieketveld was hy ’n goeie kolwer wat gereeld vir die advokate teen die prokureurs ’n kolfbeurt moes open. Dit was nie maklik om hom uit te boul nie, en hy het swak balle links en regs oor die grens gemoker, net soos hy in die hof met ’n swak betoog op ’n regspunt gedoen het. Ek het gehoor, by hom, onthou ek vaagweg, dat hy op die Suid-Afrikaanse Spele in 1972 aan die 800 meter deelgeneem het. Die 800 meter is vir atlete met spoed, taktiese bewustheid en stamina, en in sy praktyk as advokaat het Kemp al drie in oorvloed gehad.

’n Veelsydige man. ’n Renaissance man, soos Da Vinci, geseën met unieke vaardighede op verskeie terreine. Ek kan my voorstel dat Kemp die C-19-virus beveg het soos hy sy litigasie bedryf het, met ’n doelgerigte Stalingrad-van-straathoek-tot-straathoek-vasberadenheid .Ongelukkig, soos hy self voorspel het, is daar gevegte wat mens nie eers met die bystand van ’n sjamaan kan verslaan nie.

Ek, ons, gaan hom mis.

Chris Marnewick SC

Auckland, 30 Januarie 2021

***

LitNet wil graag vir Anna Kemp, ’n skrywer uit eie reg en die weduwee van Kemp Kemp, en hulle dogter, Alida, van harte bedank dat hulle die gesin se fotoalbum oopgemaak het om Chris Marnewick se teks mee te vergesel.

Lees ook:

In memoriam: Kemp Jurgen Kemp

  • 6

Kommentaar

  • Frederik Van Dyk

    Sjoe, dit is van die mooiste sterfkennisse wat ek nog gelees het. Wat ‘n wonderlike man.

  • Chris Marnewick se bydraes oor die wêreld in kamers, wat gewone mense net oppervlakkig ken en liefs so min as moontlik mee te doen wil hê, is uiters interessant. Kemp se verhandeling oor oorsaaklikheid is vandag baie ter sake terwyl indwiduele aanspreeklikheid en 'vrye wil' ernstig bevraagteken word deur swaargewigte buite die regsberoep soos Harris, Sapolsky en vele ander. Dalk kan Chris met ’n opvolg die stang byt deur na aanleiding van Kemp se navorsing te wys hoe regspraak die probleem benader. Op die oog af lyk dit asof versagtende omstandighede ’n uitweg is, maar absolute vryspraak nie.

  • Rhodé Rossouw Joubert

    Ek reageer met bewondering vir die menslike mens en die uitstaande professionele advokaat.

  • Chris, baie dankie vir die kort maar treffende opsomming van Kemp se praktyk. Ons deel jou sieninge.

  • Charl van Eetveldt

    Chris, baie dankie - dis mooi geskryf en bring vele herinneringe terug oor vergange dae en sake.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top