In memoriam: Kemp Jurgen Kemp

  • 7

Foto: Pixabay.com

Oor Kemp Jurgen Kemp se loopbaan kan mens in koerante lees. Kortliks: Hy was ’n dosent in die Regsfakulteit aan die vroeëre Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU) en later professor aan die Universiteit van Zoeloeland. In 1986 is hy tot die balie toegelaat en in 1997 het hy die status van senior advokaat behaal.

......

In die laaste jare het hy veral bekend geword as die beleërde oudpresident Zuma se advokaat en in mindere mate vir sy verdediging van die skoolhoof Deon Scheepers van Grey-kollege.

........

In die laaste jare het hy veral bekend geword as die beleërde oudpresident Zuma se advokaat en in mindere mate vir sy verdediging van die skoolhoof Deon Scheepers van Grey-kollege. In die hof was Kemp ’n regsman wat ’n stormram genoem sou kon word, ’n bulhond wat nie laat los as hy eers vasgebyt het nie.   

Buite die hof sou jy hom nooit daarvoor aansien nie. Hy het nooit eintlik hard gepraat nie. Die teken dat hier ’n grap of ’n wysheid kom, was gewoonlik die kop wat so na die skouer toe neig en die skouer wat kop toe trek voor hy begin praat. Beginnende met: "E, h’m, daai ding, e, dis nie heeltemal só nie." En dan lewer hy. Kort. Net so ’n ietsie. Gevolg deur ’n beskeie glimlag vir die verbaasde gehoor.

Minder bekend was die saak van Theodore, die St Bernard-hond wat te hoog ingeweeg het op die gholflandgoed waar sy eienaars woon. Kemp het dit op hom geneem om vir Theodore se verblyfreg te veg.

Dalk was dit in liefdevolle herinnering aan ou Padû, sy boelhond wat hartstogtelik kon snork en kwyl. Padû is een middag in die straat gevind. Ander honde het hom doodgebyt. Kemp, aangedaan: "Hy was nie ’n bakleier nie, jy weet."

Of dalk was dit ter ere van Bees, ’n energieke hond met die omvang van ’n uitgegroeide kalf, as inwoner nie haalbaar in ’n voorstedelike huis nie. Die spoor van verwoesting wat hy in huis en tuin gelaat het, het Kemp beskou as "dat Bees ook sy kant bring".

Kemp het hom in elk geval oor die algemeen, sonder dat die een hand weet wat die ander doen, gereeld oor die underdogs ontferm wat nie regskoste kon aangaan nie. Daar was baie.

.......

Benewens sy briljante brein en ongelooflike werksvermoë was hy ’n uiters talentvolle sportman.

.........

Benewens sy briljante brein en ongelooflike werksvermoë was hy ’n uiters talentvolle sportman. Sy vriend Carl de Villiers het vertel dat "tydens die saamdraf om middeljarige oortolligheid te probeer afwerk – en hy met prominente middellyf en al jou in die grond in gehardloop het het jy mettertyd, slegs op navraag, agtergekom dat hy as jong student in ’n stadium onder die topmiddelafstandatlete in Suid-Afrika gereken was. Dit in die tyd van top- internasionale atlete soos Danie Malan, Dickie Broberg and Marcello Fiasconaro."

Dan was daar Kemp se kokery, niks ornaats nie, net hoogs onthoubaar vir daardie appel-en-olywe in balsamiese asyn, sy lang souse en filette. Veral die filette, in die pan opgedra onder vlammende brandewyn, die sjef hemploos en kaalvoet. "Gee pad, man," as iemand sou wou hand bysit. Nie jou gewone gasheer nie. Almal het ’n bietjie ongemaklik gevoel, maar op ’n eienaardige manier besonderlik tuis.

"Ou Tat" se teenwoordigheid het heelwat daarmee te doen gehad – sy vrou, die skrywer Anna Kemp.

.......

Verstrooid. Op pad hof toe het dit hom eendag bygeval hy het nie ’n das aan nie.

.........

Verstrooid. Op pad hof toe het dit hom eendag bygeval hy het nie ’n das aan nie. Spring hy toe terug en kry die nodige. Eers toe die uitspraak gelewer word, kyk hy af op sy Mickey Mouse-das, ’n present van iemand wat in veilige bewaring gebly het, soos dit hoort.     

Sy werkplek(ke) – daar was baie, orals in die huis – het assosiasies opgeroep van ’n laer op losse skroewe ná ’n verrassingsaanval van die vyand. Unkempt Kemp. Dié bynaam is deur kwaadwilliges uitgedink, het hy gesê. Een manier was hy reg. In sy kop en formidabele geheue was daar dodelike orde. Solank iemand nie met emosie kom foeter nie.

Met ’n kuier by hom en ou Tat staan ek een aand laat in die kombuis vir ’n glas water toe hy inkom. Maak hy rustig vir hom iets te ete, skink wyn, sit by die kombuistafel. Nee, dit gaan goed, wat. Die volgende oggend hoor ek by ou Tat hy het pas voor hy gisteraand ingekom het, die nuus gekry dat sy broer dood is.

Oor die regswese het ek (as pleb) van die waardevolste insigte ooit by hom gekry: "Die reg kom nie van bo af nie, dit kom uit die mense." Vir hierdie wonderlik eienaardige en komplekse man sal die waardering (wat van belang is) uiteindelik ook uit die mense kom. In Carl se woorde: "Wat mense van hom gedink het, was nooit 'n faktor nie. Hy het bloot voluit gelewe en mettertyd het jy sy ware medemenslikheid leer ken. Nooit is met kwaadwilligheid van ander gepraat het nie – politici en swak rugbyspelers en skeidsregters uitgesluit."

Kemp het net een kommer gehad: "Die dag as hulle met ons regbank neuk, dan moet jy weet die land is finaal in sy moer."

"Hy het altyd so onvernietigbaar gelyk," sê ou Tat my oor sy dood.

Solank mense oor iemand praat, sal hy nooit dood wees nie. En dit is wel onvernietigbaar.

  • 7

Kommentaar

  • Very well said Jeanette. My deepest sympathy to Anna and family. This is a sad day indeed. Kemp with his odd but funny ways, had a heart of gold. Besides the days at Unizul, I will never forget when Kemp took on our class action suit against Foskor, after a very serious gas leak, pro-bono. I am convinced that his reputation as a legal expert preceded him, as the case never went to court. Thanks Kemp. May you RIP.

  • Marie Antoinette Voges

    Ek was Fakulteitsbeampte vir Regte by UPE tydens sy studiejare. Briljante student. Ook later as huisvriend en kollega tydens ons verblyf in Mtunzini. Onopgesmuk en briljant so sal ek hom onthou. Regbank het 'n grote verloor. RIV

  • Prof CJB Le Roux

    Although I did not know Kemp Kemp personally, while I was a The University of Zululand, he was known as a very sharp and bright academic. This an excellent and accurate memory of Kemp Kemp.

  • Gedurende die middel 70's het ons groentjie-regstudente te UPE gehoor van die man wat sommer in 'n bad water gelê en swot het.

  • Wat n great ou, saam in die klas, ongelooflike regskennis en briljante student maar kon ook saam kuier inni "Algoa"

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top