Titel: Kanaän
Skrywer: Sophia Kapp
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799399462
Sophia Kapp praat met Naomi Meyer oor Sophia se Kanaän, wat verlede jaar die naasbeste verkoper op Nielsen se boekverkopelys was.
Sophia, baie geluk: Jou roman Kanaän was verlede jaar die naasbeste verkoper op Nielsen se boekverkopelys. Het jy nog altyd geweet dat jy wou skryf? Wanneer het jy tot die besef gekom dat jy ’n skrywer is?
Skryf was nog altyd vir my lekker – die enigste ding wat ek op skool geniet het, was opstel skryf – maar ek kon myself vir die eerste keer as ’n skrywer beskou toe ek my debuutroman vasgehou het. Daardie gevoel dat ’n mens iets voltooi het, dat jy iets geskep het wat in die kosmos in is en nooit gaan terugkom nie, dit is ’n vrede wat nooit vervaag nie.
Kanaän en Kanaän: Was die naam van jou roman, met alles wat dit ontsluit – die beloofde land, en dan die reis na die plaas en die grond – dadelik vir jou daar? Het die uitverkore volk op pad na die land van melk en heuning ook hiermee te doen gehad? Was die plaas se naam van die begin af ook titel van die boek?
......
Ja, ek het dit doelbewus so gekies, want dit gaan hier, soos in al my boeke, oor die idee dat ’n mens iewers hoort.
........
Ja, ek het dit doelbewus so gekies, want dit gaan hier, soos in al my boeke, oor die idee dat ’n mens iewers hoort. Dat ’n mens aan mense en aan ’n plek behoort. Dis natuurlik dieselfde narratief wat die hele grondkwessie in die land onderlê: Dit gaan nie oor aan wie van ons die grond behoort nie, dit gaan oor wie van ons aan die grond behoort. In die storie is al die gesinne deur onteiening en ontheemding bedreig, en ’n mens herken in almal die wrokkigheid wat kom as hulle van hulle oerplek, hulle heimat, vervreem word.
Maar ek het ook doelbewus ’n plaas as milieu gekies omdat dit in ouer liefdesromans (dié wat ek op skool onder die bank gelees het) so verromantiseer is. Dis ook ’n doelbewuste keuse om ’n stereotipe in die genre anders te skryf. Die plaas word in hierdie storie ’n mikrosamelewing, en die spanning tussen die karakters is eintlik ’n opsomming van die spanning wat nou nog tussen Suid-Afrikaners bestaan.
Wat was die sneller van die verhaal – hoe het jy geweet, op ’n dag, dat jy hierdie boek moes skryf? En hoe lank het dit jou geneem?
Ek het ná Kantelpunt geweet ek is nou moeg vir ’n militante vrou en ’n lamsakkige man; ek het nou ’n behoefte aan ’n mooi meisie en ’n held in die ware sin van die woord. Chrisjan was die eerste karakter wat ek geskep het, en ek het Katryn letterlik vir hom gemaak. Ek het vir almal in Kanaän ’n sagte plek, maar ou Chrisjan is maar my gunsteling. Maar die sneller vir hierdie storie was die opkoms van Donald Trump en sy moderne weergawe van nasionaal-sosialisme. Mense se onvermoë, of onwilligheid, om die verbande tussen moderne nasionalistiese retoriek en Nazisme raak te sien, maak my bang.
.......
Maar die sneller vir hierdie storie was die opkoms van Donald Trump en sy moderne weergawe van nasionaal-sosialisme. Mense se onvermoë, of onwilligheid, om die verbande tussen moderne nasionalistiese retoriek en Nazisme raak te sien, maak my bang.
.........
Vertel my van die distrik Senekal, die grond in die Vrystaat. Dis die omgewing waar jou pa vandaan kom. Het jy daar grootgeword, en het jy dit ook in jou geestesoog of geheue gesien terwyl jy die storie geskryf het? Vertel my van die betekenis van die verskillende grondgebiede en omgewings in jou storie.
Ek is tot in die murg van my gebeente ’n stadsmens. Ek het in Durban in KZN grootgeword, en ek raak benoud as ek buite Sixty60 se aflewersone beweeg. My ma het altyd gesê ek kan met baie min klaarkom, maar ek kan nie sonder die luxuries nie.
My pa was ’n Vrystater, en Kanaän is geheel en al geskep uit sy vertellings van sy oupa se plaas. Hy het as ’n jong skoolseun vakansies daar gaan kuier, maar sy oupa is oorlede toe hy 10 was, en ek het nooit die plaas te siene gehad nie. Ek moes dus staatmaak op wat hy kon onthou, en ek het, toe ek Kanaän begin skryf het, een vakansie hom oor alles op die plaas uitgevra. Die goed in die huis, of daar water en elektrisiteit was, of daar ’n foon was, en die opset met die opstal en die stalle kom dus uit sy vertellings, maar die res bestaan net in my kop.
Maar kom ek verklap hier so ’n bietjie van ’n skrywer se geheime: Dit is nie nodig om vir ’n leser vreeslik baie besonderhede oor ’n omgewing te gee nie. Dis genoeg om een of twee goed oor die omgewing te sê wat ’n bepaalde indruk skep, en die res aan die leser oor te laat. Die lekkerste stories is trouens dié waarin ’n skrywer net genoeg inligting gee dat die leser self die prentjie kan inkleur, want op dié manier raak die leser by die storie betrokke. As ’n mens ’n lysie sou maak oor wat in die boek oor die plaas en die plek geskryf staan, sal jy sien die werklike beskrywings is min. Daardie prentjie in jou kop het jy self gemaak.
Dit is ’n skryftegniek, soos ek gesê het, maar dit was vir my veral in hierdie verhaal belangrik dat die leser haar eie belewing en haar eie prentjie van die plek moes skep. Ons het almal iewers in ons verlede ’n Kanaän, en ons moet almal daardie plek gaan besoek, sodat ons kan erken wat daar gebeur het en kan gaan versoening soek met die mense wat nou nog daar is.
Kanaän is ’n historiese roman. Stel jy belang in daardie tydperk rondom die Tweede Wêreldoorlog? Hoe het jy jou navorsing gedoen? Behalwe vir die reise na verskillende grondgebiede: Hoe reis mens terug na ’n ander tyd? Hoe vind mens uit hoe dit in daardie dae was en hoe stel mens vas hoe mense destyds was, in daardie tydsgees?
Ja, dis vir my gewoon lekker om oor die geskiedenis te lees, maar ek glo ook onwrikbaar dat alles wat ons nou is onlosmaaklik met die verlede verweef is. Ons raak die spoor byster as ons die verlede ontken of wil herskryf. En ek gee nou nie om of jy pienk of pers of links of regs is nie, as jy jou politiek of filosofie in die verlede inskryf, knoei jy. Dis vir my as Afrikaner belangrik om die verlede in die oë te kyk en te erken wat my mense gedoen het, maar dis ook belangrik om te sê hulle is my mense. Ek is die nasaat van boere en Boere, met alles wat dit inhou. Ek moet weet hulle was by tye verkeerd, maar ek gaan my nou ook nie skaam vir die feit dat ek ’n Afrikaner is nie. Ek gaan dit ook nie ontken nie.
.......
Dis vir my as Afrikaner belangrik om die verlede in die oë te kyk en te erken wat my mense gedoen het, maar dis ook belangrik om te sê hulle is my mense.
.........
Die tyd waarin hierdie verhaal afspeel is ook versigtig gekies. Ons vergeet dat Nazisme nie in daardie tyd as ’n afgryslikheid beskou is nie. Ons vergeet ook dat Nazisme gegaan het oor die opheffing van die eie, oor ’n volksidentiteit en ’n beskerming van daardie identiteit deur die staat. Dit was ’n lofwaardige ideaal, en in daardie tyd vir Afrikaners baie aantreklik. Ons wil dit nie weet nie, maar apartheid was bloot ’n Suid-Afrikaanse weergawe van nasionaal-sosialisme. "Make America great again" is ’n moderne weergawe daarvan. Dis vir ons vandag maklik om Nazisme te veroordeel, want ons assosieer dit met die uitwissingskampe, maar ons besef nie hoe gevaarlik die filosofie self is nie, en dit maak my onrustig om hierdie idees weer oral in die wêreld te sien kop uitsteek. Dis presies hoekom ek die aanhaling van Primo Levi voor in die boek gekies het – as ’n ding gebeur het, kan dit weer gebeur.
"Met die simpel oorlog in Europa, gaan ons nie gou ’n Dior in Suid-Afrika sien nie," sê een van jou karakters op ’n stadium. Het jy hierdie boek geskryf toe die COVID-19-virus al ontstaan het? Voor die impak daarvan, soos ’n oorlog, die hele wêreld getref het? En tog lees mens die boek en besef: Mense is al deur verskillende rampe en ellendes. Dink jy hierdie virus gaan ook die letterkunde aanraak en die agtergrond bied waarteen heelwat skilderwerke op die doek verskyn?
COVID het nog nie bestaan toe ek Kanaän begin skryf het nie, en dit was ook nog net ’n Chinese krisis teen die tyd dat dit na die uitgewer toe is. Natuurlik sal dit die letterkunde beïnvloed – dit moet. Enige ding wat die wêreldpsige op hierdie skaal beïnvloed, moet in die letterkunde neerslag vind, maar ons is nog nie deur COVID nie. Ons kan nog nie terugskouend daarna kyk en die volle koste daarvan verreken nie. Ons betaal nog die prys; ons kan nie nou al ons leed en ons emosionele skade losskryf nie.
........
Natuurlik sal dit die letterkunde beïnvloed – dit moet. Enige ding wat die wêreldpsige op hierdie skaal beïnvloed, moet in die letterkunde neerslag vind, maar ons is nog nie deur COVID nie. Ons kan nog nie terugskouend daarna kyk en die volle koste daarvan verreken nie. Ons betaal nog die prys; ons kan nie nou al ons leed en ons emosionele skade losskryf nie.
.........
Ek bly by COVID-19: Hoe beïnvloed die virus jou gemoed en jou kreatiwiteit? Skryf jy meer en makliker, het jy meer tyd? Hoe sien jy die siekte in die samelewing manifesteer? En mense se reaksies daarop?
Ek sukkel om aan die skryf te kom. Deels omdat my gewone werk my besiger hou nou met COVID, maar ook omdat ek erg aan Weltschmerz ly. Ek wil nie meer uit my huis uit gaan nie, want die swaarkry om my bedruk my. My psige voel belas, my hele syn voel tam en swaar. En omdat dit nog nie verby is nie, kan ’n mens nie daaraan begin verwerk nie. Dis soos egskeiding of dood – ’n mens kan eers daaroor skryf as jy daardeur is en jy afstand gekry het, anders is alles wat jy skryf net ’n lament.
Terug by Kanaän: ’n Prominente tema is die wrywing tussen Boer en Brit, Afrikaans en Engels. "Al waarvoor die Afrikaner goed is, is om in die myne te werk of te boer." Ek dink aan die ontmoeting van Chrisjan en Katryn – al die wedersydse idees en stereotipes oor Engels en Afrikaans, ook oor swart en wit. Hoeveel het daardie idees werklik, 80 jaar later, verander?
Veel minder as wat dit moes. Ons het natuurlik heeltemal te lank nog met apartheid in hierdie land voortgeploeter, wat veroorsaak het dat ons normalisering van verhoudings heeltemal te laat begin het. Toe Europa en selfs die res van die British Empire begin verreken het aan die skade wat kolonialisme en stereotipering aan menseverhoudings gedoen het, het Suid-Afrika teen sy eie mense oorlog verklaar om daardie stereotipering in stand te hou. Dit gebeur nie sonder ernstige breinspoeling nie, en ons sit vandag nog met die gebakte pere. Ek kan sien die jonger geslag probeer, maar ek kan ook sien hoe die vooroordeel en die onverdraagsaamheid van my geslag nog deursyfer. Dit maak my moerig, maar al waarmee ek dit kan teenwerk, is stories soos dié in Kantelpunt en Kanaän, waarin ’n mens probeer uitbeeld watter skade dit kan doen.
Jy plaas heelwat hindernisse in jou manlike en vroulike hoofkarakters se paaie sodat hulle nie by mekaar kan uitkom nie. Hoe beplan jy dit? Skryf jy vir jouself neer wat in elke hoofstuk moet gebeur? Hoe werk die skryfproses vir jou?
Ek moes noukeurig beplan aan Kanaän se verloop, want die gebeure in Europa het ’n direkte impak op wat op die plaas gebeur. Grazzianu Bruno se vertrek terug Italië toe moes op ’n baie bepaalde tydstip plaasvind, net soos die ontsetting van Auschwitz direk verband hou met Ferdinand Pfeiffer se besef van sy aandadigheid. As ’n mens gebeure so verweef, kan jy nie net agter ’n gevoel aanskryf nie, dan moet jy beplan. Ek het vir Kanaän ’n tydlyn geskep, eintlik van Chrisjan se ouers se tyd af tot by die hede, wanneer Giacomo en Gabriella oor die verlede gesels. Maar ’n mens trou nou ook nie met jou beplanning nie. Jy beplan, maar losweg sodat die storie sy loop loop, en sodat jy karakters soos ta' Miem en oom Gert, en die Jablonski's, en selfs klein Wilhelm en Elke, behoorlik kan ontgin.
Jou boek lewer kommentaar op die wrywing en idees van verskillende heterogene groepe oor mekaar. Maar dan is daar ook Afrikaanse mense se idees oor Afrikaanse mense. ’n Karakter in jou boek sê op ’n stadium: "Jou Afrikaans is onbesproke. Maar jy is nie Afrikaans nie." Dink jy dis ’n stelling van daardie tyd, of dalk ook steeds van toepassing op vandag?
O, my volk, my volk. Ek het dit elders ook al gesê: Ons is ’n nasie van dwarstrekkers. En soveel hoofde, soveel sinne. Deel van my pa se vertelling oor die plaas op Senekal, was die storie van die twee NG Kerke in Winburg – een vir die Natte en een vir die Sappe. Dis ’n opsomming van wie en wat ons is. Ek het dit in my eie familie ervaar – elkeen het sy eie idee oor wat Afrikanerskap behels, en elkeen glo hy of sy is reg. Intussen is Afrikanerskap presies wat elkeen daarvan maak. Ek kan met vrymoedigheid sê ek is ’n Afrikaner, en steeds in niemand se boksie pas nie. Maar dit het my 55 jaar geneem om dit te leer, en ek weet nie of die jonger geslag genoeg geduld of tyd het om dit te doen nie.
Ek het nog ’n tema opgemerk, wat ook in jou ander boeke opduik: Die kerk onderdruk en dwing reëls af. Maar die kerk kan ook ’n veilige hawe bied, en goed doen. Daar is nie ’n absolute swart-en-wit-situasie aanwesig nie. Die kerk in die tydperk wat Kanaän afspeel, vervul wel ’n uiters belangrike rol in die dorp. Wil jy iets skryf oor die kerke en godsdiens in jou stories – of dan net in Kanaän?
Ek is nie aldag seker oor hoe ek oor die kerk of oor georganiseerde religie voel nie. Ek het grootgeword in ’n gemeente waar Afrikanernasionalisme in plaas van die evangelie van die kansel af verkondig is. Ek moes (onlangs) in ’n werksplek luister hoe ’n kollega in ’n gebed God bedank vir die feit dat die Afrikaner die uitverkore volk is. Ek is uit die NG Kerk omdat ek nie met ’n homofobiese organisasie wil vereenselwig nie. Maar ek weet ook dat geloof vir mense en gesinne en gemeenskappe ’n anker is in ’n storm, en dat mense wat werklik deernis het, groot verandering kan bewerkstellig. Ek weet dus nie of ek werklik ’n tema oor die kerk het nie, buiten dat ’n mens ook na die kerk as instelling moet kyk en bereid moet wees om te erken dat daar groot foute begaan is.
En die Sotho-wêreld, destyds en vandag. Hoe skryf mens daardie storie as mens wit is? Hoe skryf mens ’n storie geloofwaardig, soos dit is, maar ook bewus van mens se eie beperkinge om ’n verhaal te vertel waartoe mens net gedeeltelik toegang het? Of kan ek dit ook vra as mens as vrou oor ’n manlike karakter skryf?
Ek kan nie die Sotho-storie skryf nie, gewoon omdat ek nie genoeg daarvan weet nie. Ek het ook nie Esau of Lerato se storie geskryf nie, ek het Katryn en Chrisjan se belewing van Esau en Lerato se storie geskryf. Dis wat ek myself veroorloof het. Ek het ’n bietjie meer vrymoedigheid gehad om Chrisjan se storie te skryf, al is ek ’n vrou, omdat ek Afrikanermans darem so ’n bietjie beter ken. Maar dis waar ’n skrywer se werk lê: om seker te maak die skryfwerk is eerlik, die karakters is geloofwaardig, die belewing van die situasie waarin jy hulle plaas, is eg. As ek ooit ’n bruin of swart karakter moet skryf, sal ek dit beslis net doen met ’n bruin of swart medeskrywer se hulp. Nie oor politieke korrektheid nie, maar omdat my eerlikheid as skrywer van my vereis om my karakters tot in die murg van hulle gebeentes te ken.
Jou daaglikse werk is met woorde. Wanneer skryf jy? En is jou werk vir jou ’n hulpmiddel – om so soepel met woorde om te gaan soos wat die geval is – of staan dit soms in jou pad, omdat jy nadink of jy die regte woorde in ’n sin gebruik?
........
Nee, woorde is my wêreld. Maar dis waarvoor ons woorde het: om stories te maak. Ek is besonder bevoorreg dat ek heel dag (en nag en naweek) met woorde kan werk. Ek het nog nooit my werk as ’n hindernis beskou nie, buiten dat dit baie uit my tap, en dat ek nie genoeg tyd het om al die stories te skryf wat in my kop sit nie.
.........
Nee, woorde is my wêreld. Maar dis waarvoor ons woorde het: om stories te maak. Ek is besonder bevoorreg dat ek heel dag (en nag en naweek) met woorde kan werk. Ek het nog nooit my werk as ’n hindernis beskou nie, buiten dat dit baie uit my tap, en dat ek nie genoeg tyd het om al die stories te skryf wat in my kop sit nie.
Wat lees jy graag?
Gewone mense se vertellings op Facebook oor goed wat met hulle gebeur, want ’n mens kom baie keer daar by die rou kant van die lewe uit. ’n Mens sien daar wat die snellers is vir groot leed, en wat vreugde bring. So uiteenlopend as wat mense kan wees, deel ons hierdie reaksies. Dit is vir my fassinerend dat ons so kan verskil en baklei en afstig, en dan in ons gebeente eintlik maar dieselfde is.
Waaruit put jy vreugde, of wat is die dinge wat vir jou sin en betekenis gee?
My kind. My werk. My honde. My vriende. My huis wat ook my hawe is. Om ’n stoep te hê waar ek die hele dag in my pajamas kan sit en werk. Om sjerrie uit my oumagrootjie se kristalglase te drink. Om saam met my kind opera te luister. My herinneringe aan my kinderdae en aan mense wat vir my lief was. Die vooruitsig om eendag weer te kan reis en die goed op my kluitklaplys te doen. Om te kan leef in die hier en nou en te weet dis goed, en nie te sit en hoop dat anderdag beter sal wees nie. Want ek was al daar ook, en dis afgryslik.
Lees ook:
Kommentaar
Een van die mooiste Afrikaanse boeke! Ek het die plaas lewe beleef in al sy fasette. Op ‘n skaapplaas groot geword in Carolina. Die politiek en nie elektisiteit, die opwinding oor verbeterings. Maar veral die menslikheid in elke karakter. Gelees en geluister (audiobooks) Pragtig!
Sophia Kapp is 'n besonder goeie skrywer. Dit was 'n interessante onderwerp en die storie is baie goed geskryf. 'n Gemaklike, lekkerlees trant waar alles vloei. Sy skryf inderdaad op 'n wyse dat die leser tonele in sy/haar verbeelding vorm. Geen verrassing dus dat die boek 'n treffer is en deur lesers aangeprys word nie.
Kapp verstaan duidelik die geskiedenis ván, en die Afrikaner as 'n kultuurgroep asook die onderlinge en dikwels vurige strominge daarbinne. Sy's egter nie soos baie ander skaam vir haar herkoms bloot omdat sy nie met sekere dinge saamstem of kan assosieer nie. In hierdie onderhoud meld sy haar voor-en-afkeure en wie ook al sou verskil behoort dit te respekteer omdat die bedoeling daarvan opreg voorkom. Inderdaad 'n puik boek en storie deur iemand wat weet wat om met 'n pen te doen.