Kan ons op regters vertrou?

  • 2

Foto-erkenning: WilliamCho, https://pixabay.com/photos/justice-statue-lady-justice-2060093/

Lindiwe Sisulu se onlangse uitlatings oor onderdanige, "mentally colonised Africans" op die regbank getuig nie net van uiters swak smaak nie, dit sou ook haatspraak gewees het indien die betrokke bepaling nog van toepassing was. Dit spreek boekdele dat iemand met sulke ekstreme en onverantwoordelike opvattings voorheen die portefeuljes van nasionale intelligensiedienste, verdediging en buitelandse sake behartig het. Om alles te kroon laat Cyril die Swyger dit aan die waarnemende hoofregter oor om die regbank teen ’n kabinetsminister se politieke venyn te verdedig.

Die Minister se beledigende uitlatings bring belangrike kwessies na vore. Sedert die Mbeki-presidentskap was sekere teregwysende hofuitsprake vir die regerende party ’n bron van openlike irritasie, en wat in die Zuma-era in arrogansie ontaard het. Moet mens dus verbaas wees oor die algehele wetteloosheid in die land, soos die lewensverlies en enorme skade met Zuma se gevangesetting, of oor die gebrek aan politieke ingryping in die talle gevalle waar staatsdepartemente en ANC-beheerde munisipaliteite hofbevele verontagsaam? Dat van hierdie hofbevele gaan oor sanitasie en waterbronne asook die lot van kwesbare gemeenskappe, bevestig die ANC se nou reeds bekende gesplete persoonlikheid: Vroom belydenisse oor die lot van armes en die omgewing word weerspreek deur straffelose wanfunksionaliteit, grootskaalse besoedeling en ’n gebrek aan basiese dienslewering.

.........

Die howe is die sluitsteen van ons demokrasie, wat in die finale instansie die handves van regte interpreteer en toepas. Juis daarom sal sommige politici poog om die regbank met die "regte" kandidate te bevolk en/of van die howe sekere resultate verwag.

..........

Die howe is die sluitsteen van ons demokrasie, wat in die finale instansie die handves van regte interpreteer en toepas. Juis daarom sal sommige politici poog om die regbank met die "regte" kandidate te bevolk en/of van die howe sekere resultate verwag. Die gevaar van politieke inmenging is dus wesenlik en konstant, en daarom sal dit interessant wees hoe die debat rondom die ANC se ontplooiingskomitee en regtersaanstellings ontwikkel. Mens wil aanneem dat diegene wie se name by die ontplooiingskomitee geopper is, nie daarvan bewus was nie, en dat dit vir hulle ’n verleentheid is. Dit sou byvoorbeeld baie jammer wees indien ’n verontregte litigant iewers in die toekoms aan ’n bekwame persoon soos Jody Kollapen nie as ’n regter nie, maar as comrade Kollapen sou dink.

Politiek en die regbank was nog nooit ver van mekaar nie. Trouens, sonder om aan hulle bekwaamheid as juriste afbreuk te doen, is dit interessant dat FW Beyers, NJ (Niklaas) de Wet, Tielman Roos en HA Fagan almal politici en kabinetsministers was voordat hulle as regters aangestel is. Twee van hulle het later die amp van hoofregter beklee. Regter Leslie Blackwell was kort voor sy aanstelling ’n parlementêre voorbanker vir die Verenigde Party, en Fritz Steyn het na termyne as NP-volksraadslid en ambassadeur in 1969 regter geword sonder dat hy (soos die gebruik destyds was) eers senioradvokaatstatus verwerf het.

Ten einde die Grondwet (en die regbank as een van die pilare daarvan) staande te hou, is dit wesenlik dat gewone landsburgers hul vertroue in die regspleging moet behou. Regters lê trouens by ampsaanvaarding ’n grondwetlike eed af dat hulle die Grondwet en die menseregte daarin verskans sal handhaaf en beskerm en aan alle persone op gelyke voet reg sal laat geskied sonder vrees, begunstiging of vooroordeel.

..........

Ten einde die Grondwet (en die regbank as een van die pilare daarvan) staande te hou, is dit wesenlik dat gewone landsburgers hul vertroue in die regspleging moet behou. Regters lê trouens by ampsaanvaarding ’n grondwetlike eed af dat hulle die Grondwet en die menseregte daarin verskans sal handhaaf en beskerm en aan alle persone op gelyke voet reg sal laat geskied sonder vrees, begunstiging of vooroordeel.

............

Dit is nie net opportunistiese politici soos Lindiwe Sisulu asook Zuma en sy trawante wat openbare vertroue in die post-’94 Suid-Afrikaanse regbank onder spanning plaas of ondermyn nie. Ongelukkig dra die optrede van sekere regters asook prosesse van die regterlike dienskommissie (RDK) daartoe by. Trouens, dit kom voor asof sekere senior regters en die RDK  soms die openbare mening geringskat en van die publiek verwag om ’n soort blinde respek vir die regbank te hê. So ’n benadering dien nie ons grondwetlike orde nie.

Die RDK is ’n statutêre liggaam, en bestaan gewoonlik uit die hoofregter as voorsitter, die president van die Hoogste Hof van Appèl, een provinsiale regter-president, die minister van justisie, twee praktiserende advokate en twee prokureurs, ’n regsprofessor, ses lede van die nasionale vergadering, vier van die nasionale raad van provinsies en vier persone wat deur die president genomineer is. In geval van regteraanstellings doen die RDK aanbevelings aan die president, wat vervolgens die aanstelling doen. Bewerings van regterlike wangedrag word deur ’n vaste komitee van die RDK aan die hand van ’n gedragskode hanteer, en waar nodig na ’n verhoortribunaal verwys, en na gelang van die geval voorgelê aan die RDK, wat sonder sy parlementêre lede vergader. Indien die RDK ’n skuldigbevinding aan ernstige wangedrag bevestig, kan hy die saak na die parlement verwys met ’n aanbeveling dat die betrokke regter uit sy of haar amp verwyder word – iets wat slegs met ’n tweederde- parlementêre meerderheid kan geskied. Die kommissie kan ook by die president aanbeveel dat die betrokke regter in afwagting van ’n parlementêre besluit geskors word.

........

In enige bespreking oor openbare vertroue in die Suid-Afrikaanse regbank is die naam John Hlophe ter sprake. Hlophe is op betreklik jeugdige leeftyd direk vanuit die akademie as regter op die Kaapse regbank aangestel. Skaars vyf jaar later is hy in 2000 tot regter-president bevorder. Sy termyn is hoogs omstrede.

...........

In enige bespreking oor openbare vertroue in die Suid-Afrikaanse regbank is die naam John Hlophe ter sprake. Hlophe is op betreklik jeugdige leeftyd direk vanuit die akademie as regter op die Kaapse regbank aangestel. Skaars vyf jaar later is hy in 2000 tot regter-president bevorder. Sy termyn is hoogs omstrede. Elf regters van die Konstitusionele Hof, die Kaapse adjunk-regter-president, ’n senior advokaat aan die Kaapse balie en ’n senior prokureur het hom oor ’n lang tydperk verskillende klagtes van ernstige wangedrag ten laste gelê. Akademici en balieraadslede het hulle in die openbaar teen hom uitgespreek, en hy is daarvan beskuldig dat hy ’n giftige en onhoudbare werksomgewing skep. Met ’n vindingrykheid en stamina wat slegs deur ’n Jacob Zuma geëwenaar word, het Hlophe tot op hede die klagtes oorleef, en wel met teenbewerings dat die aantygings onder andere rassisme en/of ’n persoonlike vendetta as oorsprong het.

Die posisie van regter-president is invloedryk, aangesien so ’n persoon by magte is om te besluit wie ’n bepaalde saak aanhoor. Hy of sy speel ook ’n groot rol by die aanstelling van waarnemende regters. Indien iemand ’n regter wil dagvaar, moet die regter-president eers toestemming daartoe verleen. Toe die Oasis-groep toestemming vra om regter Desai van die Kaapse regbank vir laster te dagvaar, het Hlophe dit aanvanklik geweier. Later het hy van besluit verander. Dit het toe aan die lig gekom dat Hlophe sekere betalings van Oasis ontvang het. Sy verduideliking was dat hy sekere dienste aan die groep gelewer het – belange wat hy nie verklaar het toe hy aanvanklik om toestemming genader is nie. Gevra na die ministeriële toestemming vir sodanige na-uurse vergoeding, het hy gesê dat dit deur minister Dullah Omar verleen is. Toe dokumentêre bewys van die toestemming ter sprake kom, was sy antwoord dat die toestemming mondeling verleen is. Ongelukkig was Omar op daardie stadium reeds oorlede, en boonop nie meer minister van justisie toe Hlophe na bewering by Oasis betrokke geraak het nie. Feit is: Sou ’n litigant vandag ’n relaas van ooreenstemmende gehalte voor regter Hlophe aanvoer, sou Sy Edele dit waarskynlik verwerp. Die RDK het later ten aansien van die Oasis-debakel by meerderheidstem bevind dat Hlophe nie skuldig is aan wangedrag nie – ’n bevinding wat later deur die hof tersyde gestel is.

By geleentheid is Hlophe deur die Konstitusionele Hof gestriem omdat hy ten einde vir ’n nuwe behuisingsprojek plek te maak, die uitsetting van inwoners van die Joe Slovo informele nedersetting in Langa gelas het sonder om hom enigsins met hulle hervestiging te bemoei.

In 2008 het twee regters van die Konstitusionele Hof verklaar dat Hlophe hulle probeer beïnvloed het om in twee sake waarby Jacob Zuma betrokke was, ten gunste van Zuma te bevind. Hlophe is na veel omhaal deur ’n tribunaal aan ernstige wangedrag skuldig bevind, maar die RDK het by wyse van meerderheidstem geweier om dit te bevestig. Hierdie besluit is deur die hof hersien en tersyde gestel, waarna die saak weer deur ’n nuutsaamgestelde tribunaal verhoor is. Hlophe is in 2021 skuldig bevind, en in dieselfde jaar het die RDK die bevinding bevestig. Alvorens verdere stappe gedoen kon word, het Hlophe hom in egte Zuma-styl tot die hof gewend en gevra dat die verrigtinge teen hom weens onreëlmatighede in prosedure tersyde gestel word. Dit beteken dat ’n onbeholpe, ellelange proses van meer as tien jaar nog nie gefinaliseer is nie.

Die RDK het in sy wysheid besluit om nie Hlophe se skorsing hangende finalisering van die proses by die President aan te beveel nie, en die agbare regter-president het nie die eerbare ding gedoen, naamlik om verlof te vra om tydelik van diens verskoon te word nie.

Intussen gaan Hlophe met sy werksaamhede voort, en moet ’n lid van die publiek maar genoeë neem dat sy of haar saak verhoor of toegewys word deur iemand wat (totdat die teendeel blyk) aan agterbakse optrede en ’n growwe verbreking van sy ampseed skuldig bevind is. Boonop is daar sekerlik ook diegene wat dalk met reg wrokkig is oor sake wat hulle in die afgelope tien jaar voor Hlophe verloor het. Mens kan jou voorstel watter gevoelens hulle daaromtrent mag hê.

Hlophe het onlangs in die polities gelade hoëprofielsaak van die beweerde brandstigter Zandile Mafe sy verwysing vir geesteswaarneming tersyde gestel, en sal waarskynlik weer op die bank wees of die regters aanwys vir die aanhoor van Mafe se appèl teen die weiering van sy borgtog.

’n Ander geval wat tien jaar geneem het om af te handel, is dié van oudregter Motata. Hy het in 2007 in ’n staat van dronkenskap in ’n tuinmuur vasgery en rassistiese opmerkings teenoor die huiseienaar gemaak. Sy skuldigbevinding aan dronkbestuur is op appèl gehandhaaf, en ’n RDK-tribunaal het hom weens sy rassistiese opmerkings aan ernstige wangedrag skuldig bevind en sy ontslag aanbeveel. Na agtien maande het die RDK uiteindelik besluit om die skuldigbevinding na een van gewone wangedrag te verander en Motata ’n boete opgelê. Hy was vanaf sy oortreding op betaalde verlof en het afgetree voordat die saak gefinaliseer is. Ook in hierdie geval het nie alleen die bewese wangedrag nie, maar ook die wyse waarop dit hanteer is, kwalik tot openbare vertroue in die regbank en die RDK bygedra. Terloops, hooflanddros Nair, wat Motata aan dronkbestuur skuldig bevind het, is geskors nadat ’n Bosasa-werknemer hom voor die Zondo-kommissie as die ontvanger van sekere gunstes en gawes geïmpliseer het. Hy ontken die bewerings.

Nog ’n omstrede geval met rassistiese ondertone was dié van voormalige regter Mabel Jansen. Sy het in 2015 op die Facebook-bladsy van die filmmaker Gillian Schutte en in persoonlike boodskappe wat later deur laasgenoemde geopenbaar is, prima facie onbesonne en veralgemenende opmerkings gemaak wat daarop neerkom dat daar onder swart mans ’n verkragtingkultuur heers. Haar optrede is wyd veroordeel, en die Black Lawyers’ Association het togas en al op die trappe van die Paleis van Justisie haar bedanking geëis. Die plakkaatswaaiende advokate se betoë voor die hof was in ’n sekere sin dalk meer suksesvol as van hulle betoë in die hof, want nadat die RDK ’n verhoortribunaal saamgestel het en Jansen van die klagtes teen haar in kennis gestel is, het Jansen verkies om nie ’n formele verduideliking van die oorsprong of konteks van haar opmerkings te verskaf nie, en om persoonlike redes bedank.

Seth Nthai was ’n senior ANC-politikus voordat hy lid van die Pretoria-balie geword het. In 2007 het hy die regering in opdrag van die staatsprokureur verteenwoordig in ’n geskil voor ’n internasionale tribunaal – ’n opdrag waarvoor hy ’n aansienlike fooi ontvang het. Die teenparty (’n Italiaanse maatskappy) was bereid om sy saak terug te trek, en die vraag was wie vir die regering se aansienlike kosterekening aanspreeklik sou wees. Nthai het sonder die medewete van sy prokureur of dié van die teenparty by meer as een geleentheid met ’n senior verteenwoordiger van die maatskappy vergader en die voorstel gemaak dat indien die maatskappy vir hom R5 miljoen in ’n buitelandse rekening sou deponeer, hy sy kliënt sou adviseer dat elke party sy eie koste moet dra. Hy het nie geweet dat die gesprekke opgeneem word nie. Hierdie korrupte optrede het aan die lig gekom, en Nthai se naam is na afloop van die vereiste prosesse in 2013 van die rol van advokate geskrap.

In 2018 het Nthai by die Limpopo-afdeling van die Hoë Hof in Polokwane aansoek gedoen om hertoelating as advokaat. Hy het slegs aan die Polokwane-vereniging van advokate kennis gegee, en vreemd genoeg nie aan die algemene balieraad of die verenigings waarvan hy vroeër ’n lid was en/of wat vir sy skrapping verantwoordelik was nie. Hulle is wel later op eie aandrang as partye toegelaat, en het die aansoek teengestaan. Regter-president Makgopa en sy kollega Mabuse het Nthai weer as advokaat toegelaat, en sonder meer verlof tot appèl teen die bevinding geweier.

Die president van die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein het wel aan die balierade verlof tot appèl verleen, en die hof het bevind dat Nthai in die lig van die buitengewone erns van sy oortredings eweneens buitengewone omstandighede moes aanvoer alvorens hertoelating kon geskied sonder dat die naam van die beroep en die belange van die publiek in gevaar gestel word. Volgens ’n eenparige bevinding van die Appèlhof het hy hierin geheel en al gefaal. Trouens, na uitwysing van verskeie ooglopende mistastings deur senior regters soos Makgopa en Mabuse, het appèlregter Ponnan ook sy verbasing uitgespreek dat Nthai nooit weens sy korrupte optrede vervolg is nie, en gelas dat die aangeleentheid na die nasionale vervolgingsgesag (NVG) verwys word. Volgens een van die appèlregters sou Nthai in geval van ’n skuldigbevinding waarskynlik ’n vonnis van 15 jaar gevangenisstraf ontvang het. Dit is onbekend of die vervolgingsgesag reeds ’n besluit oor die Nthai-lêer geneem het en wat die status daarvan in die NVG se dossiere is.

Die inhoud en trant van ’n senior regter soos Makgopa se foutiewe uitspraak en die omstandighede van Nthai se aanvanklike hertoelating bied kwalik rede tot openbare vertroue.

........

Suid-Afrika is veel verskuldig aan Thuli Madonsela vir haar rol in die Nkandla-sage en die ondergang van Jacob Zuma.

..........

Suid-Afrika is veel verskuldig aan Thuli Madonsela vir haar rol in die Nkandla-sage en die ondergang van Jacob Zuma. Dieselfde geld pas afgetrede hoofregter Mogoeng, wat in 2016 in ’n eenparige bevinding van die Konstitusionele Hof Madonsela se bevinding gehandhaaf en die ongrondwetlike optrede van Zuma en die nasionale vergadering onder die speakerskap van Balekwa Mabete uitgewys het.

Regter Mogoeng was van meet af bekend as iemand met sterk godsdienstige en morele oortuigings. Dit is uiters jammer dat sy nalatenskap in twee opsigte vertroebel is. Mogoeng se styl van voorsitterskap van die RDK het by baie die gevoel laat ontstaan dat hy tydens ondervraging van regterkandidate kommissielede te veel ruimte toelaat, en dat dit tot irrelevante en soms kwetsende vrae lei. In die loop van verlede jaar is hierdie kwessie op die spits gedryf toe ’n burgerregte-organisasie die hof genader het vir die tersydestelling van bepaalde onderhoude vanweë die vrae wat daartydens gevra is. ’n Hofsaak is afgeweer deurdat die RDK ingestem het om die onderhoude te herhaal. Dit het later die jaar onder voorsitterskap van waarnemende hoofregter Zondo geskied.

In 2020 het regter Mogoeng aan ’n webinaar oor Suid-Afrika se beleid jeens Israel deelgeneem. Afgesien van sy uitlatings by die geleentheid, was sy blote deelname as sodanig omstrede en ver buite die bestek van sy ampspligte. Palestynsgesinde organisasies het die hoofregter verkla, en verlede jaar het die absurde situasie ontstaan dat die land se hoofregter aan wangedrag skuldig bevind is. Mogoeng is gelas om ’n openbare verskoning aan te bied – iets wat hy uiteindelik gedoen het.

........

Dat selfs die hoofregter nie bo die reg verhewe is nie, bied seker vir baie gerusstelling. Tog dra die feit dat die bekleër van hierdie pos nie insien dat sy hoë amp sekere beperkinge en opofferings meebring nie, glad nie by tot versterking van openbare vertroue in die regbank nie.

..........

Dat selfs die hoofregter nie bo die reg verhewe is nie, bied seker vir baie gerusstelling. Tog dra die feit dat die bekleër van hierdie pos nie insien dat sy hoë amp sekere beperkinge en opofferings meebring nie, glad nie by tot versterking van openbare vertroue in die regbank nie.

Regters is mense, en mense maak foute. Boonop kan regs- en feitelike interpretasies verskil.  Die hiërargie van ons hofstelsel maak voorsiening daarvoor dat ontevrede litigante hulle op ’n hoëre hof kan beroep. Tog steun die publiek te midde van politieke geknoei, verwronge moraliteit en wankelende leierskap, op die howe vir beskerming en die handhawing en versterking van ’n jong grondwetlike orde. Hierin mag hulle nie teleurgestel word nie. Soos uit die voorafgaande blyk, het dit ongelukkig reeds meermale gebeur. Die hoop beskaam nie. Dalk bring die termyn van die volgende hoofregter ’n nuwe daeraad.               

  • Marius Ackermann, voormalige lid van die Pretoria-balie       

Bronne:

https://www.iol.co.za/news/south-africa/hlophe-received-cash-from-oasis-court-hears-313523

https://www.dailymaverick.co.za/article/2018-08-08-the-justice-john-hlophe-inquiry-papers-going-nowhere-fast/

https://www.politicsweb.co.za/news-and-analysis/judge-hlophe-and-oasis

https://www.gcbsa.co.za/law-journals/2007/december/2007-december-vol020-no3-pp33-34.pdf

https://www.news24.com/news24/SouthAfrica/News/john-hlophe-misconduct-case-still-to-be-heard-12-years-and-r35m-later-report-20200508

https://www.biznews.com/thought-leaders/2021/04/14/john-hlophe

https://www.judgesmatter.co.za/conduct/hlophe-tribunal-2008-2019/

https://en.wikipedia.org/wiki/John_Hlophe

https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-09-08-the-rise-and-slow-fall-of-john-hlophe-the-judge-who-almost-took-the-judiciary-down-with-him/

https://mg.co.za/article/2017-04-07-judge-mabel-jansen-to-face-impeachment-tribunal-over-facebook-comments/

https://mg.co.za/article/2017-05-04-mabel-jansen-resigns-as-judge/

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2019-10-11-drunk-judge-motata-fined-r11m-for-misconduct-gets-to-keep-salary-for-life/

https://www.youtube.com/watch?v=l6mRty4Yb2k

https://www.timeslive.co.za/news/south-africa/2021-01-30-ful-wins-first-round-to-have-retired-judge-nkola-motata-impeached/

https://www.dailymaverick.co.za/article/2021-07-06-suspended-chief-magistrate-and-ex-deputy-minister-tell-commission-that-bosasa-security-upgrades-were-shoddy/ 

https://www.iol.co.za/news/politics/zondo-inquiry-pretoria-magistrate-denies-bosasa-sponsored-security-upgrades-3d52c016-05f1-4d50-a01a-46459a87e260  

https://www.bignewsnetwork.com/news/270579628/concourt-dismisses-seth-nthais-application-to-appeal-sca-judgment

https://mg.co.za/news/2021-03-05-judicial-conduct-committee-orders-mogoeng-to-apologise-for-his-remarks-about-sa-israel-relations/

https://www.timeslive.co.za/sunday-times/news/2022-01-23-mogoengs-choice-apologise-or-go-to-court-on-review/

https://www.iol.co.za/news/politics/mogoeng-mogoeng-apologises-for-controversial-remarks-595a5401-e10f-4a08-9f06-7689255fc160

https://www.judiciary.org.za/images/news/2021/Judicial_Conduct_Committee_decision_on_complaints_against_the_Chief_Justice.pdf 

https://www.judgesmatter.co.za/opinions/the-first-cj-to-be-rapped-on-the-knuckles-by-the-jsc/

https://mg.co.za/news/2021-08-12-recommendations-for-concourt-appointments-set-aside-jsc-to-conduct-new-interviews-in-october/

https://www.judgesmatter.co.za/tag/constitutional-court/

Lees ook:

Mogoeng Mogoeng en die Bybel by Ramaphosa se inhuldiging

Twee hoofregters en 'n aaklige droom

Regsalmanak: Hoofregter Stratford en die Wêreldhofuitspraak oor SWA

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Dankie, dit is 'n besondere prikkelende artikel die. Die howe is seker darem betroubaar. Mens wonder watter soort sisteem Sisulu in gedagte het? Die stelsel is tog op sekere beginsels gebou wat basies universeel is. Bv onafhanklike derdeparty-regter, argumentasie en bewyslas ens, ens. Die plan is goed genoeg, die probleem is daar is nie leiers en genoeg mense wat die ongeskrewe reëls nakom nie. Die wêreld se kompas is en was ook nogal altyd grootliks ingestel op materiële welvaart. En die demokrasie bied altyd genoeg skuiwergate vir vergrype. Elke mens het 'n prys. Selfs 'n regter.

  • Marius, dankie vir die skrywe, jy verwoord hoe baie mense voel en hulle koppe in skaamte laat sak.
    Jou verwysing na Hlope, Motata en andere laat mens net wonder wat is hulle houvas op die president. Hyself is 'n regsgeleerde.
    Politici hoort nie op die paneel nie.
    Oudregters, akademici en praktiserende regslui hoort daar.
    Daar sal beslis na Mpofu se optrede gekyk moet word deur die balie waarvan hy lid is.
    Malema sal seker as adjunkminister van Justisie aangestel word ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top